Nuuskommentaar: Matriekvreugde of piesangrepubliekramp?

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

Baie geluk aan die matrieks wat hard gewerk en goed presteer het. Baie geluk aan onderwysers wat hard en toegewyd hul liefdestaak verrig en die land se toekomsvlam help brand. Baie dankie aan ouers wat in liefde baie opgeoffer het om die beste moontlike onderrig vir hul kinders te verseker om hulle so goed as moontlik vir ‘n toekoms vol groot uitdagings voor te berei.

Bitter baie ure se harde studie en baie, baie gebede lê agter diegene wat presteer het.

Maar….

Tot ‘n onafhanklike oudit gedoen is soos deur die DA aangedui, gaan daar vraagtekens wees oor die aangekondigde styging van die matriekslaagsyfer van 73,9% verlede jaar tot 78,2% nou. Vooraf het kenners gemaan dat ‘n styging van 2% (soos wat die aanduidings deur inligting wat deurgesyfer het dit wou hê) ongeloofwaardig sou wees. Dat dit meer as dubbel die getal is, plaas enorme vraagtekens oor die geloofwaardigheid daarvan, en dit word versterk deurdat selfs met ‘n laer slaagkoers in die verlede dit geblyk het dat baie wat geslaag het effektief analfabete was, en van syfers so min weet soos ‘n kat van saffraan.

Boonop is die slaagsyfer misleidend.

  • Om te slaag moes ‘n kandidaat in drie vakke 30% of meer behaal, en in die ander drie vakke 40% of meer.
  • Volgens die Vryheidsfront Plus het slegs 44,5% van die matrieks wat twaalf jaar gelede skool toe is nou matriek geskryf, en volgens AfriForum het minder as 38% van daardie graad eentjies nou matriek geslaag. Die internasionale norm vir vorder van graad een tot matriek is 65%, en die deurvoerkoers in lande soos Finland en Swede 98%.
  • Paul Joubert, senior navorser van Solidariteit, wys daarop dat net 2% van die graad neges in 2013 die nodige 50% in syfervaardighede aan die dag kon lê, en dat net 17% die nodige taalvaardigheid in ‘n bykomende taal kon behaal. Lees gesus Joubert se volledige ontleding hier.
  • Dit is nou al jare dat universiteite begin het om hul eie vaardigheidstoetse en oorbruggingskursusse aan te bied, maar selfs daarna nog met ‘n enorme druipsyfer sit.
  • Sedert die huidige minister van basiese onderwys, Angie Motshekga in 2009 die portefeulje oorgeneem het, het die slaagsyfer van 60,6% tot 78,2% gestyg. Tog is diegene wat minister as knap beskou dun gesaai en word sy veel eerder onthou vir die skoolboekkrisis en aankondigings dat dit opgelos is terwyl boeke daarna steeds uit riviere gevis is en onafgelewer in pakkamers gelê het, asook die slaagsyfers wat sy aan haarself toegeken het.
  • Terwyl onderwyskenners hul bedenkinge en kommer oor die geloofwaardigheid van die slaagsyfer uitspreek, meen pres. Jacob Zuma hierdie uitslae is ‘n prestasie – die beste sedert 1994. Selfs iemand wat wiskundige geletterdheid met 30% geslaag het sal kan uitwerk wie van Zuma of die onderwyskenners die meeste geloofwaardigheid het.

Dit is goed bekend dat die arbeidsmark in Suid-Afrika baie problematies is en dat baie min van die nuwe toetreders sal kan toetree.

In vergelyking met Afrikanorme spandeer Suid-Afrika enorm baie per leerling. Die VSA spandeer 7,3% van sy BNP aan onderwys, en Denemarke, die meeste onder die ontwikkelde lande, met 8%. In 2010 het Suid-Afrika meer as 17% van sy BNP aan onderwys spandeer.

Talle redes word aangevoer oor waarom die onderwyssektor in Suid-Afrika onderpresteer. Dit is egter kommerwekkend dat die onderwysvakbond, Sadou, dikwels as die land se grootste vyand beskryf word. Bykans enige poging, ook deur die regering, om te verseker dat loodswaai-onnies geïdentifiseer en vasgevat word, word heftig teengestaan.

Of die dobbelstene reg of verkeerd vir die kinders val hang af van die gesindheid van die leerkragte waaraan hulle in hul skoolloopbane blootgestel word. Die onderwys is vol verhale van skoolhoofde en onderwysers wat die probleme aanpak en buitengewoon presteer – soos nuwe klaskamers wat deur opoffering en vindingrykheid verrys, eerder as deur staatstoekennings. Baie ure se bykomende werk word in die leerlinge belê.

Maar daar is ook heeltemal te veel skole waar skoolhoofde erg lood swaai en ‘n swak voorbeeld stel. Onderwysers wat erg aangeklam by skole opdaag …

‘n Finale oordeel oor die uitslae kan eers gevel word indien ‘n onafhanklike oudit inderdaad sou plaasvind. Indien nie, sal die praktyk oor ‘n ruk die verhaal vertel wanneer werkgewers begin terugvoer gee of hierdie klas se produkte aanwendbaar was, en wanneer universiteitsuitslae daaroor begin beslis.

Intussen is dit duidelik dat talle leerlinge op meriete baie goed presteer het – nie net diegene wat die onderskeidings ingeryg het nie, maar diegene wat volgens hul vermoë en die uitdagings soos ‘n gebrek aan elektrisiteit tuis presteer het. Daar sal, volgens aanduidings, die ongelukkiges wees by wie punte ter wille van glyskale weggeneem is om ander ‘n hupstoot te gee – veral jammer waar dié praktyk die verskil maak of die persone beurse en selfs studielenings kry, of vir kursustoelatings gekeur word.

Slaag is nie die finale norm nie. Vakkeuses en die mark daarvoor speel ‘n enorme rol in die welvaart van ‘n gemeenskap. In die Franssprekende provinsie van Kanada, Quebec, het die Rooms-Katolieke Kerk aanvanklik die onderwys beheer en baie klem op literatuur en soortgelyk geplaas – rigtings wat kwalik gepas het by Kanada se ekonomiese behoeftes. Dit het die Franssprekende Kanadese sosio-ekonomies ‘n agterstand teenoor die Engelssprekende landgenote besorg. Eers na die staat die onderwys in Quebec ook oorgeneem het en die leerplanne ooreenkomstig die land se behoeftes ingerig het, kon die Franssprekende gemeenskap op hul landgenote begin inhaal.

Die vlakke van syfervaardigheid in Suid-Afrika, en die toegang wat dit tot die rigtings bied wat Suid-Afrika werklik nodig het, is dus ook baie kommerwekkend.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae