Nuuskommentaar: Misdaadstatistiek: Misdaadparadys of beterskap?

Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega tydens die bekendmaking van die 2013/14-misdaadstatistiek in Pretoria op 19 September 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega tydens die bekendmaking van die 2013/14-misdaadstatistiek in Pretoria op 19 September 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Dit is kwalik ’n troos dat die moordkoers in Suid-Afrika die afgelope verslagjaar “net” met 5% toegeneem het, soos blyk uit die toespraak van die nasionale kommissaris, Riah Phiyega. Tog is daar ander kategorieë waar die styging veel “indrukwekkender” is, soos bankrowe wat met 200% toegeneem het (in die Oos-Kaap met 400%), en die kaping van vragmotors wat ook in die Oos-Kaap met 106,7% toegeneem het. Daar word egter met sulke geringe getalle gewerk dat dié stygings nie veel betekenis het nie en alarmistiese afleidings nie gemaak moet word nie.

Dwelmverwante misdaad het ook met ’n ontstellende 26,1% toegeneem, wat waarskynlik aan verskerpte polisie-optrede te wyte is.

Teen die agtergrond van die omvang van korrupsie in die land, soos blyk uit onder meer verslae van die ouditeur-generaal en openbare beskermer, maak die afname van 13,6% van handelsmisdaad net nie sin nie.

Die geringe afname in gevalle van dronkbestuur lyk uit ʼn ontleding van provinsiale statistiek, soos in die verlede, ook eerder na verminderde polisie-optrede as ʼn afname in dronkbestuur te wees. Dit is moeilik om te aanvaar dat die aankeer van dronkbestuurders in die Wes-Kaap teen ʼn koers van 225,8 per 100 000 per jaar (na ʼn redelike skerp afname) geskied, in Gauteng 205,1, maar in Limpopo net 41 per 100 000 per jaar. Ook die syfers van die Vrystaat van 64,3, Noordwes van 62,6 Noord-Kaap van 64, en Mpumalanga van 74,9 per 100 000 per jaar lyk verdag laag. In die geval van die Noord-Kaap het die pro rata dronkbestuurders van 2009/10 tot nou met byna die helfte afgeneem.

(Dit klop ook nie met die deurnagrumoer by die Willeboer en ander berugte uithangplekke en die omgeryde lamppale in die oggende nie).

Die ongelukkige is dat ʼn ander afleiding as swak polisiëring (wat dodelike gevolge op die paaie kan hê), gemaak kan word naamlik dat sommige provinsies se polisielede erg omgekoop moet wees om sulke statistiese uitskieters op te lewer.

Die pro rata afname in veediefstal landswyd sal stellig ook ʼn paar wenkbroue laat lig. Tradisioneel is daar egter sulke groot verskille tussen die polisie se statistiek, en die statistiek wat uit landbou-sensusse ingewin word, dat die kloutjie ook baie moeilik by die oor gebring kan word. Vir beide opnames in die statistiek moes die diefstal by die polisie aangemeld gewees het, en kan dit nie aan die moedeloosheid van boere om dit aan te meld, toegeskryf word nie.

Ook die effense afname in seksuele misdrywe is moeilik vertolkbaar omdat maatskaplike werkers in ieder geval meen dat net ’n baie klein persentasie van dié misdade ooit by die polisie aangemeld word. Suid-Afrika sal waarskynlik sy “titel” as verkragtinghoofsetel van die wêreld behou.

Die toename van 12% in roof met verswarende omstandighede dui op ʼn toenemend gewelddadige samelewing, en moet aangespreek word.

Oor die algemeen is die afnames in kategorieë misdaad baie gering, wanneer dit pro rata tot elke 100 000 van die bevolking uitgedruk word, en die blote toename in bevolking nie vir toename in misdaad geblameer kan word nie.

Dit bly ʼn jammerte dat syfers vir plaasaanvalle nie as kategorie ingesluit is nie, omdat waardevolle vertolkings daaruit gemaak kan word.

Lees ook:
Misdaadstatistiek: Minder brande gestig
Misdaadstatistiek: Nagenoeg 2 000 gewelddadige betogings
Misdaadstatistiek: 800 meer moorde as verlede jaar
Misdaadstatistiek: Moorde het toegeneem

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.