Nuuskommentaar: Mediaverbod op slegte nuus kan boemerang

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Pres. Jacob Zuma se uitvaardiging van ‘n proklamasie  wat die media belet om slegte nuus tot na die verkiesing te dra, kan boemerang. Zuma het ‘n omstrede bepaling in die kieswet gebruik om die proklamasie uit te vaardig, wat net na middernag vanoggend in werking getree het.

Die verbod is algemeen verwag na die ANC gister tydens ‘n mediakonferensie sy ontevredenheid uitgespreek het met senior partylede wat die party se strukture kritiseer, en na die opposisie Zuma skerp veroordeel het toe hy gesê het hy het oor Nkandla niks verkeerd gedoen nie, en dat hy weier om enige geld aan die staatskas terug te betaal soos wat die Openbare Beskermer voorgestel het, omdat hy nie daarvoor gevra het nie.

Die leiers van verskeie opposisiepartye het onthuts gereageer, en aangedui dat as dit nie nou reeds so na-aan die komende algemene verkiesing was nie, die proklamasie se grondwetlikheid in die howe getoets sou word. Die proklamasie sluit interdikte uit.

Onder die spesifieke sake en persone wat gelys is en waaroor eers weer na die verkiesing berig mag word, is enigiets wat met Nkandla verband hou, enige saak van die Openbare Beskermer wat die regering en spesifiek die ANC raak, die ANC se uitsprake oor godsdiens, Guptagate, Julius Malema, slaggate, e-tol, die wapenskandaal, Marikana, Amcu, Numsa, Julius Malema, Shabir Shaik, stakings, diensleweringsbetogings, onluste, Thabu Mbeki, korrupsie, plaasaanvalle, Solidariteit en AfriForum, Julius Malema, Zwelinzima Vavi, skoolboeke, kospakkies, Clive Derby-Lewis, Bafana Bafana, PUK, terugbetaal, minderheidsregte, bandopnames en Davos. Die volledige lys is agt bladsye lank. Hoewel Julius Malema se naam etlike kere in die lys voorkom, het die OVK bevestig dat die jongeling se plekke op die lys niks beteken nie. Malema is leier van ‘n wettige party wat aan die verkiesing deelneem, en die plasing van sy naam op die lys het geen regskrag nie, en moet eerder gesien word as ‘n aanduiding van hoe ‘n groot frustrasie Zuma ervaar met die jong man wat hy eens as sy kroonprins beskryf het.

Zuma se argument is dat dit nodig is om die politieke speelveld voor die verkiesing gelyk te maak. “Navorsing toon dat die voortdurende dra van slegte nuus ‘n demoraliserende uitwerking op mense se gemoedstoestand het. Hulle is dan geneig om die prestasies van die regering oor die afgelope twintig jaar nie raak te sien nie, en die ANC word onnodig gepenaliseer.”

Zuma het met sy aankondiging gesê die verbod is wydlopend, en sluit onder meer ook nuus oor hofsake soos die Oscar Pistorius-saak, en die vonnisoplegging van die Griekwastad-moordsaak. “Niemand kan betwis dat dit pure slegte nuus is nie.” Die TV-kanaal wat die Oscar-saak regstreeks uitgesaai het, is reeds gesluit.

‘n Groepie media is van die verbod uitgesluit. Dié media, soos New Age, het meestal bande met die Gupta’s.

“Hulle is vrygestel na hulle onderneem het om die verbode terme net so in te span dat dit positief op die ANC se verkiesingveldtog inwerk, en so help om die speelveld gelyk te maak,” het Zuma gesê. Media wat ook vrystelling verlang, kan aansoekvorms aanvra by Die Hoof, Politieke Indoktrinasie, Luthuli-huis, Braamfontein.

“Ons is geskok maar nie verbaas nie,” aldus dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus en voormalige hoogleraar in kommunikasiekunde. “Zuma het al by verskeie geleenthede aangedui dat hy meen die media se vernaamste taak is om mooi stories te vertel, en die praktyk het geleer dat dit maar op wolhaarstories neerkom, soos die ‘goeie nuus-boodskap’ wat nou die ANC se verkiesingsveldtog onderlê. Ons moet daarop kan wys dat Suid-Afrika voor grondpaaie teerpaaie gehad het, en voor kerse oor elektrisiteit beskik het.”

Die leier van die DA, Helen Zille, het in reaksie ontken dat die DA se veldtog daarop afgestem is om die ANC te diskrediteer. “Ons voer geen poefie-oorlog om die mislukkings van die regering onder die aandag te bring nie – ons dra ons eie boodskappe uit, teenstrydighede en al.”

Ds. Theunis Botha van die CDP sê in sy reaksie die verbod beteken dat die media ook niks meer oor Zuma mag rapporteer nie, want Zuma is self slegte nuus.  Daar is immers nie meer Zuma-grappe nie – want alles is nou die waarheid.”

Cope het in sy reaksie daarop gewys dat, hoewel die verbod vanaf 12:00 vandag ook die kuberruim geld, dit bykans onmoontlik sal wees om die sosiale media so te polisieer, selfs met die hulp van die NSA soos Zuma aangedui het, dat die inligting nogtans soos ‘n sif by die kiesers uitkom. Tensy die regering soos Turkye maak, en elke internetnuusverskaffer wat die regering se gramskap op die hals haal, se verspreiding stop.

Die Nasionale Redakteurforum het die verbod in geheel veroordeel, en oorweeg dit om sy lede te vra om hulle tot burgerlike ongehoorsaamheid te wend. “Die tronke is reeds oorvol misdadigers, en daar is nie nog plek vir duisende joernaliste wat hul missie om die publiek ingelig te hou ook nog aan te hou nie.”

Verslaggewers Sonder Grense, die Parys-gebaseerde internasionale mediawaghond wat jaarliks die persvryheidsindeks byhou, het woedend gereageer. “Pas na ons Suid-Afrika se posisie op die indeks verbeter het as beloning vir Zuma se weiering om die snoerwet te teken, kry ons nou hierdie skop in die tande. Dit gaan beslis op die volgende indeks reflekteer.”

Zuma het groot gehap, en sy adviseurs het blykbaar versuim dat dit moeilik is om ‘n geveg te wen teen hulle wat hul ink by die konka aanskaf. Innovasie gaan nou die sleutel inhou, soos om kodewoorde vir die verbode woorde te skep. Nkandla sal byvoorbeeld “compound” kan heet en bykans almal sal weet presies waarna verwys word, e-tol e-sondaar, diensleweringsbetogings rioolmoles, en so meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.