Nuuskommentaar: Met Oscar-vergrootglas op SA maak Zuma weer skandes

Pres. Jacob Zuma Foto: Reuters

Pres. Jacob Zuma Foto: Reuters

As iemand die land in die skande wil steek, is dit nou ’n goeie tyd. Die media-aandag van die wêreld is op Suid-Afrika – nie net met Oscar Pistorius se vonnisverrigtinge vandag nie, maar die verhoor van Shrien Dewani wat ook internasionaal opspraakwekkend is.

Die Dewani-geval is ook van besondere belang omdat in sommige kringe beweer word dat buitelandse persepsies oor geweldsmisdaad in Suid-Afrika, van hierdie land die ideale plek sou maak om van ’n bruid ontslae te raak – dit sou maklik soos net nog ’n geval op die statistieklys lyk.

Maar dis nie al waaroor Suid-Afrika in die nuus is nie. Kort-kort haal die president die media wêreldwyd met stellings en opmerkings wat die land enorme skade berokken. En sulke stellings kom dikwels in vlae, wat veroorsaak dat die persepsies van ’n baie bisarre president maklik insink.

Die Mandela-kapitaal waarop die land – en Zuma – lank kon teer, is besig om uitgeput te raak.

Al drie dagblaaie in die Media24-stal se hoofartikels spog met opskrifte wat duidelik daarop dui dat die satheidsvlakke vir Zuma lankal by keelvol verby is. Beeld en Die Burger gebruik dieselfde inhoudelike in hul hoofartikels, maar die twee opskrifte vertel boekdele. Beeld s’n lui: Nkandla word al hoe meer bisar. Die Burger s’n lui: Parlementêre demokrasie vir Zuma vreemd. Volksblad se eie hoofartikel se opskrif lui: Zuma nie meer goed vir land. (Was daar dan ʼn tyd toe hy wel goed was vir die land?)

Die Zuma-bashing kry nie kans om behoorlik asem te skep nie.

Sy stelling dat hy op Nkandla geregtig is omdat ʼn lughawe in George vir die destydse president PW Botha opgerig is, het reeds meer as 79 000 Google-trefslae. Sy stelling wat reeds in 2009 die media gehaal het dat korrupsie ’n Westerse konsep is, en onlangs weer in die nuus was, het reeds meer as 300 000 Engelstalige trefslae.

So tussenin berig ’n koerant dat Zuma ’n lafaard is, en weier om hom weer aan vraetyd in die parlement bloot te stel voor die EFF nie aan bande geruk is nie. Hierop het die ANC woedend gereageer; ’n pikante verwikkeling teen die agtergrond van hoe die ANC se volle middele inspan om Zuma uit die warm water te hou.

In die Namakwaland is daar ʼn streek-spreekwoord om ’n (jong) wysneus te beskryf: “As ʼn donkie sy bek oopmaak, val daar kaf uit.”

Gelukkig vir Suid-Afrika, so lyk dit, het Zuma daarvoor gesorg dat veral gehalte-koerante oorsee hom as “net nog ’n Afrikaleier” beskou, en daarom die laaste ruk grootliks ignoreer. Met rede. Op verskeie indekse soos die persvryheidsindeks en die korrupsiepersepsie-indeks vaar verskeie Afrikalande beter as Suid-Afrika.

Dit beteken ook dat die gesaghebbende wêreld meen Suid-Afrika se post 1994-vakansietyd waar omtrent alles oorgesien is, nou verby is.

Maroela Media het reeds kommentaar gelewer oor Zuma se korrupsie-stelling.

Sy bravade waarmee hy die George-lughawe se ontstaan aan Nkandla koppel, is egter uiters bisar. Het Zuma die waghonde wat sedert die verkiesing ’n oog moet hou dat Zuma streng hou by wat vir hom voorgeskryf word om te sê, ontglip en gou weer ’n paar skadelike dinge kwytgeraak? Of het sy adviseurs hom van die wal in die sloot gehelp? Of het die ANC se ringkoppe geoordeel Zuma was nou lank genoeg geskool om nou te weet oor watter kwessies hy wyd moet hou as hy nie ’n geskrewe teks voor hom het nie?

Nie een scenario wil lekker werk nie. Die somtotaal, geoordeel aan leserskommentare, is dat Zuma self kliphard werk daaraan om ’n persepsie te skep dat hy nou nie juis die skerpste potlood in die pakkie is nie.

Die geskiedenis wys dat briljantheid nie noodwendig ’n voorvereiste is om ’n suksesvolle president te wees nie. Wyle pres. Ronald Reagan van die VSA het sy kwota nie-intellektuele verleenthede opgelewer, veral laat in sy bewind toe die vroeë voorlopers van Alzheimer se siekte ’n spoortjie begin trap het. Hy het gesorg dat hy hom met baie knap adviseurs omring, en het nie slimmer as sy adviseurs probeer wees nie. Teen die einde het hy plek-plek vergeet wat sy adviseurs vir hom gesê het.

PW het nie sy universiteitstudies voltooi nie, en die rampspoedige toets- en eksamenuitslae het by geleentheid uitgelek. Dat hy soms ook baie goed in vraestelle gevaar het, is nie so algemeen bekend nie. Dit het, moontlik ten onregte, tot die persepsie bygedra dat hy nie van dieselfde intellektuele kapasiteit as ’n dr. Hendrik Verwoerd, adv. John Vorster of ander soos Slim Jannie Smuts was nie. Maar PW het hom ook deur sterk adviseurs omring. Adviseurs en adviesrade het nie bloot bestaan om die soustrein te rek nie.

Uiteindelik was baie kundigheid in die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad saamgetrek – nie net oor militêre en polisiëringsaspekte nie, maar die volle staatkundige, ekonomiese en maatskaplike spektrum.

Die Groot Krokodil was nie foutloos nie. Hy en sy minister verantwoordelik vir die SAUK het groot druk op die openbare uitsaaier geplaas om meer TV-blootstelling vir die president te kry – en nie altyd in goeie gees nie. Besoekers aan huis van die destydse voorsitter van die SAUK-raad, wyle prof. Wynand Mouton moes soms op ʼn afstand in groot verleentheid  aanhoor hoe die prof probeer walgooi wanneer die Groot Krokodil en Pik mekaar aflos om op meer lugtyd vir die prez aan te dring.

Uiteindelik, na ʼn beroerte, is ’n statutêre staatsgreep uitgevoer.

Dit sal Zuma loon om nie te veel vergelykings tussen homself en PW te tref nie. Om in wese ʼn kompetisie oor mees korrupte tussen Zuma en PW te hou, soos wat Zuma nou doen, lewer reeds ’n vroeëre verloorder op – Zuma.

En dis in swak smaak.

Die kwessie van adviseurs vir presidente van die ANC-regering is ’n uiters sensitiewe kwessie. In ’n stadium is oor hulle berig as sou dit gemene saak wees dat hulle maar power is – tot die ANC verskriklik eksepsie geneem het.

Dit is moeilik om te oordeel, want presidente is onder geen verpligting om te hou by die advies van hul adviseurs nie. Dit is dan soms moeilik om te bepaal wie nou eintlik vir ’n nuwe sotheid verantwoordelik was. Of die een onderstandaard staatsrede na die ander skryf.

Ongelukkig vir die land is daar nou al hoe meer tekens dat Zuma weer ’n terugkeer maak van sy rol sedert die verkiesing as hoofsaaklik seremoniële president wat bloot toesprake voorlees wat vir hom geskryf is. Dit lyk asof die ANC se ringkoppe oordeel dat Zuma nou genoegsaam afgerond is om weer as uitvoerende president losgelaat te word.

En dadelik is daar weer skade.

ʼn Aanduiding dat hy nou weer ʼn uitvoerende asem terug het, blyk uit ʼn berig in die Guardian. Hierin kon die Britte lees dat die president nou ook ’n kenner van strafreg is – hy meen Oscar moet nie tronkstraf weens sy gestremdheid vryspring nie. Moes iemand in Zuma se posisie hom nie eerder weerhou het van menings oor wie in die tronk hoort, en wie nie? Werklike regsgeleerdes verskil erg van mekaar hieroor.

Ten spyte van die laertrekkery om Zuma, is verskeie analiste positief dat Zuma nie sy huidige termyn gaan voltooi nie.

Tog lyk dit of die ANC nie gaan swig voor die wêreldmening nie, selfs al beteken dit dat die ANC erg verswak kan word. Die versnellingsproses hiervan kan juis vandag aan die hang kom as Cosatu weer vir Zwelinzima Vavi as grootbaas skors. Dit sal die sneller wees vir Cosatu se grootste vakbond, Numsa, om weg te breek, en byna vir seker lei tot die stigting van ’n radikale werkersparty. Die huidige getalle van Numsa moet nie die waarnemer mislei nie – een van die fundamentele beginsels van Cosatu se bestaan is dat sy vakbondfiliale sektoraal moet wees sodat lede nie onderling by mekaar afgerokkel word nie. Breek Numsa weg, verhinder niks hom en sy mede-wegbrekers om mildelik te oes in ander Cosatu-vakbonde nie.

Hierdie nuwe werkersparty sal in alle waarskynlikheid die eerste werklike groot opposisieparty vir die ANC oplewer, en saak maak omdat hulle nie net soos die EFF van alles ’n sirkus maak nie.

Die ironie is dat wanneer hierdie werkersparty aan die volgende algemene verkiesing deelneem, sal die persoon wat die verdeeldheid gesaai het, self nie meer vir nog ʼn presidensiële termyn kwalifiseer nie.

Of anders gestel, die ANC sal in wese vandag reeds moet besluit of hulle self die skade wil voortsit wat Zuma aanrig deur die skeuringsproses te laat voortgaan, of Zuma behoorlik in ’n beheerbare kassie gaan hou tot die “uitvaartstrategie” dit moontlik maak om vars te begin.

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Chris Bester ·

Spyker op sy kop! Voltreffer! Zuma is miskien die kleurvolste podlood in die ANC, maar beslis nie die skerpste nie!! Die man is n nar, met elfduisend toeskouers wat vir hom hande klap!!

Neels ·

Maak seker Zuma het gr 2 soos wat hy reken hy het. Met al die kwalifikasie bedrog in omgang maak hy heel moontlik aanspraak op n gr2 wat hy nie het nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.