Nuuskommentaar: Met toesmeer verdof nuwe daeraad tot niks

Bloemfontein. (Argieffoto: Facebook)

Enigeen wat al op die een of ander vlak met die regering te make gehad het, weet ’n regruk-aksie (as daar ooit probeer word om dié rariteit in die praktyk neerslag te laat vind) neem tyd en harde werk.

So is Suid-Afrikaners ’n nuwe daeraad ná nege verlore jare beloof. In die repliek op sy staatsrede het pres. Cyril Ramaphosa ook yskoue water op die vuurwarm verwagtinge gegiet – verwagtinge wat hy self geskep het.

Die vernaamste simbool van die verwagtinge wat Ramaphosa geskep het, is sy droom van ’n superstad wat op tegnologie geskoei is.

Tot dusver lyk dit of hierdie utopie uit lugkastele en vlieënde tapyt-Ubers sal bestaan. Nie oor daar nog niks in die praktyk gebeur om hieraan beslag te gee nie, maar omdat die TEENOORGESTELDE gebeur van wat moet gebeur.

Voorbeelde is daar volop, maar ’n goeie voorbeeld is Bloemfontein, of soos die ANC verkies, om dit by die munisipale struktuur, Mangaung, te benoem. Mangaung bestaan uit Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu. Om vir metro-status te kwalifiseer, is Soutpan bygevoeg, en in ’n poging om dit lewensvatbaar te kry, ook Wepener, Dewetsdorp en Vanstadensrus.

Aan die hoof van dié metro staan ’n stadsbestuurder wat jaarliks meer as R2 miljoen aan salaris verdien. Onder die direkteure is die direkteur van ’n metropolisiemag wat meer as ’n miljoen rand per jaar “verdien”, maar ná heelwat meer as ’n jaar, nog geen enkele metropolisiebeampte in diens het nie.

Hierdie stad, eens die hoofstad van Suid-Afrika se modelrepubliek, word sienderoë in die grond in bedryf. Die stad het tot betreklik onlangs nog die bynaam van die Rosestad gehad, maar deesdae moet al die rose ingevoer word vir die jaarlikse Rosefees. By inwoners en besoekers staan die stad gereeld bekend as “Rioolfontein”, en net te dikwels met goeie rede.

Die Vrystaat het vanjaar nie ’n enkele skoon munisipale oudit verwerf nie.

Geen wonder nie, die DA het vir ’n ondersoek na die stadsbestuurder gevra. Ook nie van gister af nie, maar alle pogings om die lig op die saak te laat skyn, is gefnuik, en nou pas ná die bekendmaking van die ouditverslae van die tafel gevee. Ja, die ANC het heelwat kundigheid ingespan om die fnuikery te bewerkstellig en te motiveer.

Wat verbluffend is, is dat ’n party wat op die oog af nie in staat is om ’n klein metro reg te bestuur nie, wel die kundigheid het om soveel skuiwergate raak te sien en benut om mee droog te maak.

Sou sake nie veel beter daaruit gesien het as daardie kundigheid en energie aangewend is waarvoor dit goed sou wees nie?

’n Taamlik treurige prentjie van die stad word in Volksblad geskets. Dit kom egter nie van gister af nie – vandat die ANC aan bewind gekom het, het dit gelyk of dié organisasie daarop uit was om die stad te vernietig deur die aanwysing van die een vreemdsoortige burgemeester ná die ander.

Die Vryheidsfront Plus, by monde van dr. Elizabeth Snyman-Van Deventer, reageer soos volg op die jongste kwartaalverslag van die Mangaung-munisipaliteit: “Die Mangaung-metro-munisipaliteit se kwartaallikse begroting- en prestasieverslag is ʼn sprekende voorbeeld van hoe ʼn munisipaliteit nie regeer moet word nie.

“Ná die pas afgelope week se skokkende munisipale bestuursuitslae wat deur die ouditeur-generaal (OG) bekend gemaak is, dien hierdie verslag bloot as bevestiging dat die ANC nie daartoe in staat is om ’n munisipaliteit te bestuur nie.

“Rooi ligte flikker op feitlik elke bladsy van die verslag vir die kwartaal tot 31 Maart 2019. Dienste van buitekontrakteurs beloop nagenoeg R200 miljoen en sluit in uitgekontrakteerde dienste, dienste van konsultante en ander kontrakteurs.

“Dit is uiters kommerwekkend dat die munisipaliteit so ’n astronomiese bedrag aan uitgekontrakteerde dienste bestee, terwyl daar vir die nuwe begrotingstydperk ongeveer R2 miljard vir salarisse begroot is, maar dienste word nie behoorlik gelewer nie.”

Die slegte nuus is dat die laagtepunt nog nie bereik is nie, en dis uiteraard ook nie net Mangaung wat gaan klippe kou nie. Die hoof van die FW de Klerkstigting, dr. Theuns Eloff, skryf onder die titel, “Nagmerrie met munisipaliteite kan net nog erger word”, onder meer dat die meeste munisipaliteite ouditmenings ignoreer en selfs personeel van die OG intimideer om bevindings te verander.

Is dit selfs net die moeite werd om te noem dat wetgewing aangepas is om die OG met tande uit te reik?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jimmy ·

Slegte nuus, dinge gaan erger word. Dit kan nie meer omgedraai word nie.

Gert van Wierdapark ·

Herman se juwele van n artikel, kan in een woord opgesom word: Kakistokrasie – die “regerings vorm” is vervolmaak in SA!!

Gert van Midstream ·

Die “slim” stad en pad na Zimbabwe en verder. Grense moet beheer en behoorlik bestuur word en spoedig ook. Skole rekenaars voedingsbron.

Grassie ·

In die berig word genoen van Wepener. Tydens die vorige bedeling het ek dikwels daar gekom. ‘n Pragtige, goedversorgde dorpie met ‘n baie mooi historiese stadsaal.
‘n Maand gelede het ek vir die eerste keer in 30 jaar weer daar aangedoen. Ek kon nie my oë glo dat ek in Wepener is nie. Die middedorp lyk soos ‘n smerige agterbuurt. Die eens mooie stadsaal lyk soos ‘n bouval. My twee broers was saam met my. Ons het daar ingedraai om iets te ete te koop. Hulle het vir my gesê ons moet maar honger bly tot op Aliwal Noord want hulle sal niks eet wat uit daardie vuil plek kom nie.
Dan het Ramaja nog die vermetelheid om ‘n stad te wil bou.

Kobus ·

Om een of ander rede is daar geen self trots nie. Om sò te leef is nou die norm. Dit moet ‘n sielkundige probleem wees wat eers aangespreek moet word.

Andreas ·

Waarom dink jy wil Cyril nou superstede bou? Want vandag se dorpe en stede is te klein en nie meer ‘n uitdaging vir die afbrekers nie.

Mog-het-troffe ·

Ek is iemand wat in die platteland opgegroei het en nou in ‘n stad woon. My droom om eendag na my aftrede terug te keer na die platteland om daar in ‘n rustige , veilige en skoon omgewing my aftrede te gaan geniet is verpletter nadat ek onlangs ‘n paar plattelandse dorpe van my keuse besoek het. Nou kom die stede aan die beurt met snelle agteruitgang. Al wat nou oorbly is sekuriteitskomplekse wat soos tronke omhein is. Nooit gedink dinge sal so snel agteruitgaan nie. Jongmense, ons neem julle nie kwalik dat julle die vreemde wêreld daar buite gaan verken nie. As ek jonger was, sou ek dieselfde doen.

Kolonis ·

Mense , dit is Afrika hierdie. Net soos al die ander kolonies geval en verval het, is dit nou SA se beurt! Ons paar wittetjies gaan niks verander nie!

Dieter ·

Theunsman moenie so negatief wees nie.
Sodra sy baas Frikkie se wigte en teenwigte inskop, sal elke liewe minusipaliteit 100% korrek bestuur word.

humor ·

Kobus sielkundige prbleme kan wel aangespreek word maar hulle sal en wil dit nie verstaan nie en die sielkundige sal nadese n rassis wees tot in lengte van dae.

Jerry ·

Die ergste van die vervalle stand van munisipaliteite in SA is dat buitelandse beleggers reken dat SA nie onder die ANC en CR n kat se kans staan om te herstel nie, die dat buitelandse kapitaal reeds in die miljarde van die JSE onttrek is en die land uit is. Terwyl die tendens by die ANC voortduur om n blinde oog te gooi oor georganiseerde misdaad, georkestreerde plaasaanvalle en om staatskapers in die parlement aan te stel en om onregmatige botallige kader aanstellings by SOE’s maar te laat begaan, duur die tendens ook maar voort met miljarde wat aan buitelandse kapitaal aanhou om SA te verlaat. CR se wildste drome gaan die kapitaal wat uitvloei, nie weer terugbring nie! Hierdie tendense is beslis nie goeie nuus vir regdenkende Suid Afrikaners nie, maar miskien tog wel vir die radikale linkses en regses!

skurweberg ·

Mense wat staatspensioene kry het geen beheer oor hulle belastingaftrekkings nie. Dit word afgetrek en verdwyn gedeeltelik in die bodemloseput van buitensporighede. As ek beheer gehad het oor my penioenaftrekkings sou ek ‘n wettige wyse gesoek het om my deel te weerhou, totdat die regering bewys lewer dat hulle uit hulle pad gaan om minstens die eienskappe van rentmeesterskap te vertoon. Vir my voel dit of ons aandadig is aan die gees van buitensporige en onwettighede in die spandering van geld.

Andreas ·

Herman, ek het ‘n skakel ‘n dag of so gelede in my kommentaar onderaan die onderstaande artikel geplaas, hierdie toespraak van die hoofregter kan nie genoeg onder mense se aandag gebring en van kennis geneem word nie, veral ons leiers, ook ouers, hy spreek die wortels van ons probleme aan.

Indien jy dit nog nie gesien het nie, gaan luister gerus daar wat het Hoofregter Mogoeng verlede Vrydagoggend in Sandton by The Directors Event te sê oor hoe ons leiers verkies, selfs die president, korrupsie en die verval van die munisipaliteite waaroor hy nogal ongedurig was:

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/da-sa-dok-steeds-op-vir-anc-se-luukshede/

John ·

Die regter is baie indrukwekkend, maar die uitspraak van die Grondwethof tov die twee advokate wat van rol verwyder sou word, is ietwat verbysterend. Die Bybel kan nie gebruik word waar en wanneer dit ons pas nie… want dan word dit bloot ‘n wapen vir eie selfsugtige doeleindes.

Schalk ·

Ja ja ja die a en see ka n nie denel.weermag.eskom.sal.sars.spoorwee.polisie.munisipaliteite.en SA bestuur nie.Ek glo die idee is net so n illusie soos dat die departement bosbou sal herrys.Hulle het hom mos laat tot niet laat gaan agv onbevoegdheid.Superstad.supersport.Supra van die noorde ag dink maar self kan net hartseer glimlag om te sien hoe SA stelselmatig verval.

JWM ·

Kan CR se superstad deel wees van China se beleggingsplan vir Afrika? Haalbaar en nie so vergesog nie!

Stephan de S ·

Ek hou vd term kakistokrasie. Kom waarskynlik vd griekse woord kakos wat sleg beteken. Sou graag by die skepper vd woord wou hoor of dit so n edele oorsprong het….of dalk n heel aardse oorsprong het.

Philip Kilian ·

My oortuiging is dat Cyril se “droom van ‘n megastad” nie ‘n droom is nie. Hy het net nie gesê waar dit gebou word nie. Die Chinese bou reeds vir R100 biljoen (geleen?) aan 30 nuwe megastede in Gauteng, hoor wat Masina van Ekhuruleni beloof, natuurlik is daar ook die megastad in Limpopo waar die Chinese ‘n mynstad bou wat alle infrastruktuur bevat, tot ‘n universiteit, lughawe en natuurlik, “bullet treine” wat die erts vir uitvoere na hawens sal vervoer. En moenie die Disneyland-speelstad vergeet wat aan ons Wildekus gebou word nie. Die hele kus is aan die Chinese verkoop om ‘n megastad te bou wat ‘n internasionale lughawe, snelweë en “bullet treine” asook ‘n diepgang hawe sal bevat. Die koning van Pondoland verdien natuurlik 25% van alle opbrengste. Die Chinese sal, tipies soos die megastad Addis-Ababa (in Etheopië), wat heeltemal deur hulle gefinansier, ontwerp en met hulle eie materiale gebou is ($30 biljoen skuld), hulle eie kundigheid, arbeid en materiale inbring om die stede te bou, te bedryf en vir 20 jaar te onderhou (luister wat Patricia de Lille daaroor sê!!! Miskien sal dit wonderlik wees om Chinese werkgewers as base te hê, hulle sal seker ons blanke kundigheid waardeer! En dalk hou ons ondergrondse minerale rykdom lank genoeg, want dit gaan verseker geplunder word.

Kobus ·

Dink net, ‘n sneltrein en snelweg wat Kaapstad met Beijing verbind!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.