Nuuskommentaar: #MeToo

Betogers hou plakkate omhoog tydens ʼn #MeToo-veldtog in Tokio. Foto: Reuters via ANA

Hoewel die #MeToo-uitdrukking al op beperkte skaal sedert 2016 gebruik is, het dit eers ’n jaar gelede werklik omvattend posgevat. In Oktober verlede jaar het die aktrise, Alyssa Milano, Twitter begin inspan om momentum te gee aan die veldtog om onder meer ’n omvang te bepaal van die probleem.

Verskeie koerante stel nou die vraag oor hoe dié veldtog die wêreld verander het.

Dit het boonop saamgeval met die proses om pres. Donald Trump se keuse om ’n vakature in die regbank van die VSA se hoogste hof, oftewel appèlhof, te vul. Min dinge het die VSA al so verdeel soos die verkiesing wat tot die aanstelling van Brett Kavanaugh gelei het.

Kavanaugh, wat volgehou het dit is ’n leuen dat hy jare gelede ’n vrou seksueel geteister het, het self voor die senaat se Justisiekomitee gesê: “This confirmation process has become a national disgrace. The Constitution gives the Senate an important role in the confirmation process, but you have replaced advise and consent with search and destroy.”

Die konsensus is: “Most voters think he’s right.”

Die veldtog het egter ook ander aspekte belig, veral nadat dit aan die lig gekom het dat verskeie mans wat uitgewys en verguis, en selfs strafregtelik aangekla is, werklik onskuldig was. Is dit billik dat onskuldiges so, sonder dat hulle hul kant van die saak kan stel, verguis word? Dit sluit mense in wat jare lank baie hard aan ’n loopbaan gebou het, wat net op ’n dag ontslaan is.

Miskien is #MeToo se sukses veral in die breër konteks gesetel. Is daar nie dalk ’n verband tussen die #MeToo-veldtog, en dit wat nou voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping met minister Nene gebeur het nie?

Met ander woorde ’n geneigdheid of gewilligheid om sondes in die verlede nou ter wille van ’n skoon gewete te beken.

Nog ’n aspek wat belig is, en in die geval van Suid-Afrika veral in die geval van Bob Hewitt, is dat slagoffers dikwels eers jare later bereid is om na vore te tree en hul molesteerders aan die man te bring.

Aktiviste het hard gewerk om te verseker dat die regte van kinders net so skerp belig word as dié van vroue. In die afgelope jaar was daar verskeie voorvalle van gruwelhuise wat aan die lig gekom het. Skokverhaal op skokverhaal het oor die nasie gespoel.

Brett Kavanaugh gedurende ʼn verhoor van die Senaat se Justisiekomitee in Washington D.C. (5 September 2018). Foto: Bloomberg Photo deur Aaron P. Bernstein

Die kwessie sal stellig nie maklik tot algemene konsensus en tevredenheid lei nie. Dit is egter ook so dat sou #MeToo as ongewens bevind word, alternatiewe maniere gevind sal moet word om skuldiges aan die man te bring. Dit lyk of die gevalle toeneem waar gemeenskappe eiemagtig optree, die verdagtes sonder verhoor skuldig verklaar en dikwels vermoor.

Die audi alteram partem-reël is broodnodig in die Suid-Afrikaanse regspraak en daarbuite. Kort ná die 1994-oorgangsgrondwet in werking getree het, het talle van die sogenaamde ou garde erge werksplek-diskriminasie begin ervaar. Die nuwe bedeling het ’n “swakplek” in die Grondwet gebruik deur ’n bepaling te misbruik wat verklaar het iemand moet benewens die gewone vereistes ook “geskik” vir ’n pos wees.

Dit is as subjektiewe maatstaf ingespan as verskoning om wesenlik enige “rede” aan te voer dat die persoon “totally unacceptable to the community” sou wees. Daar was egter reeds regspraak, en dus deel van die presedentereg, wat daarop neergekom het om so iets teen iemand te gebruik moet hy aangekla gewees het, verhoor en skuldig bevind gewees het.

Nog ’n aspek waarop die oog gehou moet word, is die geneigdheid om iemand agterna “skuldig” te bevind nadat hy reeds gepenaliseer is. Die howe aanvaar nie, wat genoem word, ex post facto-getuienis nie.

Die audi alteram partem-reël durf nie geskend te word nie.

Maar sowaar, iets moet gedoen word om die probleem van molesteerders by die wortels te knip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul ·

Herman, hierdie is seker een van die moeilikste en sensitiefste onderwerpe om oor te skryf, maar dit was nodig, eerder vroeër as later, veral as mens die jongste aantyging teen ‘n ikoon sien. En dit gaan nie die laaste wees nie. Waar begin mens, by opvoeding, dit waaraan daardie mense blootgestel word? Moet die oortreders nie dalk getoets word soos mens vir oortollige ‘wat dit ook al veroorsaak in jou kop, ‘n onstuitbare drang’ getoets word nie, onbeheerbare hormone? Moet mens dit dan soos die uitslag van IK toetse kan bepaal, of medies?

En dan kan dit mos met enige slagoffer in ‘n onwelkome situasie gebeur. By partytjies, oral, in die wêreld, veral daar waar geld vloei gaan dit maar rof. Daar word ook maar woes aangehits.

Baie, baie mense het, selfs met die moderne tegnologie, nie die middel om hul storie en die vergryp aan hul menswees met die wêreld te deel nie, al is dit dan net om terapie. Hoë bome vang die meeste wind, dit is maar die toppie van die ysberg, die massas, op die grond, woon dalk in nedersettings en afgeleë gebiede en word nooit van gehoor nie.

Therese van Schalkwyk ·

Die #MeToo-beweging in die VSA herinner tans aan Middeleeuse heksejagte.
Dit is misbruik om president Trump by te kom, en dit nou gelei tot algehele ongeloofwaardigheid.
Werklike slagoffers van molestering voel heel waarskynlik allermins tuis tussen opgeruide besetenes wat politieke speletjies vir televisie-kameras speel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.