Nuuskommentaar: Mense ly aan regering-uitputting, nie Covid-uitputting

(Argieffoto: pixabay)

Dit is byna middel-Desember en Covid-19 hang steeds soos ʼn swaard oor ons koppe. Minister Zweli Mkhize het Woensdagaand aangekondig dat Suid-Afrika nou amptelik ʼn tweede Covid-19-golf ervaar. Die regering vergader tans om te besluit hoe hy dié golf gaan hanteer.

Die gedagte van strenger inperkings oor Kerstyd maak mense byna mal. Verskeie rolspelers smeek mense om die virus met die nodige erns op te neem. Ander mense, soos minister Bheki Cele, berispe gewone mense vir hulle roekelose optrede.

Die vraag is dan nou waarom ons nóú ʼn tweede golf ervaar. Indien inperkings werklik gewerk het, maak hierdie golf nóú glad nie sin nie. Ons is reeds sedert einde September op vlak 1. Indien slapper regulasies tot ʼn toename in gevalle lei, sou hierdie lankal gebeur het. Ook is ons tans in ons oorgang na somer – die warmer weerstoestande moet eintlik help. Die mees voor die hand liggende rede vir die huidige toename in gevalle is mense se veranderende optrede.

Die tweede golf kan waarskynlik toegeskryf word aan mense se nakoming (of nie-nakoming) van Covid-19-regulasies. Mense is bloot nie meer so paraat en paranoïes as wat hulle aanvanklik was nie. Selfs belangriker, kan mense dit nie meer bekostig om so paraat en paranoïes daaroor te wees nie. Die ongelooflike ekonomiese en maatskaplike impak wat ons inperking gehad het weeg ongelooflik swaar. Amper niemand kan dit bekostig om op hierdie stadium net oor die virus om te gee nie.

Kan ʼn mens enigiemand hiervoor blameer? Is dit enigsins vreemd dat mense nou minder streng met regulasies omgaan as vroeër vanjaar? (Hoe reg of verkeerd dit is, is ʼn heel ander debat.) Kan ʼn mens so ook enigsins geskok kan wees dat ons nou ʼn tweede golf ervaar?

Die Geesteswetenskaplike Navorsingsraad (RGN) het in April vanjaar en weer in Oktober ʼn meningspeiling gedoen oor mense se houding teenoor Covid-19 en inperkingsmaatreëls.

In April was die gevolgtrekking dat mense oorweldigend hul samewerking gegee het. Soveel as 99% van mense het óf by die huis gebly óf slegs uitgegaan om kos, medisyne of welsynstoelae te kry. Byna nege uit tien mense het ʼn vertroue in Ramaphosa se hantering van Covid-19 gehad. Net drie uit tien mense het gevoel dat die gevaar van Covid-19 oordryf word.

Die meningspeiling van Oktober het egter gespreek van ʼn land wat absoluut uitgeput is. Byna die helfte van mense het in dié rondte gesê dat hulle nie dink dat hulle Covid-19 in die volgende paar maande gaan kry nie. Nou net vier uit tien mense gedink Covid-19 se gevaar word oordryf. Net sewe uit tien mense gebruik gereeld ʼn masker wanneer hulle die huis verlaat. Sewe uit tien mense het sedert Junie supermarkte besoek wat nie die regte sosiale distansiëringsmaatreëls volg nie.

Indien ʼn mens kyk na die manier waarop die regering met regulasies op ons neergedaal het, is dit ook nie vreemd nie.

Vanuit die Oxford Covid-19 Government Response Tracker is ʼn indeks saamgestel wat kyk na die strengheid van inperkingsmaatreëls regoor die wêreld – 0 wesende geen inperkingsmaatreëls en 100 volledige harde inperking. Suid-Afrika was vir presies ses maande van 2020 tussen 72 en 88 uit 100. Dit beteken dat ons die helfte van 2020 onder amper die strengste denkbare regulasies ter wêreld deurgebring het.

Dus is dit hoegenaamd nie vreemd as mense laks met Covid-19-regulasies begin raak nie. Vir ses maande van die jaar het die regering met regulasies op ons neergedaal en elke aspek van ons lewens, beweging en vryheid beheer. Die regering het gewone mense soos kriminele hanteer en gewone mense se alledaagse bedrywighede ondergronds gedwing. Mense moes leer om met slinkse planne rondom die regering en regulasies te leef – net om te oorleef.

Aan die een kant kan mense dit net nie meer bekostig om uitsluitlik oor die virus om te gee nie. Mense moet ook hulle lewensmiddele beskerm en hulself finansieel lewend hou. Aan die ander kant het mense ook hul eie sielkundige en maatskaplike welstand geprioritiseer. Mense het besluit dat verhoudings met vriende en familie net so belangrik, indien nie belangriker, as ʼn moontlike gesondheidsrisiko is nie. Mense het gekies om ook na hul gemoedere om te sien en nie net oor die virus te bekommer nie.

Die regering se ongelooflike streng inperkings het sonder enige twyfel hiertoe bygedra. Die onnodige, en uiteindelik ook ondoeltreffende, regulatoriese las het mense net uitgeput. Mense het op die ou einde in elk geval gedoen wat húlle dink reg en noodsaaklik is om te oorleef. Boonop dit het ons ook nog ʼn las van skuld of vrees om uitgevang te word, gedra. Hoewel mense gedoen het wat hulle moes en wou, was dit nie sonder die regering se swaard van regulasies wat die hele tyd oor jou kop gehang het nie.

Dan wonder die regering waarom ons nou ʼn tweede golf ervaar. Indien hulle ons nie soos onselfstandige kinders hanteer het nie, sou mense dalk nog die emosionele, finansiële en maatskaplike kapasiteit gehad het om hul samewerking te gee. Mense het nie sieklik laks met regulasies geraak, omdat hulle ʼn veer voel oor die weerlose groepe se gesondheid nie. Mense is deur die loop van die jaar so deur die regering in onderdanigheid in geboelie dat hulle min krag en kapasiteit oor het. Almal probeer om net tot die einde van die jaar te oorleef – in terme van gesondheid, geldsake en gemoedstoestande.

Noudat daar werklik ʼn tweede golf is, is mense se kapasiteit om hul April-samewerking te gee, bloot verwoes. Die ironie van die saak is dat die regering waarskynlik dié probleem gaan probeer oplos met presies dieselfde planne waarmee die probleem in die eerste plek geskep is – net nóg regulasies. Die regering gaan egter leer dat regulasies nie saak maak as mense nie daaraan gehoor gee nie. Nie omdat mense roekeloos naïef is oor die virus nie. Nie omdat hulle nié oor ander se gesondheid omgee nie. Eerder omdat ʼn mens ook net soveel in een jaar kan vat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misky ·

Monica, 10 uit 10 vir die skrywe en jy kon dit nie beter stel en verwoord nie!!!!! Ek dink jy het op skrif gesit, hoe duisende van ons voel en so goed gestel

annie ·

Die misdrywe wat tydens die inperking gedy het… dat die ANC sy oè toegeknyp het om dit nie te wou sien nie en die syfers en grafieke wat duidelik spore van die WGO se besluite dra, dra by tot die huidige disrespek vir die hogere-raad se baasspeelfanfare. Ander siekes is totaal geìgnoreer. Om die virusuitbraak te misbruik om mag uit te bou is plein sonde. Die ekonomiese gevolge is afgemaak as iets tydeliks en ander se probleem. Die naskok kom nog en die regering is te slap om dit te besef.

Samuel ·

Strenger maatreëls gaan nie werk nie. Die bestaande regulasies moet eers toegepas word. Mens sien gereeld hoe bv. die dra van maskers geïgnoreer word op straat en in winkels. Waarom kan getalle in supermarkte nie beperk word nie?

Agge nee ·

Cele kan nie praat nie, sy neus is die heeltyd oop. Gister raas en skreeu hy op mense sonder maskers, maar sy neusgate is duidelik sigbaar. Hoe nou minister?

gehasie ·

Monica, dankie vir hierdie objektiewe joernalistiek. Hiermee saam wonder mens onwillekeurig wat die statestieke van laas jaar se griep was teenoor hierdie jaar. Volgens Google is meer as 12,000 mense laas jaar aan griep verwante oorsake oorlede en diè statestiek kom sonder al die getoets soos wat ons die jaar sien . ‘n Pandemie word gemeet aan sterftes beslis nie aan die getal mense wat siek word en daarvan herstel nie, anders het ons jaarliks van pandemie na pandemie beweeg. Inperking het ‘n verwoestende uitwerking op ons lewens en ekonomie. Risiko moet bestuur word en op ‘n verantwoordelike wyse en in diè geval met deurdagte wetenskap en nie likraak maatreëls wat ‘n verwoestende gevolg het vir almal nie.

Lorette ·

Een ding van Covid en die masker draery – ek was nog nooit hierdie afgelope jaar siek nie!!! As ek egter sien hoe laks mense by besighede is, verstaan ek die 2e golf. Verder het ons weerpatrone nogal die afgelope klompie maande wipplank gery – dan koud en dan warm. Ek moes al hier in ons normaalweg warm Noordkaap ‘n trui aantrek in November!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.