Nuuskommentaar: Media en staatskaping, en die verkiesing

Argieffoto: Pixabay.com

Destyds, toe dit bekend geword het dat die regering se pensioenfonds, die GEPF, geld aan dr. Iqbal Survé “geleen” het om sy koerantgroep, die Independent News & Media, aan te skaf, is in verskeie koerante berig dit is onder regeringsdruk gedoen om die ANC ’n gunstiger oor en mondstuk in die gedrukte media te laat bekom. Dit het onlangs bekend geword dat die GEPF ’n reusagtige R1 miljard van Independent News & Media se skuld aan die GEPF afgeskryf het.

Een van die redes wat die GEPF in sy jaarverslag aangee oor hoekom die geld afgeskryf moes word, is dat die gedrukte media se inkomste weens verminderde advertensie-inkomste onder druk verkeer.

Netwerk24 het op 28 Januarie vanjaar nog berig dat Survé se maatskappye verliese van R6,3 miljard tot die OBK-fonds bygedra het, en dat die GEPF die swaarste hierdeur getref word. Die media het onlangs berigte geplaas oor hoe gebrekkige boekhouding deur die GEPF die feit verdoesel dat die fonds op probleme afstuur as sake nie reggeruk word nie. Ook die OBK, wat namens die GEPF beleggings doen, word nou ondersoek.

Dit is ’n wêreldwye verskynsel dat gedrukte koerante onder druk verkeer, onder meer oor die opkoms van nuusverskaffing deur die kuberruim.

Die media is ook al verskeie kere in die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping genoem. In die opspraakwekkende getuienis van Bosasa se voormalige bestuurshoof, Angelo Agrizzi, is ook beweer dat Bosasa verskeie joernaliste omgekoop het, onder meer om gunstig oor die instansie te berig. Minstens sommige van die joernaliste het die bewerings in die getuienis ontken.

In ’n nuwe Rasmussenpeiling het 63% van die Amerikaanse kiesers aangetoon dat hulle selde of ooit nog ’n gedrukte koerant koop. In Mei verlede jaar het 5% meer respondente nog gedrukte koerante gekoop. Tien jaar gelede het net 30% van die respondente selde of ooit ’n koerant gekoop.

Ook in Suid-Afrika het koerante ná ’n lang bestaan gesluit, soos The Friend van Bloemfontein. Die Oosterlig van die Oos-Kaap is by Die Burger ingelyf, en bestaan nou hoofsaaklik as kuberkoerant. Enkele jare gelede het dit rugbaar geword dat Volksblad sou sluit, wat wye protes ontlok het, veral omdat dit al dagblad van Media24 was wat in daardie stadium ’n wins gemaak het. Die besluit is later omgekeer.

As na die media in Suid-Afrika gekyk word, word wisselende menings geregverdig. Sonder om te onderskei tussen gedrukte media en kubergedrewe media, kan gesê word dat sommiges uitstekend in hul waghondrol vaar. Die Daily Maverick het byvoorbeeld ’n reusebydrae gelewer tot die ontrafeling van die staatskaping. Soms het fopnuus weer, aldus kritiese lesers, wye draaie deur sommige media gehardloop.

Hoe gaan die komende verkiesing die media raak?

Wat redelik duidelik blyk, is dat die era van enkele dekades gelede toe verskeie Afrikaanse dagblaaie nog verkiesings oop oë kon ingaan welwetend dat die soort beriggewing (soos blatante politieke kantkiesery) tot ’n tydelike afname in lesers sou lei – dermate dat vir hierdie tydelike verliese begroot is – is vir altyd verby. Daar is net eenvoudig te veel alternatiewe nuusbronne, wat dit vir lesers onnodig maak om dag vir dag omgekrap te wees oor hoe bevooroordeeld die nuus in “die koerant” aangebied word. In ’n effense later era het die direksie op die harde manier geleer om nie te lank met ’n redakteur vol te hou terwyl hy lesers met sy eie politieke en ideologiese voorkeur nie net vervreem nie, maar ook erg die duiwel in maak.

Partye wat voorheen by sommige media eenvoudig ’n onkritiese vrypas gehad het, vind nou dat daardie selfde media ook hul blapse onverbonde beoordeel, en dit op skrif stel.

Die relatief minder geld waarmee koerante nou moet klaarkom, lei dikwels tot jonger en minder ervare verslaggewers, en boonop verskraalde getalle. Die onus verskuif dus tot groot mate na die politieke partye om meer gebruikersvriendelike mediadienste, soos mediaverklarings, uit te reik.

Dit lyk of dit nie meer net die kleiner partye is wat vir nuusverklarings van hoë gehalte in die regte tale sal moet sorg om raakgesien te word nie, maar ook groter partye moet vinger trek om persvriendelik mediatoeganklik te wees. Die ANC is waarskynlik nou nog al party wat nuusdekking sal kry, al word nie veel moeite vir die media gedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

Dis so verkeerd hoe sekere hoofstroommedia heeltyd vir die regerende party dekking gee en net slegte nuus gee oor alternatiewe partye.

christa ·

ek hoop die klomp “ja” stemmers se oe het intussen oop gegaan en stem hierdie keer reg. Hulle moenie weer volgende jaar weer skaam kry vir hulle stem en weer op ander se rug ry om die wa oor die brug te trek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.