Nuuskommentaar: Minister van propaganda

20120529_propagandaIn ‘n onlangse artikel, “The Vandals: Victims of a bad press” toon die kurator van die Britse Museum, Barry Ager, aan hoe belangrik die goeie hantering van inligting is om ‘n objektiewe prentjie te skep van wat werklik gebeur – of dan gebeur het. Die Vikings, en veral die Vandale se geskiedenis is immers deur hul vyande opgeteken.

Die ANC kla nie van gister af nie dat die media in Suid-Afrika ‘n blinde oog werp op die prestasies van die regering, en dan flaters met oorgawe uitbasuin. In die Vrystaatse Wetgewer het ‘n LUR in haar toespraak die navorsers van opposisiepartye daarvan beskuldig dat dit hul skuld is dat die gemeenskappe diensleweringsbetogings hou – die nare navorsers wys die regering se mislukkings uit. Kort hierna is die befondsing vir navorsers byna mee weggedoen.

In ‘n stadium sou die omstrede Jimmy Manyi die redakteur van ‘n staatspublikasie word wat die “eensydige negatiewe beriggewing” van die koerante moes teenwerk. Daar was planne vir ‘n mediatribunaal, en die snoerwet lê op pres. Jacob Zuma se lessenaar om geteken te word.

Die regering wil die goeie nuus oor wat hy vermag het laat uitbasuin, en die blapse in die doofpot plaas.

Kort na Letlaka Media glo sowat R140 miljoen betaal is vir die ontwikkeling van ‘n webwerf vir die Vrystaatse regering, het dié maatskappy ’n aantal koerante bekom. Van die koerante was voorheen uiters krities op premier Ace Magashule, maar na die oorname lewer hulle slaafs versuikerde taal oor Magashule. Sy kritici probeer ‘n kousale verband vind tussen die buitensporige uitgawe op ‘n webwerf wat nie meer as ‘n paar duisend rand kon gekos het nie, en die finansiering vir die aankope van die publikasies.

Amptelik het Suid-Afrika nou ‘n minister van kommunikasie gekry, maar dié aanstelling van Faith Muthambi word algemeen aangebied as ‘n minister van propaganda. En dit word nie mooi bedoel nie. Boonop het Muthambi ‘n omstrede geskiedenis en is geen vreemdeling aan die wolk oor haar kop nie.

Definisies van die woord “propaganda” wissel skerp, van die heel onskuldige verskaffing van inligting, tot inligting wat “dikwels vals” is, maar altyd met die doel om mense se sienswyses te verander na ‘n “gewenste” siening. Propaganda maak nie noodwendig van die waarheid gebruik nie, die “inligting” moet bloot geloofwaardig wees maar kan in werklikheid maar ‘n pot snert wees.

Muthabi se portefeulje sluit onder meer die SAUK, die regering se inligtingsdiens, GCIS, Brand SA (Engelse uitspraak – gelukkig), en die Media-ontwikkelings- en Diversiteitsagentskap in.

Die Mail & Gaurdian het sowat ‘n maand gelde onthul dat ‘n ministerie vir propaganda onderweg is, maar erken dat sy inligting dat Mac Maharaj die departement sou lei, verkeerd was.

Pres. Zuma self het ander terme gebruik om die doelwitte van die ministerie te verduidelik. Hy verwys na beleid en strategie vir oorhoofse kommunikasie – terme wat baie na-aan die begrip “strategiese kommunikasie” kom.

Ook die term strategiese kommunikasie word dikwels verkeerd gebruik – onder meer om die werk van skakelbeamptes by universiteite, by rugbybonde en vele meer te beskryf. Strategiese kommunikasie werk met die waarheid, en is dus dikwels nie met beeldpoetsery te versoen nie. Strategiese kommunikasie kan dus beskryf word as die manier waarop feite geloofwaardig aangewend word om mense se sienings te verander of te versterk, sodat dit in pas is met strategiese beleidsdoelwitte. Hoekom soldate in gevegte instuur as dieselfde doelwitte bereik kan word deur die vyand met strategiese kommunikasie aan jou kant te kry?

Dit wat onder die funksies van die minister val, word deur die belastingbetaler gefinansier, en lippediens aan ‘n bepaalde politieke party – ook die regerende party, sou onwettig wees en op magsmisbruik neerkom. Of anders gestel – die minister dien die parlement, nie Luthulihuis nie.
En die vraag is of die ANC hulle deur so ‘n “hinderlikheid” sal laat afsit.

Niemand sal dit betwis dat daar enorme kommunikasie-leemtes in die land is nie. Bykans die helfte van koerantberigte waar by ‘n ministerie, staatsdepartement of universiteit ‘n medianavraag gerig is, eindig met die woorde…” het teen druktyd nog nie gereageer nie.” Dit is geen goeie getuigskrif in ‘n land met ‘n grondwet wat deursigtigheid en verantwoordbaarheid van land opeis nie.

Daar is haas nie ‘n joernalis in hierdie land wat nie reeds ervaar het hoe ‘n instansie hom of haar nie probeer ore aansit het nie. Byvoorbeeld, by geleentheid kom kla die moedelose personeelvakbond van ‘n technikon by ‘n koerant oor die rektor se buite-egtelike verhouding en die ongehoorde bevordering van die skelmpie. Die “skakelafdeling” reageer verontwaardig op die medianavraag, en beskryf die storie as infame leuen. Op die koop toe onttrek die technikon al sy advertensies. Kort hierna is die rektor van sy vrou geskei, en met die infame leuens getroud.

Dit wil lyk of heelwat van die probleme by Kovsies wat tot ‘n onstuimige konvokasievergadering gelei het, die gevolg was daarvan dat die inligting wat ouers, oud-studente en donateurs via die universiteit se amptelike kanale bereik, nie strook met dit wat eerstehands ervaar, of van die studente en selfs dosente wat “uitpraat” verneem word nie.

Die media het ‘n belangrike waghondfunksie en die boodskap wat uitgestraal word sal nie positief wees solank korrupsie in die land van so ‘n omvang is dat die land jaarliks op die internasionale korrupsie-persepsie en ander indekse agteruit boer nie.

Die kruks van die saak is nie dat Suid-Afrika en veral Zuma se beeld in die buiteland so effentjies is weens die “bevooroordeelde media” nie, maar omdat Zuma en sy vertrouelinge kort-kort iets kwytraak wat oor die wêreld heen op Suid-Afrika boemerang.

Die posisie sal verder verswak wanneer Zuma die omstrede snoerwet wat op sy lessenaar lê, teken sodat dit van krag word.

Suid-Afrika kan doen met ‘n minister van inligting wat sorg dat die staat flink en behoorlik op medianavrae reageer, met ‘n nasionale uitsaaier wat nie “His Master’s Voice is en nuus manipuleer nie, en dat die staat ook doeltreffende wyses inspan wat met die media-werklikheid verband hou, soos wat die opkomende gemeenskapsmedia net doodgewoon nie die mannekrag het om die een mediakonferensie na die ander (wat laat begin), of op die nippertjie afgestel word, by te woon nie. Die staat moet eenvoudig besef dit is die era van mediaverklarings wat elektronies en persklaar na die media gestuur word (en ook nie alles dan net in Engels nie).

Maar die manier om doeltreffend wal te gooi dat negatiewe beriggewing nie die positiewe oorskadu nie, is om toe te sien dat die president en ander regeringslui leer om ‘n wag voor die mond te hê, dat blapse so ver moontlik vermei moet word, en dat nie net lippediens aan die bestryding van korrupsie gelewer moet word nie.

Dan word propaganda onnodig, en kan gesien word hoe werklike strategiese kommunikasie doeltreffend werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Mese moet asb aansluit by Solidariteit en sy strukture.Die regering het nou sy “tweede oorgang” aangekondig en ook “radikale ekonomiese transformasie”.Regstellende aksie gaan verskerp word,selfs grondonteiening is nou op die agenda.Solidariteit is werklik die enigste organisasie waar Afrikaners kollektief kan saamstaan om hul regte te verdedig.Dis of n kwessie van saamstaan of gaan onder.Ek persoonlik het aftrekorders vir Solidariteit,Afriforum en Helpende Hand,en voel baie trots om n bydrae te lewer.Niks kom verniet nie,almal wat kan moet asb aansluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.