Nuuskommentaar: Minderheidsregte: Hoekom vorm België so moeilik ’n federale regering?

Die Belgiese vlag wapper oor die stad van Gent. Foto: Pixabay

Met begrippe soos diversiteit en identiteitspolitiek wat gereeld wêreldwyd aan die bod kom, en bepaald ’n rol in die staatkunde speel, sou verwag word dat middelpuntvliedende denke daarmee saam by minderhede sou eskaleer, soos nou inderdaad met Katalonië, asook Brittanje se Keltiese lande gebeur. Maar in België is dit op die oog af die meerderheid, die Vlaminge (byna 60% van die bevolking), wat al hoe sterker na losser bande van die Franssprekende minderheid neig, en nie die minderheid nie.

’n Raakvat-sêding kan dikwels meer verhelderend wees oor ’n politieke tameletjie as ’n duisend geleerde woorde. So het ’n opmerking in die Nederlandse media ’n aantal jare gelede ontstaan op buitelandse joernaliste en analiste se onvermoë om raak te vat oor tendense in die Nederlandse politiek: “Die politiek in Nederland is ver te skisofrenies vir ’n buitelandse waarnemer om te verstaan.”

Natuurlik kom die probleem oor ver meer as net Nederland voor. En ken ons dit nie ook maar in Suid-Afrika nie – ’n buitelandse korrespondent van ’n nuusgroep oorsee wat nadat hy in die land aangeland het, reguit afsit met “ontledings” uitsluitlik gebaseer op die Engelstalige media in die land. Soms is dit verstaanbaar aangesien die betrokke korrespondente nie Afrikaans magtig is nie, maar as dit ’n Nederlandse of Vlaamse joernalis is, is dit tog onnodig om ’n narratief in te span wat as ’n kwalik verdoeselde narratief in die apartheidsjare gewortel is.

So asof die Afrikaanse media by verstek in apartheid gewortel sou wees. Voorts ook dat Afrikaans as taal so sektoraal geanker is dat dit geïgnoreer behoort te word. Of gewoon ’n persepsie dat Afrikaans irrelevant is.

Taamlike omvattende studies word deurlopend gedoen oor hoekom die media dikwels vasbrand met die waarheid in andermansland. ’n Taamlike algemene opvatting is dat joernaliste en akademici geneig is om meer polities links te wees as die gemiddelde lid van die publiek. Die vingers wat deurlopend na veral sekere media gewys word oor redaksionele ondersteuning aan pres. Donald Trump, is byvoorbeeld goed bekend.

In België is een van die mees ontlede verskynsels die steun, al dan nie, wat die begrip “konfederasie” by Belgiese akademici en joernaliste geniet. Dit beteken, luidens berigte, dat die media nie in pas met veral Vlaamse sentimente hieroor is nie.

Behoort die uitdrukking uit Nederland, dat die Nederlandse politiek te skisofrenies is om die Nederlandse politiek te verstaan, nie ook vir België te geld nie? Hoekom lyk dit dan of die Vlaminge die grootste groep in België is, maar dat dit die Franssprekendes is wat (steeds) die land se politiek oorheers? Maroela het dié kwessie gereeld aangeraak, hetsy in die algemeen soos onder die vaandel van diversiteit, identiteitspolitiek ensovoorts, of spesifiek met verwysing na België, soos hier.

Om België se politiek van buite reg te probeer verstaan is baie moeilik. Die volgende narratief kan maklik ontstaan, al is die werklikheid veel, veel komplekser:

  • Normaalweg sou ’n minderheid ’n sterker bod vir outonomie insit, maar met behoud van voordele soos die behoud van die jaarlikse subsidie wat die meer welvarende Vlaandere aan die Wallone oorbetaal om die twee bevolkingsgroepe ekonomies op gelyke voet te bring. Maar in België kom die grootste aandrang op outonomie, en selfs onafhanklikheid (al is dit met konfederalisme as meganisme), uit Vlaandere. Die sterk opkoms van Vlaams Belang met die jongste verkiesing krap die Waalse politiek erg deurmekaar.
  • Hoe ’n groot rol speel die Belgiese koning en koningshuis (Franssprekend) dat Franssprekendes politieke myle kry wat uit pas is met hul getalle?
  • Vlaminge moet naas Nederlands (Vlaams) ook Frans op skool neem. Die Franssprekende Wallone word as waarskynlik die mees eentalige gebied ter wêreld beskou. Toe Vlaandere oorweeg om die opsie aan skoolgaande Vlaminge te bied om Engels, eerder as Frans te neem, was die Wallone erg onthuts.

Deesdae is die Vlaminge gemiddeld meer welvarend as die Franssprekendes. Sosialistiese partye is in Wallonië veel sterker as onder die hardwerkende Vlaminge, en die spreekwoord lui immers dat sosialisme goed werk tot iemand anders se geld op is. Hoeveel motivering sal daar onder die Wallone wees om ook meer welvarend te wees deur minder sosialisties te wees, as die hardwerkende Vlaminge elke jaar miljarde euro’s aan Wallonië oorbetaal om ekonomiese pariteit te vestig?

Kortom, word die Vlaminge (getalsgewys die meerderheid en ekonomies die sterkste) nie in werklikheid deur die Wallone gekoloniseer nie? Dit hang af wie die koning as eerste minister aanwys, en die aanduidings is dat die keuse buite verhouding dikwels op ’n Franssprekende val.

En dat dit dan ’n gelol afgee om ’n koalisieregering op nasionale vlak te vorm. Na die algemene verkiesing van 2014 het dit 589 dae geneem om ’n koalisieregering te vorm. Dit was destyds ’n wêreldrekord vir ’n ontwikkelde land, waarna dit deur Noord-Ierland oortref is.

Die ironie is dat die Franssprekendes, wat altyd ’n numeriese minderheid sal wees, skynbaar die sterkste oor Belgiese eenheid voel. Die twee partye wat die sterkste oor hetsy onafhanklikheid, of maksimale outonomie voel, is beide Vlaams en ook sedert vanjaar se algemene verkiesing die twee sterkste partye in België. Die tweede sterkste, die Vlaams Belang, het met 15% gegroei.

Voel die Franssprekendes dat tradisionele konvensies wat in die praktyk hul posisie bevoordeel, genoegsaam in stand kan hou om veral in die tweetalige Brussel te kan bly domineer, en selfs meerderwaardig kan domineer, terwyl die welvarender Vlaminge die beursies sal moet bly skud om die sosialisties neigende Franssprekendes se kunsmatige hoë lewenstandaarde moet bly “subsidieer”? Of sal iemand in anderland nooit presies kan verstaan nie?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

8 Kommentare

Rupert Ashford ·

Geld praat hard. Solank die Walloniers hulle geld kry, sal hulle natuurlik voorstanders wees van “eenheid “. Klink amper soos parasitisme uit die Biologie. Dit sal hierdie probleempie wees wat die Skotte ook dalk mag sink sou hulle dom genoeg wees om onafhaklikheid van die VK te kies.

schaun ·

Die anc/da/eff alliansie moet die gehate minderhede n onafhanklike tuisland soos lesotho gee waar die minderhede hulself kan regeer,ons sal dalk verbaas wees om te sien hoeveel van die meerderheid burgers van alle rasse sal aansoek doen vir burgerskap in so n tuis staat net om weg te kom van die korrupte SA en die anargie waarheen ons beweeg.

jaco ·

Ek weet nie vir wat dié 2 groepe so haaks is met mekaar nie. Hulle moet NET 1 week in SA kom deurbring, dan sal hulle terugkeer België toe en mekaar omhels, want hulle sal besef hulle onderlinge verskille is bitter klein en dit verdwyn teenoor goed soos:
-Beurtkrag
-Swak vuil staatshospitale
-Lae standaard onderwys waar leerders onderwysers mag aanrand
-Min tot geen munisipale dienslewering
-Plaasmoorde
-En en en. My lys is BAIE langer

België is sonder al dié nare goed, so waarom aanhou met mekaar vassit oor eintlik onbenullige nonsens?

Vlenders ·

Is die Belge beter af as Suid Afrikaners, ja, maar hulle was 20 jaar terug nog beter af…. die Franse sosialistiese neigings het baie Turke en ‘Moroccans’ toegelaat…. ons het as kinders vir ‘n ruk in Brussels gebly, en ek het so deur die jare maar altyd daar gaan draai as ek Europa toe reis. My laaste kuier was dit opmerklik hoe agteruit Brussels self gegaan het met al die buitelanders(freeloaders) wat daar gaan afpak het…. plekke soos Brugge het nog sy ou Vlaamse karakter en doen goed…. Brussels self wil ek nie sommer weer sien nie…. wat ‘n jammerte…

Dit is juis hierdie vooruitsig van verdere agteruitgang wat die Vlaamse laat dink, en vasskop

andre ·

Viva Vlaamse belang!!!

Vat lesse by Orania vir volkseie selfregering!

En / of BOU ‘n MUUR!

Van den Vos Reynaerde ·

Ek is onder die indruk dat die inwoners van Wallonië bekend staan as ‘Wale’ (enkelvoud ‘Waal’ en vroulik ‘Walin’) eerder as ‘Wallone.’

Die geskiedenis van die konflik tussen die Vlaminge en Wale loop al ‘n lang pad. Met die oprigting van die Belgiese staat in die 19de eeu na afloop van die Napoleontiese oorloë was het Wallonië die welvarendste gedeelte geword, met sy steenkooolmyne en swaar industrië. Frans was die enigste amptelike taal en die heersende elite was Franssprekend. Die Vlaminge was die ongeskoolde, arm, landelik en ‘agtergeblewe’ onderklas – ‘n soortgelyke situasie aan die Afrikaners en die oorwegend Engelssprekende elite in Suid-Afrika. Tydens die twintigste eeu het Vlaandere egter welvarend geword, terwyl Wallonië se swaar nywerhede weggekwyn het.

Herman Toerien ·

Baie dankie aan veral Vlemders en Van den Reynaerde vir hul kommentare met agtergrond wat werklik waarde toevoeg. Ek dink dit demonstreer die pnt aan die begin hoekom ‘n uitelandse joernalis dit so moeilik vind om akkuraat te kan kommentaar lewer oor sy gasheerland. Voor die talle betaalmure wat nou in Europese koeranteopgerig word, kon ek die Britse media dikwels met stories scoop omdat minBritte Duits, Nederlands ens kan verstaan, en iets soos ‘n groot vliegongeluk in Duitsland se nuus tot die Britse media se beskikking gekom het. Met die betaalmure moet ek noodwendig die Britse media gebruik vir Europese nuus, en dit maak nuus moeiliker toeganklik. Dis nou afgesien daarvan dat my Grieks (van universiteitsdae af), Hebreeus, Turks, Magjaars, Russies, Sweeds, Frans en Spaans nie juis op standaard is nie. Dankie aan dr. Google se vertaalfunksies, maar soms kan selfs ek sien daar word soms ook maar lekker geblaps. Feit is, goeie leserskommentaaar is uiters waardevol vir feite en insigte.

John ·

Die EU is in krisis met die baie inkomelinge en wil ten alle koste die blinkkant bo hou vandaar die Brexit-teenstand. Britse bydraes en die skuif van onwelkome migrante is lewensnoodsaaklik en daarby die VSA se hulp vir Navo se gepanserde parassiete. Belgiè, waar die EU-parlement setel, word grootliks deur Islam bestuur. Die Katolieke rykes dra bloot die beursie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.