Nuuskommentaar: Menseregte en die pokerkrasie

Argieffoto (Foto: petja24, Pixabay)

Argieffoto (Foto: petja24, Pixabay)

Daar skuil ’n tikkie meer as ironie in die ANC se tema vir die amptelike viering van Menseregtedag vandag – “Suid-Afrika verenig teen rassisme”.

Die woord “verenig” is nie juis iets waarmee die ANC nou sterk kan smous nie, en gegewe sy rasbenepe beleid kan dit ook kwalik die toon oor rassisme aangee.

Na die naweek se ANC-NUK-vergadering word die indruk verkry van twee kampe waar die een nie behoorlik die oorhand oor die ander kan kry nie. Pres. Jacob Zuma het heel duidelik die getalle, veral in die NUK, aan sy kant. Dit kan ook nie anders nie, want byna al die lede is regstreeks of onregstreeks van Zuma (en as die jongste reeks onthullings op iets dui, die Guptas) afhanklik vir hul gemaklike bestaan.

Aan die ander kant kan Zuma en sy ringkoppe ook nie maak en breek soos hulle wil met diegene wat die rug begin styf maak het nie. Al ontken Zuma dit, het 9/12 duidelik getoon hoe die internasionale gemeenskap hulle op Zuma se eiebelang-streke kan wreek. Die rugstyfmakers hou heel duidelik ’n geweer teen Zuma se kop, maar oor genoeg spierkrag beskik nie een van die partye om die ander tot finale beslegting te dwing nie. Indien dit moontlik sou wees, sou gesê kon word die twee partye hou mekaar nou skaakmat. Of miskien is poker ’n beter vergelyking waar ’n blufspel mekaar op hul plek hou.

Die relevante gevolg is dat die land steeds met Zuma as president opgeskeep sit. Heel moontlik is sy vlerke taamlik geknip, maar die feit is dat die simboliek van dit waarvoor hy staan, steeds die beeld sal wees wat die land van buite kry.

Vir vandag is die mees relevante dat menseregte in bykans elke opsig skeefgetrek word. Menseregte, soos in die grondwet vervat, kan slegs behoorlike inhoud verkry as die owerheid hom tot die grondwet verbind – wat die handves van menseregte insluit. Baie van die uitgespelde menseregte is regstreeks van die owerheid afhanklik om inhoud te hê, soos die reg op veiligheid, taalregte en die reg op eiendom. Faal die owerhede is daardie regte so te sê niks werd nie.

Met sommige regte het die owerheid en burgery medeverantwoordelikheid. Die staat kan ’n institusionele raamwerk skep vir byvoorbeeld vroueregte, maar as individue dit bly skend beteken daardie regte maar weinig.

Ander regte, soos die reg op waardigheid, is eintlik ’n kwessie tussen mense.

’n Verbod op rassistiese optrede word op verskeie maniere deur die grondwet gevestig. Die grondwet plaas ’n verbod op onbillike diskriminasie onder meer op grond van ras. Die manier waarop die regering die “affirmative action”-klousule misbruik ondergrawe hierdie beginsel ruimskoots.

Voorts plaas die handves van menseregte ’n verbod op haatspraak, maar verskillende owerhede demonstreer ’n onwilligheid om dit ewehandig toe te pas. Kom dit van een ras, is dit haatspraak en verfoeilike rassisme waarteen hardhandig opgetree moet word. Kom dit van die ander ras, is dit vryheid van spraak.

En hierin is die ANC se hande allesbehalwe skoon. Onder appèl is “Kill the Boer, Kill the farmer”, oplaas tot haatspraak verklaar. Vandag heet die sokkerstadion in Polokwane egter na die hoofdirigent hiervan, wyle Peter Mokaba. Na die gelykheidshof Julius Malema vir soortgelyke woorde aan haatspraak skuldig bevind het, het die ANC geappelleer. Eers na Malema uit die ANC geskors is (hoofsaaklik oor sy onmin met Zuma en nie vir anti-wit-uitsprake in Zuma se teenwoordigheid nie “weens ’n gebrek aan getuienis), het die ANC buite die hof geskik.

Uit die uitsprake tot dusver is dit duidelik dat die ANC breedweg rassisme beskou as iets wat wittes teen swart mense pleeg. Dit is so dat sulke voorvalle dikwels voorkom, en waarskynlik meer dikwels as dit wat aan die groot klok gehang word. In die sosiale media is dit egter nag, en dit is moeilik om te oordeel wie is meer skuldig as die ander.

Maar kan los uitlatings van persone soos Penny Sparrow werklik opweeg teen die allesoorheersende vlakke van institusionele rasbenepenheid wat die ANC besig is om te voltrek?

Met Zuma se oorlewing word hierdie onewehandigheid in takt gehou.

En so lank as wat dit gebeur is Menseregtedag kruppel. So lank as wat die regering ideologies of in ’n slopersmentaliteit die land sy ekonomiese dryfvere beperk, so lank gaan die ekonomie stotter.

Dan beteken baie menseregte, soos kinderregte baie min omdat die staat nie die nodige geld daarvoor kan vorder nie. Gemeenskappe trek ook te noustrop om na die minder bevoorregtes om hulle om te sien.

Menseregte sal eers behoorlik inhoud kry as die owerhede die ekonomiese dryfvere loslaat om hul sterkpunte na behore te benut.

En die aanmekaar se gehamer op ras eerder as die spektrum redes vir ekonomiese ongelykheid, help nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Henry ·

Geen politieke party kan bekostig om so kort voor ‘n verkiesing van sy leier al is sy naam Zuma, ontslae te raak nie. Dat sy Gupta vlerke en kru politieke uitsprake geknip sal wees, is heel waarskynlik.
Indien die ANC groot verliese tydens die komende plaaslike verkiesing sou ly, is die einde van Zuma voor die algemene verkiesing in 2017, meer waarskynlik.

Johnny ·

Toerien slaan die spyker op die kop. Die stroom
teen afrikaanses trek egter baie sterk.al wat jy kan doen om hier uit te hou is werk,moed inpraat, vooruit beplan en jou mense ondersteun so ver moontlik. Ek glo vas aanlyn studie, privaat BLogs waar mense mobiliseer,ekonomies beplan,ondersteun sonder dat dit ontaard in regse jargon en onrealitiese ideologiee.praktiese planne van die kenners ens, sal baie help.

Otter ·

Deur “regse ideologieë” summier uit te sluit laat dit jou met die chaos wat ons omring: demokrasie in ‘n geïntegreerde SA vol diskriminasie teen minderhede (Mandelatopia). As Afrikaners te bang is vir selfbeskikkingsopsies wat ongewild is by die regime en linkse pers, dan sê ek: kom ons bring nóg 20 jaar deur in hierdie sirkus. Kom ons kyk hoe lyk jy ná nog 20 jr, Johnny!

Oom Kalahari ·

Herman Toerien, jou skrywes is altyd so op die waarhede gebasseer en elke skrywe was nog net inspirerend en gee mens altyd stof tot nadenke oor gebeure. Dankie dat u altyd op die man af skrywes plaas, ‘n uitleg aan die leser deurgee asook met oplossings moontlikhede vorendag kom. Ek waardeer altyd u plasings en ‘n groot dank.

Dan ·

Nee-wat met fyn beplanning hou hulle die wiel aan die rol, ras moet altyd voorgegooi word, hulle is te bang dat as rassigheid verdwyn dan is daar nie ander om te blameer nie, en so hits hulle hul mense aan om vir die regerende party te stem. Die mense is stiksienig wat dit aan betref.

Christo ·

Afrika demokrasie:Waar korrupsie regverdig is en dit jou reg is solank die meerderheid daarby baat en jy daarvoor kan stem.

Johannes Meintjes ·

… en tog, hoe het ons in SA op hierdie klipperige pad beland? Staatspresidente met staatsmanskap gesetel in geregtigheid behoort tog meer objektief te kan “regeer”? Is daar nie staatspresident materiaal in SA se geldere beskikbaar nie of is dit politieke (of geldmag) manipuleerders wie als so effektief beheer terwyl die burgers kreun, sug en bloot kantlynkommentaar lewer?

Francois du Toit ·

Die ding van rassisme het waarskynlik niks met kleur te doen nie. Dalk gaan dit oor kultuur en gebruike. Kleur is net ‘n handige handvatsel om sekere mense makliker te identifiseer. As mens sien wie die mense is wat so brand, steel en breek dan steek daar dalk waarheid in die teorie? Kyk wat het met die Jode, blankes in Duitsland, gebeur. Wat dink die kundiges oor die kwessie. Afrikane wat in Amerika opgegroei het het die gedrag van mede “African south africans” bra vreemd gevind toe hulle hier aanland.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.