Nuuskommentaar: Met Nommer 1 en EFF as vermaak op dreef is dit ’n wonder dat sirkusse nog oorleef

EFF-LP's word tydens 'n vorige geleentheid uit die parlement verwyder. Foto: Jacaranda/Twitter

EFF-LP’s word tydens ‘n vorige geleentheid uit die parlement verwyder. Foto: Jacaranda/Twitter

Dit lyk asof mens in Suid-Afrika nie lank hoef te wag voordat die volgende parlementêre sirkus hom in die media gaan afspeel nie. Die grootste rede waarom regte sirkusse met narre en akrobate die stywe kompetisie oorleef is, omdat die regte sirkusse vir meer volwasse vermaak sorg. En seker danksy die spookasems en springmielies ook.

Nog ‘n groot verskil is dat waar akrobate ʼn groot rol in ʼn regte sirkus speel, die parlementêre sirkus oorheers word deur marionette wie se toutjies vanuit Luthuli-huis getrek word. Dit maak van die parlement ʼn pseudo-parlement wat ʼn kwasi-demokrasie oorspan.

Seker die belaglikste van die parlementêre sirkus is dat van die narre verwag word om mekaar as “ônnerabels” aan te spreek. Want van “honourable” is daar natuurlik min sprake.

Hoe laat dit ʼn mens na wyle honourable Tiekie verlang?

Natuurlik is daar parlementslede en selfs partye wat hul bes probeer om hul ampte waardig te wees. Hulle werk hard, berei behoorlik voor; misbruik nie die tye wanneer hulle veronderstel is om “kiesafdelingwerk” te moet doen as pasella-vakansietyd nie in kiesafdelings wat van 1994 af nie meer bestaan nie. Op staatskoste. In die parlement waggel hulle nie van komiteevergadering na komiteevergadering voort, hoofsaaklik om aan die verversings weg te lê nie. Hulle word gereeld verguis oor die goeie werk wat hulle doen, want dit waarvoor hulle veg pas dikwels nie die marionetmeesters se persoonlike sakke en belange nie.

En hulle behoort nie tot die Kadervakbond nie.

Die ou spreekwoord lui dat die mense in ʼn demokrasie die regering kry wat hulle verdien. Die jongste peiling hieroor in die VSA dui daarop dat net 27% van die Amerikaanse kiesers meen dat die land op die regte koers is. In Januarie vanjaar was dit op ‘n “hoogtepunt” van 35% en in Oktober 2013 het dit ʼn slag by 13 % gaan draai. Wanneer peilings sulke lae syfers oplewer, is dit ook nie snaaks dat kiesers in peilings aandui dat kongreslede wie se name lukraak uit die telefoongids getrek word, beter as die verkose kongreslede sal vaar nie. ʼn Paar jaar gelede is Barack Obama vir ʼn tweede termyn verkies; nou vaar oud-pres. George W. Bush beter as hy in peilings – ongeveer dieselfde tyd as wat Obama in ʼn ander peiling as die gewildste persoonlikheid ter wêreld aangewys is.

Uiteindelik kies peilings nie die regering nie. Dis die voorreg van die kiesers om self ‘n gemors te gaan maak van hul stemkeuses en kort daarna te toyi-toyi teen die einste uitverkorenes.

Die spreekwoord lui immers: “Demokrasie is ʼn euwel, maar dis die beste euwel wat ons het.”

En as ons dan nie ʼn regering kan kies wat eerlik en doeltreffend kan regeer nie, dan kan ons immers op die parlementêre vermaaklikheidskanaal inskakel of dit via die media soos ʼn sepie volg.

Net soos die opgemaakte gesigte van die narre in die regte sirkus hul werklike hartseer verberg, so verberg die EFF-Mbete-vertoning die werklike hartseer van die land. ʼn Hartseer werklikheid wat nuutskeppings oplewer soos “nepokrasie,” “plunderkrasie” “kaderkrasie”, “tsjôtsjôkrasie”, Nkandlagate, Waterkloofgate 1 & 2, “bioskoopverslag” (die minister van polisie se Nkandla-verslag), “Sarafinagate” … of dan op ʼn ernstiger noot, tirannie van die meerderheid, rasbenepenheid of gewoon rassisties en so kan die lys al langer gemaak word.

Dit is kommerwekkend dat die regering nou skynbaar aktief besig is om grondwetlike demokrasie te verskraal deur die Vyheidsmanifes as ʼn soort evangelie te wil bemark. Die aanslag, so lyk dit, is op die beginsel van regsoewereiniteit gerig en dr. Blade Nzimande blyk nou as die voorsanger in hierdie koor te ontpop. Die nuutste “treffer” is: “Die NRO’s het Suid-Afrika in ʼn verleentheid gestel.”

Komende van dieselfde man wat al openlik gevra het dat die “belediging” van die president strafbaar gemaak moet word.

Dit gaan nie daaroor om Nommer 1 uit hoofde van sy amp te beledig nie, maar om sy wanoptrede in sy amp te kritiseer. Dr. Blade, ʼn mens noem dit demokrasie – daai ding wat ook in die Vryheidsmanifes genoem word en wat die SAKP as dekmantel gebruik om ʼn voortgesette rewolusie na ʼn sosialistiese paradys mee te verpak.

Hoe ver is die land van ʼn demokrasie af wat uitgelê word as die diktatuur van die proletariaat? Daardie vraag is nie so maklik om te beantwoord nie, want in die sosialistiese geledere is omtrent almal op die oomblik vir almal kwaad – die SAKP is netjies in die ANC ingeweef waar dit tot ʼn groot mate die kitaar slaan en die Kabinet as gyselaar geneem het. Hulle is kwaad vir die EFF en Numsa en kie wat uit Cosatu geskop is…

Gelukkig is daar ook ander aspekte aan ʼn grondwetlike demokrasie. Dinge soos ʼn vrye media (al is daar planne om dit aansienlik in te perk onder die vaandel van transformasie), die impak van burgerlike instellings (al veroorsaak hulle aldus dr. Blade vir die land (lees Zuma en kie) ʼn verleentheid, asook minderheidsregte (al word gereeld hoog opgegee dat die grondwet en die internasionale verdrae wat SA geteken én geratifiseer het nie daaroor voorsiening maak nie).

Slegs as dié wat omgee besit neem van daardie demokratiese grondwetlike beginsels kan diegene in die parlement wat hard probeer keer dat die parlement nie in ʼn “off Broadway-vertoning” ontaard nie, se hande gesterk word. Moenie (net) moan nie, sit ook skouer aan die wiel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hermann Strauss ·

Hierdie is baie meer as n sirkus. n Sirkus is gewoonlik baie goed georganiseerd.

MARTIN ·

Die verskil is: In die sirkus lag ons vir die narre. Hier noem ons hulle ANC/EFF.

freek ·

terwyl alles afgebreek word word, waarom nie ook die parlementsgebou nie en n sirkustent op die plek opgeslaan word.

Gideon ·

Herman Toerien vat die saak mooi raak met voortreflike kommentaar. Dit is veral jammer dat die ernstige politikusse nie hulle werk kan doen nie. Die EFF moet vir ‘n wyle stilbly en vir ander rolspelers ‘n kans gee om hulle werk te doen. Of miskien moet die marionet meesters aan die maak gestel word.

pop ·

En die president sit rustig daar en knip nie n oog nie. Met n gryns op sy gesig. Soveel te se “Not a care in the world”

edwin ·

In n neutedop.Die staatsDIENS amptenaar word aangestel deur die volk om tot diens te wees van die volk, maar die kriminaliteit van die staatsdiens amptenaar het dit omgeswaai na n staatsdiens kanker amptenaar waar voor die belasting betaler moet betaal

Gert van derMerwe ·

“The house of parlement” het nou die “House of horrers” geword

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.