Nuuskommentaar: Media en COP 17

Pas het die regering saam met sy burgers, die media hard in die tande geskop, of ‘n groot premie gaan op die media geplaas word om ‘n vlagskipprojek van die regering aan die groot klok te hang.

Oor minder as ‘n week, van 28 November tot 9 Desember, vind die VN se konferensie oor klimaatverandering in Suid-Afrika plaas. Dié byeenkoms verseker dat die oë van die wêreld byna net soos die wêreldsokker-eindtoernooi verlede jaar, op Suid-Afrika gefokus gaan wees. Eintlik is dit in ‘n groot mate reeds die geval, soos daaruit blyk dat die invloedryke internasionale mediavryheid-waghond, Verslaggewers Sonder Grense (VSG), verdoemend op die stemming in die Nasionale Vergadering gereageer het. Die buitelandse pers het ook onsagkens met die ANC omgegaan. VSG skryf onder meer: “Ons is geskok dat die Suid-Afrikaanse parlement ‘n wet goedgekeur het wat mediavryheid bedreig, en dit gedoen te midde van wydverspreide teenkanting…Suid-Afrika se rol as streekmodel is in die gedrang.”

Dit help ook nie dat Transparency International ook juis nou ‘n peiling bekend gemaak het dat mense glo korrupsie en omkopery in Suid-Afrika is aan die toeneem nie. Suid-Afrika se 2010-status op dié organisasie se indeks was reeds as “hoogs korrup” beskryf waar lande minder as 5 uit ‘n skaal van tien haal – met Suid-Afrika verlede jaar op 4,5.
Die groot terugslae wat die land getref het, verander egter niks aan die belangrikheid van COP 17 nie, en om as teenreaksie op die regering se hardvogtigheid COP 17 nie ‘n sukses te maak nie, is soos om jou eie nes te bevuil.
Klimaatveranderinge is nie nuut nie. Die onherbergsame Sahara was ‘n paar duisend jaar gelede nog ‘n savanna-gebied met wild- en later veetroppe, riviere met krokodille en mense wat selfs landerye gehad het. Nog meer onlangs, sowat 700 jaar gelede, het die Vikings hul Groenlandse kolonies ontruim omdat die klimaat te koud geword het. Nou, na dramatiese verandering, plant die Groenlanders aartappels, radyse en broccoli. Duisende skape word weer aangehou.

Die nuus oor klimaatverandering is egter nie oral goed nie. Riviere droog op voor hulle die see haal, vlakke van mere daal, inheemse bevolkings wat van sterk vloeiende rivierstrome afhanklik is om afgekapte boomstompe af te voer vir brandhout, moet steenkool begin verbrand. Spesies sterf uit, en sommige spesies floreer onder die klimaatsveranderinge, brei hul verspreidingsgebiede uit en verdring kwesbaarder diere. As klimaatverandering ‘n natuurlike gegewe is – is daar werklik iets wat die mensdom daaraan kan doen?

Dis ‘n veld waarin ontkenners floreer, en ewe gereeld maar sonder sukses reggehelp word. Wys die wetenskaplikes daarop dat die seevlak al vinniger styg, sal die ontekkenners ‘n grepe uit die grafiek neem waar die seevlak gedaal het of ‘n kontinent vinniger gestyg het om te probeer bewys dat die teenoorgestelde eerder gebeur. Word op die impak van koolstof-vrystellings gewys, word aangevoer dis onbeduidend teenoor die hoeveelheid metaangas – ook ‘n kweekhuisgas – wat rysmiere in die atmosfeer vrystel. Termiete stel na raming sowat 40 % van die metaangas vry wat jaarliks in die atmosfeer beland.

Die mens kan ook niks aan die spoed van kontinentale drywing verander nie, wat oor lang tydperke die klimaat sal verander, soos verskillende kontinente afwisselend oor die pole en die ewenaar skuif. Op die korter termyn beïnvloed dit seestrome. Die mens kan ook min doen aan die aarde se rotasiesiklusse wat volgens navorsing moontlik die rede kan wees oor hoekom meer en minder warm Indiese Oseaan-water na die Atlantiese Oseaan lek, wat nie net sake in die suide dikteer nie, maar uiteindelik die Noord-Atlantiese Dryfstroom beïnvloed wat ‘n gematigde klimaat verder noord verseker. Die mens kan ook op de aarde niks doen aan kosmoklimatologie nie – die effek wat tydperke van minder en meer sonaktiwiteite uitoefen en meer deeltjies in die atmosfeer laat wat wolkvorming, en dus temperatuur beïnvloed. Navorsing toon duidelik hoe sonaktiwiteite en klimaat deur die geskiedenis hand aan hand verloop het. Net so min kan die mens iets aan aardbewings doen – die aardbewing van M 8,1 wat in 1998 teenaan Antarktika voorgekom het word aan aardkorsopheffing onder die invloed van smeltende ys toegeskryf. So ‘n aardbewing kan ‘n tsunami veroorsaak en nog meer ys laat afbreek. Hoe minder ys oor die see, hoe minder sonligweerkaatsing van die ys af , en hoe warmer word die see. Die Arktiese ysplaat het die afgelope noordelike somer moderne rekordvlakke van wegsmelting getoon. Die reuse Japannese tsunami – toe dit reeds erg verswak Antarktika bereik het, het dit steeds reuse ysplate in die see laat afbreek, waarvan een so groot soos Manhattan.

Die natuurlike siklusse word nie ontken nie, maar die mens het so ‘n groot impak ten koste van die natuur begin uitoefen dat die mens se impak saam met die natuurlike faktore gemeet kan word. En dit kan, en moet beperk word. Baie onlangs is beraam dat die aarde se bevolking 7 miljard gehaal het wat druk op onder meer voedselproduksie plaas. Klimaatsverandering het nie oral dieselfde uitwerking nie. Sommige dele gaan warmer en droër word, ander dele gaan minder geraak word. Groot dele gaan egter meer storms en toestande van uiterstes beleef. Die seevlak se styging kan vir stede langs die kus ernstige gevolge inhou, veral waar dit met kontinentale daling gepaard gaan. Tafelberg was eens ‘n eiland, terwyl Valsbaai weer in ander tydperke die weiplek van wild was. Die diepte in die see waar klipwerktuie van oermense gevind word, wys dat die seevlak selfs in die betreklike kort tydperk van die mense se teenwoordigheid op die aarde ‘n aansienlike impak kan hê.

Om te probeer bepaal hoe aardverhitting na verwagting die verskillende wêrelddele gaan raak, word ‘n vakgebied bekend as paleoklimatologie onder meer ingespan. Dit help dat lande om in hul beplanning te kan bepaal waar voorkeur behoort te wees vir die aanlê van nuwe stede sodat water nie ‘n onoorbrugbare probleem word nie, terwyl toekomstige geskikte landbougrond nie ook onnodig vir residensiële doeleindes ingespan word nie. Landbouers kan geadviseer word oor die aanpassings wat aan boerdery gemaak behoort te word. In België moet hospitale se begrotings jaarliks aangepas word om voorsiening te maak vir die geleidelike noordwaartse verskuiwing van die lyn ten suide waarvan mense meer geneig is om velkanker te ontwikkel. Al hoe meer UV-bestralingswaarskuwings word in Nederland uitgereik.
Die mens moet egter ook sy deel doen om nie die rampspoedige prosesse aan te help of te versnel nie. Dit behels onder meer die vermindering van koolstof- en metaangasvrystellings. Dit beteken minder steenkool en ru-oliekragsentrales, en die vervanging daarvan onder meer deur die skadelike metaangas te verbrand, of om skoon, hernubare elektrisiteit op te wek.

Hidro-kragopwekking en selfs sonkragverhitting kom algemeen oor die wêreld voor, terwyl windkragopwekking al hoe meer algemeen word. Verskeie instansies, waaronder die Universiteit van Stellenbosch, doen navorsing om golfkrag en selfs getykrag aan die kuste te ontsluit. ‘n Paar jaar gelede is die belowende Anaconda-tegnologie bekend gestel. ‘n Metode om elektrisiteit wat deur sekere plantsoorte opgewek word met spesiale komberse te onttrek sonder dat die plante in die proses vernietig word, het ook ‘n groot hupstoot gekry toe die Chinese daarin geslaag het om dié spesiale komberse veel goedkoper te vervaardig.

Dit beteken egter ook dat die mens moet toesien dat die natuur ook voldoende suurstof produseer, wat ‘n groot premie op ‘n groen ingesteldheid plaas. Oorsee is dit algemeen dat koerante daagliks ‘n spesiale groen afdeling dra, met nuus oor die sogenaamde plastiekeiland, herwinning en omgewingsbewaring. Die media het egter ook ‘n belangrike rol vir die voorstelling van geskikte rolmodelle, en ongelukkig kry die Suid-Afrikaanse media hiermee ook effe die wind van voor met ‘n president met meer as 20 kinders, waarvan nie almal binne die eg nie. Tog moet elkeen sy eie deeltjie en meer doen.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae