Nuuskommentaar: Media in die loopgraaf

koerant

Argieffoto

Daar is ’n verskuiwing van mediavoorkeure onder lesers en luisteraars. Beteken dit dat die gedrukte media sonder meer voor die kuberruim gaan swig, en sou so iets wenslik wees? Herman Toerien neem ’n paar aspekte onder die loep.

Oor die belangrikheid van die media, en in besonder die pers, bestaan geen twyfel nie. Die pers is al immers dikwels as die vierde, weliswaar nie-amptelike been van die demokrasie beskryf.

Tog moet die media self, of mediakundiges, dikwels self dié belangrikheid onderstreep. So was daar onlangs ’n artikel van prof. Johannes Froneman, mediakenner van die Potchefstroomse kampus van die NWU, getiteld, “Dié joernalistiek bly onontbeerlik”.

Omtrent dieselfde tyd skryf die bekende dr. Leopold Scholtz ’n artikel onder die titel, “Moenie die media afskryf”.

In ’n snel-veranderende wêreld bly ou, gevestigde praktyke gereeld in die slag. In minder as een geslag het slakkepos so te sê uitgedien geraak. Hoeveel poskaarte verwag u vanjaar (of liewer iewers deur die loop van volgende jaar omdat die poskantoor se aflewering nie altyd waffers vinnig is nie), en hoeveel poskaarte stuur u uit? Of stuur u liefs Kersboodskappe met die selfoon uit?

Selfs die telefoon moes grootliks vir die selfoon plek maak. ’n Nuwe geslag word groot sonder die geringste verwagting om eendag ’n gewone telefoon in die huis te hê.

Hierdie omvattende ontwikkelings sal noodwendig na die mediawêreld deursuiker. Anders as met die slakkepos en landlyntelefoon is die weerstand nie hoofsaaklik veral bejaardes met ’n weerstandigheid om nuwe tegnologie baas te raak nie. Baie van diegene wat vir die behoud van gedrukte koerante pleit is self ysters in die kuberruim en wend ook die kuberruim aan om voorbrand te maak vir die behoud van gedrukte koerante.

Een van die belangrikste aspekte van ’n groot koerantgroep is dat dit gewoonlik oor ’n baie sterk span beskik wat na die suiwerheid en kwaliteit van taalgebruik omsien. Daar is behoorlik gevestigde tradisies van korporatiewe geheue wat van die een geslag na die volgende geslag joernaliste oorgedra word.

So word voorkom dat allerlei taalgoggas insluip en lesers kry ’n behoorlike blootstelling aan baie goeie Afrikaans.

Ongelukkig bring vernuwing en besparings nie altyd verbeterings nie en die vreemdste goggas slaan soms soos masels uit. Ons lees nou gereeld iemand het ’n operasie gekry of ontvang, ons lees van seksies en afdelings in wette in plaas van artikels. Mense word links en regs “verban” terwyl hulle eintlik net geskors is of uitgeskop is. Pres. Jacob Zuma is glo lief om eertydse bondgenote “onder die bus in te gooi” in plaas van om hulle vir die wolwe te gooi. Verwarring oor numeriese terme kan groot verskille maak, soos om die Amerikaanse “billion” met ’n biljoen, in plaas van miljard te vertaal.

Dit is maar enkele voorbeelde van uitrafeling. Beeld se sportredakteur, Gert van der Westhuizen, het pas in ’n rubriek, “Afrikaners vermoor hul eie taal”, erg uitgepak oor taalgoggas wat aan boord gesluip het. By die oorgrote meerderheid lesers sou die voorbeelde wat hy noem ongesiens verbygeglip het.

Die media, en in besonder die gedrukte media, se rol strek egter veel verder as hierdie gemeenskapsdiens. Dit moet as waghond dien teen owerheidsvergrype. ’n Mens kan ’n lang lys sake maak wat aan die lig gekom het nadat die media dit aan die groot klok gehang het, waaronder Nkandla. ’n Openbare uitsaaier sal nie maklik politiek-sensitiewe vergrype kan oopkrap nie, en as dit politiek gekaap is, ook nie die wil daartoe hê nie.

Op hierdie terrein is politieke korrektheid dikwels die gedrukte koerant se grootste vyand.

In die moderne bemarkingsomgewing speel ’n mediamengsel ’n belangrike rol. Op wetenskaplike gronde word bepaal hoeveel persent van ’n bemarkingsbegroting bestee word aan die gedrukte media, hoeveel aan radio en hoeveel aan TV. Selfs brosjures en pamflette word dikwels saam met koerante versprei (teen ’n koste) omdat die assosiasie-effek ’n groot invloed het.

Die gedrukte koerant het dus (nog) baie positiewe stoom ook en sal nie so vinnig uitgedien raak soos ander tegnologiese wonders van gister en eergister nie.

Maar dan moet dit ondersteun word.

Maar … koerantbase moet ook besef die oorlewingsdraad is dun, en dat koerante nie kan bekostig om in ’n oorlog met sy lesers betrokke te raak nie. Die era wat ’n redakteur in ’n hoofartikel kan skryf dat die openbare diskoers oor aborsies iets van die verlede is (terwyl dit in byvoorbeeld die VSA juis toeneem), en dus verder nuus hieroor verswyg, is verby. ’n Redakteur kan ook nie sy persoonlike klein byltjies slyp nie. Lokvaljoernalistiek van gerespekteerdes laat ’n swak smaak. Te veel bydraes van loskop-rubriekskrywers veroorsaak lesersweerstand.

Gelukkig is Suid-Afrika se Afrikaanse koerante nou op die regte koers, en verdien ondersteuning.

Maar sou die gedrukte koerant ondergaan – wat is die alternatief?

Dit word dikwels gestel dat die mag van die sosiale media onderskat word, soos met die Amerikaanse presidentsverkiesing. Die breë sosiale media kan egter nie so maklik onderskei tussen werklike nuus en opperste wolhaarstories nie. ’n Goeie joernalis of nuuspraktisyn is immers opgelei en gekonfyt in die omgaan met inligting.

Nuusforums in die kuberruim is waarskynlik nou die naaste wat ’n mens kan kom aan ’n futuristiese koerantidee. Met ’n tablet is dit net so “draagbaar” soos ’n koerant, en met nuus op die selfoon, selfs meer. Anders as die koerant word dit deurlopend opgedateer. Dit kan self uitsendings doen, soos klankgrepe, en ook video-insetsels plaas. Nuutgeplaasde nuus is net so onmiddellik aan ’n Afrikaanse leser in Nieu-Seeland as in die VSA beskikbaar.

Daar is egter ongelukkig diegene wat tegnologies opsien teen die nuwe moontlikhede.

En groot korporatiewe adverteerders moet dikwels nog oortuig word dat hierdie nuusforums ’n doeltreffende manier is, en ’n beduidende aandeel van ’n mediamengsel verdien. Die lesersgetalle kan immers bewys word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Theuns ·

More Herman, ek is al die afgelope 8 jaar betrokke by die grootste ink vervaardiger (gedrukte media) in die Suidelike Halfrond. Die ink bedryf het noemenswaardig gekrimp gedurende laasgenoemde tydperk, veral in Suid Afrika. My maatskappy se verkope het dramaties afgeneem as gevolg van die verswakende Ekonomie en toenemende werkloosheid. Arm mense lees nie koerant nie. Ek vermoed dat die elektroniese media die selfde pad gaan volg, veral media wat “geld” vra vir toegang tot hul elektroniese koerante! Maroela Media doen goed want die Koerant is verniet behalwe vir die Data wat jy steeds nog moet koop!Groetnis en dankie vir jou artikel.

Johann ·

Die nuutste tegnologie/nuwe tegnologie, bly wonderlik, mens kan nie agteruitboer nie, maar die digitale era en soos Window’s/Microsoft en derglike programme, ook hardeware, wat deurlopend opgradeer/ontwikkel word, tap dit die mense se geld, dus is hulle (die diensverskaffers en ontwikkelaars) daarop ingestel om oor en oor en oor van dieselfde of dan bestaande kliente geld te maak, deur gedurig op te gradeer, en elkeen dra daartoe by dat die bondels en data verbruik die hoogte inskiet.

Daar is ook baie slimprogramme in die tablette om die gebruiker afhanklik te maak, maar wat net “nice to have” is, as jy dit ooit gebruik, dit tap jou data, so die nuwe tegnologie, en om by te bly, kan jou ‘n astromiese bedrag per maand uit die sak jaag. Gaan kyk gerus watter programme in jou foon/tablet edm tap jou data, dis omdat die goed in die agtergrond werk, sit dit af.

Mens moet maar gedurig op die loer vir al die slaggate wees. Die geheim het ek gevind, is om ‘n balans te handhaaf, hangende af van jou behoefte, en jou sak. Baie mense hou maar daarvan om, wat koerante aan betref, die harde kopie in die hand te hou, al is die nuus ‘n dag oud, dieselfde met boeke, al het hulle internet.

Louw ·

Nuus in gedrukte media is ou nuus en daarom nie meer nuus nie.

Pietman ·

Gedrukte media gaan binne die volgende 10 na 20 jaar verdwyn. Die internet bied aan adverteerders meer betroubare lesertal ( self skrywers kan hul lesertal monitor) asook meer inligting rondom die inkomste en belangstellings van lesers. Met tweerigting kommunikasie sal digitale media nooit uit voeiling bly met hul lesers nie. Naspes het ‘n groot fout begaan om hul kommentare te sluit/ of om dit dood te sensor. Lank lewe vrye onafhanklike digitale media.

Leopold Scholtz ·

Beste Pietman, jy is heel moontlik reg met jou voorspelling oor die gedrukte media. Maar daar sal altyd behoefte wees aan nuusmedia as sodanig, of dit nou digitaal of hoe ook al is. En dus sal daar altyd behoefte wees aan onafhanklike gehalte-joernalistiek. Wat natuurlik nie beteken dat dit moet voldoen aan die vooroordele van hierdie of daardie seksie lesers nie. Terloops, Media24 het nie die kommentare van lesers gesluit nie. Vermoedelik het jy lank laas na Media24 se webwerf gekyk. Ek wens jou ‘n aangename dag toe.

Jan ·

Die afgelope jaar of twee het belangstelling vir digitale boeke in die hek geduik. Die mense verkies die gedrukte boek. Sekere van die groot name wat die digitale verkope behartig het, het toegemaak, ander het baie afgeskaal. Ook van die drukkers wat dit in die verlede gedoen het, stel nie meer belang nie.

FC ·

Pietman, ek dink jy is konserwatief. Ek gee gedrukte koerant maar 3-5 jaar.
Die groter wedloop vir die media verskaffers gaan nou hoofsaaklik gaan om inhoud en wie eerste met die nuus gaan wees.
Ek spandeer reeds meer tyd op ander nuus webwerwe net omdat ek agterkom maroela is so bietjie agter die tyd.
Die enigste trekpleister hier is egter die berigte wat jy nie by die ander plekke sien nie.

Pietman ·

Beste Leopoldt. News24 is Naspes se grootste aanlyn nuuswebtuiste en daar is geen kommentaar opsies nie. Met die Afrikaanse weergawe moet mens inteken en betaal en dan word jou kommentaar onder streng sensuur geplaas. Dit is natuurlik deels die rede hoekom Maroela enigsins bestaan.Die ander rede is omdat die koerante slegs meningsvormers gebruik van een gedeelte van die politiek, dit is verlinks, polities korrek ( of te wel polities onverdraagsaam). Groete

Johann ·

Hi Pietman, op News24, is daar links bo-aan ‘n plek waar jy die muis hou, dan kom die opsie van rubriekskrywers (columnists) op waarop jy kan klik, daar is skrywes van Max, Adriaan, Melanie, en nog ander wat mens kan lees en waarop kommentaar gelewer kan word.

Tiaan ·

News24 berig nie oor als nie, dit is daarom belagnrik om Maroela dop te hou, die verskeidenheid is belangrik. Dankie Maroela Media

miv ·

Dit is gemakliker om die koerant aan lyn te lees, veral Maroela Nuus, Vryburger en die Praag Koerant. Verkies egter om tydskrifte te koop. Hou van die fisiese hantering van ‘n tydskrif en 10 jaar verder is dit steeds interessant

John ·

Kubermedia is ongelukkig baie meer selektief wat nuusdekking betref as die gedrukte vorm sekerlik ook weens die beskikbaarheid van spasie, gevolglik bly ‘n verskeidenheid van sienswyses in die slag. Breinspoeling op sy beste is so moontlik veral deur instansies met groot fondse tot hul beskikking. Sonder gedrukte media (en boeke), sal die wereld in der mate gemanipuleer word dat enersdenkendheid die wagwoord sal wees. Koste is nog ‘n faktor wat internetgebruikers dwing om keuses te maak en hul tyd te beperk. Om ingelig te wees is uiters belangrik. Wie nog nie die klank van ‘n drukpers gehoor het of vars ink op papier geruik het nie, mis baie. En in die ou dae die woordsetters met hul agterstevoor loodletters in aksie… nou word ons verstokte robotte in die hande van slinkse ideologie-inprenters…

Jan van Riebeeck ·

Die Afrikaanse media verstaan blykbaar hulle rol as ‘vierde been van die demokrasie’ heeltemal verkeerd met hulle aanvalle op die behoudende Afrikaner. Beteken demokrasie nie juis dat alle kante ewe effektief aangehoor moet word nie?
Max du Preez, Albertus van Wyk en ander wat geswig het voor OÏKOFOBIE, (die haat van/ afsku teen/ vrees vir alles wat jou eie is) het veel te sê oor Xenofobie, maar hulle maak hulleself skuldig aan die teenoorgestelde daarvan.
Ons word gevra om die media te ondersteun, maar verdien hulle dit met die ongebalanseerde skadelike beriggewing?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.