Nuuskommentaar: Minnesota verbied regstellende aksie, maar kwotas hier bly

regstellende aksieDie VSA se hoogste hof, die Supreme Court, het Dinsdag uitspraak gelewer in ‘n saak oor regstellende aksie wat ook in Suid-Afrika rimpelings gaan veroorsaak. Die hof het met ‘n meerderheid stemme van ses teen twee besluit dat dié Amerikaanse deelstaat se verbod op regstellende optrede van krag bly.

In Suid-Afrika het die gesprek tussen die minister van sport en verskeie instansies waaronder AfriForum en Solidariteit, en die Vryheidsfront Plus, op ‘n dooie punt uitgeloop. Kwotas bly op die agenda, al sal dit nie, aldus die minister se jongste weergawe opgedwing word nie.

Ingevolge die Suid-Afrikaanse grondwet kan die howe na buitelandse regspraak kyk wanneer beslissings gelewer word wat grondwetlik van aard is, en dus ook die handves van menseregte waarin die konsep van regstellende aksie gesetel is. Die uitspraak in die VSA is dus minstens nie irrelevant vir Suid-Afrika nie.

Daar is egter wêreldse verskille. Regstellende aksie het in effek tot deel van die volkeregtelike konsep van minderheidsregte gevorder, en Suid-Afrika is al land waar dit ingespan word om die meerderheid te bevorder.

Vanuit ‘n juridiese oogpunt is die naam “regstellende aksie” meer korrek as die Engelse benaming, “affirmative action.” Belangrike grondwetskrywers soos Cachalia, Maduna en Davis (almal in die ANC-dampkring) maak dit in hul boek, Fundamental Rights in the New Constitution, duidelik dat hulle die Engelse term “corrective action” verkies. Dit moet dus iets regstel wat verkeerd is, of minstens as meganisme dien om die minderheid se regte teen die meerderheid se stembus-oorheersing te beskerm.

Voorts het die internasionale fokus weg begin beweeg van die ras-gefokusdheid daarvan. Verskeie ander faktore speel ‘n rol daarin dat sommige individue, en selfs gemeenskappe, agterstande in geleenthede het as ander. Daarom het pres. Barack Oama self gepleit dat die net wyer as ras getrek word, en onder meer daarop gewys dat sy eie dogters nie op regstellende optrede aanspraak behoort te kan maak nie omdat hulle nog nie een dag se benadeling weens hul velkleur beleef het nie.

Anders gestel, die internasionale persepsie van apartheid is in wese ook een van “affirmative action”, waar die rassegroep in beheer sy posisie sou benut en verskans het om sy eie mense te bevoordeel. Trouens, kort-kort is daar aksies vanuit die ANC om ook die bruin gemeenskap te straf weens byvoorbeeld die impak van die destydse verklaring van die Wes-Kaap as voorkeur bruin ontwikkelingsgebied, met onder meer die Kleurlingontwikkelingskorporasie wat ingespan is.

Kortom, “affirmative action”, of te wel rasbegunstigde bevoordeling, stel nie noodwendig iets reg nie, en is bloot geïnstitusionaliseerde nepotisme.

Nie almal in die VSA verwelkom die Supreme Court se uitspraak nie. Die menings loop ook nie heeltemal volgens ras uiteen nie. Hoewel die mees verbale kritiek vanuit swart geledere kom, het die Los Angeles Times byvoorbeeld ‘n spesiale opiniestuk deur sy hoofredaksie geskryf waarin sekere aspekte van die uitspraak ernstig bevraagteken word.

Die kritiek is egter meer gerig op die “bykomende struikelblok” wat dit nou aan universiteite bied om kleurdiversiteit te bevorder – iets wat baie ooreenstem met rasbehepte transformasiedoelwitte wat by Suid-Afrikaanse universiteite gedryf word. Maar weer eens met ‘n verskil – waar minderheidskulture hier as struikelblokke ervaar word, word dit in die VSA eerder as bates beskou en gekoester.

Aan die ander kant is daar swart meningsvormers wat die uitspraak verwelkom, omdat dit die land ‘n stappie nader bring aan die visie van Martin Luther King se droom van ‘n kleurblinde samelewing.

Die beginsels waarvolgens die Supreme Court tot sy beslissing gekom het is egter nie baie gerusstellend vir minderheidsregte nie. Minnesota het die verbod op rasbegunstigde bevoordeling ingestel na ‘n referendum waarin sestig persent van die deelstaat se kiesers ten gunste van die afskaffing gestem het. Dit het in die konteks van landswye ongelukkigheid gestaan dat heelwat blankes nie op die meriete van hul aansoeke toelating tot hoër opvoedkundige instellings kon kry nie, omdat die instellings se wit kwotas vol is. Die implikasie is nou onder meer dat ras, etnisiteit en herkoms in Minnesota glad nie meer verreken mag word nie, maar wel byvoorbeeld een se sportprestasie en geslag.

Die hof het baie klem gelê op die impak wat ‘n meerderheidstem in ‘n demokrasie behoort te kan hê. Wil die minderhede weer “affirmative action” instel, staan dit hulle vry om ook ‘n referendum af te dwing, en as hulle ‘n meerderheid behaal word die beslissing omgekeer. So beskou, kan die uitspraak ‘n doodskoot vir minderheidsregte wees, en juis hierom val instansies en partye wat hulle vir behoorlike minderheidsregte beywer soos erken deur die internasionale reg, nie vreeslik oor hul voete om die uitspraak te verwelkom nie.

Waar die uitspraak wel van belang is, is dat dit die beginsel oorboord gooi dat rasbeheptheid deur rasbeheptheid bekamp kan word. Dit maak gewoon nie sin om formeel ‘n nie-rassige samelewing na te streef, en dan ‘n omvattende stel wette in te stel om ‘n persoon se lewe op grond van sy velkleur van die wieg tot die graf te beheer nie.

En nog minder om, soos nou plaaslik gebeur, die rassetamboer hard en polariserende te moker, en so tussenin ‘n paar gerusstellende woorde aan die benadeelde gemeenskap te fluister nie.

Of, soos met die bruin mense in die Wes-Kaap, een ding te predik, maar die teenoorgestelde op die wetboek te plaas nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae