Nuuskommentaar: Moet die Afrikaner skuldgevoelens hê?

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Die stryd om Afrikaans se voortbestaan op enkele universiteitskampusse het in ’n debat van uiteenlopende menings in die Afrikanergemeenskap uitgeloop – ’n debat wat ’n ongesonde kwota smerighede opgelewer het. Deelnemers aan die pro-Engelse kamp sê hulle is as verraaiers en vele meer uitgeskel.

In ’n artikel op Netwerk24 noem die joernalis André le Roux hierdie debat in Afrikanergeledere ’n “binnedebat.” Hy skryf: “Lees ’n Afrikaanse koerant, ’n Engelse koerant en ’n ‘swart’ koerant langs mekaar en dis duidelik dat die gesprek oor die toekoms van Afrikaans nie veel wyer strek as ’n selfkwetsende bekgeveg onder wit Afrikaners nie.” Die opskrif lui: “Ons muf in hierdie klein dampkring.”

Nou wat is dan die groter dampkring? ’n Rits skrywes deur onder andere prof. Amanda Gouws, Max du Preez en ander, en vanoggend Beeld se Pieter du Toit, maak dit duidelik dat hulle die omvattender Suid-Afrikaanse gemeenskap in die oog het, en meer spesifiek ’n groeiende aantal jong swart mense wat meen hulle is in 1994 ingedoen, en selfs dat Nelson Mandela hulle uitverkoop het. Opnuut, of steeds die rug buig, skynbaar ongeag of die persepsies wat hierdie “groeiende woede” voed reg of verkeerd is, is skynbaar onderliggend.

Selfs grondwetlike regte moet tru staan, so kom dit voor.

Reg of verkeerd, die liberale paternaliste se argumente is dikwels vertolk as sou net hulle reg kon wees, en diegene wat dit nie kan insien nie, is op ’n manier intellektueel gestrem (en daarom gelukkig om in ’n klein dampkring te muf).

Dat die pro-Afrikaanse breintrust op die een of ander manier intellektueel die ander se mindere is, is skouspelagtig in ’n artikel van dr. Leopold Scholtz in Maroela onder die opskrif: “Moedertaal dien sosiale geregtigheid” die nek ingeslaan. Hy noem André le Roux nie, en uiteraard ook nie Pieter du Toit nie, maar sê in hoofsaak Amanda Gouws die stryd aan. In die proses toon hy dat daar ook sterk akademiese en intellektuele argumente onderliggend is tot die pro-Afrikaanse groep.

Die ironie is dat doodgewoon geen aspek van hetsy die “binnedebat” of die “groter debat” uniek aan Suid-Afrika is nie.

Onder die opskrif, “Political translations”, skryf die Amerikaner Thomas Sowell onlangs onder meer soos volg: “Blaming social problems today on ‘a legacy of slavery’ is another way of saying, ‘Don’t blame our welfare state policies for things that got worse after those policies took over. Blame what happened in earlier centuries’.”

Die Vryheidsfront Plus het pas ’n lys van eerstes opgestel wat die land nou onder die presidentskap van Jacob Zuma beleef. Hoeveel hiervan, soos dat die land nou vir die eerste keer op die rand van ’n fiskale afgrond en rommelstatus staan, om maar enkeles te noem, kan werklik na die “nalatenskap van apartheid, of die uitverkoop van swartes deur Mandela, of die Afrikaner se vermoë om hom tot ’n groot mate ekonomies te handhaaf herlei word?

In nog ʼn artikel vra die Amerikaner Michael Baronne “What happens when an irresistible force meets an immovable object?” Hy bring sy scenario in verband met die verskynsel waar ontevrede kiesers meen ervare politici is eerder deel van die probleem as die oplossing. In die VSA is daar egter die “ontladingsmeganisme” dat veranderinge deur die stembus aangebring kan word. Hier, objektief nie gou nie, wat ’n groter onus plaas op ander instrumente van demokrasie soos die werk van burgerlike instellings (dink maar aan Outa met die e-tol en Solidariteit se plan B) en persvryheid.

Hoewel die vryheid van meningsuiting, waarvan persvryheid een is, sterk met liberale waardes geassosieer word, kan hierdie dampkring ook uiters onverdraagsaam daaroor wees. Rhoda Kadalie het by geleentheid geskryf politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis. Maar ook dit is nie uniek aan Suid-Afrika nie.

In nog ʼn artikel onder die opskrif: “Liberals response to dessent: ‘Shut up’” wys Barrone onder meer hoe universiteitsowerhede streng sensuur op internetverkeer toepas om te probeer verhinder dat politiek-inkorrekthede nie versprei nie omdat dit kwetsend kan wees.

Die opskrif van Du Toit se artikel, “Dis nou tyd vir wittes om te luister”, toon op sigself die komplekse aard van die diskoers aan. Waarskynlik die oorgrote gros van diegene wat nou aan die pro-Afrikaanse debat deelgeneem het, het dit vanuit ’n kultureel-juridiese hoek probeer doen. Dit is die gronde waarvoor die grondwet en die internasionale reg met “positiewe reg” (met ander woorde regte van wat gedoen mag word) voorsiening maak. Ras as norm het in die grondwet en die internasionale reg eintlik net negatiewe regte, met ander woorde wat nié aan iemand van ’n ander velkleur gedoen mag word nie, soos haatspraak, volksmoord en vele meer. Hoeveel keer is vanuit die pro-Afrikaanse groep nie daarop gewys dat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit is nie?

Daar is egter vanuit die staanspoor vanuit die “groter kring” op die rassekaart tamboer geslaan.

Du Toit grond sy artikel op die bywoning van ’n boekbekendstelling deur Ferial Haffajee, What if there were no whites in South Africa.  Die naakte rassehaat wat daarin na vore kom, is ontstellend, al is dit nie nuwe nuus nie.

Niemand sal stry dat daar enorme werk in Suid-Afrika voorlê om polarisasie aan te spreek nie. Dis egter ’n omvattende proses wat hom in bykans elke lewensfeer moet afspeel, van geloof tot taal, tot die juridiese, historiese, kulturele, ekonomiese, doeltreffende kommunikasie tot die ruimtelike. En as ras dan ingeklits moet word, nog die biologiese ook.

Die proses kan nie sonder gesanksioneerde begeleiding suksesvol wees nie, en nog minder as die begeleiers dit enkeldimensioneel of met vooropgesette idees van skuld en slagoffer aanpak.

Intussen sit die Afrikaner met die dilemma. Moet hy sy taal so sito-sito opoffer ter wille van liberale aannames dat dit die land en gesindhede sal normaliseer? Of gaan ons weer hoor, as dit nie genoeg was nie en die onrustigheid ruk hande uit: “Don’t target me, I am English”?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Kaspaas ·

Die onbevoegde sal altyd n rede soek om hulle korrupsie en onbevoegdhede te beskerm. In SA is dit maklik blameer apartheid oor n duisend jaar sal hulle nog steeds apartheid blameer. Soos ook as n argument nie reg gaan roep rassisme om dan die argument te wen.

Beide Duitsland en Japan was totaal en al vernietig na die tweede wereld oorlog en dit was slegs 70 jaar terug, het hulle terug gesit en Hitler en andere geblameer vir die posisie waarin hulle was, nee hulle het skouer aan die wiel gesit en in n paar dekades was hulle ekonomiee van die sterkstes in die wereld.

Maar Afrika mentaliteit bepaal neem geen verantwoordelikheid en blameer alles en almal asook verlede vir alles en dring aan op handouts

Rupert Ashford ·

Antwoord: Nee. Daar is groter probleme as skuldgevoelens wat voorle…

Cherie ·

Afrikaans is lankal reeds opgeoffer deur elkeen wat dit n bastertaal maak. Selfs op Afrikaanse TV word soms elke sin gemeng met Engelse woorde in aktuele gesprekke. Dis amper al n mode.
Rerig?
Maar daar is ook n ander prentjie wat ek dikwels sien- in Johannesburg word baie minder Afrikaanse koerante aangekoop deur handelaars, en verkoop dit eerste uit. Die Engelse koerante le einde van die dag nog arms diep op die rakke en is mens genoodsaak om een te koop . Vra mens daaroor uit is die antwoord : ons word net toegelaat om x-aantal te bestel.

Koos ·

Ek stem saam. Afrikaans se grootste vyand is sy sprekers. Ek reken 90% van Afrikaners weet nie wat die konsep “kultuur” beteken nie.

Elbie ·

Nee! Vir wat moet Afrikaners skuldig voel, hoekom word daar alewig van ons verwag om skuldig te voel? Ek voel GLAD NIE skuldig nie!!

Juan Olivier ·

Meeste Afrikaners is Cape Dutch en meeste van hulle was altyd lekker gemaklik met die Engelse tiranne so ja dat baie van hulle ‘n klomp joiners op hul self trek verbaas my nie.

Bok-Bok ·

Weer ‘n pot verbale diaree gelykstaande aan ‘n debat tussen studenteraad voorsitters wat try to impress. Die vraag moet wees: Is die Afrikaner bereid om Afrikaan te word.

Pieta ·

Hou maar daai ‘debat’ onder die spul wat graag ‘Afrikaan’ wil wees. Meeste Afrikaners stel nie belang om deel van daai ou spulletjie te wees nie.

naam ·

Uitsprake dat die Afrikaner oor iets moet skuldig voel is naarmakend. Nog soveel meer as dit uit Afrikaners se monde kom. As jy skuldig voel, gaan voel skuldig in Australie.

Winston ·

Skuldig voel oor wat? Wil ek ook weet. Ek is afrikaans sprekend en trots op my taal. Nêrens êrens ooit sal ek skuldig voel oor afrikaans nie.

christine ·

Man ons het al soveel keer gehoor ons kan nie saamstaan, dat ons dit glo. Ons het al soveel keer gehoor ons moet skuldig voel,dat ons dit ook glo. Goed beplande stratigie. Met dank van die kommunis. Ek skuld niemand ek voel boggerol niks skuld moet seker nou versteurd wees siestog

Berhalet Beukes ·

NEE! Voel die ander “Afrikaners” skuldig om ons te besteel? Ons te vermoor? Om ons land tot sy knieë te dwing en hulle sakke vol te prop met geld wat hulle nie voor werk of hulle toekom nie? Ek het nie deel gehad aan apartheid nie so presies waarom moet ek skuldig voel?

Muysvogel ·

Berhalet, die ander is nie ” Afrikaners ” nie maar Afrikane !!!

Simon ·

Nee liberals het dit nou te lank al ingevryf. Nee ek sal nie skulding voel oor my tall of verlede nie. Ek sien genoeg hoe die nuwe generasie dieselfde dinge waarvan hulle Afrikaners beskuldig, hulself aan skuldng maak. So nee skuldig voel vir wat?

Fanie ·

Ag wanneer gaan hierdie afgesaagde debat dan nou einde kry. As jy lees, dan lees jy die Afrikaner moet skuldig voel. Die wat ons daarvan beskuldig, voel en is seker eintlik skuldig. Die skoen pas my nie, so ek gaan hom nie aantrek nie. Met die nuwe verwikkelinge tussen ANC en China, moet die meerderheid wat vir ANC gestem het, asook die “wit” freedom fighters, hulle koppe in skaamte steek en gaan skuldig voel!! F W de Klerk kan een van hulle wees!!

Marlene ·

Nog nooit kon ons hulle vertrou nie. Dit het ons uit Piet Retief se jare geleer. Mnr de Klerk het anders gedink. Hul kultuur is anders, hul beginsels is anders, daar is geen manier wat ons saam kan trek nie. Dis so voor die hand liggend…iewers sal iemand sy kultuur moet inboet as ons dan een nasie moet word,

sanette ·

Ek voel ook ni skuldig ni en is gatvol dat di Afrikaner vir als geblameer moet word! Ek sal di taal praat tot ek doodgaan! Wens net mense kon respek vir mekaar se tale en kulture he,maar duidelik is Afrikaans ‘n bedreiging vir soveel ander en dis waarom hulle Afrikaans wil vernietig!! Ons moet vir ons taal opstaan,dis al!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.