Nuuskommentaar: Moet jy g*tkruip om te versoen? 

Argieffoto

Argieffoto

Sodra ʼn mens probeer versoen, word jy deur wit en swart van uitverkopery of g*tkruipery beskuldig, skryf Max du Preez op Netwerk24.

Met die nuus dat Max een van ’n aantal persone (meestal aan die liberale kant van die politieke spektrum) is wat as rubriekskrywers vir Media24 se Afrikaanse koerante aangestel is, sal lesers waarskynlik ook aan standpunte en aannames blootgestel word wat dalk vreemd op die oor mag val.

Maar wat behels versoening werklik nadat ’n vredesooreenkoms gesluit is? Die sluit van ’n vredesooreenkoms dui gewoonlik daarop dat daar nie ’n duidelike wenner en ’n duidelike verloorder is nie. Nadat die VSA twee kernbomme op Japannese stede gewerp het, het Japan nie die voorreg gesmaak om ’n vredesooreenkoms op die tafel te plaas nie. Daar is op onvoorwaardelike oorgawe aangedring.

So ’n onvoorwaardelike oorgawe geld nie in Suid-Afrika nie. Of, as daar ’n onvoorwaardelike oorgawe was, weet diegene wat verslaan is nie daarvan nie, al maak die ANC voortdurend op ’n gewaande oorwinning aanspraak.

Die Nasionale Vredesakkoord is nie net deur die strydende partye geteken nie, maar deur sowat 40 partye, organisasies en vakbonde. Slegs enkeles aan die uiterste linkerkant en regterkant het nie geteken nie. Die twee saakmakende partye tot die verdrag was die Nasionale Party wat namens die NP én die regering geteken het, en die ANC. Of anders gestel, die instansie wat vir die bedryf van apartheid verantwoordelik gehou is (hoewel die NP ook lank voor 1994 alle apartheidswette uit die wetboek verwyder het) en die organisasie wat vir die meeste dade van terreur moes pa staan (met enkele belangrike uitsonderings soos die St. Jameskerk-skietery wat op die PAC se brood gesmeer is). ’n Omvattende struktuur is geskep met instellings soos die Goldstone-kommissie en die Kommissie vir Waarheid en Versoening.

Sommer gou ná die 1994-verkiesing is die sekretariaat van die Vredesverdrag ontbind (al was daar besware dat dit dalk voortydig is).

Vandag is die NP, of sy opvolger die NNP, net geskiedenis, soos baie van die ander 39 ondertekenaars wat verdwyn het of van wie net ’n skaduwee oor is. Die kort en lank is: Met die verdwyning van die NNP (wat by die ANC aangesluit het), het die “ander party” tot die vredesverdrag verdwyn. Van die destydse leier, Marthinus van Schalkwyk, se onderneming dat “ons” jul stem sal wees”, het dadels gekom.

Die gevolg is dat daar nou groot onsekerheid is oor die huidige status van die vredesverdrag. Een van die doelwitte was dat die bepalings van die verdrag in wetgewing en ander reg opgeneem moes word (bepaald die Grondwet ook), juis sodat die bepalings en konsepte sou voortbestaan. Trouens, die regskommissie is hiermee getaak.

Maar hoekom bly versoening steeds so ’n kwessie dat Max dit nodig vind om daaroor te skryf? En dan boonop nog wit en swart so geartikuleerd teenoor mekaar moet stel?

Iemand sal uiters blind moet wees om nie eens bewus te wees daarvan dat daar (nog) groot werk voorlê om versoening algemeen te laat maak nie. Dit is ook nie eie aan Suid-Afrika nie. Daar was pas weer moleste in die Amerikaanse Ferguson, waartydens twee polisiebeamptes gewond is. Die VSA en verskeie Europese lande het te kampe daarmee dat baie van hul jong mense (lees: jong Moslems) uit hul lande glip om as jihadi’s by die IS te gaan aansluit. Elke jaar, so lyk dit, sal die kwessie van Sinterklaas en Zwarte Piet meer en meer op die spits gedryf word.

In Kanada, interessant, het die onlangs verkose nasionale leier van die Indiane, Perry Bellegarde, ’n radikaler houding oor minderheidsregte begin inneem. Liberale (wit) Kanadese reageer in briewe en internetkommentaar om Perry daaraan te “herinner” dat Kanada oor “one nation, one law” beskik en dat daar dus geen ruimte vir andersoortige regte (vir inheemse minderhede) is nie. Kommentaar word soms aangevul deur haatspraak wat dit wat ons op ons webwerwe sien na Kinderkrans-inskrywings laat lyk.

Dit steek Max dwars in die krop dat baie wit mense dié opvatting het: As swart mense in beheer van iets is, sal dit noodwendig tot verval en agteruitgang lei. Dit is inderdaad so dat baie wit mense dit openlik verkondig. Maar Max verswyg dat die Kovsie-kanselier, dr. Khotso Mokhele, twee jaar gelede tydens ’n gradeplegtigheid die meestal swart graduandi daaraan herinner het dat hulle hul nuutverworwe stemme moet gebruik om hulle oor die algemene verval om hulle uit te spreek. Dit is dus nie uitsluitlik ’n wit aanname oor swart regeer- en bestuursvermoë nie. Trouens, sou Max reg wees, moet die ouditeur-generaal stellig die grootste rassis ooit wees om jaar vir jaar so die munisipaliteite vanr korrupsie, wanadministrasie, wanaanwending van staatsgeld en vele meer te beskuldig.

Dit is so dat baie wit gesinne ’n “sleureffek-voordeel” het wat na die apartheidsjare teruggevoer kan word, en dat baie swart mense steeds ’n sleureffek-nadeel beleef. En hier lê waarskynlik die grootste knoop. Hoekom dui peilings daarop dat dié grootliks rasgebaseerde onderskeid steeds bestaan, ’n kwarteeu nadat die laaste apartheidswet geskrap is, asook dat ekonomiese manipulasie plaasvind met misbruikte terme soos “regstellende aksie” (die bevoordeling en herbevoordeling van ’n relatiewe klein groepie) en SEB? Sou dit nie meer voordeel inhou om die ekonomie volgens sy sterkpunte te laat groei en so meer mense daarin te laat deel nie?

Min. (en intussen oudmin.) Tokyo Sexwale het ’n politiek onjuiste spyker op die kop geslaan toe hy by die opening van ’n huisvestingsprojek gekla het dat die aanwas te vinnig geskied om voor te kom. Kort hierna is hy afgedank.

Kortom, versoening is ’n kwessie waar albei kante die hand diep in eie boesem moet steek. ’n Slegte vertrekpunt is wanneer een party op ’n oorwinning begin aanspraak maak. Kort nadat Unita en die MPLA die eerste keer vrede gesluit het, het MPLA-ondersteuners hulle meerderwaardig soos oorwinnaars begin gedra, en Unita-ondersteuners soos verloorders begin hanteer. Nie lank nie, toe skiet Unita alle dinges uit die MPLA los, en moes van voor af begin word om vrede te bewerkstellig. Kortom, die ANC se aansprake van vele verhoë oor ’n oorwinning is nie net onsmaaklik nie, maar histories nie korrek nie.

Selfs as daar na verkiesingsoorwinnings verwys word, is daar ’n grens. In ’n ware demokrasie regeer die regerende party immers in algemene belang, nie in die belang van die oorwinnaars nie, anders kry ’n mens ’n diktatuur van die meerderheid. In sy hoogverraadverhoor het Nelson Mandela ook uitdruklik gesê dat hy ook teen swart oorheersing veg.

Met versoening moet albei partye iets prysgee en afsluiting gevind word, soos wat ’n deel van die WVK se funksies behels het. Maar te dikwels word die boodskap gekry dat die “verloorders” vir ’n paar geslagte deurlopend moet boete doen vir vergrype en gewaande vergrype eens gepleeg. Dit skep weerstandigheid. Boonop moet kompensasie oor en oor “betaal” word.

Dis ’n resep vir die koester en voed van ’n konflikpotensiaal, nie van vrede nie.

En selfs al is een deel van die bevolking “verslaan”, is daar tog lesse te leer uit die benadering van die man van bloed en yster, Otto von Bismarck. Wanneer hy ’n vyand verslaan het (en hy het dikwels), het hy geglo die vyand moenie in die vredesproses verneder word nie, want dan skep jy ’n blywende vyand. Hy het soms sover gegaan om die vyand te laat voel hy (of hulle) het eintlik die stryd gewen.

Bismarck se opvolgers het nie daardie insig gehad nie, en Duitsland is in twee wêreldoorloë in reaksie verneder – en ironies, die vernedering van die Eerste Wêreldoorlog was een van die voedingsbronne vir die opkoms van Hitler en die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog.

Dit is ongetwyfeld so dat die regering in Suid-Afrika die kwessie lomp en dikwels destruktief hanteer. Die Kliptown-beraad enkele jare gelede om versoening ’n hupstoot te gee, het ontaard in ’n vertoning van hoe dit nié gedoen moet word nie. Tog was daar by deelnemers optimisme oor die groot poel van welwillendheid wat “gewone” deelnemers aan die beraad tydens eet- en teepouses onderling ervaar het.

Sonder versoening gaan geen staatkundige model in Suid-Afrika werk nie. Daarsonder gaan minderhede soos vreemdelinge in hul eie land bly voel, en talle, veral jong mense, voel hulle word onnodig hier met blokke aan die been geleenthede misgun terwyl ’n wye wêreld daarbuite roep.

Elkeen moet skouer aan die wiel sit. Maar dis ’n proses wat van albei kante moet kom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Marius du Preez ·

Weer ‘n raakvat rubriek van Herman!
Soos “versoening” nou hanteer word verdeel dit die Afrikaner in 2- die linkse groep of die “jammer-ek-is-wit” groep en die regse groep wat nie gaan jammer se vir iets waaraan hul nie aandeel gehad het en eerder by hul voorouers sal staan as om hul te verraai.

Leendert van Oostrum ·

In die jare sewentig en tagtig was daar groot en toenemende, en dikwels suksesvolle, pogings uit Afrikanerkant om te “versoen” met ander dele van die bevolking. Veral Afrikaanse kerke, kultuurorganisasies,onderwysinstellings en individue het toenemend uitgereik.

Dit was onder “wit” regering. Vandag is daar bitter min van sulke uitreike oorgebly. Ek vermoed omdat daar van die gesindheid en gewilligheid daarvoor aan Afrikaanse kant min oorgebly het.

En dit was mense soos Max du Preez en instellings soos Naspes met voorbokke soos Tim du Plessis en die nuwe knaap wat redakteur is by Beeld wat die grootste bydrae gelewer het om versoeningsgesindheid nek om te draai, juis deur dit wat bestaan het te ontken en die draers daarvan te teiken met ontkenning van hul versoeningsgesindheid.

Hul benadering is tipies die een van die vrydenker wat deur sy eie ideologie nie meer vry dink nie: “Jy is vry om te wees wat jy wil, solank jy is soos ek”.

Herman Toerien ·

Ek stem saam. Ek dink egter ook dat daar destyds baie propaganda was wat gelui het dat ‘n mens net apartheid moet wegvat, dan is alles vanself reg. Trouens, ek het dit self gehoor. Versoening is egter veel komplekser. Trouens, dit speel op elke moontlike lewensterrein af, en beslis nie net die juridiese (grondwetlike) veld nie. Net so min net sosio-ekonomies. Wat die grondwetlike betref – ‘n voormalige president van ddie RGN, dr. Tjaaart vd Walt, het gewaarsku dat ‘n goeie grondwet, selfs die beste, doodeenvoudig nie sal werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie.

Paul ·

Ek kan nie sien hoe “versoening” ooit hier gaan werk terwyl daar AA; BEE; Volksmoord en die regering is wat sing “shoot the Boer” nie. Die ANC het nooit die “struggle” gestop nie ten spyte daarvan dat hulle alles op n skinkbord gekry het waarvoor ONS voorvaders bloed gesweet het en haat die Blankes nou meer as ooit, ten spyte daarvan dat die Blankes 90% van belastings betaal en nie vir die regerende party stem nie. Alles in die land het reeds in duie gestort en mense weet daar kom donkerte, hongersnood en burger oorlog, maar die skyn gaan aan…

Chris du Plessis ·

Die kans op versoening het lank reeds versteik. Die ANC maak dit onmoontlik en dit is deel van hul strategie om blankes en spesefiek Afrikaners te vervreem sodat hul die swart stem kan bevries in die anc stem blok.
Ons eenigets kans op n toekoms in die deel van die werled is om eksterne selfbeskikking te verwesenlik ander sal Afrikaners as identifiseerbare etniese identiteit binne die volgende twee geslagte verdwyn.
Baie mense dink dit is n idealistiese droom om selfbeskikking na te streef, laat staan nog eksterne selfbeskikking, maar daar is n geleentheid nou wat dit moontlik maak. Die winde van verandering waai in ons stamlande in die EU en Afrikaners het nou die kans om internasionale steun te kry vir hul onafhanklikheid strewe, mits hulle noou kan begin saam staan .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.