Nuuskommentaar: Menseregtedag gevier, maar ramptoestand beperk regte

Foto: Courtney Africa/African News Agency(ANA)

Gaan Suid-Afrika môre Menseregtedag in met die afgekondigde ramptoestand wat nog meer duike in Suid-Afrikaners se grondwetlike menseregte slaan of is dit beperkings wat in belang van die breë gemeenskap geregverdig is?

Dit is môre, 21 Maart, Menseregtedag in Suid-Afrika. Vanjaar val Menseregtedag egter binne die ramptoestand wat verklaar is om die uitwerking van Covid-19 op die land en sy mense te beperk. Onder die beperkende regulasies geld onder meer ’n verbod op byeenkomste van meer as ’n 100 mense (kerkdienste ingesluit) en het vieringe van Menseregtedag self in die slag gebly.

In ’n verklaring wat die regering op 19 Desember verlede jaar uitgereik het, word vermeld dat die hoofbyeenkoms vanjaar op Colesberg se sportstadion sou plaasvind. Die aangekondigde tema was: “Die jaar van eenheid, sosio-ekonomiese hernuwing en nasiebou.”

Hierdie tema behoef ’n dwars tussenwerpsel – menseregte bestaan volgens die internasionale reg nie net uit individuele regte nie, maar ook uit minderheidsregte. Hoewel ons Grondwet in artikel 235 voorsiening maak vir selfregering, hetsy geografies of korporatief, vir taal-, en kulturele gemeenskappe, is die huidige regering gekant daarteen. Let wel, ras is, soos die internasionale reg, nie ’n grondslag vir selfbeskikking nie.

Met die Covid-19-pandemie is dit wêreldwyd ’n aktuele besprekingspunt of die maatreëls wat regerings inspan om die siekte onder die knie te kry, nie vergrype teen menseregte behels nie. Frankryk is byvoorbeeld daarvan beskuldig dat dit nou ’n polisiestaat is. Maroela het die onderwerp reeds op 17 Maart in ’n nuuskommentaar onder die loep geneem.

In die media oorsee het die woord “lockdown” (ook byvoorbeeld in Vlaams) diep voetspore begin trap, soos Italië, Frankryk en België, wat onder andere beteken dat skole gesluit is. Die media noem ook dat die lockdowns verleng kan word.

Brian Keogh van The Conversation slaan die spyker op die kop: “Nobody knows how long the crisis caused by the spread of Covid-19 will last – but millions of American workers who are suddenly out of work are wondering how to pay the rent on April 1. Many don’t qualify for unemployment insurance.”

Netwerk 24 berig vanoggend dat “60% tot 70% van die mensdom” Covid-19 op die lyf gaan loop. Lees hier.

Maar raak die bekampingsmaatreëls burgers se grondwetlike regte, wat insluit die menseregte? Die mees omvattende artikel hieroor is waarskynlik een deur die Amerikaanse hoogleraar Latisha Nixon-Jones. Sy draai nie doekies om nie: “Indeed, history has shown us that whenever the United States has encountered a biological threat, the government invariably weighs individual freedoms against the compelling need to protect the rest of us from a widespread epidemic. More often than not, a clampdown on civil liberties occurs.”

Maar wat van Suid-Afrika? Die eerste belangrike punt in hierdie verband is dat die regte vervat in die handves van menseregte onderworpe is aan sekere beperkings (artikel 36 van die Grondwet). Die Grondwet bepaal egter ook dat die handves se regte nie so beperk mag word dat dit die oorspronklike reg tot niet maak nie. Die verklaarde ramptoestand tas veral twee regte aan: beweging en om in groepe byeen te kom. Artikel 17 maak onder andere voorsiening vir die reg om vreedsaam byeen te kom. Maar wat byvoorbeeld van kerkdienste en sportbyeenkomste wat deur meer as 100 mense bygewoon word?

Artikel 21(1) waarborg die reg op vryheid van beweging, en (2) die reg om die republiek te verlaat. Maar die rampregulasies perk die reg van bewegingsvryheid aansienlik in, terwyl Suid-Afrikaners verbied word om sekere lande te besoek. Pres. Donald Trump se reisverbod na die VSA raak ook inwoners en burgers van sekere lande.

Artikel 21 maak byvoorbeeld voorsiening vir die reg op onderwys. Maar nou word skole gesluit. Dit is wel tydelik, maar verskeie lande soos Frankryk, Brittanje en Kanada het reeds aangedui dat hul ramp- of noodtoestande verleng kan word, wat weer verband hou met onsekerhede oor hoe lank hierdie maatreëls moet geld om die siekte se ergste tande te trek.

Let ook daarop dat die regering reeds aangekondig het dat nog strenger maatreëls aan die kom is, en dat nog strenger opgetree gaan word om dit toe te pas.

In die VSA dui ’n peiling daarop dat ’n kwart van die kiesers voel die presidentsverkiesing later vanjaar moet uitgestel word as Covid-19 steeds ’n probleem is, en nog meer voel die nominasieverkiesings wat nog gehou moet word, moet uitgestel word. In Suid-Afrika is tussenverkiesings nou vir eers van die baan, terwyl die Grondwet gereelde verkiesings waarborg.

Oor die breër front in SA is op die vraag of die regering en howe groepe se regte, ook internasionale minderheidsregte, beskerm soos die Grondwet vereis, min of meer eenstemmigheid dat dit nie die geval is nie. Die afjak vir Afrikaans by universiteite ter wille van ’n transformasie-uitleg is nou reeds ’n oorbekende werklikheid. Die beoogde wysiging van artikel 25 om grondgryp sonder vergoeding gebaseer op ’n vals narratief moontlik te maak skreeu teen die internasionale reg.

En die SA Menseregtekommissie? Net een woord: “Sies”.

Maar met die beperkings om die pandemie te probeer hokslaan verdien die regering nou ’n veertjie in die hoed – solank dit nie vir ander doeleindes misbruik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan Venter ·

Herman, ek sien die druk op gesondheidsorg in die private sektor word al groter, die NGV is nou erg in die visier, en ek haal aan:

1. Die huidige situasie betreffende die NGV is nié aanvaarbaar nie, sê Cyril.
2. Oproepe dat private hospitale deure moet open word al dringender.
3. Die regering het ‘n spesiale regulasie uitgevaardig om die private sektor se hospitale, dokters, verpleërs en toerusting te kan gebruik in die bekamping van die Covid-19-uitbreking.

Ek lees in 3 hier bo die woorde ‘te kan gebruik’, beteken dit tydelik, en wanneer raak dit permanent? Kom hierdie dan nie neer op die nasionalisering van die private gesondheidsorg nie?

Johan Venter ·

Hierdie nou ongeag van wat Zweli Mkhize gister hier onder betreffende die 97% van mense wat in die private sektor bedrywig is en private gesondheidsorg kan bekostig.

Johan Venter ·

Dr Zweli Mkhize het gister die volgende gesê toe hy met die SA Mediese Vereeniging en ander dokters in Pretoria vergader het:

“No-one has got 7 million people who are HIV-positive and many who are on antiretrovirals. No-one has got as much tuberculosis as we have. No-one has got the kind of inequality and spatial inequality and distribution of poverty to one part of the country, with affluence to one side. No-one has got that.

So far, the virus has mostly hit those who are middle-class citizens who can afford private health care.

At least 97% of the patients who have been diagnosed have been from the private sector. I don’t remember anyone that really came from a public hospital or public clinic.”

Waaroor ek wonder is as hy van die middelklas praat, is dit tien teen een daardie persone wat ook die land by wyse van persoonlike inkomste belasting dra en wat ‘n verdere impak op die ekonomie kan hê.

Anel ·

Ek sê maar niks, want wat ek ookal gaan sê gaan MM nie toelaat nie. Werklokheid en waarheid is 2 verskillende goed.

Elizabeth Margariëtha ·

Ek wil net baie graag weet waarom studente (volgens google nuus) vanaf Wuhan gevlieg is en in n 4ster oord in Polokwane tuis gaan. Dat hulle agv voorsorgmaatreëls daar in afsondering geplaas is, maak sin. Maar waarom die geheimsinnigheid rondom dit? Daar is weermag ontplooi en die polise is daar. Daar word selfs gemonitor dat daar geen drones oor die plek mag vlieg nie.
Dit gesien in die lig dat Wits studente positief getoets is maar hulle het opdrag gekry om in hulle kamers te bly.

Is dit dan onredelik om te vra wat gaan regtig aan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.