Nuuskommentaar: “#MeToo” as kuur vir SA se kwale?

Betogers hou plakkate omhoog tydens ʼn #MeToo-veldtog in Tokio. Foto: Reuters via ANA

In gister se nuuskommentaar is gekyk na redes waarom gemeenskappe die reg in eie hande neem, en vermeende misdadigers dikwels sterf. Vandag word gekyk na hoe die #MeToo-veldtog, met al sy gebreke, daarin geslaag het om op ’n innoverende wyse druk op die regstelsel te plaas om in die aanslag teen vroue en kinders, reg en geregtigheid te laat geskied.

Kan hierdie beginsel uitgebrei word om ander misdaad onder druk te plaas, en selfs waar die staat die oortreder is, soos met die voorgenome grondgryp?

Is Suid-Afrikaners pessimisties of sinies? Dit is ’n onwillekeurige reaksie wanneer ’n mens deur koerante en ander nuusbronne blaai, en veral leserskommentare lees. Gelukkig is daar darem ook die optimiste en diegene wat ’n soort oorwoë mening probeer vorm.

Die oorwegende indruk is egter dikwels negatief – die groot gevaar van menings by nie-gesaghebbende bronne is dat slegs ’n baie klein persentasie lesers deelneem aan dié besprekings. ʼn Mens reageer egter op jou persepsie van die werklikheid. Wanneer ’n persepsie so sterk word dat verder gegaan word as kommentaar lewer, en praktiese oplossings gesoek word, duik daar gereeld innoverende gedagtes op.

AfriForum het byvoorbeeld woonbuurtmisdaad met behulp van gemeenskappe en in samewerking met die polisie begin takel. Baie gemeenskappe het nou selfoon-groepe wat ’n nood- en geselsgroep insluit. ’n Dronkie kan nog dink hy rand sy vrou in “vrede” aan, dan staan ’n klomp manne van die gemeenskap voor die deur. Die dronkie se reputasie in die gemeenskap is daarmee heen.

Die frustrasie van vroue wat mishandel en verkrag word, maar nie geregtigheid daarna kry nie (om ’n groot verskeidenheid redes) het tot die #MeToo-veldtog gelei. Verskeie mans wat ʼn skrikbewind onder vroue gevoer het, het al wêreldwyd erg die spit afgebyt – sommiges deur ’n regsproses, ander deur sosiale verwerping en die verlies van hul werk.

Tog, so meen die Amerikaanse meningsvormer Ted Rall, #MeToo was suksesvol genoeg, maar ook nie. Te veel, en te min, skryf Rall in ’n wydlopende artikel oor die onderwerp. Daar is dikwels geen regsproses (“due process”) nie, en die verklaagde word in die gedagtes van die gemeenskap “skuldig” bevind sonder dat die getuienis teen hom getoets is, en gevonnis. Dié “vonnisse”, word geargumenteer, is dikwels heeltemal buite verhouding tot die beweerde oortreding. Iemand wat sy lewe lank aan ’n behoorlike loopbaan gewerk het, maar homself dan op straat bevind, is hard geslaan.

Tog moet die baba nie met die badwater uitgegooi word nie. Daar behoort eerder gevra te word of daar nie ook ander misdade is wat deur ’n vorm van openbaarmaking afskrikwaarde kan hê of die regsproses in rat kan kry nie?

En watter opsies is daar as die regsproses vashaak en effektief reg en geregtigheid saboteer? En wat as die staat self die beweerde oortreder is?

In die onverkwiklike diskoers tussen AfriForum en sy ondersteuners aan die een kant en ’n groep akademici en hul aanhangers aan die ander kant, het die rubriekskrywer Max du Preez geskryf AfriForum moet liefs ’n politieke party vorm.

Wat egter uit die oog verloor word, is dat burgerlike instellings tipiese elemente van ’n volwasse grondwetlike demokrasie is, baie soos die vrye media daarvan deel behoort te wees. Die lede se politieke affiliasies is in beginsel irrelevant. Suid-Afrika het verskeie hiervan, waaronder Freedom Under Law en Outa. Sommiges is besonder gefokus op ’n saak, soos die beskerming van die grondwet, en ander kyk na ’n breër belang van ’n bepaalde (maar soms uiteenlopende) groep.

Time Magazine het in 2017 die beweging wat bewusmaking wil skep oor seksuele teistering en aanranding, die #MeToo-veldtog op sosiale media, as die mees invloedryke persoon van die jaar aangewys. Argieffoto.

’n Mens ys behoorlik om te dink waar Suid-Afrika sou wees as dié belangegroepe nie hul werk gedoen het nie, en selfs soms sake tot in die konstitusionele hof gevoer het.

En natuurlik hou politieke partye nie altyd van wat hierdie belangegroepe doen nie, soos AfriForum ook ondervind het met veral minister Lindiwe Sisulu wat gal teen AfriForum gebraak het.

Soms sal so ’n belangegroep en ’n politieke party dieselfde oor ’n saak voel, maar erg verskil oor die wyse waarop dit hanteer moet word.

So ’n burgerlike instelling het ’n wye verskeidenheid pyle in sy koker om die regsproses op die regte pad te probeer hou. Daar is groot verwagtinge oor die private vervolgingseenheid van adv. Gerrie Nel (behalwe wanneer dit by die vervolging van Julius Malema kom), daar was die oorsese ekskursie wat die diskoers voortgesit het, optogte teen plaasaanvalle, en vele meer. Soms inisieer of reël AfriForum nie iets nie, maar ondersteun dit soos met Swart Maandag teen plaasaanvalle. Binne die Solidariteit Beweging waarvan AfriForum deel is, word waardevolle werk al jare deur Helpende Hand gedoen.

Al hierdie projekte vind binne die wet plaas en niemand word beseer of gedood nie, en geen eiendom word afgebrand nie

Ter afsluiting. Om iets te doen is veel beter as om mismoedig ineen te trek. Sit skouer aan die wiel en maak ’n verskil.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

MTSteyn ·

Hallo Herman,

Waarom sou enige regdenkende Afrikaner die SA grondwet ‘wil beskerm’?

Verder, verhoed Solidariteit en Afriforum die kommunistiese aanslag,, en die voltrekking van die NDR, of vertraag hulle dit met dalk ‘n paar weke?

Hoor graag van jou.

Gerhard ·

Dit is reeds my punt met menige van my kommentare. Die sigbare aksies van Solidariteit is ten beste ‘n vertragings tegniek. Is daar meer as dit?

Oom Kalahari ·

Dankie Herman, goeie skrywe met vergelykings. Sovele mense wil op vele maniere ‘n verskil te weeg bring in alle gemeenskappe en vorme, soms net gesels en frustrasies aanhoor en oplossings vind, ander deur verskillende maniere van uitreiking, maar vertrouenswaardigheid, uitbuiting, wegwysing, beskuldiging van apartheids agendas en strukture, kulturele verskille, uitlokking, beledigings ens gaan deur die meule wat jou bagasie sak se gewig net swaarder trek.
Hoe lank moet jy teen hierdie hoe pas/berg probeer uitklim om ‘n ander se oe oop te maak, maar jy bly onder die vergrootglas en word aanhoudend afgetrek, dan kom daardie gedagtes en gevoel van ek het my bes probeer maar die visie om die eindpunt te haal is ontmoontlik.
Die regering wat die voedings meester tot aanvaarbaarheid en suksesse toegewy moet wees is deurspek van korrupte amptenare met eie agendas, plaas meer wrywings salf onder mense, dan die wat op hoogste podiums klim met die grootste luidsprekers deur al die valleie deur haatsprake uitbasiun en uitdagend optree tot anargistiese reaksies. Ja vele het deur die optimistiese boek geblaai en met die pessimisme gelaat en met ‘n bitter smaak.

Paul ·

Herman, Afriforum en die balangegroepe waarna jy hier bo verwys, ook sekere stigtings, soos bv die Helen Zuzman, vaar baaaie beter as die opposisiepartye ooit kan hoop om te vaar. So Max en diesulkes moet maar eers weer somme maak, hulle probeer vergeefs Afriforum edm se tande trek deur hulle verdag te maak en sulke uitlatings te maak.

Rupert Ashford ·

#metoo? Regtig. Dit is net ‘n feministiese poging om die mag in Hollywood te gryp. Net die “regte” sake word deur die beweging en hulle meelopers op die voorblaaie gesit terwyl ander, veel erger bewerings geignoreer word omdat dit dalk ander “aangewese groepe” mag impliseer.

Grassie ·

Burgerlike instellings se suksesse in die stryd om geregtigheid kan sekerlik gemeet word aan die reaksie wat dit by onderdrukkende en liberale instansies uitlok. As ons kyk na Ramaphosa se kritiek teen Afriforum se Amerikaanse besoek en Sisulu se tirade oor die samewerking tussen die Aussie-regering en ons boere is dit duidelik dat ‘n paar baie gevoelige senuwees in regeringsgeledere raakgeboor is. Selfs op Kyknet is nou ‘n kletsprogram deur ‘n karakter wat homself as ‘n satirikus beskou waarin Afriforum en Trump gereeld afgekraak word. Selfs die wyse waarop Steve Hofmeyr man alleen besig is om ons volk nader aan mekaar te bring is indirek deur Ramaja in die parlement veroordeel toe hy die sing van die Stem aangeval het.
Dit lyk vir my ons volk is stadigaan besig om nader aan mekaar te beweeg om ‘n gesamentlike front te vorm teen die onregte wat ons aangedoen word. Die regering sien dit en raak kriewelrig. Ons moet instellings wat nie skroom om die spul aan te vat nie ondersteun, al het ons ook in die verlede oor kleinighede van hulle verskil. Daar is nie nou ruimte vir remskoene in ons geledere nie.

Reguit ·

Die beste wat enige witmens vir sy/haar kinders (se toekoms) kan doen is om te emigreer of hulle te laat/help emigreer. Die res is bollie praatjies.

CSI ·

Emigreer? Waarheen? Europa is klaar ‘n Moslem land, Sharia Law is die volgende stap. Jy gaan baie moeilik daar leef as jy ‘n Christen is. Die VSA begin nou eers om die rasse wrywing te voel en is boonop ‘n ‘nanny-state’. Jou vryhede daar is baie beperk al noem hulle dit die ‘land of the free’. Australie is dalk nog ‘n opsie maar daar is reeds kriewelrigheid onder die Aussies oor die groot aantal Afrikaners daar en boonop is die Asiërs besig om oor te neem (Soos oral in Afrika). New Zealand het reeds die immigrasie van SA’ners afgeskaal, hull wil nie nog SA’ners daar hê nie.

Neewat, hier sal ek bly en doodgaan.

Die onregverdigste ding op hierdie aarde is dat geen mens kan kies waar, watter land, godsdiens, ekonomiese klas, velkleur en gesondheid hy gebore wil word nie. Die idee help nie veel om geloof te bou in ‘n regverdige god nie.

jaco ·

Eks nie dol oor max du Perez nie, maar hy is reg as hy sê Afriforum moet eintlik ‘n politieke party word. Hulle ledetal is meer as die onder 200 000 stemme wat die VF-Plus kry, maar tog dink Afriforum en die VF-Plus dieselfde oor omtrent alles. Iewers is dus ‘n groot klomp konserwatiewe behoudende Afrikaners wat nie stem nie. Eintlik was help grawe ‘n klomp van ons eie mense dus aan ons eie amper letterlike graf.
Amper 1 miljoen het nee gestem in 1992 se referendum. Daardie getal is af na 425 000 in 1994 se verkiesing. 500 000 mense kan egter onmoontlik nie in 2 jaar se tyd doodgaan of die land verlaat of vir ‘n ander party stem nie. Tans staan die VF-Plus se steun op iets soos 150 000 stemme. Nou wonder ek nog steeds: waar is die res? Almal dood of by die DA of in Australië? Ek dink nie so nie. Hulle het eerder baie onbetrokke by die politiek geraak. Baie mense wat baie meer verregs in die politiek was as ek, het na 1994 almal dieselfde vir my gesê: “ons stem nie meer nie want ons het ons kans gehad. Dis nou ‘hulle’ beurt”. Maar dis dieselfde mense wat die meeste kla oor SA se wiele begin afval.
My syfers hierbo lieg nie. Ek het al die bewyse en dis eenvoudig ‘n feit: baie van ons eie mense help skep ons ondergang deur nie te stem nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.