Nuuskommentaar: Misdaad en plaasaanvalle se voetspoor

Fikile Mbalula, minister van polisie. (Foto: ANA)

Wie meen dat Suid-Afrika vooruit boer teen misdaad, sit eenvoudig die pot mis. Die lae aanmeldkoers van sekere kategorieë misdaad maak dit onseker of misdaad werklik afneem of toeneem. Die kategorieë wat toeneem, soos moord, en uit aparte statistiek, plaasaanvalle en plaasmoorde, skets ’n donker prentjie te midde van ’n era waar politieke leiers ’n uiters swak voorbeeld stel.

In politieke partye se verkiesingsveldtogte het dit mode geword om te wys op hul verbetenheid om misdaad en korrupsie hok te slaan, so asof korrupsie so ’n spesiale probleem is dat dit nie saam met gewone misdaad genoem kan word nie. En miskien is dit reg, want Suid-Afrika het ’n moraliteitskrisis soos weerspieël in syfers wat af en toe genoem word oor wat korrupsie en staatskaping die land jaarliks kos… en dit het geen heilsame uitwerking op die bevolking dat die land se leiers so ’n vrot voorbeeld stel nie.

Dus sien baie burgers niks daarmee verkeerd om die spoedmeter bietjie te laat klim nie – wat is ’n spoedoortreding nou in vergelyking met korrupsie?

Wat weer ’n kettingreaksie op morele standaarde het.

Uit die jongste misdaadstatistieke blyk dit dat baie Suid-Afrikaners hul bestaan uit misdaad maak, en ongelukkig ook baie wat dit uit geweldsmisdaad maak. Met geweldsmisdaad het lewens absoluut goedkoop geword. Dit lei weer tot ’n afname in investering, en ekonomiese groei kom onder druk, wat nog mense na die misdaadwêreld trek.

Bendebedrywighede eskaleer – ook in terme van die erns van die misdade wat gepleeg word. Wetteloosheid dreig.

Die ANC roem hom op die effense afname in die totale aantal misdade. Dit kan misleidend wees, omdat landboustatistieke daarop dui dat nie alle veediefstal aangemeld word nie. Dieselfde kan van gewasdiefstal gemeld word. Ook die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, sê al minder mense meld misdaad aan.

Seksuele misdaad, wat volgens die statistieke ook effens afgeneem het, is bekend vir die lae aanmeldkoers.

Daar moet in gedagte gehou word dat wanneer die statistieke bekend gemaak word, dit meer as ses maande oud is. Die werklikheid en persepsies kon intussen drasties verander het. Die TLU SA wys byvoorbeeld ook gister daarop dat volgens hul statistiek oor plaasaanvalle, 2017 sleg afsteek in vergelyking met die situasie dieselfde tyd verlede jaar. In 2016 is 295 aanvalle en 52 moorde geregistreer terwyl die ooreenstemmende periode vanjaar ’n styging van onderskeidelik 347 en 65 aantoon.

Agri SA sê hoewel alle boere en landelike gemeenskappe wêreldwyd onder misdaad deurloop, is Suid-Afrikaanse boere die uitsondering weens die uiters gewelddadige aard van plaasaanvalle.

Veral in die afgelope maande is talle plaasgemeenskappe geruk deur grusame plaasaanvalle waar die slagoffers erge marteling verduur het.

Meer as 8 500 plaasaanvalle en 925 moorde het oor ’n tydperk van 14 jaar plaasgevind en dit spreek boekdele van die volgehoue misdaadaanslag op boere en plaaswerkers.

“Só ’n aanslag is nie bevorderlik vir voedselsekerheid nie en dit is belangrik om te onthou dat die landbou die enigste sektor was wat hoop laat opvlam het in die eerste en tweede kwartale van 2017. In die eerste kwartaal het die landbou 22% tot die ekonomie bygedra, wat tot 33,6% in die tweede kwartaal toegeneem het,” sê Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se landelike beveiligingskomitee.

Dit spreek helder en duidelik dat dit erg misleidend is om plaasaanvalle in ’n poel van ander en soortgelyke misdaad te probeer verdrink, en so die omvang van die probleem te probeer verdoesel.

’n Skoonmaak van bo, is net so belangrik as die herstel van moraliteit, terwyl die ekonomie ook weer op dreef moet kom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

A ·

Enigste manier om die twee op die foto te onderskei, is die een het lipstick aan. :)

zoom zoom ·

Vir die wat destyds JA gestem , julle het niksvom oor op trots te wees nie.

Penellope Jones ·

Probleem is net, hoe sou dit vandag gewees het as daar geen referendum was nie . .

Pop ·

As die misdaadstatistiek gebaseer word op skudig bevindings in hof sidder ek. Ons het sowat 6 % skuldigbevindings. So vat net die moordsyfer en maak sommetjies. 94% is dan nie deel van statistiek nie. Ons is erger af as in oorlog. Dan mag jy jouself darem verdedig.

June ·

Die land wat deur n dwaas beheer word gaan ten gronde. Die dwaas sal liewer vergaan van ellende as om toe te gee dat die boere n bydrae tot die land lewer.

zoom zoom ·

June. Die dwaas wat die land beheer is die eerste een wat die pad vat saam met die wat hom beskerm. Hy gaan nie pa staan vir sy gemors nie. Daarvoor het hy genoeg ingesamel vir ‘n lekker lewe in die buiteland en ons weet waar dit is.

dr Sakkie van der Merwe ·

Solank as wat plaasaanvalle geklasifiseer word as diefstal of inbraak sal daar niks van kom nie. Daar is ‘n doelbewuste aanslag op die landbouseksie en die regering (ANC) voel vere terwyl hul met hul eie gemors besig is. Die vele oproepe/wense dat ons (afrikaners/boere) eenkant ‘n stukkie aarde moet kry waar ons oor ons self kan regeer is die enigste oplossing in Uhuru land. Wanneer dit gaan gebeur is ‘n ope vraag .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.