Nuuskommentaar: Met sulke vriende, wie het nog vyande nodig?

Ramphele en Zille tydens Dinsdag se aankondiging dat Ramphele die DA se presidensiële kandidaat is vir die verkiesing. Foto: ARod Macleod/Twitter

Ramphele en Zille tydens Dinsdag se aankondiging dat Ramphele die DA se presidensiële kandidaat is vir die verkiesing. Foto: ARod Macleod/Twitter

Die finale hoofstuk oor die ontbinding van ‘n baie kort, maar stormagtige huwelik tussen die DA en dr. Ramphele Mamphela moet nog geskryf word, maar dit lyk of Agang SA ‘n groot verloorder in die gebeure was.

Ramphele se eie reputasie het ook ‘n groot knou weg, en geoordeel aan die mediadekking wat tot in die buiteland neerslag vind, lyk dit of ‘n groot deel van die media haar nou straf vir wat voorgehou word as ‘n opgekropte frustrasie oor haar inkonsekwentheid wat al ‘n geruime tyd aankom.

Die DA-leier, Helen Zille, het na afloop van die mislukte huweliksberading haar jarelange vriendin beskryf as een wat nie vertrou kan word nie.

Om Agang SA se webwerf te raadpleeg lewer ook dadels op. Die laaste mediaverklaring daarop is uit November verlede jaar. Trouens, die laaste bygewerkte inligting daarop dateer uit daardie tyd. Te midde van die mediadekking oor die huwelik met die DA het die feit dat die dienskontrak met Agang se kommunikasiehoof opgeskort is byna ongesiens verbygegaan.

Dit was maklik om te glo die huwelik sou tot iets moois kon ontwikkel. Die twee partye het baie gedeel in terme van beleid. Die twee leiers se verlede – Ramphele as medestigter van die swart bewussynsbeweging saam met haar “metgesel” Steve Biko, en Zille as destydse lid van die Black Sash.

Ramphele se CV as intellektueel is indrukwekkend en sy het ‘n lang lys van groot suksesse agter haar. Maar die fyn skrif vertel tog ‘n parallelle verhaal wat die gevaarligte laat flikker het – as iemand dit net wou raaklees. Maar selfs voor die breekspul het verskeie waarnemers daarop gewys dat sy geneig is om die rug te keer op sake waaruit sy self groot voordeel geput het. Haar kritiek op SEB, na sy self miljoene rande daaruit gemaak het, is ‘n voorbeeld.

Ramphele, op haar eie met Agang, of binne die DA, het ‘n groot potensiaal gehad om die persepsie dat die ANC die outomatiese politieke bestemming vir swart kiesers is, te knou. Sy kon nie so maklik as “coconut” afgemaak word nie. Deurdat Agang – tot ‘n groot mate deur haar eie toedoen – nie van die grond af kon kom nie, was haar waarde as toevoeging tot die DA eerder in hierdie persepsie gesetel as in die getalle wat via Agang tot die DA se krediet gereken kon word.

Maar dit het gou geblyk dat die DA ‘n beskadigde ornament vir sy uitstalrak aangeskaf het. Die opponente het die fyn skrif van haar CV met aandag gaan lees en dit het gestrook met die waarnemings wat al ‘n ruk kom dat haar vermeende volgelinge agter die skerms nie meer aan boord was nie. Dit is ‘n indrukwekkende lys van mense waaronder oud-pres. Thabo Mbeki se broer, Moeletsi Mbeki, dr. Barney Pityana en vele meer. Uitsprake deur ander intellektuele en meningsvormers soos die Kovsiekanselier, dr. Khotso Mokhele, prof. Anton Habib en selfs emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het die vermoede laat ontstaan dat hulle dalk deel kan wees van die indrukwekkende lys van gerekende meningsvormers wat te gelegener tyd strategies sou laat blyk dat hulle Agang steun. Waarnemers skryf egter nou al ‘n ruk dat hierdie ondersteuners haar die rug toegekeer het.

Agang is klaarblyklik in ‘n geldelike verknorsing. Min, indien enigiets, het van die verwagte buitelandse miljoene dollars gekom. Dit lyk ook of Ramphele so diep in haar eie sak gedelf het as wat sy bereid is om te delf.

Die peilings slaan op net onder die een persent steun vas. In daardie kategorie beweeg ‘n hele rits van die Suid-Afrikaanse politieke partye, waaroor die son eens helder geskyn het, maar wat nou selde daarin slaag om die soort mediadekking te genereer wat nodig is om die groeidrempel in die Suid-Afrikaanse politiek te haal. Trouens, hierdie verskynsel knou Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindeks omdat die media se aandag aan politieke diversiteit ook hiervoor gemeet word. Suid-Afrika se 52ste posisie op hierdie indeks lyk daarom op die oog af swakker as dit met ander soortgelyke lande vergelyk word waar joernaliste in die tronk is, of soortgelyk.

Maar Ramphele het enkele dae gelede nog genoeg statuur oorgehad om eiehandig te help aftakel aan die persepsie dat die DA eintlik ‘n wit partye is “wat apartheid wil terugbring.” Enkele dae later, hoofsaaklik danksy haar eie toedoen, is sy daardie statuur minstens voorlopig kwyt.

Die DA se posisie herinner nou aan die geval waar Asterix dit so bewimpel het dat hul dorpie se “musikant” deur die Romeine uit ‘n luukse woonstel gesmyt is wat hulle in die woud gebou het. Maak nie saak hoe ongewild die “sanger” in sy eie dorp was nie, maar toe die opruiende Asterix vir die dorp se inwoners vra of hulle dit duld dat die Romeinse een van die dorpie se mense so lelik behandel, is die klomp sommer klaar reg om die Romeine te gaan opdons.

Die DA kan hom nou maar vet smeer dat die ANC ruim sal probeer munt slaan daaruit dat die DA nou een van die mees gerekende swart vroue “uitgegooi” het en haar nog boonop diskrediteer.

Die groot wenner in die onsmaaklikheid is die ANC. Sy pogings om van die verkiesing ‘n rassesensus te maak het ‘n gesonde hupstoot weg.

Oor presies tien dae, op 13 Februarie, lewer pres. Jacob Zuma sy staatsrede.

Tensy die Openbare Beskermer se Nkandla-verslag intussen vrygestel word en dit vir hom ‘n Donderdag die 13de maak, lyk dit of Zuma die ideale geleentheid sal kry om ‘n paar dolke in die opposisie se wonde in te druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.