Nuuskommentaar: Moenie “komkommer” – misdaad is onder beheer sê minister

Argieffoto

Argieffoto

Elke dag word gemiddeld 48 mense in Suid-Afrika vermoor, aldus die jongste misdaadstatistiek  wat gister bekend gemaak is. Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat die moordkoers styg, terwyl ook ander vorme van geweldsmisdaad toegeneem het. Maar moenie ’n koronêr skiet nie, misdaad is onder beheer, aldus die minister van polisie.

Dis ongelukkig nie ’n nuwe verhaal nie. Volgens die vorige minister van polisie is AfriForum se poging om plaasaanvalle en plaasmoorde, wat die hoogste moordkoers onder ’n identifiseerbare groep ter wêreld insluit, net goedkoop propaganda.

Suid-Afrika word as die verkragtingshoofstad van die wêreld beskou (al word net ’n klein persentasie van die verkragtings by die polisie aangemeld), maar moenie die kop breek nie, misdaad is onder beheer. Genl. Phiyega meen juis misdaad het in geheel afgeneem weens ’n “afname” in misdaad teen vroue en kinders. Hoe seker kan die generaal daarvan wees as die aanmeldkoers van hierdie soort misdade so ontsettend laag is?

Vandag vind verskeie groot optogte teen korrupsie plaas, al is dit deels deur Nedlac in die wiele gery. Intussen ontken die ANC dat enigiets verkeerd was met die ooreenkoms tussen Hitachi en Chancellor House, want misdaad is mos nie ’n probleem nie.

By Vishoek is daar gewelddadige betogings weens die arrestasie van vigilantes wat aangekeer is omdat hulle die reg in eie hande geneem het om die misdaadgolf in hul gebied om te keer.

Daar is groot ontsteltenis oor die talle moorde op lede van die polisie en sterk optrede word beloof, maar misdaad is onder beheer.

Oor een ding is die minister reg: die hoë moordkoers en ander geweldsmisdaad wat ook byvoorbeeld in die vorm van huisrooftogte en motorkapings die lewe van gewone burgers wreed binnedring, is ook simptomaties van ’n sosio-maatskaplike en morele ineenstorting. Baie meer rolspelers as net die polisie moet hul kant bring om die probleem hok te slaan.

Maar die regering kan ook nie sy eie rol in hierdie uitmekaarval ontken nie. Ekonome maan oor die impak van die regering se ekonomiese beleidsrigtings op die land se sukkel-ekonomie en reuse vlakke van werkloosheid. Dit is moeilik om vir ander mense oor moraliteit en respek vir die reg te preek as die regering met die Nkandla-kwessie so skandalig omgaan soos wat die geval is.

’n Minister wat alle rasionele syfers, ook van die Reserwebank, dat sy nuwe visumregulasies toerisme erg skaad, as onwaar afmaak, help ook nie om ’n navolgenswaardige beeld van die kabinet te skets nie.

’n President wat ’n onkreukbare voorbeeld stel sou ’n groot aanwins wees.

So lank ’n rasbenepe regering egter die ongelyke inkomste in Suid-Afrika bly inkleur en ideologies probeer regdokter deur te neem by diegene wat na bewering het en te gee vir diegene wat nie het nie (maar ook vir hulle wat al by herhaling “reggestel is”), gaan dinge lol. Iewers gaan die welvaartskeppers ook nie meer middele hê om te herkapitaliseer en opnuut welvaart te skep nie.

Volksblad som vanoggend in sy hoofartikel die misdaadprentjie mooi op: “Die misdaadstatistieke vir 2014-’15 bevestig wat Suid-Afrikaners weet: Dat ons in ’n gewelddadige land bly waarin enigiemand enige dag die niksvermoedende slagoffer van die wreedste geweldsmisdaad denkbaar kan word.”

Die “goeie storie” se woorde by die misdaadmelodie klink net te aardig vir woorde – nog erger as die musiek wat in RSG se “chill”-program gespeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dave ·

Miskien bloot ‘n vertalingsfout – die minister het waarskynlik nie bedoel dat misdaad onder beheer is nie maar wel dat dit in beheer is.

Theresa ·

Ja en die maan was nou die dag rooi…………………………… Wens julle oogklappe wil afval. Julle is soos die donkie wat al in die rondte loop want daar is oogklappe oor die oë. Intussen dink julle, julle doen amazing dinge in ons land en alles is maanskyn en rose. Siestog!

Tokkelossie ·

As ek in so ‘n pos met so ‘n hoë salaris gesit het sou ek ook seker sulke snert kwyt geraak het om my eie bas te probeer red !

Deon ·

Andre, die weste sal nooit die probleem in Suid Afrika verstaan nie. Zuma druk byvoorbeeld die VVO om ook `n stem in die veiligheidsraad te hê en kyk nou mooi, hy sal dit kry. Die VVO dink mos dat die “arme” swart Afrikane kan niks verkeerd doen nie. Selfs ou Robert Mgabe kry `n geleentheid om die VVO toe te spreek, en dan dreig hy die weste en raai wat, die weste krimp ineen en neem die “ek is jammer dat ek leef” houding in, net soos die weste van die Afrikaner verwag om te doen. Zuma soek daardie veto stem in die veiligheidsraad, want dit sal hom nog meer ontasbaar maak!!

Tobie ·

Wat doen mens met plaag diere en insekte? Jy wis hulle uit… Nudge nudge, wink wink…

Ben ·

Hierdie vrou is ‘n gevaar vir SA, en ‘n hanswors. Sy moet vinnig uit, maar dit is nie te sê die opvolger gaan beter wees nie. Daar is duisende daarbuite wat ook net ‘n skeppie “Gravy” wil skep en Jay-Zee is maklik beïnvloedbaar met sy waansinnige aanstellings!

Dave ·

Tog snaaks dat julle altyd die liefderykste byname wil gee vir mense wat nie jul vriende behoort te wees. Malema word deur vele ‘julias’ genoem en Zuma is zoempie en nou ookal jayzee ens. Vergeet die bynaampies, hulle is nie jul vriende nie en dit is dus bloot zuma, malema en kie.

Strydom-:Stryslim eerder ·

Baie goed geskryfde berig…knap gedaan! Die golden handshake wat sy gaan kry gaan skokkend wees…kyk mooi na “our brothers and sisters”

stefan ·

Kry eers die korrupsie uit ons polisie mag uit en dan sal dit dalk better gaan want ons land se 2 grootste punte van korrupsie is die staat en die polisie

annette duvenhage ·

En so trek hy die kappies oor almal se oe met sy kabinet en hulle leuns…..

andre de kegel ·

ons he 3by vriende gekuier in suid Afrika ons he kaapstad besoek ons moe seg daar was orde en die stad was skoon ,daarna he ons pretoria besoek die verskil was baie groot ,langs die strate lag baie veel vuil nie opgekuis nie ,en ons was nie baie gelukkig nie om da te sien ,wat er daar gebeur met die mooie stad ,en ons denk nie meer te kom kuier ons lees hier in die westen van Europa oor die moorde ,verkragten ,diefstallen ,zo da was wat ons hoor

Mike de Beer ·

Om slegte statistiek voor te hou as goeie nuus is gewoon ongehoord. Die syfers weerkaats ‘n toestand van wanorde in Suid Afrika en dan is die duisende korrupte en skelm regeringsamptenare nie deel van die misdaadstatistieke nie. Want dit word telkens net onder die mat ingevee en word hulle slegs vervang met’n volgende skelm en of korrupte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.