Nuuskommentaar: Meer tier in tenk, maar nie almal is bly

Argieffoto

Argieffoto

Sou die huidige tendens van dalende oliepryse voortduur of selfs net ’n ruk stabiliseer, kan Suid-Afrikaners in November ʼn derde agtereenvolgende daling in brandstofpryse verwag.

Die Opul-olieprys het Maandag tot minder as $86 per vat gedaal, wat ’n daling van bykans 23% sedert Junie beteken. Dit is die laagste prys sedert Desember 2010. Reuters en ander nuusagentskappe berig dat olieproduserende lande in die Midde-Ooste beplan om produksie hoog te hou, en Opul se volgende vergadering waar die kwessie bespreek gaan word, is eers vir 27 November geskeduleer.

Amptenare van Saoedi-Arabië het privaat aan Reuters gesê dat dié land tevrede is om die prys tussen $80 en $90 per vat te hou.

Die vraag is nou hoekom die Midde-Oosterse lande bereid is om pryse laag te hou deur te verseg om produksie te sny?Daar is byna net soveel verklarings as wat daar analiste is. Maar hoe moeilik dit is om die huidige gebeure te ontleed, blyk daaruit dat baie van die gewoonlik betroubare analiste ’n skrale twee weke gelede nog – terwyl die olieprys in die orde van $100 per vat was, voorspel het dat die olieprys sou styg. Een ontleder het selfs ’n vinnige styging van meer as 30% verwag. Diegene wat ’n daling voorspel het, het moeite ondervind om gehoor te word, en wanneer sulke voorspellings wel die media gehaal het, is dit so vaag as moontlik bewoord.

Nou soek ontleders na die moontlike laagste draaipunt, en baie voorspel dat dit met nog tien dollar per vat of selfs meer kan daal. Sommiges meen dit kan in die orde van $77 en $78 per vat wees – wat die olieproduksiekoste in die VSA en Rusland is. Sou so ‘n skuif op politieke of ekonomiese motiewe dui?

Rusland, wat deur sanksies gestrem word weens sy betrokkenheid in Oekraïne, word egter reeds deur die dalende olieprys geknyp. Rusland is vir ongeveer die helfte van sy inkomste uit die verkoop van olie en gas afhanklik. Die Amerikaanse olieprys het egter reeds tot vlakke van ongeveer $84 per vat gedaal, en Brent-olie tot ongeveer $88 dollar.(Die jongste stand van Brent en die tabel wat aandui hoe die olieprys sedert die begin van Augustus gedaal het, is hier beskikbaar).

Om goedkoop olie in die wonde te vryf het die roebel se waarde ook nog die vyfde agtereenvolgende week gedaal.

Om gelyk te breek met die beloftes in Rusland se jongste begroting, moet die olieprys gemiddeld $100 per vat haal. Opul is egter blykbaar tevrede om ‘n gemiddelde olieprys van $80 tot $90 per vat oor die volgende twee jaar te handhaaf.

Om die Russiese begroting vir volgende jaar te laat klop, moet Rusland reeds $7 miljard by buitelandse, en $27,2 miljard by binnelandse beleggers leen. Weens die invloed van sanksies maak dit beleggers egter senuweeagtig.

Die spanning het daartoe gelei dat vise-president van Rusland se staatsoliebedryf, Mikael Leontjef, teenoor Saoedi-Arabië uitgepak het en die land van politieke motiewe beskuldig om die olieprys te “manipuleer.” Hy het voorts gesinspeel iemand manipuleer weer vir Saoedi-Arabië.

Op die oomblik is die meeste analiste dit eens dat die swak vertoning van die wêreldekonomie iets met die laerpryse te make het. Dit beteken ’n laer aanvraag, terwyl die aanvraag gewoonlik juis in die aanloop van die noordelike halfrond se winter toeneem. Heelwat elektrisiteit word steeds in nywerheidslande deur olie- en gasverbranding opgewek, en in die winter styg die aanvraag. Maar selfs al word die laer aanvraag behoorlik gemotiveer en verstaan, verklaar dit kwalik die hoër vlakke van produksie.

Vanuit ‘n geopolitieke oogpunt moet dit in gedagte gehou word dat olieproduksie weens konflik in heelwat olieproduserende gebiede onder ruk is, of bedreig word.Sake in Libië dreig om na die chaotiese te neig, Suid-Soedan het met interne konflik te kampe, Sirië, weliswaar ‘n klein produsent, se produksie word deur die burgeroorlog bedreig, met veral die IS wat olievelde bedreig en selfs beset. Die IS het ook in Irak groot olievelde onder sy beheer gekry, en selfs van die olie verkoop om onder meer swaar wapentuig te bekom – skynbaar alles op die swartmark. Jemen se komplekse insurgensie-aanslae ontwrig al jare uitvoere weens die kwesbaarheid van die oliepypleidings.

Slegs die grootste optimis sal meen dat die politieke onstabiliteit in hierdie lande binnekort verby sal wees, en hierdie lande die (olie)krane behoorlik sal kan oopdraai en sodoende in elk geval die oliepryse af sal dwing. Dit wil dus nie lyk of die bestaande produsente nou moet skep terwyl ander produsente sukkel om te produseer nie.

Tegnologie vir olie-ontginning ontwikkel vinnig en dit is moontlik om olie te ontgin wat enkele jare gelede buite bereik sou wees, soos diepsee-ontginning en in die poolgebiede wat ook deur die terugtrekking van ys aangehelp word. Ook Suid-Afrika het onlangs aangekondig dat daar met diepsee-boorwerk na olie suid van die land begin gaan word. Dit is egter duur prosesse, en die suksesvolle ontginning hang af van hoë oliepryse. Nuwe, maar diepsee-velde by Maleisië, se gelykbreekkoste is enkele jare gelede op ongeveer $140 per vat bereken. Destyds is bereken dat die wêreldekonomie geknyp sal word deur pryse hoër as $35 per vat. Deur te sorg dat die oliepryse minstens periodiek tot aansienlik onder heelwat potensiële bronne se gelykbreekvlak bly, kan Opul keer dat te veel nuwe produsente na hul smaak die mark betree.

Op laas, as daar ’n doeltreffende plaasvervanger vir ru-olie sou kom, sit die olieprodusente met ’n nuttelose bate steeds ondergrond. Dit lyk egter nie of so iets binnekort kan gebeur nie.

Al neem hernubare groen energie ’n al belangriker rol in met lande soos Duitsland wat die toon aangee, word steeds voorspel dat die behoefte aan ru-olie weens die afhanklikheid van die vervoerbedryf daarvan, oor twee dekades met 60 persent sal toeneem. Dit wil dus nie lyk of daar ‘n dwingende behoefte is om so gou as moontlik oliebronne uit te put nie.

Maar is daar nie doodgewoon eenvoudiger, meer regstreekse redes nie?

Die VSA, tradisioneel self ’n olieprodusent, voer sedert die middel van die twintigste eeu olie in. Die VSA probeer egter die afhanklikheid van ingevoerde olie afskud, en het van ʼn afhanklikheid van 60% in 2006 tot ’n afhanklikheid van 36% in 2013 gedaal. Vir algemene energie-behoeftes is ’n redelike ommekeer gemaak met selfvoorsienendheid deur onder meer massale skaliegas-ontwikkelings. Volgens BP sal die VSA teen 2035 weens verhoogde olie- en skaliegasontginning energiegewys selfvoorsienend wees.

Minstens een ontleder, Gene McGillian van Tradition Energy, meen daar is senuagtigheid onder olieprodusente oor die skaliegas-verwikkelinge, en dat Saoedi-Arabië nou deur ‘n laer prys druk op die VSA se skaliegas-produsente probeer plaas.

Bedoeld of onbedoeld, dit lyk of daar dalk nou ’n broodnodige blaaskans vir die wêreldekonomie kan wees. En dat die vuisvoos Suid-Afrikaanse verbruiker vir ’n rukkie bietjie meer tier per rand in die tenk sal kan kry.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

PJ ·

Ag ek sien so graag uit na goedkoper brandstof sodat mens net kan beter asemhaal.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.