Nuuskommentaar: Ministers beduiwel gesindhede

Argieffoto

Argieffoto

Hoe nader die verkiesing kom, hoe erger word politici se uitsprake en hoe hewiger word die reaksie van erg polariserende gemeenskappe. Let maar op hoeveel mense wat eiertjies in die kuberruim lê, lê eintlik vrot eiers wat opnuut klink na: “Ek was nooit ‘n rassis nie, maar …”

En dis nie meer moontlik om sommer die ontnugterdes verbaal stil te klap nie – die politici gee genoeg rede. Ook politici soos ministers en LUR’s wat so ewe die eed van getrouheid aan die grondwet afgelê het.

Daardie grondwet wat sommer in sy aanhef ‘n verbintenis het om die verdeeldheid van die verlede te genees…

Onder die mees konfliksoekende uitsprake die afgelope paar dae, is ‘n stelling van die KwaZulu-Natalse LUR vir landbou en omgewingsake, Meshack Radebe, dat mense wat maatskaplike welsynstoelae van die staat ontvang, maar nie die ANC steun nie, die staat se geld steel. Die minister van onderwys en SAKP-grootbaas, Blade Nzimande het die “Nkandla-berigte is witmense se liegstories beskryf. Pres. Jacob Zuma en minister Mildred Oliphant plaas weer blaam op olie apartheid vir dinge wat skeef geloop het, omtrent 22 jaar na die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder is – deur die vorige regering, want al die rasgedrewe wette en maatreëls wat al strenger word en strenger toegepas word, moet op die ANC se brood gesmeer word.

Die minister van sport raak duidelik die kluts kwyt met sy kwotastellings, sodat sy adjunk, Gert Oosthuizen, hom op so ‘n manier moet repudieer dat die gemoedere gekalmeer moet word, maar dit tog nie na repudiëring moet klink nie. Die minister van polisie beskryf AriForum se veldtog teen plaasmoorde as ‘n publisiteitsfoefie. Daar is ‘n verbete aanslag teen plekname in ‘n proses wat na kulturele plundering ruik.

Hoe lank nog?

Ja, om stembusskade te voorkom, moet die ANC Julius Malema en sy Enorme Verleentheidswekkende Voorbokke (EVV) oorbie.

Danksy moderne kommunikasie kom boodskappe wat vir die ore van een gehoor bedoel is, in die vorm van voorbladberigte by ander gemeenskappe uit. Dit wat stemme in een gemeenskap kan trek (so ontstellend soos die verskynsel ook al mag wees), vervreem of ontstig ‘n ander. Soet woorde vir die een, kan haatspraak vir die ander wees.

Minder as ‘n jaar gelede kon kommentators nog oor byna enige onderwerp ‘n aktualiteitsbydrae maak sonder om ras te betrek. Maar nou, so teensinnig soos dit ook al mag wees, is die kommentator wat die onderwerp ontduik besig met volstruispolitiek en lewer geen aktualiteitsbydrae tot die openbare diskoers nie.

En wie moet ons daarvoor bedank? Nie Boland Bank nie…

Maroela het al ‘n geruime tyd gemaan dat die ANC die raskwessie weer gaan papryp druk om “gewoontestemme” op te vorder as kompensasie vir ‘n leë koker van regeerprestasies. Diensleweringsbetogings dwars oor die land raak al gewelddadiger (wat volgens Zuma weer voor die deur van olie apartheid gelê word).

Maar dit is nie al nie…

Maroela het ook gewaarsku dat sou dit begin taai gaan om olie apartheid nog vir alles te blameer, daar a-la-Mugabe na ander populistiese dinge gegryp sal word soos die uitdeel van grond. En siedaar, die jongste voorstelle dat boere die helfte van hul grond aan die werkers moet afstaan. En die deksel van nog ‘n Pandora se boks van polarisasie is oopgemaak.

Die aktualiteitspraktisyn wat in hierdie polariserende klimaat nog sy eie bydraes los van persoonlike emosies van ontstigting kan skryf, hierdie kommentaarskrywer inkluis, moet nog gebore word. Dit verlaag ongelukkig die vlak van openbare diskoers tot die sensasiesoekende prul van “kollegas” met en sonder baarde wat teer daarop om hul gifpenne in omstredenheid te doop.

Oggend vir oggend word opgestaan met die beste voornemens in die wêreld om ‘n sober, onverbonde ontleding te doen, maar oggend vir oggend word daar vasgeloop in nuwe onhebbelikhede wat Zuma of sy ministers kwytraak, en slaan die moermeter in die rooi.

Gelukkig vir goeie bloeddrukpille…

En so word die beste bedoelings deel van die probleem van eskalerende polarisasie. Al hoe meer reaksies in die sosiale media lui dat daar ‘n burgeroorlog of selfs volksmoord onderweg is, of selfs reeds begin het. En ja, heelwat van die kommentaar moet noodwendig verwyder word omdat dit suiwer binne die grense van haatspraak val.

En om skuldig te wees aan haatspraak, maak dit nie saak of dit reaktief is nie. Reaktiewe haatspraak kan hoogstens as versagtend tel. En net om sake verder te vertroebel, lyk dit of daar nie ewehandig opgetree word wanneer haatspraak ter sprake kom nie. Die bleker beweerde oortreder word op die oog af sonder verhoor reeds gestraf, die minder bleke word voor geskerm dat dit klap. Of so lyk dit.

Aanstigting sonder brieke veroorsaak dat die enorme poel van goeie gesindheid wat nog onder die “gewone mense” bestaan, algaande geërodeer word.

Die waarneming dat tussengroepverhoudinge aan die versleg is, is ‘n subjektiewe een hoofsaaklik gebaseer op gesprekke en die trant van reaksies in die sosiale media, en nie ‘n gesaghebbende peiling nie. Dit sal verwelkom word as ‘n betroubare peiling die teenoorgestelde bevind.

Maar intussen, of dit verswak of nie, die huidige toedrag van sake laat veel te wense oor. En wat kan daaraan gedoen word?

Die onderwerp oor hoe tussengroepverhoudinge doeltreffend struktureel aangespreek kan word, is al snuif geskryf, en van die teorieë is in die praktyk op die proef gestel. Die vernaamstes is:

–       Spreek die kwessie van relatiewe deprivasie wat grootliks langs etniese lyne loop aan. Die twee vernaamste uitgangspunte is om ‘n klimaat van nie-rassigheid te skep waarbinne welvaart verhoog word, en almal bevoordeel word deur die opwaartse suigkrag daarvan. Ander, waaronder die ANC-regering, meen dit kan die vinnigste bereik word deur die hoofsaaklik agtergeblewe groep te probeer bevoordeel, terwyl die hoofsaaklik meer welvarende groep gerem word. Dit beteken dat een vorm van rassisme waar ekonomiese deprivasie van een groep ‘n onbedoelde newe-effek was, deur ‘n ander vervang word waar ekonomiese deprivasie wel deeglik bedoel word. Ongelyke behandeling van groepe verskerp polarisasie en in beginsel skiet die proses in vele opsigte homself in die voet.

–       Kleingroep-dinamika, soos die destydse verhoudingskomitees, is ingespan. Die nadeel is dat sulke groepe se bestaan aan ‘n sikliese bestaan onderwerp is waar die energie om die groep aan die gang te hou uiteindelik groter is as enige positiewe uitsette wat dit lewer. Dikwels suurdeeg die werksaamhede glad nie na die gemeenskappe deur nie.

–       Horisontale kommunikasie, waar kommunikasie enige projek insluit soos pretdrawwe, kultuurkonserte ens vele meer. Die sleutel lê in die horisontale, omdat tusssengroepkommunikasie dikwels vertikaal geskied, maw tussen werknemer en werker, of afdelingshoof en werker.

–       Staatkundige modelle en grondwette, wat wissel van doelwitte van sesessie, selfregering, strukture vir die instandhouding van minderheidsregte, amalgamasie waar minderheidsregte of nie erken word nie, of die produk van individuele menseregte is. Hieroor het ‘n voormalige president van die RGN, dr. Tjaart vd Walt, egter gesê dat selfs nie die beste grondwet in die wêreld sal werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie.

Die kort antwoord is dat die bou van tussengroepverhoudinge nie ‘n simplistiese proses is nie, en dat die grondwet eerder die produk moet wees van goeie tussengroep-begrip as meganisme om verhoudinge te bestuur. Hierdie proses het in Suid-Afrika waarskynlik op ‘n kritieke moment skeefgeloop toe die vorige regering ‘n omvattende ondersoek deur die maatskaplike komitee van die destydse presidentsraad opgeskort het, en die vredesverdrag met vredeskomitees sonder die nodige kundigheid gelanseer het. Dit is egter moeilik om objektief te beoordeel omdat die afloop in geheimhouding gehul is en die kundige funksionarisse daarvan uitgesluit is.

Pogings word wel periodiek aangewend, soos die berugte Kliptown-beraad wat sake eerder verder laat ontspoor het as wat dit behulpsaam was. Die vinger word selfs dikwels na oud-president Nelson Mandela gewys, wat in sy seleksie van ministers en ander ringkoppe nie toegesien het dat dié mense sy uitgedrukte visie van versoening deel nie.

Tot tyd en wyl die leiers nie ‘n besliste poging aanwend om versoening na te streef nie, rus die onus op die sogenaamde klein mensies – die gewone burgery, wat in hul daaglikse lewe aan gesindhede help bou, en so help bou aan ‘n toekoms vir komende geslagte. En dit is ‘n wedersydse proses. Solank die een groep die ander groep verwyt, so lank gaan die probleem eskaleer.

Maar dit sal goed wees as die “klein mensies” ook hul stemkrag duidelik kan laat praat om dit aan die leiers duidelik te maak dat daar nie plek is vir diegene wat polariseer nie, dat die Nzimandes, Mbalulas, Radebes,  Oliphants, Lawwe Lulu’s, Tinas en nog ander net op een plek hoort – die vergetelheid. Saam met die nommer een wat nie toegesien het dat dit gouer gebeur het nie.

Die groot poel van welwillendheid moet sy kant bring voor die ringkoppe daardie poel soos ‘n poeletjie in die woestyn laat opdroog.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae