Nuuskommentaar: Misdaad-anargie: Is daar ’n verband met grondeise?

misdaadtoneel

Argieffoto

“Anargie is ʼn woord wat die VF Plus nie ligtelik gebruik nie. Dit is ʼn toestand in ʼn land waarin geen gesag geld nie, waarin niemand reëls of wette gehoorsaam nie en waar die regering geen beheer uitoefen nie. Suid-Afrika stuur in hierdie rigting.”

Só sê die Vryheidsfront Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, oor die golf van misdaad wat oor die land heen spoel. Verskeie mense is vermoor, maar in hierdie nuuskommentaar word op die konflikpotensiaal van dreigende grondonteiening sonder vergoeding, eufemisties as grondhervorming verdoesel, gefokus.

Voor die soeklig op die grondkwessie aangeskakel word, word na die misdaadgolf verwys, soos deur Groenewald verwoord: “Misdaad is lank reeds buite beheer in Suid-Afrika, maar gebeure oor die laaste paar dae laat die gevaarligte helderrooi flikker oor die staat se onvermoë om die publiek te beskerm. Indien misdaad nie nou gestuit word nie, is anargie onafwendbaar en die VF Plus doen ʼn dringende beroep op die regering om die gevaartekens nie langer te ignoreer nie.

“Genoeg is genoeg,” sê die TLU in sy reaksie op die misdaadgolf wat oor die land spoel, en veral skrikwekkend wreed op die landbou toeslaan. “Sonder boere is daar nie kos op ons tafels nie, gaan u as insetverskaffer ook nie meer kan bestaan nie en gaan groot dele van die platteland totaal tot niet gaan. Dit is hoe ernstig die situasie is in die lig van die enorme groei in aanvalle en moorde tans. Dit terwyl groot dele van die land se boere onder ’n vernietigende droogte gebuk gaan en te kampe het met deurlopende diefstal van landbouprodukte en vee.”

Henry Geldenhuys, adjunk-President van TLU SA, het gewaarsku dat sake nie langer so kan aangaan nie, en dat daar ’n werklike gevaar is dat die pot in ons land gaan oorkook.

Groenewald lys die vernaamste probleemareas soos volg:

  • Die besettings van Kaapse plase, aanvalle op vragmotors landwyd en die vernietiging van treine en treinwaens in die Kaapse Skiereiland kan nie langer as geïsoleerde voorvalle afgemaak word nie. Die feit dat dit ongehinderd voortduur, wys die staat het sy intelligensievermoë ten opsigte van misdaadvoorkoming feitlik totaal verloor.
  • Die rede hiervoor is die onbevoegdheid van politieke en operasionele personeel en die feit dat die vermoë wat wel oorgebly het, oor die laaste jare hoofsaaklik aangewend is in politieke binnegevegte van die ANC en die regering.
  • Suid-Afrika betaal nou ʼn duur prys daarvoor en dit kan aansienlik versleg aangesien die ekonomie en misdaad direk gekoppel is. Misdaad striem ekonomiese groei, en ʼn swak ekonomie en gepaardgaande werkloosheid lei tot misdaad.
  • Gister is Stefan Smit (62), eienaar van die internasionaal bekende wynlandgoed Louiesenhof buite Stellenbosch, in sy huis vermoor terwyl hy aandete genuttig het.
  • Enkele weke gelede is Tool Wessels op sy plaas net buite Bonnievale vermoor nadat hy wreed gemartel is en verlede Vrydag is Monica (68) en Basil Deniacos (79) in Dealesville vermoor. Dit is slegs enkele van talle ander moorde en aanvalle reg deur die land oor die laaste weke.
  • Vyftien plase, waaronder die bekende wynlandgoed D’Aria by Durbanville net buite Kaapstad, moes onlangs die hof nader vir bevele om besetters van hul grond af te kry nadat die EFF briewe versprei het onder werkers waarin mense aangehits is om grond te beset.
  • Luidens mediaberigte was die BLF-leier, Andile Mngxitama, se naam op die briewe waarin mense aangesê is om “landbougrond van wit diewe af te vat”. Selfs nadat ʼn uitsettingsbevel in die D’Aria-geval toegeken is, het Mngxitama glo gesê die BLF en sy volgelinge sal bloot “ander plase teiken”.
  • Sewentien swaar vragmotors is gister aan die brand gesteek in ʼn reeks voorvalle in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes- en Oos-Kaap en Mpumalanga.
  • In Kaapstad is twee treine en verskeie waens die naweek aan die brand gesteek. Verlede maand het tien waens op die Kaapstad-stasie uitgebrand met ʼn geraamde skade van R33 miljoen. Dit vorm deel van ʼn reeks aanvalle oor ʼn lang tydperk op die Kaapse Metro-treinstelsel.
  • In Alexandra, Johannesburg, het inwoners mede-inwoners se huise aan die brand gesteek nadat die Johannesburgse metropolisie onwettige strukture laat afbreek het. Verlede Vrydag is ʼn kliniek in die Strand naby Kaapstad aan die brand gesteek en totaal verwoes.

Anarkapokalips

Anarkapokalips, soos ’n Amerikaanse koerant dit in ’n ander verband gestel het.

Bogenoemde wys dat daar ernstige gebreke in die polisie en die misdaadvoorkomingsorgane van die staat is. Vervolging en strawwe is ontoereikend en dien nie as voldoende afskrikmiddel nie.

Tradisionele konsepte oor grondbesit deur swart mense verskil aansienlik van dié van wit mense, of eerder dit het aansienlik verskil. Dr. Wynand Boshoff, nuwe VF Plus-wetgewerlid in die Noord-Kaap, verduidelik die verskille mooi – ook die oorspronklike konsep van die KhoiSan hier.

Ook kenners van Xhosa of die Xhosa-kultuur wys op ’n nader idee. So word verduidelik dat “eienaar” in Xhosa “umininto” is (foneties umnikazi). Dit beteken gewoonweg die een aan wie dit gegee is. Nooit die een wat dit besit of verkry of gekoop het nie, maar bloot die een aan wie dit gegee is.

Dit bring ons dan by grondeienaars. Jy is nog nooit erken as grondeienaar nie, maar eerder die een aan wie dit gegee, selfs geleen is. Dit bring die wit eienaar dus verder erg onder verdenking want “wit grond” is dus iets wat aan wit mense gegee is – nie wat aan wit mense behoort of wat hulle verkry of verdien of gekoop het nie – maar altyd gegee is en daar hang dit in die lug.

Dit verklaar ook baie van die wanbegrip oor eiendomsreg.

Ook die verduideliking van ’n volkekundige uit die sogenaamde ou skool sluit ten nouste hierby aan. Die grond wat die Voortrekkers en later wit grondkopers by swart kapteins verkry het, hetsy deur ruil of andersins, was nooit bedoel om van die stam, of die kaptein as paghouer, vervreem te gewees het nie, maar eerder as ’n soort bruikleen. Getrou aan die Westerse konsep, het die wit mense dit as wettig gekoop beskou.

Stefan Smit is Sondag, 2 Junie 2019, op die Louiesenhof-wynlandgoed vermoor.

Dr. Wynand Boshoff van die VF Plus skryf verder soos volg: “Terwyl Boererepublieke swart stamhoofde sover moontlik in beheer van hulle gebiede en mense gelaat het, wou die Britte tradisionele gesag met Britse gesag vervang. Blanke boere is in stroke in swart gebiede gevestig. Engelse spekulante het grond van stamhoofde, vir wie die begrip van ewigdurende indiwiduele grondbesit vreemd was, gekoop.

“Swart grondaansprake is telkens deur die dokumente en Westerse betekenis van grondbesit gefnuik. Hulle enigste vreedsame verweer was howe, wat natuurlik die gesag van dokumente gehandhaaf het. Gewelddadige optrede is deur blankes as ongemotiveerde ‘opstandigheid’ beskou en onderdruk.”

In Mei verlede jaar is die kwessie van grondbesit by Unisa bespreek en verskeie partye en instansies het deelgeneem. In die proses is die Cope-leier, Mosioua Lekota, deur veral EFF-lede uitgejou toe hy daarop gewys het dat die KhoiSan die werklike oorspronklike eienaars was, en later het gevegte tussen lede van die EFF en die ANC uitgebreek.

’n Aspek wat deurgeskemer het, is die opvatting dat daar genoeg tyd verloop het dat almal in werklikheid ’n gemeenskaplike begrip oor grondbesit het, maar dat die tradisionele opvatting uitgebuit word. By ’n ander geleentheid sou die destydse pres. Jacob Zuma vra hoe anders die wit mense aan hul grond gekom het as dit nie van swart mense gesteel is nie, terwyl die ad hoc-komitee oor grondbesit daardie opvatting die “groot leuen” genoem het.

Die ad hoc-komitee het bestaan uit onder andere Agri SA, die TLU SA, AfriForum, die Afrikanerbond, die FW de Klerk-stigting, die ATKV, Regslui vir Afrikaans, die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika, die DA, die VF Plus en die ACDP. 

ʼn Potensieel ewe gevaarlike voortvloeisel van die misdaadsituasie is die rassewrywing wat dit veroorsaak. Die VF Plus sê hy sal ernstig met die regering oor misdaad in gesprek tree, en sal aanhou om die internasionale gemeenskap bewus te maak van die ANC se onvermoë om te regeer.

Daar moet indringend aandag gegee word aan landelike beveiliging en die hulpbronne tot die polisie se beskikking in veral landelike gebiede om misdaadvoorkoming te prioritiseer.

Benewens die kwessie van wetstoepassing wat Groenewald genoem het, is daar wat spesifiek die grondkwessie betref, ander dieperliggende faktore wat aandag moet kry.

Die eerste is dat die konsep van die KhoiSan as eerste nasie behoorlik erken word (ook deur die publiek) en wetlike en internasionale egtelike erkenning kry – ook deur die nageslag self. Sonder dié erkenning word nie net wit mense se aanspraak op hul wettige grondbesit in gedrang gebring nie, maar ook die KhoiSan en hul nageslag.

ʼn Tweede is dat die historiese feite by almal bevestig word, en die tradisionele opvattings verstaan word, maar dat dit nie die reg op behoorlike en regverdige vergoeding kan verdring nie.

Laastens moet die kommersiële boere wat van die begin af die hande van vriendskap aan beginnerboere uitsteek, se hulp met dank aanvaar word, en nie soos nou dikwels gebeur, weggeklap word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Afrikaan

Baie goeie artikel, maar al die gepraat bring ons ongelukkig niks verder nie. Vir jare praat ons hieroor, plant ons kruise, dreig ons oor potte wat oorkook maar wat het die regering en polisie hieraan gedoen?? Ek besef dat ek ook maar net nou praat, maar iemand, of ‘n instansie sal moet leiding neem om die witmense in die land te lei om ons eie polisiering te doen. Die regering en sy kaders is besig om al hande-klappend te kyk hoe ons nasie uitgeroei word. Ons apatie (oftewel politiese korrektheid) oor hierdie saak moet stop.

Essie

Jy kan n perd water toe neem maar as hy nie wil drink nie kan jy niks doen nie net so al het jy die wêreldse grond en weet nie hoe om te boer nie help dit jou niks

marco polo

Ek kuier op die oomblik in SA en is absoluut stomgeslaan deur die agteruitgang en apatie onder mense. Dit wil voorkom asof mense bet eenvoudig afgestomp is deur die vlakke van geweld en net dankbaar is dat dit nog nie met hulle gebeur het nie. Die abnormale het nornaal geword. Ek sien uit daarna om terug te keer na n normale land waar ek veilig is.

AJ.

Dit is die werk van die ANC. Hulle het mos gese dad hulle die Kaap onregeerbaar wil maak.

C VL

Goeie artikel. Wat almal egter vergeet: as almal bly agtertoe kyk, gaan niemand vooruit nie. Dis nie te sê ons moet die verlede vergeet en agskryf nie. Maar ons moet in die belang van groei en vooruitgang optree. Magshonger politici het ons al so verdeel, haat aangeblaas en mislei dat ons nie die groot prent sien nie.