Al bestaan die begrip minderheidsregte weens politieke korrektheid nie juis as welkome faset in die Suid-Afrikaanse politiek nie, is dit nou baie aktief. Nie net oor ’n mediaverklaring daaroor deur die Afrikanerbond die naweek nie, maar in veral een van die groot politieke skuiwe van die afgelope verkiesing, naamlik die verskuiwing van kiesers van die DA na die Vryheidsfront Plus. Dis ’n onderwerp wat, net soos die algemene verkiesing, nie met ’n enkele aandurf van die rekenaartoetse bespreek kan word nie, en word Woensdag verder onder die loep geneem.
Of dit die Vryheidsfront Plus se suksesse in die afgelope algemene verkiesing was, of twiets van Helen Zille, dit het skielik minderheidsregte al meer op die voorgrond begin plaas.
Dit beteken egter nie dat minderheidsregte in alle kringe in Suid-Afrika die kleed van politieke inkorrektheid afgeskud het nie.
Volgens dr. Danny Titus van die SA Menseregtekommissie is daar in die swart pers by lesers en ander wat reageer ’n groot ongelukkigheid oor die verbeterde vertoning van die Vryheidsfront Plus. Dit word as ’n verset van wit mense teen die huidige bedeling beskou – ’n hunkering om aan wit bevoorregting te kan klou.
Wie se skuld dit is dat so ’n persepsie bestaan, en nie net onder swart mense nie, is ’n komplekse storie om te ontrafel. Blote ontkenning help nie. Nie hier nie en ook nie in verskeie ander kontekste nie. Neem maar die voortdurende aanvalle op Solidariteit uit ’n klein, maar hegte akademiese kringetjie wat gedurig hul voorbeelde om Solidariteit mee sleg te maak uit die literatuur van die ou Mynwerkersunie gaan opdiep – en dan ook nog lekker met die konteks karring.
Die pikantheid skree ten hemele as in gedagte gehou word dat ras met die inhoud van minderheidsregte niks, maar niks, uit te waai het nie. Die internasionale reg en die Grondwet (artikel 235 oor selfbeskikking) erken nie ras as manier om vir (minderheids-) regte te kwalifiseer nie. Ras beskik in die internasionale reg wel oor sogenaamde negatiewe regte, soos ’n verbod om haatspraak teen die ras, volksmoord ensovoorts te pleeg – die ras kry geen spesiale regte soos die reg op selfbeskikking nie.
Die ANC is egter totaal rasbenepe en sleep dit deurgaans in die voortspruitende kwessie is. Op die oomblik is dit byvoorbeeld ’n toutrekkery tussen veral Afrikaanssprekende ouers in Gauteng, asook die Grondwet, teen die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, met die reg op moedertaalonderrig. Lesufi probeer nou al ’n ruk lank om ideologie bo grondwetlike bepalings gestel te kry – in dié geval weer minderheidsregte.
Maar waar pas minderheidsregte in?
Menseregte, soos ook in ons Grondwet vervat, word gereeld gelyk gestel aan individuele regte. In werklikheid bestaan menseregte uit individuele regte en minderheidsregte. Dit word byvoorbeeld deur die VN en die internasionale reg erken, en is onder meer sentraal in die Europese Unie. Individuele regte word dikwels geassosieer met liberalisme, en minderheidsregte met ’n meer konserwatiewe benadering, maar die praktyk is dikwels juis omgekeerd. Voorstanders van individuele regte argumenteer dikwels dat minderheidsregte/groepregte onnodig is, aangesien dit via die individuele regte uitgeleef kan word. Breedweg is dit ook die benadering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, wat met enkele los draadjies, net aandag gee aan individuele regte.
Die leemte hierin is dat dit juis die minderhede van ’n eie statutêre beheerliggaam ontneem.
Waaruit bestaan minderheidsregte? Wat die Suid-Afrikaanse Grondwet betref, weet ons dit moet minstens oor taal-, kultuur- en godsdiensregte beskik. Daar is juis ingevolge die Grondwet ’n hoofstuk 9-liggaam “hiervoor” in die lewe geroep, die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe. Heel dikwels sal veral politici, waaronder twee vorige presidente, verkeerdelik hierna verwys as die Kommissie vir Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe. Dit beteken hierdie gemeenskappe het ook ander regte as net taal, kultuur en godsdiens. Wat dié kommissie betref, is so ’n debat van min of meer akademiese belang omdat dit Pansat se voorbeeld na vergetelheid volg.
Die kantoor van die hoë kommissaris vir menseregte van die VN laat hom soos volg uit oor wie vir minderheidsregte kwalifiseer: “Adopted by consensus in 1992, the United Nations Minorities Declaration in its article 1 refers to minorities as based on national or ethnic, cultural, religious and linguistic identity, and provides that States should protect their existence. There is no internationally agreed definition as to which groups constitute minorities. It is often stressed that the existence of a minority is a question of fact and that any definition must include both objective factors (such as the existence of a shared ethnicity, language or religion) and subjective factors (including that individuals must identify themselves as members of a minority).”
Dit sluit naatloos by die bewoording in die Suid-Afrikaanse Grondwet aan. ’n Probleem, wat ook deur die VN erken word, is dat lede van minderhede dikwels ervaar dat daar dubbel teen hulle gediskrimineer word: “While the United Nations Minorities Declaration is devoted to national, ethnic, religious and linguistic minorities, it is also important to combat multiple discrimination and to address situations where a person belonging to a national or ethnic, religious and linguistic minority is also discriminated against on other grounds such as gender, disability or sexual orientation. Similarly, it is important to keep in mind that, in many countries, minorities are often found to be among the most marginalized groups in society and severely affected by, for example, pandemic diseases, such as HIV/AIDS, and in general have limited access to health services.”
(Die feit dat die Afrikaner dikwels (nog nie) nie sosio-ekonomies agtergeblewe is nie, word dikwels gebruik as motivering waarom die Afrikaner nié vir minderheidsregte kwalifiseer nie.)
Die aanwesigheid of afwesigheid van minderheidsregte en die impak is goed gedemonstreer in gisteraand se Kommentaar op RSG. Dr. Danny Titus het verwys na die breë Suid-Afrikaanse denkraamwerk waarbinne die openbare diskoers plaasvind. Die indruk is gevorm dat dit die fokus op individuele regte plaas, en in wese minderheidsregte buite rekening plaas.
Om dit so eenvoudig as moontlik te stel en in die proses wawyd oop te wees vir kritiek, krap die DA kop oor waarom so baie mense die DA “verlaat” het om hul steun aan die Vryheidsfront Plus toe te sê – met die vorige algemene verkiesing het die destydse DA-leier, Zille, ’n oproep op nie-DA-kiesers gedoen om hul stemme vir die DA te leen. Daar was nie ’n voorwaarde aan gekoppel soos dat die leners in die proses ook met die DA se beleid moet of met die DA se ideologiese raamwerk moes identifiseer nie.
Noudat baie van hierdie kiesers geoordeel het dat die DA nie genoegsaam na hul minderheidsregte omgesien het nie, en die “stem mors op kleiner partye” grootliks ineengestort het, is geoordeel die VF Plus sal beter na hierdie behoefte kan omsien. Die gerapporteerde reaksie is uiteenlopend. Sommige prominente DA-lede beywer hulle daarvoor dat die kiesers wat hul geleende stemme onttrek het, teruggelok moet word. Versekerings dat die DA dan sy sokkies oor minderheidsregte sal optrek is skraps, en dikwels afwysend.
Ander in die DA spreek die gevoel van “good riddence” uit en laat blyk dat dié mense al die tyd ’n blok aan die been was. Die blok aan die been-mense is natuurlik nie almal wat met die stem-lenery met ’n slap riem gevang was nie, maar ook baie oud-Natte wat nie vir die “ons sal jul stem” in die ANC wees, geval het nie, en so in die DA beland het.
Dit is natuurlik nie net die VF Plus wat die kwessie van minderheidsregte gedryf het nie. Onder die bruin bevolking het ’n ontploffing van partytjies ontstaan. Een van die groot drywers hiervan, Peter Marais, was selfs die VF Plus se premierskandidaat vir die Wes-Kaap.
Nog ’n Zille-twiet rond die kleitrap-vertoning van die DA oor diversiteit af, naamlik haar swaarde kruis met die akteur Hlomla Dandala. Die kwessie van swart teenoor wit bevoorregting is onder die loep geneem.
Maar dis nie al nie. Die naweek het die Afrikanerbond ’n mediaverklaring uitgereik waarin ’n oproep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen is om ’n spesiale meganisme in te stel waardeur die president met minderhede kan skakel. Die versoek is gebaseer op ’n memorandum wat op 13 Mei vanjaar aan die president oorhandig is.
Weens ʼn gebrek aan ruimte word hierdie skrywes van die AB Woensdag in meer besonderhede bespreek. Intussen die volgende aanhaling uit die Mei-dokument ter opheldering:
“Om ernstige oorweging te skenk aan die instelling van ’n skakelmeganisme vir minderhede en Suid-Afrikaanse taal-, kultuur- en godsdiensgemeenskappe om die kwellings en spesifieke behoeftes van hierdie groepe in die verskillende staatsdepartemente, provinsies en grondwetlike instellings te bevorder, te evalueer en te monitor. In hierdie verband doen ons graag een of meer van die volgende aan die hand:
- ’n Permanente ministerie van Suid-Afrikaanse minderhede of /gemeenskappe
- ’n Ombudsman vir Suid-Afrikaanse minderhede/gemeenskappe
- ’n Spesiale kantoor vir Suid-Afrikaanse minderhede/gemeenskappe in die presidensie
Daar is talle internasionale voorbeelde van spesiale meganismes, in Europa en ook die ministerie van minderheidsake in Indië, waaruit Suid-Afrika beste praktyke kan oorneem.”
Waar lê die probleem dat minderheidsregte in Suid-Afrika so gereeld as ’n vorm van bedreiging of belediging ervaar word?
Ja, die herinneringe aan apartheid, soos dit in die praktyk toegepas en dikwels ontrafel het, voed persepsie dat wit mense hunker na statutêre bevoordeling, en dat enige wit-gebaseerde strewe van iets eiesoortig, verdink word van ’n poging om op apartheid op ’n verskuilde metode her in te stel.
Daar woed nou juis afgesien van die Zille-Dandala-diskoers ’n openbare diskoers oor wit- en swart bevoorregting. Ace Magashule het juis pas weer sy mond hieroor uitgespoel en is uit wit geledere genadeloos oor sy houding en vertolking gelooi.
Die dae van witbevoorregting is vir goed verby.
Die klomp politici moet net weet ons weet dit en aanvaar dit.
Waarteen ons wel kapsie maak is swartbevoorregting.
Ons wil net regverdige kanse op werk, opleiding, sport ens. gegun word.
Daar is baie van alle kleure wat baie meer voorregte as ek het en geld het waaroor ek net kan droom. Kinders ry met karre wat ek nie kan bekostig nie en dan speol hulle die mond uit oor witbevoorregting.
Daar is minder arm blankes as ander kleure maar ek dink persentasie gewys van die bevolkingsgroepe trek ons gelyk. Daar kan mos nie 1 tot 1 vergelyk word nie.
Los my taal ook uit. Ek karring nie aan jou taal nie.
My geloof is my persoonlike saak, Ek wil nie tot voorvadergeeste bid nie
As daar verwag word ons moet hulle respekteer moet hulle wys hulle verdien dit.
Minderheidsregte kan nie weggewens of ignoreer word in Suid Afrika nie. Die VF Plus veg juis vir die regte van minderhede en kan vertrou word om na die belange van Afrikaners en ander minderheidsgroepe om te sien. Daar gaan dus nog meer mense die DA verlaat en hul gewig by die VF Plus ingooi. Die DA is soos almal alreeds besef maar net n ANC-lite.
Die VF+ sal net kerm en kla, maar weinig tasbaars bereik. Begin eerder werk aan ‘n wit tuisland aan die weskus.
@Kallie om n tuisland te hê soos Lesotho glo ek nie is regtig haalbaar nie maar gee ons gelyke kanse sonder wette wat ons bind dan kan ons uitstyg en die land voorspoedig maak vir almal.
‘n Tuisland van 20 000 vierkante km aan die weskus is defnitief haalbaar. Daar sal ons uitstyg. In die res van SA sal Afrikaners identiteitloos agteruitboer, en uiteindelik uitsterf. SA is in ‘n afwaartste spiraal en niks of niemand kan dit omdraai nie, nie eers die Afrikaner nie.
Deon, seekos as meevaller, Karoo-skaap nie ver weg nie, springbok.
Die DA het die meeste blankes lang genoeg misbruik en hul regte ontken… hul begin nou die prys daarvoor betaal..
Pieter du Plessis dit is die probleem my maat. Jy is reg gee ons die regte om hierdie land te laat uitstyg. Is jy bewus van dat honderde hoogs kwalifiseerde blanke ingenieurs letterlik net vervang was met swart onbevoegde mense by Eskom. Dit is die oorsaak van Eskom, SAL, Transnet, Prasa en duisende groot besighede se totale verval. Hoop en glo jy dit sal verander. Regtig
Groter prentjie. Die DA sal net die ANC kan uitskop met swart steun. Selfs met 414 000 Afrikaner steun sal die DA nie die doelwit bereik nie. Indien Afrikaners nie daarmee kan vrede maak nie, moet hulle liewer ander politieke tuistes vind. Dit sal ook beter wees vir die DA.
Ek hoop dat ek my se ook kan se alhoewel ons wittes lankal baie minder regte het. Die politici moet net bietjie die waarheid in die oe staar en kyk wat doen ons mense met minder regte vir hierdie land. Indien ons regte heeltemaal weg gevat word van ons gaan ongevraagde en ongewenste dinge gebeur in hierdie land. Gun elkeen n bietjie sonskyn en dinge sal soveel beter wees in hierdie land. Ek sal steeds saam die vf+ staan en hulle ondersteun maak nie saak wat gebeur nie. Daar sal wel n uitkoms wees vir ons minder bevoorregtes van hierdie land en dis nader as wat ons almal besef.
Ons wil hê dat alle diskriminerende wette gebaseer op velkleur ( omgekeerde apartheid) moet geskrap word ons soek nie spesiale voorregte nie net n gelyke speelveld om mee te ding op meriete, na 25 jaar dink ek dit het tyd geword.
Dit het tyd geword om te onderhandel met die regering om die diskriminasie teen minderhede op te skort alternatief gaan niemand voordeel trek uit enige finansiële voorspoed nie.
My bekommernis is dat ‘n liggaam vir minderheidsregte net weer ‘n geleentheid gaan wees vir lekker salarisse vir ANC kaders, en dat hulle weereens niks produktief gaan doen nie, soos die kommissie wat in die artikel genoem word vir Taal, Kultuur en Godsdiens, en eintlik net nog belastinggeld gaan vat vir vet salarisse, motortoelae ens. Ek dink die vereiste moet wees dat die personeel self lid moet wees van die minderheid wie se belange gedien word, maar selfs dit sal nie voorkom dat hulle ANC-lede is met slegs hulle eie agenda nie.
As almal net wakker word en uit hierdie groef van regte klim en besef in ‘n geordende samelewing is daar net hoop as almal verpligtinge het en dit nakom. Menseregte, diereregte en alle soorte regte is deur die vyand daargestel om die wêreld te vernietig. Nêrens in die Bybel kon ek nog enigsins iets kry wat sê ek het regte nie, net verpligtinge. Sela.
Ja, en ons is bevoorreg om die aarde te kan bewantel. Dit is die mense se ingesteldheid wat hom als laat toe eien.