Nuuskommentaar: Mev. wyle dr. Snob en “dr” Pallo Jordan

212c7afIn ‘n Oos-Vrystaatse dorp was daar jare gelede ‘n distriksgeneesheer wat legendaries geword het vir hoe grof hy in sy werk was. Na sy vrou se heengaan trou het met die klinieksuster, wat terstond mevrou dokter word. ‘n Rukkie later is die dokter egter oorlede, en sy weduwee word toe mev. wyle dokter.

Soms is die redes oor die voorgee van kwalifikasies waaroor mense sou beskik meer as net snobisme, en is dit lomp pogings om ‘n baie diep seer te verdoesel. Soms is dit egter doodgewone bedrog wat mense hul lewens kan kos.

‘n Morele debat het losgebars oor die nuus dat “dr” Pallo Jordan toe nooit, soos sy CV aangedui het, oor ‘n doktorsgraad beskik het nie. Oor twee sake stem almal egter saam: hy was verkeerd om voor te gee dat hy oor ‘n doktorsgraad beskik, en hy het die eerbare ding gedoen deur in sy swaard te gaan val toe dit onthul is.

Jordan het onder sy ANC-ampsgenote – as minister en as LP – uitgestaan. Hy word wyd as ‘n intellektueel voorgehou, hoewel die rubriekskrywer, Rhoda Kadalie, meen sy vertoning as intellektueel word oorskat.

Die onthulling oor Jordan se wanvoorstelling kom te midde van ‘n rits onthullings en nuus oor ook ander wat nie oor die kwalifikasies beskik waaroor hulle veronderstel is om te beskik nie, of voorgee dat hulle beskik. Die bekendste is seker die storm om die kop van die pas-aangestelde bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng. Sy aanstelling word onder meer gedryf deur die voorsitter van die SAUK-raad, Ellen Tshabalala, wat op haar CV aandui dat sy ‘n B.Com en ‘n arbeidsreg-kwalifikasie by Unisa verwerf het, terwyl Unisa ontken dat sy enige kwalifikasies daar verwerf het.

Dit laat die vraag ontstaan of daar nie ‘n braak veld vir ondersoekende joernaliste lê om te kyk hoeveel van die ontplooide kaders wel oor die kwalifikasies beskik waaroor hulle opgee dat hulle beskik nie.

Vir politici is gevorderde kwalifikasies klaarblyklik geen vereiste nie. Die huidige president, Jacob Zuma, beskik oor baie min formele skoolopleiding. Oud-pres. PW Botha het nooit sy universiteitstudies voltooi nie.

Die probleem lê by vervalste kwalifikasies in poste waar die ware Jacob wel saak maak, soos munisipale bestuurders, en ander sleutelposte binne munisipaliteite, staatsdepartemente en staatskorporasies. Vervalste kwalifikasies kan mense hul lewens kos, soos wanneer rioolplase nie behoorlik onderhou word nie, en rou riool in drinkwater beland.

Die ouditeur-generaal se jaarlikse slagting onder munisipaliteite dui daarop dat iets drasties verkeerd is. Dit raak veral kommerwekkend as in ag geneem word dat baie munisipaliteite jaarliks miljoene rande spandeer aan konsultante, juis om beter by die OG te vaar – konsultante wat veronderstel is om wel oor die nodige kwalifikasies en kundigheid te beskik – en dan in elk geval in die hek duik.

Die voordoen van oor kwalifikasies beskik, is ‘n komplekse kwessie. In Jordan se geval is daarop gewys dat hy uit ‘n huis kom waar beide sy ouers gerekende intellektuele en akademici was. Jordan se studies oorsee is egter telkemale deur “verpligtinge” teenoor die “struggle” ontwrig, en hy het nooit sy studies voltooi nie.

Ander het wel kwalifikasies behaal, en gebruik, maar wat weens die gehalte daarvan waarskynlik nie in Suid-Afrika akkreditasie sou verkry nie. So het daar ‘n hardnekkige gerug bly loop dat die mediese kwalifikasie wat wyle dr. Manto Tshabalala-Msimang in Rusland verwerf het, haar nie eens laat kwalifiseer het om in Rusland self as mediese dokter te praktiseer nie.

Nie alle lande waak so streng oor die gehalte van kwalifikasies wat by allerlei instansies in daardie lande toegeken word nie. In lande soos die VSA en Duitsland word eintlik meer waarde geheg aan by watter instelling kwalifikasies verwerf is, as wat dit genoem word.

Baie van die doktorsgrade wat in sulke lande toegeken is, word eenvoudig nie in Suid-Afrika erken nie – wat die houer daarvan egter nie verhinder om dit te gebruik nie. Daar is byvoorbeeld in Suid-Afrika groot omstredenheid oor die beweerde doktorsgraad in wetenskap wat die Amerikaner, Kent Hovind, by ‘n Bybelskool sou verwerf het. Hovind het ‘n groot aanhang onder Suid-Afrikaners terwyl die wetenskap (en teologie) hier hom ignoreer.

In Afrika het daar ook ‘n negatiewe konnotasie ontwikkel oor die gebruik van die titel “doktor” na aanleiding van die toekenning van ‘n ere-doktorsgraad, of selfs ‘n string sulke grade. Die negatiwiteit het ontstaan deurdat omstrede politici soos “dr” Idi Amin Dada, “dr.” Leabua Jonathan en ander dit as statussimbool begin inspan het, terwyl hulle dikwels self universiteite gedruk het om dit toe te ken, en selfs universiteite geskep het om dit toe te ken.

Dikwels was dit omdat politieke opponente wel oor werklike doktorsgrade beskik het. In Suid-Afrika beskik talle politici soos Zuma oor ere-doktorsgrade, maar gebruik dit nie, of soos in die gevalle van eerw. Kenneth Meshoe en sy vrou, gebruik dit selde.

Daar is talle redes hoekom bitter baie mense nooit die geleentheid gekry het om die kwalifikasies te bereik nie, waarvoor hulle duidelik oor die vermoë beskik. ‘n Groot faktor is sosio-ekonomiese omstandighede wat geleenthede vir verdere studie onmoontlik maak.

Bitter swak onderwysers wat deur vakbonde soos Sadou onaantasbaar gemaak word, is ‘n reuse probleem. Disleksie en sekere leerprobleme kan persone erg laat onderpresteer, maak nie saak hoe hard hulle probeer nie.

Die naakte rassistiese wyse waarop “transformasie” soms in Suid-Afrika bedryf word, ontneem nou dikwels begaafde jong mense op grond van hul velkleur die geleentheid om die befondsing, en keuring, te bekom vir studies wat hulle graag wil aanpak. Hoe sterker burgerlike instellings soos AfriForum en Solidariteit gemaak word, hoe sterker kan die negatiewe impak hiervan teengewerk word.

Wêreldwyd is daar voorbeelde van minderhede wat uitpresteer, en hier hoef dit nie anders te wees nie. Maar dit gaan nie sommer vanself gebeur nie. En minderheidsgemeenskappe wat uitpresteer, word dikwels juis daaroor weer geteiken. Dit is daarom belangrik dat wyer gekyk word as die eg belang van gemeenskappe.

Miskien leer die land belangrike lesse uit die geval van Jordan, tot almal se voordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie Louw ·

Wat van onse Blade se Dr’s graad? Nee wat, mens moet maar versigtig wees met kwalifikasies vandag, want elke 2de mens wil so graag ‘n dokta wees.

Griet ·

“Mark my words” – iewers gaan ‘n “Universiteit” swig onder die druk van die ANC en vir hierdie knaap ‘n ere doktorsgraad aanbied…….. want hy WIL ‘n dokta wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.