Nuuskommentaar: Misdaadstatistiek: Pas die skoen die Poot?

Riah Phiyega

Riah Phiyega

As daar een ding is waarsonder die beleërde polisiehoof, Riah Phiyega nou goed kan klaarkom, is dit nog aanslae op haar geloofwaardigheid.

Maar nou maak sy (nog steeds) self daarna.

Hoe moes Phiyega en die polisiediens op die kritiek van die Instituut vir Sekerheidstudies oor die betroubaarheid van die jongste polisiestatistiek gereageer het?

Beslis nie soos wel gereageer is nie. By baie analiste, meningsvormers en die publiek geniet die Instituut ‘n groot mate van geloofwaardigheid, en die kundige menings wat die Instituut se personeel soos dr. Johan Burger gereeld lewer, het lank reeds ‘n persepsie van nie bollie kwytraak nie goed gevestig. En die Instituut staan nie alleen in sy kritiek nie.

Die polisie daarenteen… Beginnende by die minister wat onlangs nog na AfriForum se veldtog om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar, as ‘n propagandafoefie verwys het. Presies hoeveel verskil dit van die deeglik gerapporteerde uitspraak van ‘n minister dat Steve Biko se dood hom koud laat?

En Phiyega? Haar reputasie oor wat sy gedoen en gesê het, en ontkennings begin nou ‘n Kovsierektoriese perseptiewe omvang aanneem. Min mense twyfel dat sy, na sy met die kaderskoen in die pos beland het en duidelik ‘n baantjies vir sussies-aanstelling was, haar bes probeer. Daar word eerder bespiegel of haar lomp gespartel die gevolg van persoonlike tekortkominge is, of ‘n misplaaste poging is om as nuweling lojaliteit teenoor die top-bestuur te toon en in die proses ore aangesit word. Geregverdig of nie, dit reflekteer swak op die kwaliteite van haar top-bestuurslui.

Dit is dus maklik om te raai hoekom daar ‘n baie wye wantroue sal wees oor die polisie se ontkennings van die Instituut se kritiek op die geloofwaardigheid van die misdaadstatistiek. En dié kritiek kom nie van gister af nie – reeds met die bekendstelling van die statistiek was die Instituut besonder skerp oor die geloofwaardigheid, na dit klaarblyklik vooraf reeds bestudeer is. En die manier waarop die polisie reageer, herinner aan die spreekwoord van: “As die skoen pas.”

Hoewel Phiyega deur haar woordvoerder gereageer het, sou Shakespeare waarskynlik sy baie bekende woorde kon herhaal: “The lady doth protest too much, methinks.

Met die bekendstelling van die jongste misdaadstatistiek het Maroela Media ook reeds daarop gewys dat van die syfers in die statistiek self verskil van die syfer vir dieselfde kategorie in die Powerpoint-voorlegging, en dan weer van die minister se toespraak. Sulke blapse skep nie vertroue nie. Die minister het in sy mondelinge voorlegging, aldus News 24 gesê dronkbesuur is die afgelope jaar met 1,5% op, op die voordrag (presentation) wat eerste op die webwerf beskikbaar was, lui dat dit met een persent afgeneem het, en die volledige syfers toon ‘n toename van 2,5%.

Onder die omstandighede kan sy nie wen nie, en haar beeld word net verder aangetas. En die mens reageer te ene male op sy persepsie van die werklikheid eerder as die werklikheid self.

Die regte reaksie in hierdie geval sou wees om gehoor te gee aan die Instituut se voorstel dat die statistiek onafhanklik herbereken word. Die Instituut sê die statistiek is so bewerk dat dit dalende tendense oorbeklemtoon, en stygings onderbeklemtoon, en voorts dat die Instituut weet op watter vlak die manipulasie goedgekeur is. Teen die agtergrond van die Instituut se kritiek, veral saamgelees met vorige kritiek, is die polisie se ontkenning dat foutiewe bevolkingstatistiek gebruik is nie besonder relevant nie, die probleem is die insinuasie dat ‘n gekonkel iewers goedgekeur is.

En ongelukkig vir die polisie kan die polisiediens nie die stryd om geloofwaardigheid hieroor wen nie. Maroela het reeds op 20 September na die geloofwaardigheidskrisis verwys toe die Instituut na die jongste syfers as die slegste in tien jaar verwys het weens toenames, en Phiyega gesê het misdaad is onder beheer. Die minister het weer gemeld dat misdaad in die geheel afgeneem het, terwyl die bevolking toegeneem het – maar nou is ook dit ook onder verdenking.

Maroela het toe soos volg geskryf oor wat gebeur as die geloofwaardigheid in die polisie laag is: “‘n Groot probleem waarmee Suid-Afrika opgesaal sit, is egter dat die publiek se gebrek aan vertroue in die polisie, tot ‘n lae aanmeldingsyfer lei. Dit handel nie net oor ‘n lae koers van aanmelding van verkragtings nie (bronne verskil maar die syfer van een uit dertig word dikwels gebruik) en mindere misdaad nie. Dit is egter kommerwekkend dat die Instituut vir Rasse-aangeleenthede sowat die helfte van die sowat 3,3 miljoene gevalle van misdaad per jaar word nie aangemeld nie. Dit sluit duisende gevalle van motorkapings en huisrooftogte in. Volgens die Instituut vir Sekerheidstudies word baie van hierdie misdade ook maar net aangemeld omdat die versekering dit vereis.”

Om in te stem dat die data herbereken word, sal die polisiediens se geloofwaardigheid ‘n yslike hupstoot gegee word om minstens te toon dat daar nie willens en wetens gekonkel is nie, en as die polisie se syfers blyk reg te wees, sal die polisie se geloofwaardigheid ‘n verdere, gesonde hupstoot kry.

En as hierdie syfers onder verdenking is, wat word van die ander statistieke, soos statistiek wat die regering so graag inspan om sy rasbeheptheid in maatreëls op die werksvloer te motiveer?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Die onrusbarende is dat hoëgeplaasdes nie baie sensitief is vir publieke opinie nie of tot welke mate hul optrede tot nadeel van die land strek nie, solank hulle net die party se topstruktuur gelukkig hou en die party-strategie nastreef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.