Nuuskommentaar: Misver­stande en waninterpretasies in wêreld van kernwapens

Kim Jong Un

Die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-un. Foto: AP Photo/Wong Maye-E.

Kommer heers in twee wêrelddele buite die tradisionele en geordende kernarsenale. Pres. Donald Trump van die VSA het pas sy land aan die Iran-kernverdrag onttrek, of Nood-Korea dreig om hom te onttrek aan die komende beraad tussen Trump en Kim Jong-un wat in Singapoer beplan word.

Die twee situasies verskil aansienlik. Die VSA voel dat dié land oor oorweldigende bewyse beskik dat Iran hom nie by die ooreenkoms gehou het nie. Israel steun die VSA, en maak daarop aanspraak dat ook hy oor die bewyse beskik. Dit is bykans ’n uitgemaakte saak dat die VSA en Israel die bewyse sou gedeel het. Die VSA se Europese bondgenote, wat normaalweg ook ingelig sou gewees het, is steeds wild die josie in vir die VSA.

In Westerse terminologie blyk dit dat die jongste Noord-Koreaanse vloermoer die gevolg van ’n misverstand is. Die vinger word veral na uitlatings van die VSA se nasionale veiligheidsadviseur, John Bolton, gewys. Hy het skynbaar onnadenkend ’n vergelyking tussen die Libiese en Noord-Koreaanse situasies getrek sou Noord-Korea van sy rits beloftes afwyk. Dit het weer aan die lig gebring dat Noord-Korea en die VSA verskeie sake heel verskillend interpreteer.

Noord-Korea beskou ’n oplossing van die Koreaanse krisis nie as enigsins eensydig soos die opgee van ’n kernarsenaal nie – die kwessie moet soos ’n kombers al die pogings van al die partye omvat. Noord-Korea het immers jare lank ’n groot deel van sy hulpbronne gebruik om die kernarsenaal te bou juis sodat dit ’n volwaardige party tot die onderhandelinge kan wees.

President Donald Trump (13 April 2018) (Foto: AP Photo/Susan Walsh)

Intussen brand die Midde-Ooste in die sleurgang van die Iranse krisis. Suid-Afrika het sy ambassadeur vir oorlegpleging teruggeroep, en dit lyk nie of die ambassade daardie status gaan behou nie. In dié stadium lyk dit nie of Suid-Afrika enigsins in objektiewe inligting oor Israel, wat pas sy 70ste onafhanklikheidsjaar gevier het, belangstel nie.

Israel en sy vriende beskuldig Hamas daarvan dat dit vroue en kinders by die kontakpunte voorstoot om hulle so as menslike skilde te gebruik. ’n Belgiese joernalis wat pas uit Israel teruggekeer het, beweer Israel gebruik in die geheim koeëlpunte wat deur die internasionale reg verbied is.

Die interessantheid is dat oudpres. Barack Obama ook van hom laat hoor het oor die Iranse kernkrisis. Volgens hom is alle moontlike voorsorg met die kernverdrag getref om te keer dat kernmateriaal uitkom waar dit nie moes nie. Die Trump-administrasie en die Israeli’s meen dis onwaar, en dat Iran reeds suksesvol was om min of meer ongehinderd, maar in die “geheim”, daarmee voort te gaan.

’n Uitdrukking wat nou wortelgeskiet het, is “die kuns om ’n ooreenkoms nek om te draai”.

Ja, ooreenkomste, bilateraal en multi-lateraal, is nodig om die wêreld vooruit te laat gaan sonder dat die mensdom homself elke nou en dan byna uitwis. Daar is egter ook ’n “fynskrif” hieraan verbonde – die ooreenkoms moet nagekom word. ’n Ooreenkoms is nie bedoel dat die een party daartoe dit bloot as geleentheid ontwikkel om die oorhand oor die ander te kry nie.

En dit is die moeilikheid met die ooreenkomste in die Midde-Ooste en Noord-Korea – te veel van die rolspelers het lang geskiedenisse dat hulle alles, tot vrede, as stappe en geleenthede beskou om magsposisies te verstewig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Paul ·

Ter plaatse. Ook het die NP destyds ooreenkomste met die ANC aangegaan, daarna is ‘n nuwe grondwet geskryf, en kyk waar sit ons nou!

John ·

Sjoe Herman die draad bibber vandag soos jy ‘n balanseertoertjie daarop probeer doen. Almal is reg en almal is verkeerd en daar is iets soos misverstande op die gebied van kernwapens. N-Korea gaan Iran se voorbeeld volg en Iran wil die wereld so ook Israel beheer en die blosende tannie glo sy doen dit en Obama glo steeds hy is die president a la king van die VSA en mammie wil ook nog op die troon sit (altwee) en die Palestyne wat soos die naam aandui uit baie Arabiese nasies saamgestel is en sedert 1988 as groep probeer funksioneer glo die wereld moet die gebied waarin hulle saamkoek wagtende op elke naweek se Europese gebak en gebrou, Jerusalem vir hulle gee, nee sommer die hele Israel met die blou ster van Dawid inplaas van ‘n kersie op die koek gebaseer op ‘n Britse resep… wat altyd flop… maar… who cares… net… Iemand anders waninterpreteer nooit…

Grassie ·

Enige person wat glo wat in die Bybel staan weet dat die laaste groot oorlog gaan begin wanneer Iran (Persië) Israel binneval. Alles word haarfyn in Esegiël 37 – 39 beskryf. Israel sal na ‘n lang ballingskap herstel – dit het reeds in 1948 gebeur en opgebou word tot ‘n voorspoedige staat, dit het ook reeds gebeur. Dan sal Iran (Persië), gesteun deur ‘n aantal state (hulle word almal by naam genoem) Israel binneval en ‘n verskriklike oorlog sal volg. Rusland (die land Magog) sal ook teen Israel veg, maar teësinnig. Die Bybel sê daar sal “hake in Magog se kakebene” gesit word om hom te verplig om Persië te steun.
Dit is interessant dat Iran tans die enigste staat in die midde-ooste is wat nie deels verwoes is nie en in staat is om Israel aan te val. Sirië het ingeplof en Irak en Afganistan is deur Amerika verwoes. So, ek dink Trump is reg.

Willem ·

Maar Afriforum en sy aanhangers word mos vandag uitgekryt dat daar iets met ons gewete skort.

Willem ·

Maroela, is Julie Kilian en andere dan so verkeerd? Het Afriforum werklik sy morele kompas verloor, of draai die mense wie propaganda teen Afriforum predik die skroewe tot breekpunt toe aan?

Willem ·

Herman, in hierdie dae word daar weer baie hieroor deur kommentators in die media geskryf, n.a.v Kallie Kriel se uitlating oor Apartheid en Misdaad teen die mensdom.

Betreffende Misdade teen die Mensdom en Apartheid laat Wikipedia hom as volg uit:
“Die stelselmatige vervolging van een rassegroep deur ‘n ander, soos onder die bewind van die Suid-Afrikaanse apartheidsregering, is in 1976 deur die Verenigde Nasies as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar. Die VN se Algemene Vergadering het egter nooit enige bevindings gemaak oor apartheid as sulks nie, en daar was ook geen misdade teen die mensdom rakende apartheid aangehoor nie.”

In Suid-Afrika se geval was daar dan geen vervolging van een rasgroep deur ‘n ander nie, ook die VN se Algemene Vergadering het egter nooit enige bevindings gemaak oor apartheid as sulks nie, en daar was ook geen misdade teen die mensdom rakende apartheid aangehoor nie, soos per hier bo.

Kan jy ons aub meer hieroor in ‘n rubriek toelig? Dankie, ek waardeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.