Nuuskommentaar: Mboweni en die swaartepunt

Tito Mboweni, minister van finansies (Foto: ANA)

Tito Mboweni se aanstelling as minister van finansies het die deure van euforie geopen – iets wat nodig is om vertroue in die ekonomie ’n groot hupstoot te gee. Mag die Coleman Andrews-situasie dit nie herhaal nie.

Sedert gister word Suid-Afrika deur ’n enorme aardskudding en naskokke geruk. Teen vanoggend was sommige groot nuusdienste nog van lyn af met stelsels wat deur die stortvloed nuusberigte verstop het. Die skokgolwe was só sterk dat dit byna die hele wêreld geruk het.

Binne ure het dit nuuskieriges in staat gestel om, by wyse van spreke, te weet wat die nuwe minister van finansies soggens as tandepasta gebruik, tot watter TV-programme hy graag kyk. Uit vragte en vragte relevante inligting, soos die positiewe aspekte van sy tien jaar as president van die Reserwebank, word hoopvolle voorspellings gemaak van sy verwagte suksesse as minister van finansies.

Suid-Afrikaners het voorheen ook hul hoop op ’n prinsgeplaas. Die Amerikaanse wunderkind, Coleman Andrews, is teen ’n enorme salaris bekom om die toe reeds sukkelende SAL reg te ruk. Nie lank nie of Andrews verlaat die steeds spartelende SAL – sy eie salaris een van die gebreke wat gedreig het om die lugdiens op die grond te hou, en sy groter as die werklikheid-beeld aan flarde.

Op die oomblik word die stemme van twyfel oor Mboweni se verlangde towerkrag erg onderdruk. Analiste wat gisteroggend nog as betroubaar beskou is, word nou as pessimiste gereken en as vyande van die euforie links laat lê.

Pres. Cyril Ramaphosa skud blad met die nuutaangestelde minister van finansies, Tito Mboweni. Foto: Phando Jikelo/African News Agency(ANA)

Wat is so positief aan Mboweni se aanstelling? As geskikte persoon kon Ramaphosa kwalik raker gevat het. Selfs ’n tipe Rip van Winkel-ervaring het nie sy kundigheid, ervaring, aansien as kundig en onkreukbaar aangetas nie. Hy kon inderdaad gedurende sy uitskuiftyd nie werklik ’n  fout maak nie. Nogtans kon hy, en klaarblyklik het hy, as stil waarnemer, gesien en beleef hoe die ekonomie dreig om witpens bo te begin dryf.

Nietemin, vanuit die tegnokratiese hoek, asook die hoek van persepsies, is Mboweni net dié man. Persepsies speel ’n enorme rol in die gang van die ekonomie.

Maar maanskyn en rose wag daar nie. Gaan Mboweni die verlangde krag aan die dag kan lê om die malligheid oor grondgryp sonder vergoeding in die asdrom te laat beland, of gaan hy hier glip en saam met Ramphosa die kleed van tegnokraat laat wegval?

Die Brexit-proses toon dat as só ’n proses nie deur werklike ekonome hanteer word nie, sake soos eiebelang en kortsigtigheid, en o ja, politiek, dit gou in ’n toffie kan omskep.

Die Zupta-era het mildelik bygedra om die ekonomie te beduiwel en van die land ’n kleptokrasie te maak. Dit moes soos in eergister gestuit gewees het.

Lees gerus die vragte kommentaar van ekonome, politieke partye – ja, selfs sielkundiges wat pasiënte van die Zuma-era intensief moes behandel. Mense wat geknak het onder die vragte onwerkbare en selfs onwettige opdragte wat hulle van politici gekry het. Politici wat eiebelang voorop gestel het en wie se opdragte die arme amptenare teen hul beterwete moes uitvoer en hul spanning onhoudbaar geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

waarheid ·

Klaar agtergekom – maatjies met die eff en andere wat dieselfde sentiment as die eff koester.
So hou maar verby.
Baie gaan ook deur hom teleurgestel word soos met ramapaddapot . Wag maar.

Heinrich ·

Weet nie waaroor gaan die bohaai nie. Die skuif van nog ‘n ANC kader in ‘n sleutelposisie na ‘n ander. Die ANC bestuur die land in die grond in en niemand van hulle geledere gaan enigsins ‘n verskil maak nie. So geen Rama-forie of Mboweni-forie van my kant af nie.

Landi ·

Tot en met hulle aan SA kan bewys dat alle SOE’s welvarend en verantwoordelik bestuur word, moet hulle geheel en al van grond gesprekke en onderhandelinge vergeet. In die prosses om SOE’s te leer bestuur, besef hulle dalk dat die grondhervorming gesprek glad nie weer nodig sal wees nie.

John ·

Oppas vir ‘n me-too… vir ti-too. Dit vat ook net so lank om die kasdeur oop te breek sodat die geraamtes kan uitval en gewoonlik stink hulle nogal kwaai van die min lug binne. Om die euforiese pos as oppasser van die kis vol erfskatte te wees en dan met die werk se spaarvarkie opgeskeep te sit, is nogal ‘n come-down. Die oom lyk heeltemal te opgesit met homself. Hy en CR gaan uiteindelik koppe stamp… Dis ‘n voorspelling.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.