Nuuskommentaar: Mbalula se Shapiro-rasbenepenheid

'n Skermskoot van die minister van sport, Fikile Mbalula, se twiet.

‘n Skermskoot van die minister van sport, Fikile Mbalula, se twiet.

’n Spotprent van Shapiro het die minister van sport, Fikile Mbalula, warm onder die kraag. In die spotprent word uitgebeeld hoe die nuwe Springbokafrigter, Allister Coetzee, die rieme neerlê om twee rugbyballe te vang – die een heet “transformasie”, en die ander “oorwinning”.

Om enige moontlikheid van ’n misverstand uit die weg te ruim oor die minister se reaksie word sy presiese twiet weergegee: “How is it that Newspapers allow such racism to be published? Zapiro equates Transformation to failure. Insulting.”

Mbalula beskuldig dus Shapiro en Times Live van rassisme, en dit, so het baie Suid-Afrikaners onlangs agtergekom, word as ’n ernstige, onvergeeflike sonde beskou.

Maar sit die skoen nie dalk aan die ander voet nie? In wese impliseer Mbalula dat transformasie, anders as wat die bedoeling was, eintlik maar net oor ras handel. Kritiek op transformasie, ongeag of dit ontspoorde transformasie is, is dan rassisme.

Nou wie is dan nou eintlik rasbenepe? Dui kritiek op hierdie rasgebaseerde transformasie (as dit ooit Shapiro se bedoeling was) nie juis as ’n bewys dat Shapiro die saak nierassig bekyk nie?

Ja, die sinnetjie hierbo is vreeslik politiek inkorrek, maar soos die vuurvreter Rhoda Kadalie eens in ’n rubriek geskryf het, politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis.

Natuurlik is dit ook ’n groot vereenvoudiging – Mbalula is deel van die ANC en die ANC kry erge kritiek, ook uit die geledere van die Advokate vir Transformasie, dat die regering ’n bespotting van die onlangse konstitusionele hof se uitspraak maak dat pres. Jacob Zuma en die parlement ongrondwetlik opgetree het. Die ANC en Zuma kan dus nie eens suksesvol lippediens aan ’n liberale regeringstelsel lewer nie, laat staan nog liberaal wees.

Maar deur die skep van ’n wye netwerk van taboes word ’n beergreep verkry op die uitleef van gewone demokratiese waardes. En rassisme staan sentraal hierin … die speelruimte waarin swart mense rasbenepe uitlatings kan maak sonder dat dit rassisme is, is veel groter as dit wat ’n wit mens kan sê.

En dit is mos dan self rassisties.

Wanneer transformasie met rassekwotas gelykgestel word, is daar vanselfsprekend ’n vorm van rasbenepenheid in. Of dit noodwendig teenoor sukses staan, is ’n kwessie van debat, maar as iets verswak word omdat keurders en afrigters ter wille van raskwotas gedwing word om nie hul beste spelers te kies nie, is die sterkste moontlike span nie gekies nie. Sukses gaan moeiliker kom.

Krieket SA het die land se bedryfsregspanne tot kwotas gedwing wat vereis dat die meerderheid spelers niewit moet wees, en die meerderheid ook “etnies swart” moet wees. Daar is nou ’n redelik algemene konsensus dat dit die standaard van bedryfsreg- en provinsiale krieket so verswak het dat dit nou, in die woorde van ’n oud-Springbok, swakker is as klubkrieket in die “ou dae”. En as die stelsel nie meer die beste spelers onder die mees mededingende omstandighede lewer nie, verswak dit die nasionale span. Dit moet verander word. Proteaspelers wat vorm verloor en na hul unies teruggestuur word om vorm te herwin, blink dikwels vreeslik uit, maar sukkel maar weer wanneer die Proteas hulle nader trek.

Intussen word periodiek na die suksesse van swart en bruin spelers in die Proteaspan verwys as bewyse van suksesvolle transformasie. Daar word egter verswyg dat Herchelle Gibbs die produk van Bishops in Kaapstad was, en Kagiso Rababa byvoorbeeld van St Stithians in Johannesburg – kwalik agtergeblewe skole, en beslis nie komende uit agtergeblewe gesinne nie. Temba Bavuma het in Sandton matriek behaal.

Dit beteken nie dat die kwotastel nie ook suksesse opgelewer het nie, maar of dit kan opweeg teen die skade wat dit aangerig het, en die feit dat dit as rasgebaseer die reëls van bykans elke internasionale sportliggaam skend, is te betwyfel.

’n Mens hoef net na die toedrag van sportgeriewe, indien dit enigsins bestaan, by township- en plaasskole te let, saam met baie onderwysers se onwilligheid om “na-ure” sport af te rig, om te besef waar die probleem van verteenwoordiging aangepak moet word. Hier het die minister en die regering ’n reuse-verantwoordelikheid.

Aangebore sporttalent speel bepaald ook ’n rol, soos blyk uit die onderverteenwoordiging van wit mense in middelafstand-pad- en -veldwedlope. Ook in die VSA neig wit en swart deelnemers om op nasionale vlak in verskillende van die groot sportsoorte uit te blink.

Dat die woord “transformasie” nie juridies rasbenepenheid die groen lig gee nie, blyk uit die hofsaak wat Solidariteit gister namens ’n lid teen die Tshwane Metroraad gewen het. Die persoon moet nou bevorder, en terugwerkend vergoed word. Op dieselfde dag het ’n brief aan die lig gekom waarin alle bevorderings van wit en bruin polisiebeamptes in sekere range in die Wes-Kaap weens kwotateikens gestuit word. Solidariteit het skerp gereageer.

Slegs Zuma kan vir Mbalula die verdiende rooi kaart gee, maar dit sal hy so nooit as te nimmer doen nie, want hy staan self lekker agter die deur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Hannes ·

Ag word tog groot asb. Alles is tog nie altyd rassities nie. Kom agter die prentjie in en moet tog nie altyd sensasie soek nie.

Frik ·

Dit lyk vir as ek so na die laaste paar komentare kyk, of die manne n goeie idee daar het. Ek stel voor ons verbod rugby en krieket aangesien niemand in ons kultuur regtig baie lus is om n tweede span te ondersteun uit goedhartigheid uit nie. Suid-Afrika is lankal nie meer n land om op trots te wees nie…die realiteit daarvan was net uitgestel deur die meganisme van hoop. Die ‘droom land’ wat daai terroris in 1994 geskep het, waarin die liberale(met uitsondering) generasie ‘X’ hulself so uitleef is in werklikheid n nagmerrie in wagting. Ek swakste klomp Afrikaners wat nog ooit die aarde geloop het(generasie X)[Weereens met uitsondering]!

Loeis ·

Rasbeheptheid of kwaadwilligheid?

Die swartgesig-herrie wat toe eintlik ‘n persgesig geval was, was duidelik kwaadwillige optrede deur mense wie naastiglik SOEK na goed waaroor hulle ongelukkig kan wees.

Not my elephant, not my circus (ek moes die gesegde aanpas voordat iemand dalk iets meer daarin lees).

vernon ·

Ek stem saam Herman. Sodra mens hulle kap met die waarheid is hul maklikste verskoning rassisme of apartheid se skuld. Hulle is skaamtelose uitbyters van hul eie swakhede.

WER ·

Kyk ook na malema se uitlating dat dienste net in wit gebiede plaasvind…wat die idioot nie verstaan nie is dat sy sogenaamde wit gebiede baie swart mense het wat daar bly insluitend hy ook en dat die sogenaamde wit gebied wel betaal vir dienste…..en dat wit mense nie wil hê swart mense moet meer kinders hê nie….dis per news 24…..dit is uiters rasistiese uitlatings die……word daat iets omtrent dit gedoen…nee. Solank daar van swart mense se kant soos malema, zuma, ramaposa…ens …die hele tyd na swart en wit verwys gaan word kan ek jou belowe gaan daar nie nooit in die land van ons vrede en nie rasisme wees nie….

Herman ·

Haha die rugby balle moes eintlik koppe gewees het….gebruik maar julle verbeelding oor veskillende koppe daar.

M A ·

Kan ons nou eens en vir altyd ‘n definisie van “rasisme” kry sodat die Afrikaners kan weet wat om nie te doen nie? Dit moet ‘n amptelike definisie wees en daar moet nie elke 2 maande aan gekarring word omdat iemand nou weer iets gedoen het wat onvanpas is maar nie deur die definisie gedek word nie.

Henry ·

Rasbenepenheid is ongelukkig een en dieselfde olifant wat reeds laaaank voor 1994 en tot vandag toe, ook ons sport lewens versuur. Ons kan natuurlik ewe vroom, soos deurwinterde en dwepende Fariseërs, steen en been aan’t teem gaan oor die ANC regime se onregverdige ge-karring oor rassisme in sport.
Dit is die maklike uitweg, maar dit is ongelukkig ene wat geen goeie antwoord of oplossing gaan bied nie.
Probleem is dat ons eie geskiedenis eintlik nie as so ‘n goeie en navolgingswaardige voorbeeld gebruik kan word nie.
Japanese jokkies, Maori’s, D’ Oliveira, Loskop dam en ‘n magdom ander wette en regulasies is olifante wat kwalik in goeie geselskap verduur sal word, wanneer ons hande wil was of voorbeelde van ons eie geskiedenis op die rasterrein wil aanbied.
Miskien en altemit sou dit help indien ons pa staan vir ons foute en die onnodige pyne wat ons eie sportbeleid gekenmerk het .
Rondom ‘n tafel loop sit en saam met die nuwe regime se mense aan’t kekkel te raak oor ons eie pre ’94 foute. Om saam-saam beter maatreëls te tref om die ‘onregte’ van die verlede reg te stel, sonder om dieselfde foute te herhaal en die armsalige kjeend met badwater en al by die venster uit te smyt.
Die huidige beleid van SARU en Proteas verseker agteruitgang, asook my en my pelle se voortgesette boikotte.

Jan maak n Plan ·

Ons gaan nou lekker Springbok rugby kyk met een groot verskil – ons gaan elke keer die grap van die jaar wees met n lekker verloor en baie verskonings. Coetzee sal beslis nie 2019 se wereld beker finale haal nie.

Dawid ·

Ek maak my LOS van rugby. Hulle het dan nie meer n houvas oor my nie. My bloedruk bly normaal. Ek is vry!!

vernon ·

Dawid ek stem saam. Ek is klaar met SA rugby en krieket. Ek ondersteun nie 2 de spanne nie. Ek sal nie verbaas wees as die Aussies en All Blacks nie teen SA se 2 de spanne wil speel nie.

vernon ·

Ek is ook klaar met SA rugby en krieket. Ondersteun nie 2 de spanne nie.

cr ·

Mabula is net jaloers omdat daar nie genoeg spelers is om die kwota stelsel te regverdig nie.

Cobus ·

Ek is klaar met Springbok rugby……….word nou n All Black ondersteuner hulle wen tenminste en niemand Sal vir my se ek is n rassis want daar is ook swart spelers in bulle span………dit gaan oor meriete .nou word kwotas in ons keel afgedruk. Coetzee bet die slegste rekord cv van die onlangste sprinbok Afigters………..die wp bet hom weg gejaag……

Tiger ·

Ek dra my Aussie rugby trui met TROTS.’n Springbok trui sal ek nie in my huis toelaat nie.Die oorsese spanne EN toeskouers sal eendag agterkom hulle speel teen ‘n 2de span as hulle die sogenaamde “bokke” aanvat en wie weet miskien begin hulle weer van vooraf die springbokke te boikot!Ha-ha-ha!!

Takkie Takuuza ·

Is daar kwotas in Atletiek? Of in swem? Hoekom moet daar transformasie in rugby wees? Die meeste swart mense wat ek ken stel geensins in rugby belang nie. Of gaan dit eerder oor die geld wat rugby maak? Of gaan dit om iets wat die wit man na aan die hart het te vertrap? Dit gaan nie oor die verlede nie ou Cheeky, dit gaan oor die toekoms.

Theuns ·

Herman, ek wardeer hoe jy die Regering en sy Comrades/ Kaders konfronteer met bewysbare WAARHEID. Die mengsel van ‘n ongelooflike potpourie van rassisme, leuns, diefstal, bedrog wat die ANC kenmerk en die wereld laat lag gaan ons gewone mense se verstand te bowe. Waardes is in 1994 van die tafel afgevee in belang van vrede wat nou oonskynlik soos mis voor die son verwyn het. Die ANC se verwaandheid, veral” Frikkie Verstaan Nie” sal ek nooit as te nimmer kan sluk nie. Ek wil iets se wat dieselfde Frikkie gese het op die vooraand van die bokke se toer na Europa .”MOER HOM!” Hoekom?
Omdat die Guptas hom aangestel het as Minister van Sport en vir gratis Vlieg kaartjie en verblyf in Amerika betaal het toe hy vir sy Boksheld Mayweather gaan kuier het. Sy aandeel in die sokker skandaal is nog nie eers bekend nie. Ou Frikkie is so verwaand dat hy beskou himself nie as ‘n dienaar van die “Sport Establishment” nie maar “Chief Glamour Gat” voor wie almal moet buig! Hy kort ‘n paar honderd Rooi Kaarte!

neelsie ·

Die Gupta-pion, Mbalula ,se rassime het my nou gedryf na n algehele weerstand teen rugby.
Waarom nie liewer sokker probeer verbeter nie , ons span is nommer 70 in die wereld!!
Maar net n manier om die blanke te benadeel.
Het onlangs n jong,baie belowende rugbyspeler gehelp op pad Australie toe, met die onregverdigheid sal ons jong sportmanne en vroue nie regkom nie.
n Ander bekende neem deel onder die Turkse vlag!
Is dit wat Mbalula wil he? Sekerlik het hy nie die moed om dit te se nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.