Nuuskommentaar: Menseregtekommissie sien die lig oor plaasmoorde

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Onder die hoofstuk 9-instellings (hoofstuk 9 van die Grondwet) het die Menseregtekommissie nog selde daarin geslaag om hom as een van die onbevooroordeelde uitblinkers te laat beskryf. Boonop het die voorsitter voorheen, as openbare beskermer, min aanduidings gegee dat die MRK onder sy voorsitterskap ’n nuwe koers sou inslaan.

Instansies soos die ouditeur-generaal, selfs (met baie kinkels) die Onafhanklike Verkiesingskommissie, en Thuli Madonsela as Openbare Beskermer het net te gereeld die MRK in die skadu gestel.

Nou gaan die MRK Donderdag ’n verslag aan die regering oorhandig waarin politici gekritiseer word omdat hulle hul nie sterker oor plaasmoorde uitspreek nie. In die verslag word erkenning verleen aan AfriForum en TLU SA se syfers dat daar sedert 1990 reeds 1 700 boere en hul gesinslede op plase vermoor is – teen ’n koers van vier keer meer as die land se hemelhoë moordkoers.

Kort nadat hierdie nuus bekend geword het, is nog ’n boer, dié keer van die Oos-Kaap, besonder wreed vermoor, terwyl sy ma ook in die aanval gesterf het.

Na berig word, handhaaf die verslag die redes wat gewoonlik as amptelike redes vir plaasaanvalle aangegee word soos dat misdadigers plase as maklike teikens beskou, en dat die misdadigers glo hulle sal nie gevang word nie. Dié verslag gaan egter verder, en meen onder meer die samelewing moet boere leer waardeer.

Vir die politici om dan, soos wat die nuwe verslag vereis, die aanvalle sterker en meer konsekwent te veroordeel, sal ’n groot verskil maak oor of boere waardeer word, of as ’n vyandige vrybuit beskou word. Tot dusver was dit ’n groot leemte in die links-liberale beredenering oor wat onderliggend tot plaasaanvalle lê.

Nou hoe gaan die regering op die verslag reageer?

In ’n algemene konteks skryf Tim du Plessis dat Zuma en sy meelopers hulle in ’n borrel bevind. In hierdie borrel het hulle op die oog af kontak met die werklikheid wat die gewone burgers raak, verloor. Zuma se onlangse uiteensettings aan die media, eerder as die parlement, oor hoe dit met die ekonomie gaan, laat bekende ekonome die kop skud. Volgens die jongste berigte word Zuma selfs van blatante leuens beskuldig oor werksgeleenthede wat (danksy die regering se inmenging) in sekere sektore geskep sou gewees het.

Wat plaasaanvalle betref, was die regering tot dusver eintlik strykdeur ook in ’n “borrel” oor die werklikheid. Trouens, die indruk word gewek dat die regering meer geïrriteerd is met aksies om die probleem te internasionaliseer as met plaasmoorde self en die impak wat dit op beleggersvertroue het.

Dit mag selfs wees dat die regering met die oorhandiging van die verslag (al weer) ’n paar regte geluide sal maak. Al meer kommentators word egter gefrustreer deur die verskil tussen planne en woorde, en die fisieke uitrol van aksies om probleme aan te spreek. Die doen-vermoë het skynbaar onder die gesamentlike aanslag van korrupsie, nepotisme, kaderontplooiing, “affirmative action” en ’n algemene gees van transformasie sleg in die hek geduik.

In die VSA was die aandag op die komende Amerikaanse presidentsverkiesing tot dusver grootliks op die Republikeine gerig waar ’n groot aantal kandidate reeds die veld betree het, en die magnaat Donald Trump boonop die een omstrede stelling ná die ander maak.

Hoewel daar sprake is dat prominente mense soos Al Gore die Demokrate se strydperk kan betree, is die belangstelling in hierdie party se vere regskud nog veel kleiner omdat Hillary Clinton se posisie as finale kandidaat nog taamlik onaantasbaar lyk. Tog dra Trouw vandag ’n artikel,  Twee tegenstanders nekken Hillary Clinton: Bernie Sanders en Hillary Clinton. Die skrywer, Bas den Hond, wys in groot detail uit hoe Clinton haar eie grootste opponent word, terwyl Sanders se statuur van ’n sosialistiese grap intussen sterk gegroei het.

Net so, lyk dit, kruip Suid-Afrika al nader aan die fiskale afgrond, met Zuma heel houtpopgerus in sy borrel wat daaroorheen sweef.

Die groot verskil is dat Clinton haar eie saak benadeel, terwyl Zuma die land enorme skade berokken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Prit ·

Bring terug die kummandos, ek sal R500 n maand skenk om hulle aan die gang te hou. Die regering is dood gelukig om wit boere uit te roei, dit is ins plig om na ons biere om te sien.

Pampoen ·

Miskien is ek maar net ‘n leek op die gebied maar die regering moet tog sekerlik kan insien dat indien hulle nie ‘n stok in die speek druk en plaasmoorde die aandag gee wat dit verdien nie ons as volk kort voor lank sonder ‘n manier gaan sit om kos op die tafel te sit tensy ons dit self in ons agterplase kweek nie. As die grond dan herverdeel MOET word vra dan die boer om ‘n stuk van sy grond asook sy kennis af te staan teen vergoeding natuurlik op hierdie manier leer ander rasse hoe om sy brood en botter eerlik te verdien en hy voorsien steeds die land ook van broodnodige bronne van voedsel. Maar nou ja dis seker maar ‘n tevergeefse droom dat hierdie land ooit verenig sal staan solank soos wat Zuma en die ANC sirkus die woordjie apartheid rondslinger!

Herman ·

Ek is steeds verstom oor hoeveel mense van die regering verwag om iets te doen. Ja hulle moet, maar self sonder Zuma en na die ANC kan ons vir ewig vergeet van n staat wat ons gaan beskerm. Hoe gouer almal begin selfdoen( En asb moet my ie sensor nie) ek bedoel nie geweld nie, net selfdoen. Dan sal ons ons eie lot kan bepaal. Almal braak gal oor sosiale media vanaf die rusbank…. EK is baie positief oor my toekoms, maar ek is realisties deur in die toekom nog minder van die staat te verwag en net meer vir myslef te doen. Sluit aan by die buurtwag, sluit aan by Afriforum, neem deel aan optogte vir die behoud van ons eie toekoms. Praat Afrikaans en dring aan daarop. Elke bietjie help.

Cornelia ·

Vergeet om staat te maak op die regering en polisie. Die regering is te besig … en die polisie te min… Begin jul eie Kommando stelsel met radios en en en. En beveilig julself. Beveiliging van julself en jul plase en huise behoort top prioriteit te wees. Wees ten alle tye paraat ! En in hemelsnaam alle mense van SA. Hou op huis toe jaag alleen sonder ‘n plan of ‘n wapen wanneer daar fout is. Hou op buitentoe stap om ondersoek te gaan instel wanneer jul iets buite hoor. Hou op met oop vensters ry. Dis leeu wêreld in SA. Ons almal moet wakker skrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.