Nuuskommentaar: Moet minderhede soos Afrikaner en KhoiSan eie menseregtedag kry?

Pres. Cyril Ramaphosa lê ‘n krans by die Sharpville gedenkteken op Menseregtedag 2019. (Foto: GCIS)

Met vanjaar se menseregtedag wat gister gevier of geïgnoreer is, is ongewoon baie vrae oor ’n verskeidenheid aspekte daarvan gevra. Vrae soos of Sharpevilledag die regte herdenkingsgeleentheid vir so iets is, of daar, handves van menseregte ten spyt, genoegsame owerheidsblyke van respek vir so ’n dag is, of die wyse waarop diegene wat dit vier, nie meer verdelend as versoenend optree nie, of minderheidsregte genoegsaam erkenning en respek ontvang, en vele meer?

Die idee van afsonderlike vierings in Suid-Afrika is nie nuut nie en hoef ook nie noodwendig verdelend te wees nie. Elke jaar herinner die optogte van die Kaapse Klopse aan ’n tyd toe slawerny die algemene praktyk in die Kaap was. Op dae soos Kersfees en Nuwejaar, erg vereenvoudig gestel, het die koloniste dié dae gevier, en die slawe moes uithaal om alles te laat reg verloop. Spesiale disse het uit die kombuis gekom, en die huise moes silwerskoon en aan die kant bly. Die volgende dag het die slawe en ander bediendes dan af gekry en het tradisionele dae, soos tweede Kersdag, maar veral tweede Nuwejaarsdag, ontstaan. Dan is uitgehaal met viering en vertoon.

Spore van die tradisie leef nog voort, maar sommige daarvan het tot onlangs informeel taamlike diep spore gelaat. Dan is die strande toegesak. Baie dikwels het politieke verset ook reeds spore gelaat, soos dat die oorgrote meerderheid strandgangers juis aan die “verkeerde kant” van die bordjies uitgespan het wat “Kleurlingbediende-strand” of “Nie-blanke swemgebied” aangedui het. (Eersgenoemde was ’n informele gebied wat deur die eienaars van die vakansiedorp vir hul bediendes gereserveer is, en laasgenoemde ’n formeel afgebakende gebied om wit en nie-wit afsonderlike strandgebiede te besorg.)

Politieke gevoeligheid oor die historiese herkoms is ook nie nuut nie.

Die Kaapse Klopse het al verskeie fases van institusionele pogings beleef, en oorleef, om van dié praktyk ontslae te raak. Die Klopse se lopies vind nie meer op 2 Januarie plaas nie. Geldelike steun is voortdurend onder druk en roetes is gewysig, skynbaar om die prominensie te probeer verminder.

Die owerhede het soos taks die koppestamp verloor.

Ook die Afrikaner, of minstens groot segmente daarvan, het dae wat histories op ’n tipe eiesoortigheid dui. Geloftedag word geleidelik, maar op die oog af vergeefs, deur die regering ingekatrol. Formeel staan dit nou as Versoeningsdag bekend, waarmee nie almal ’n probleem het nie, maar ’n duidelik georkestreerde poging van die SAUK enkele jare gelede om na Geloftedag-saamtrekke as Versoeningsdag-saamtrekke te verwys, het eerder versoening nek omgedraai as aangemoedig.

Ook pres. Cyril Ramaphosa se Versoeningsdagtoespraak met die vorige Versoeningsdag, en sy “weergawe” van die Bloedrivier-gebeure, het baie mense se bloed laat kook. Dis moeilik om te sien hoe daardie toespraak nie ’n kwade aanslag op die presidensiële ampseed was nie.

Grondwet, en bepalings oor taalregte in die handves van menseregte ten spyt, is die strooptog op Afrikaanse tersiêre instellings nou byna voltrek, selfs in die Wes-Kaap met ’n meerderheid Afrikaanssprekendes. Die provinsie het nou nie meer ’n universiteit wat Afrikaanssprekendes volledig bedien nie, met die oorwegende Engelstalige universiteite wat feitlik op mekaar se voorstoepe bestaan.  Afrikaansmedium-skole volg in die spore daarvan. Nie-staatsopsies soos Akademia word met groot wantroue betrag.

’n Mens hoef nie net wit te wees om rassediskriminasie “van die wieg tot die graf” te ervaar nie. Bruin mense ervaar dit op enige denkbare wyse. Met die wetgewende proses om eerste nasie- status minstens simbolies erkenning te gee, was ’n vergadering van swart tradisionele leiers, en genooide bruin leiers ’n fiasko. Terwyl die swart leiers uit die beste porselein geëet het, en in deftige stoele kon sit, moes baie van die bruin gaste met blikborde en opvoustoeltjies tevrede wees, of sommer op die grond sit. ’n Tekort aan eetware en sitplekke is as rede aangevoer.

Terwyl Peter Marais op sy Facebook-blad ontevrede is oor supermarkte in bruin gebiede wat slegs swart mense, wat nie die taal van die inwoners kan praat nie, onder meer as kassiere aanstel, word die probleem “opgelos” deur na bruin mense as “swart” te verwys.

’n Baie onlangse voorbeeld is die DA se kandidatelyste vir die komende verkiesing wat die kandidate as slegs “wit” of “swart” klassifiseer. As die “politiek-korrekte” praktyk uit die weg geneem word, lyk dit dan asof die DA nie ’n enkele bruin of Indiër-kandidaat het nie, wat nie die geval is nie. Maar soos genoem, hierdie politiek-korrekte gepeuter, verhinder nie dat die “dice” weer ’n slag vir bruin mense verkeerd val nie.

Sommige hofsake om die Grondwet en handves van menseregte beslag te laat kry, soos die Walker-saak, kan as grootliks suksesvol beskryf word toe bevind is dat dit ongrondwetlik vir munisipaliteite is om wit inwoners gemeterde tariewe en swart mense vaste tariewe te laat betaal. Sommiges was gemengd suksesvol, soos die saak van Solidariteit wat namens ’n aantal bruin werknemers van korrektiewe dienste opgetree het, en daar beslis is dat daar nie teen bruin lede gediskrimineer mag word nie. Die staat het die saak egter tot in die konstitusionele hof gevoer om hul sin om wel teen bruin te mag diskrimineer te probeer kry. Volgens die uitspraak mag daar egter wel teen wit gediskrimineer word.

’n Belangrike grondwetlike instrument, die Menseregtekommissie, het juis nou, enkele dae voor Menseregtedag, weer skandes gemaak deur te beslis dat Julius Malema nié haatspraak gepleeg het toe hy gesê het hy bepleit nie, in elk geval nie nou al nie, dat wit mense vermoor moet word nie.

Dié onsinnige uitspraak volg ’n rits ander, soos die oorspronklike weiering om “Kill the Boer, kill the farmer” tot haatspraak te verklaar, en is wyd veroordeel. Die FW de Klerk-stigting het selfs verder gegaan en verklaar dit is ook aanhitsing tot volksmoord iewers in die toekoms.

Malema het voorts gesê wit mense het by hul aankoms in Suid-Afrika vreedsame swart mense aangetref, maar dié mense vermoor (“slaughtered”).

Met gister se Menseregtedag het verskeie sprekers, waaronder Malema, menseregte so bewoord dat dit ’n tipe restitusieproses van wit teenoor swart mense moet wees.

Selfs adjunkpresident David Mabuza het onlangs die nuus gehaal deur te sê daar moet gewaak word om nie toe te laat dat die grondkwessie so gedryf word dat dit rassespanning aanblaas nie.

Ja, die vraag of minderhede nie liefs hul eie Menseregtedag moet vier nie, is ’n hipotetiese vraag, maar word nie gevra met die doel om ’n pot drek te roer nie. Maar om Menseregtedag bloot te boikot is ook nie die regte ding nie, omdat dit die indruk kan skep dat menseregte ’n vreemde konsep vir die Afrikaner is. (Ja, daar was ’n filosofies denkrigting dat menseregte ’n poging was om die mens tot ’n tipe goddelike status te verhef.)

Maar word die historiese aanloop vanuit die juridiese bekyk is dit duidelik dat menseregte lank voor die nuwe bedeling redelik goed in ons wetboek en regspraak gevestig was, en boonop van so ’n hoë standaard is dat dit dikwels die “vleis” voorsien om die gekodifiseerde handves van menseregte uit te lê. ’n Goeie voorbeeld is die appèlhofsaak van Administrator of Transvaal and Others v Traub and Others (4/88) [1989]. Lees hier. (Die konstitusionele hof en die huidige grondwet het toe nog lank nie bestaan nie.)

Pres. Cyril Ramaphosa arriveer by die Sharpeville-uitstallingsentrum vir die kransleggingseremonie by die Sharpeville-gedenkteken ter ere van die slagoffers van die Sharpeville-slagting [21 Maart 2019]. (Foto: GCIS)

Afgesien van dié uitspraak op die uiters belangrike audi alteram partem-reël het dit inhoud gegee aan ’n bepaling in die Staatsdienswet en die Grondwet, naamlik dat iemand in die staatsdiens “geskik” vir ’n pos of bevordering moet wees. Alvorens dié bepaling teen iemand gebruik kan word, moes hy aangekla en skuldig bevind gewees het. Hy kan nie maar net op grond van sy velkleur of dat hy nie ’n ANC-lid is nie, gediskwalifiseer word nie.

Ruimte ontbreek om verder oor dié aspek uit te brei.

Voldoende om te sê politici het nog altyd die vermoë gehad, en het dit steeds, om hoogstaande juridiese werk te verongeluk.

Menseregte is nie iets wat die ANC uitgevind het nie. Minderhede laat nou duidelik van hulle hoor dat hulle nie die prulwerk van die Menseregtekommissie sal duld nie, en ook nie die dubbele standaarde van ’n selfoonmaatskappy wat sy borgskap van die Afrikaans is Groot onttrek weens Steve Hofmeyr se deelname nie, maar sonder probleme aksies van die ANC en EFF borg, of die onewehandigheid van die Menseregtekommissie sal duld nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Jan ·

Kan ek vra ? Waneer gaan die blanke afrikaaner ophou huil oor sy boodjie geskud word .
Hierdie stuk nuuskommentaar ( met respek gese ) bevorder nie versoening nie maar blaas konflik aan .
Versoening ontstaan waneer jy jou mede mens se siens wyse aanvaar en daarmee saam leef . Doen dit eerste en hy sal jou voorbeeld volg .

willem Botha ·

Ons huil nie jan ,ons is net ontevrede oor daar teen my kinders wat 20 jaar na die anc oorgevat het nogsteed wetgewing is wat hom verhoed om mee te ding vir n plek in die rugby span oor hy n wit vel het,nie in sy moedertaal kan skoolgaan nie want die mec van onderwys haat afrikaans sprekende kinders.My familie op die plaas wat hulle gekoop en opgebou het vrees bedags dat hulle grond gevat gaan word sonder vergoeding en snags vrees hulle vir hul lewens omrede sekere politieke figure die doodmaak van wit mense aanmoedig en die MRK weier om hulle skuldig te bevind.Dit jan moet verander voor ek kan dink aan versoening en jou mense regte dag gaan vier by die unie gebou.

Herman Toerien ·

Hallo Jan. Ek het my naam saam met versoening gegoogle en 6 540 trefslae gekry. Toe Maroela bygevoeg en 5 183 gekry. Toe jou naam en van gegoogle en 2 520 gekry. “Go figure.” So jy aanvar Julias se standpunt dat die eerste wit mense die vreedsame swart mense wat hulle hier aangetref het, uitgemoor het? En dat wit mense “nie nou al nie” uitgemoor gaan word.

Skuilnaam ·

Ag asseblief Jan, dink jy nou regtig dat swart nationaliste ons siens wyse sal aanvaar as ons hulle sin aanvaar? Hulle sal dit nooit doen nie. As versoening beteken dat ons moet saam leef met rasgebaseerde wette wat teen ons diskrimineer, ons taal moet prysgee, ons geskiedenis moet demoniseer en al ons plekname moet prys gee stel ek nie daar in belang nie.

Gert ·

Jan, die meerderheid het absoluut geen respek vir iemand wat heeltyd kapituleer nie, hulle minag so iemand eerder en versterk dan net hulle aansprake vir meer en meer. Die enigste manier om met hulle te werk is om jou regte vasberade te verdedig.

Dries du Toit ·

Jan jy se “en hy sal jou voorbeeld volg” Glo jy dit wragtig waar

Judge Dredd ·

Ou Jan – die feit dat jy “hulle” sienswyse wil aanvaar beteken nie dat “hulle” jou gaan volg nie – dit beteken dat jy “hulle” gaan volg.

John ·

Bogenoemde is die outeur se eie ontrafeling van die geskiedenis en daaropvolgende gebeure tot by die huidige. Die Afrikaners en die Khoisan is twee afsonderlike groepe en kulture. Die skielike besorgdheid oor die oorlewing van die Khoisan, is vreemd en duidelik ‘n advertensie vir die VFPlus se groot betoog vir ander kultuurgroepe wat soms met die taal aansluiting vind. En dit is al. Brittanje huil nie oor elke Engelssprekende se geluk wanneer hul aan ander kulture behoort nie. Duidelik is stemme-wen die spel wat nou nagejaag word. Die gevolge word geminag. Ons Afrikaners het Geloftedag. Laat ons dit gedenk. Om vir elkeen wat voor Kersfees in kombuise wroeg, ‘n feesdag uit te dink, behoort huisvroue voor in die ry te staan. Laat ander volke hul eie kulturele gevoelens uitleef. Dis ‘n belediging vir hul IK’s om namens hulle te dink en om Afrikaners te misbruik weens hul vrese en minderheid, is verregaande.

willem Botha ·

Ek dink dit is n goeie idee,ons moet net eers gelyke regte kry en die diskriminasie teen ons gestaak word.

Marius ·

Mmm … wat van afstig. ñ Eie staat vir genoemde groepe. Die Wes en Noordkaap. Die mense wat my wil stenig oor my siening, julle kan bly net waar julle wil.

sweis ·

Ek stem saam,ek kan aan geen ander alternatiewe uitweg dink nie.

madels ·

Nie eers geweet dit was menseregtedag nie! :-( waar is ONS regte????????

pieter ·

WAS BY DIE DAM,VISSE HET AAN WIT, SWART EN INDIEER STOKKE GEBYT. WEET NIE EERS WATSE DAG WAS DIT NIE.

Mara ·

Nie net die velkleur nie ons kultuur verskil te veel, sal nooit ooit gelyk wees nie

Tiaan van Dyk ·

Moet die Afrikaner nie dalk menseregtedag gebruik om elke jaar ook kranse te lê vir vermoorde boere wie se mensereg op lewe finaal en onherstelbaar geskend is?

Andreas ·

Ek sien vanoggend, pas na Herman se rubriek geplaas is, Jan en John se kommentare, ek dag toe laat ek eers dorp toe gaan om af te koel. Nou is ek terug nou sit dieselfde gedagte vanoggend nog steeds in my kop, julle twee moet na Korsika toe verkas, maar toe tref die my die bewoners van daardie eiland streef na onafhanklikheid.

Cornelia ·

Mnr. Toerien, weereens ‘n uitstekende en interessante, feitevolle artikel. Die vraag wat u stel is ‘n opsie waarvan ons beslis gebruik kan maak. Die anc bepaal nie die “gesprek of inhoud” van die dag nie. Hulle misbruik die dag myns insiens om hulle self te promofeer. Minderheidsgroepe het ook hul eie sentimente en bewysbare monumente wat positiewe resultate en vermelding verdien op so ‘n dag. Omdat so ‘n dag op die kalender verskyn, sal dit onwys wees vir minderhede om die platform onverdeeld aan die massa te gee om op die dag hul eie agenda te plooi. Laat die minderhede hul eie samekomste hou waar dit moontlik is en hulle eie “lokomotief” by wyse van spreuke, met positiewe insette verbreed, vertolk, en inspireer. Dalk hou ek net van u denke wat getuig van insig, kennis en ‘n manier om ‘n mens aan die dink te sit oor dinge wat regtig saak maak. Weereens baie dankie.

Andreas ·

Na ek Herman se rubriek vanoggend gelees het, was ek van plan om ‘n positiewee bydrae onderaan te maak, en daar kom Jan se kommentaar op, vergete is my goeie voornemens. Ek het amper vir my ‘n blik swart verf gaan koop, pikgitswart, en blinkerkies en silwer sterretjies.

Andreas ·

Herman, dankie dat jy weereens die Afrikaner se gedagtes prikkel, soos soveel kere in die verlede, dit is soos dit moet wees, ‘n goeie rubriekskrywer en ondersoeker dit moet doen, soos ook James Kemp se artikel nou so ‘n dag of twee gelede. Sit ons aan die dink, dat ons die dinge wat ons bemekaar gebring het debateer, nie daarvan wegskram of dood geskree word nie. Hierdie aspekte kan ons verseker weet gaan nog vir jare en jare elke nou en dan deur die Afrikaner (nie die blanke afrikaaner, soos dit hier bo in die eerste kommentaar uitgedruk word, nie) bespreek word, en ons vernuwend laat dink op ons pad vorentoe.

Andreas ·

‘Afsonderlik’ is die woord wat die ANC nie wil hoor nie, onder geen omstadighede nie, hulle wantrou ons, dink ons wil agter hul rug konkel, hul druk die hande styf teen nie ore, hulle sal sover moontlik ons nooi ooit weer onder hul direkte toesig laat uitgaan nie, te bang ons doen ons eie ding, of dit nou kultuur of taal is, so paranoïes is hulle nou al deur hul leiers dinge in die kop geprent. Hulle is bang ons laat hulle weer agter met vooruitgang, hulle het ons dan nou so pas lekker inkatrol. Ons kan mense van mars ook wees, of doer uit die ruimte, maar hulle sal nie ‘n duim skietgee nie. Die vraag is, hoe kom mens daar verby?

Sarel ·

Hulle vrees is parenoia weens hulle eie skelm en agterbaksheid.

Attie. ·

Ek is baie trots daarop dat die ANC 25 jaar na hul bewindsoorname steeds wetgewing moet gebruik om die blanke terug te hou. 60 miljoen is bang 4 miljoen sit hulle ore aan. Dit is om van te lag indien dit nie so tragies was nie. Nou sit al my kinders oorsee. Ek wil huil.

Oom Pieter ·

Ek verwys na Herman Toerien se eerste eie kommentaar derde van bo-af. Daar was tot 1994 baie min Swartes in die Wes-Kaap waar Jan van Riebeeck in 1652 geland het. Toe was daar net Khoi en San onder ander name. Die eerste aanraking met Swartes het dekades later plaasgevind – by die Visrivier en Keirivier byna 1000km van Kaapstad af. Daardie grense is onvoorwaardelik deur die Afrikanerboere en Britse Setlaars erken. Dis nie my eie weergawe van die werklikheid nie. Gaan lees die kundige en erkende Hermann Giliomee en Richard Elphick se boek “‘n Samelewing in Wording: Suid-Afrika 1652-1820” – saam met ander internasionaal-erkende geskiedkundiges. Uiteraard is die omvattende biblioteek Afrikaanse, Engelse en selfs Britse geskiedenisboeke ook betroubaar. Giliomee-Elphick van 1982/1988 was en is egter regstreeks op die destyds-komende sogenaamde “Nuwe Suid-Afrika” oftewel “Rooi Rewolusie” gerig en geskryf en is gevolglik belangrik in die beskouing en vertolking van die huidige milieu. Ek weerhou my in die opsig van openbare standpuntinname. Die Apostel Jakobus waarsku teen te gou en te veel praat – ek het dit nogal ‘n hele paar keer in my bedrywige strydende lewe aan eie lyf gevoel. -:) Om menings te probeer oordra vereis geesdrif – maar in die eerste plek noukeurigheid.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.