Nuuskommentaar: Met sulke vriende binne laer het hy nie vyande daarbuite nodig nie

Argieffoto

Argieffoto

Agtergrond en die Steve-faktor

Teen die agtergrond van die Groot Steve-Debat (GSD) is dit nodig om te kwalifiseer dat nie die opskrif óf die inhoud op Steve Hofmeyr reflekteer of insinueer nie. Dit handel oor ʼn verskynsel wat al periodiek die aandag getrek het, naamlik die gewoonlik naamlose gebruik van die kuberruim om karaktermoord te pleeg, haatspraak te saai, en doodgewoon onwelvoeglik (liewer walglik) op te tree. Op die oomblik beweeg die GSD wel ook deur hierdie verskynsel.

Dit het daartoe gelei dat Steve Hofmeyr hom op die Wet op die Beskerming teen Teistering beroep en ʼn beskermingsbevel teen Chester Missing (Conrad Koch) bekom het. Maroela kan die impak van die GSD op hoe gemeenskapsverhoudinge ontvou, ook nie ignoreer nie.

Web-vitrioel

Maar terug na die algemene verskynsel. Die web-kommentare is dikwels skerp, smerig en rassisties, en word byna voor die voet van fatsoenlike webwerwe verwyder, ook op Maroela. Die “sensors” word gou die varke in die verhaal en pogings om die mense wat hul werk doen of wat ’n standaard van fatsoenlikheid probeer handhaaf, word geboelie. Lekker dapper want hulle weet hulle het volop maatjies. Gelukkig, al is dit baie, is dit ’n minderheid.

Maar die verskynsel gaan nie ongesiens verby nie. Behalwe vir die skade wat dit ook aan die beeld van die Afrikaner aanrig – ook diegene wat dit met afkeuring beleef – vertel dit ’n verhaal waarvan die draaiboek nie geïgnoreer kan word, en met groot verantwoordelikheid omgegaan moet word nie.

Politieke sosiologie en die proses van vervreemding

Die afgelope weke het Suid-Afrika soos selde ’n verskerpte proses van onderlinge vervreemding ervaar, ’n proses wat politieke sosioloë definieer as die proses van sosiale verhoudings wat deur hoë vlakke van wantroue en afstand, en lae vlakke van gemeenskaplike waardes en uitwisseling gekenmerk word.

Die nuuskommentaar oor die Steve-faktor het enorme reaksie ontlok, wat maar een aanduiding is van hoe ernstig Suid-Afrikaners hierdie verskynsel ervaar.

In so ’n klimaat word veralgemenings en stereotipes algemeen. Swart mense is sus en so … terwyl ons almal goed weet dat ons swart mense ken wat nié so is nie. Dit is ʼn gevaar waaroor die vorige regering gereeld lesings aangebied het om die publiek te maan om hulle nié hieraan skuldig te maak nie, en bykans enige naam vir hierdie soort voorsorg, soos interkulturele kommunikasie en kennis van kulturele antropologie het gou politiek inkorrek geword. Of dit wys is om transformasie te dryf sonder onderlinge kennis van mekaar se kulture en gebruike, kan kwalik weens die politieke inkorrektheid daarvan gevra word.

Twee kante van die munt

En ja, dié probleem kom van twee kante af.

Die politieke sosiologie leer onder meer dat selfs in state waar daar geen sigbare diskriminasie teen minderhede is nie (soos die state wat “in ’n konflik met sy minderhede verkeer”), daar ’n geneigdheid is tot die ontstaan van sogenaamde “parallelle gemeenskappe”. In die jongste verlede is politieke sosioloë oorhoeks met mekaar of iets soos byvoorbeeld woonbuurt-integrasie juis hierdie proses stimuleer, of teenwerk. Die eerste groep beroep hulle dikwels op empiriese (en vreeslik politiek-inkorrekte studies) terwyl die tweede groep sterk ideologies gedrewe is. Elke tweede ontleder sal egter weer genoeg data van die internet kan aftrek om die teenoorgestelde gevolgtrekking te maak.

Om die rol van politieke sosiologie as politiek inkorrek eenkant te skuif omdat geglo word die grondwet self is so wonderlik dat dit alle probleme sommer self uitstryk, of dat politieke wetenskaplikes op hul eie (en die uwe se hoofopleiding is in hierdie veld) toegerus is om alles uit te pluis, is kortsigtig en bietjie meer as onnosel.

Net so om te glo tussengroepspanning oplos is ’n eensydige proses waar die een groep alles moet gee, en bly gee, en deurlopend moet apologeties wees, en sy kop weens skaamte oor sy herkoms onder ’n kombers moet toetrek. In teendeel, die verwagting van nimmereindigende restitusie skep weerstand.

Maar terwyl die akademici mekaar se neuse in die stof vryf, manifesteer die verskynsel van internet-vitrioel wat op gevaarlike polarisasie dui. En dis juis hier waar die kinkel lê. Terwyl die een groep erg negatief is oor die ontoereikende/minderwaardige/primitiewe waardes van die ander groep, druk hy of sy dit op ’n manier uit wat nog swakker op die eie groep reflekteer.

In die konteks van die Steve-gebeure sal die kritici van die Afrikaner waarskynlik ’n duistere sinspeling lees in die stelling dat die Afrikaner – of ’n groot deel – aan die laer trek is, en dat die ANC en cotraband-liberale maatjies die argitek van daardie laertrekkery is.

Negatiewe impak van “the blame game”

Dit help net mooi niks vir ministers en rektore om die “regse” Afrikaner voor stok te kry oor die “misbruik” van die grondwet om hul eie laers te vorm in die vorm van, soos dit kwaadwillig genoem word, “apartheidsenklawes” op kampusse of in woonbuurte nie. Die studente wat so met die teerkwas bygekom word, het waarskynlik geen rasmotiewe nie, maar ’n inherente drang om nie geïsoleer te word omdat sy/haar waardes en standaarde met die heersende (ingeforseerde) norme bots nie. En diegene wat daardie waardes en norme deel, sal noodwendig op die een of ander vlak “laer trek” – parallelle “samelewing” vorm. So ʼn “laer” kan oop wees, maar die wat ander norme en standaarde het, sal waarskynlik hoogstens eksperimenteel deelneem, dit selfs geniet, maar na sy of haar gemaksone terugtrek.

Om dit baie eenvoudig te stel. Sou daar twee TV’s in ’n koshuis wees, maak dit nie saak hoe getransformeer die kampus is nie. As daar ’n rugbytoets gespeel word en die Bokke pak ’n ander land op dieselfde tyd as wat die Bafana Bafana ’n ander land pak, sal dit heel natuurlik wees as daar twee groepe is – een voor die een TV met Afrikaanse kommentaar, en die ander groep voor die ander TV, met waarskynlik Engelse kommentaar. Hier en daar sal ’n “contraband”-liberaal ter wille van ’n “statement” by die ander groep gaan aansluit, en dalk later selfs ’n uitgesproke koerantredakteur word.

’n Verbygaande rektor of minister wat dit sien, kan maar gal afgaan oor die “ongetransformeerdheid” en die “eilande van apartheid”, sy kritiek bly bollie.

En daardie soort kritiek ontlok ’n teenreaksie. Kyk maar in hoeveel briewe in Volksblad en ander publikasies, om nie van die internet te praat nie, is die Kovsierektor, prof. Jonathan Jansen, gewoon ’n rassis genoem.

’n Doodnatuurlike, onskuldige verskynsel, word politiek gelaai, mense word uit hul gemaksone (wat grondwetlik erken word) gedwing, en verset groei. Soos wat hierdie frustrasievlakke toeneem, en mense se wantroue met net meer provokasie – wedersyds of andersins – ontmoet word, so verdiep dit.

Raak hy nog bewus daarvan dat daar ’n poging is om ’n sekere werklikheid aan hom voor te hou, een wat ideologies gekleur is, en waar feite deur weglatings of verdraaiings gemanipuleer word, dan word spesifiek die nuusmedia nie meer vertrou nie. En hoe meer bewyse van indoktrinasie daar is, hoe groter word die frustrasievlakke.

Sake begin lelik eskaleer

En hoe meer die frustrasievlakke begin oorkook, hoe meer neem die wag voor die mond die wyk – hoe meer word die pen in gal gedoop.

Maar… die probleem is dat die beeld na buite wat dit laat boemerang, nie net op die skuldige boemerang nie, maar die hele groep wie se belange of regte hy meen hy voor in die bresse tree. Met sulke “vriende” in jou laer het jy werklik nie nog vyande daar buite nodig nie.

En jou eie groep se beste belange word nie gedien deur die ander groep op sterkte van veralgemenings met die teerkwas by te dam nie. Die een drawwer in die groep wat in die verbygaan ’n swart pendelaar se pet afklap en hardop “baboon” sê (ja die uwe het dit nog net van ’n Engelssprekende persoon gehoor) rig enorme skade ver buite daardie kring aan, veral as die res van die groep lag eerder as om die mislike vent aan te spreek en die slagoffer om verskoning te vra.

Dink mooi. Hoe lyk die groep waarmee jy jou wil identifiseer? Ja, taal is dalk belangrik. Maar hoekom is die pawiljoen die volgende week so leeg as die gopse wat hulle aan drank te buite gegaan en die ordentlike mense geteister het die vorige week so ’n vrye hand gehad het? Die rugby-unie het die inkomste uit kaartjieverkope en bierverkope as norm geneem, en in die proses op die langtermyn duur daarvoor betaal.

Want onthou, dis niks lekker vir die gopse om met ander gopse skoor te soek as die ordentlike mense wegbly nie, want ’n man kan heel maklik ’n bloedbek en ander einas op die bas loop. Of ’n nuwe, gewilde skaats-uithangplek wat gewoon moes toemaak toe die gopse dit oorgeneem het, en self weggebly het toe die ordentlike mense nie meer gekom het nie.

Presies hoe lank sal Maroela die duisende lesers daagliks trek as die algemene persepsie bestaan dat die gopse dit oorgeneem het, en daardie stert nou die hond swaai?

Tog is dit byna komies om te sien hoe iemand “kla” oor sy “meesterstuk” waarmee “niks verkeerd was” nie, verwyder is. Veral as die “klaer” ’n paar maatjies opgekommandeer kry wat saam verwyt oor die meesterstuk wat verwyder is. Sulke verraad!

Watter etiket wil die Afrikaner dra?

Of verkies die Afrikaner dat die Afrikaner die beeld van fatsoenlikheid het? Wat sterk staan op die eie sonder om die ander iets te misgun. Die soort rolmodel wat baie Afrikaners met die Boshoffs van Orania assosieer.

Of die luidrugtige skuimbek wat die denkbeeldige sameswerings met yl “bewyse” opdis en mense opsweep tot onfatsoenlikheid.

Maroela se beleid oor die plasing van leserskommentare is onder aan elke plasing op sy hoofblad te lese: “Maroela Media hou van ‘n lekker warm debat en wil aan alle kuiermense die geleentheid gee om hul mening te lug. Ons sal egter geen rassisme, seksisme, homofobie, vieslike persoonlike opmerkings, ander vorms van haatspraak of kru, kras en vuil taal duld nie. Maroela Media behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder. Moenie die oom of tannie in die familie wees van wie niemand hou nie.”

Dis niks lekker om webpoot te speel nie, en dit sluk kosbare tyd in wat ander lesers van waardevolle nuus ontneem.

En dan is daar die gereelde verweer: “Dis hulle wat daarmee begin het.” Dis hulle wat met “Kill the Boer, kill the farmer,” begin het, en hof toe is om dit te verdedig. Dis hulle wat die hoofsondaar vereer het deur ’n wêreldbekersokkerstadion na hom te vernoem. Dis hulle wat Julius Malema tot in die appèlhof gesteun het vir die sing van ’n soortgelyke lied. Dis hulle wat maak dat ’n matrikulant met 92% gemiddeld nie keuring kan kry om soos haar pa ’n mediese dokter te wees nie, en dis hulle skuld dat sy ook maar beursaansoeke op haar maag kan skryf. Want sy is wit.

Dis hulle wat die vlam van rassediskriminasie aan die brand hou deur ’n erg rasbenepe proses van transformasie. Dis hulle wat die Christelike etiek by Kovsies geskrap het. Dis hulle wat van die land ’n piesangrepubliek maak, met standaarde wat net onaanvaarbaar laag is, en die wêreld lag vir ons ook wanneer hulle vir die Zuma-manewales lag. Dis meer as net half onlekker.

En wêreldwye studies toon dat geen minderheidsgemeenskap op enige plek in die wêreld hom daarmee sou welgeval nie. En dis reg dat daar sterk standpunt daarteen ingeneem word. Maar word dit gedoen soos met AfriForum se klag van rassisme teen die regering by die VN, waar haatspraak en vlammende woorde nie deel van die woordeskat is nie? Word daar hof toe gegaan, of word die publiek aangehits om onverantwoordelike dinge te doen?

Word dit duidelik aan “hulle” gemaak dat daar ontevredenheid is, en dat dit nie daar gelaat sal word nie, of word die ander kant in gelyke munt terugbetaal?

Daar is in hierdie rubriek al soveel keer gevra dat die rigsnoere van die Bybel ter harte geneem word, soos 2 Korintiërs 13:11: “Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!” Of die hele 1 Korintiërs 13 – die hoofstuk oor die liefde. Maar byna net so dikwels is ’n antwoord uit tekste uit veral die Ou Testament gehaal om te argumenteer dat die Verbond van Jesus se kruisdood en opstanding kragteloos is teen die strewe om te haat.

En ten slotte – dink maar net aan die beeld wat ek en jy deur ons skrywes op ons ouers en hul opvoeding van ons reflekteer – ja selfs al spel ons nou ook om meer “fatsoenlik” te wees die f-woord (nie fatsoenlik nie) met ’n “v” – die kômmingeit slaan saam met die vrustrasie- ekskuus, frustrasievlakke uit – en dit word deur die radikale elemente “gelees” as dat jy gereed is om gewerf te word vir ’n kring waaruit jy weens die onderlinge warmbroeiery baie moeilik weer kan ontsnap.

Toekomsprojeksies kan gedoen word

ʼn Slotopmerking oor die GSD: Wanneer gekyk word na wat nou gebeur, is die eskalasie van frustrasievlakke ’n teksboekvoorbeeld van modelle uit die politieke sosiologie. Steve het op die regte oomblik ’n aar onder groot druk raakgeboor. Die ding van ’n model is dat daar dikwels, en ook in hierdie geval, toekomsprojeksies gedoen kan word. Daar kan bepaal word watter “inputs” gaan watter uitkomste bied. En baie koerante, satire-kunstenaars en ander kunstenaars, politieke analiste en ander individue pak die kwessie juis verkeerd aan – stook die moeilikheid net verder. ’n Satirikus wat met satire ’n komplekse bom gaan probeer ontlont, se stukkies gaan met teelepels opgetel word.

Maroela en die fatsoenlike debat

Is Maroela radikaal? Ja, dis radikaal anders as daardie persone, links, regs of in die middel, wat deur banaliteit die Afrikaner se naam met ʼn plank slaan.

Neem gerus saam die stryd op om Afrikaans en die belange van die Afrikaners en ander minderheidsgroepe op ’n ordentlike, fatsoenlike wyse doeltreffend te voer. Muishonde, of die skoothond wat buite in bollie gaan rol het, stink maar in fatsoenlike geselskap.

Laat die debat begin – fatsoenlik.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Elizabeth ·

Weeereens DANKIE vir weldeurdagte skrywe en ‘n uiters goeie artikel Herman. Mens wil so graag hê dat mense mooi moet dink voor hul kommentaar lewer en as iemand van jou verskil is die persoon nie noodwendig die anti-chris/libtard/watookal nie. Elke mens is geregtig op ‘n opinie en ek is so bly Maroela gee mens wel daardie opsie sonder dat mens bv moet “inteken” maar dit gratis kan doen. Ons Afrikaners of dan Afrikaanssprekende Suid Afrikaners moet tog asseblief net altyd probeer om met klas op te tree en nie dat mens se frustrasies met ons sg situasie veroorsaak dat mens sinlose kommentaar lewer net om van jou frustrasies ontslae te raak nie. Dis lekker om ‘n debat te kan voer, maar speel die bal, nie die persoon en probeer liefs kommentaar lewer wat ander laat dink. ‘n Saak het twee kante – ALTYD en dat mense dieselfde oor alles gaan dink is onmoontlik. As mens verskil van ander is jy nie skielik ‘n verraaier of iets nie! Ek is soms geskok om te lees wat mense skryf, sowaar.

Henrietta Klaasing ·

In die oggende as ek begin rondelees op die internet, is jou rubriek van die eerstes wat ek oopmaak, juis omdat jy jou vinger op die pols hou EN sake so gebalanseerd aangebied word. Dankie.

Hermanus Potgieter ·

Bravo Herman bravo! Dit is een van die bes geskryfde en mees deurdagte artikels wat ek ooit gelees het. Daar is nou egter een probleem. Jou skuimbekke en gopse sal ongelukkig nie die rubriek mooi kan verstaan, hulle self daarin kan sien en waarskynlik nog self sê, ja julle gemors hou op! Wel dit is so dat in elke gemeenskap het jy maar diesulkes wat bietjie af is. So ek is jammer dat julle moet sensuur toepas en tyd daarop mors, maar dit maak darem vir ons normales dit darem lekkerder om te lees en te geniet. Baie dankie vir julle goeie werk. Ons waardeer dit uit die hart. Groete, Hermanus Potgieter uit Potgietersrus (mokopane) die hoofstad van die piesang republiek.

herrie ·

Baie dankie Hermanus – ek kan amper sê mede-piesang, want hier in die voormalige Rosestad gaan dit omtrent net so. En dan kan ons ook nie eens meer rugby speel nie. Ongelukkig is jy reg oor die trfkrag. Uiteraard probeer ek om nie Akademikaans te skryf nie, maar dit is nie altyd so maklik om binne ‘n redelike tyd die akademiese artikels om te werk in gewone Afrikaans nie.
Julle kan nie dalk weer vir ons ‘n Hermanus Potgieter stuur om die Cheetahs te kom regruk nie? Herman

Igmatius ·

Baie goeie artikel. Ons moet onthou dat dit opgevoede weldeurdagte optrede was wat die land gemaak het wat dit eens was.

Almal, wat bereid is om weldeurdagtes, daadwerklike bydraes tot die samelewing te maak, sál ‘n verskil maak aan ons land.

Ek hoop net ons kom op ‘n punt waar sulke bydraes erken word ,onafhanklik van die persoon wat die bydrae lewer.

Goedgedacht ·

Ek hou van:

“Dink mooi. Hoe lyk die groep waarmee jy jou wil identifiseer? Ja, taal is dalk belangrik. Maar hoekom is die pawiljoen die volgende week so leeg as die gopse wat hulle aan drank te buite gegaan en die ordentlike mense geteister het die vorige week so ’n vrye hand gehad het? Die rugby-unie het die inkomste uit kaartjieverkope en bierverkope as norm geneem, en in die proses op die langtermyn duur daarvoor betaal.”

Rupert Ashford ·

Goed gestel. Ons moet egter die volgende onthou: Die kommin Afrikaners was nog altyd met ons en sal vir altyd met ons wees soos die armes. Ek het vir baie lank nie geglo die ouens is so volop nie, totdat ek ‘n groot konsentrasie van hulle op een plek raakgeloop het – dan raak dit scary. Dan ook: Jy het heethoofde soos Steve nodig om debat te dryf. As die beleefde nice guys die veldtog voer, gaan dit ook nerens kom nie. Jou voorbeeld oor Afriforum se regsgeding teen die regering by die VN is ‘n baie goeie voorbeeld – dink jy regtig dit gaan iets bruikbaar en iets tasbaar verander in Suid-Afrika? Die ANC word in die VN as ‘n toonbeeld van fatsoenlikheid gesien en ongelukkig beheer die gopse die VN ook…

Elizabeth ·

En hoe gaan “heethoofde soos Steve” ons êrens bring behalwe om (weereens) die Afrikaner se naam met ‘n plank te slaan?

Rupert Ashford ·

Wat is jou alternatief dan? Niks doen? As die ANC die niks doen opsie gekies het “om nie hulle naam met ‘n plank te slaan nie” was ons vandag nog almal gelukkig in Apartheid Suid-Afrika. Mobilisasie is nodig om iets te laat gebeur – problem is tans net dat die Afrikaner nie weet wat hy wil doen nie, en miskien nie sy mind gaan opgemaak kry voordat dit te laat is nie. Die ouens in Zim het ook probeer die minste wees en “go with the flow”…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.