Nuuskommentaar: Moet ons vir dié regering bid?

Pres. Donald Trump op 6 Maart 2019 by die Withuis in Washington. (Foto: Jacquelyn Martin/AP)

Kleintyd op skool, en daarna in talle preke, is ons meegedeel dat ons vir die regering moet bid. Ook dat ons aan die keiser moet gee wat die keiser toekom.

Dis nie heeltemal dieselfde ding nie.

Die jongelinge wat bietjie politiek bewus was, sou stellig ook wonder of geestelikes soos aartsbiskop Desmond Tutu, Allan Boesak, Nico Smith en dr. Beyers Naudé dié Bybelse opdrag sou uitvoer. Was hulle dan nie almal simpatiseerders of ondersteuners van organisasies wat terreurmoorde nieselektief op babas en ander onskuldiges gepleeg het nie?

Of is daar iewers ’n soort afbreekpunt dat ’n mens van dié gebedsverpligting onthef sou word? Of verstaan ons oppervlakkig die opdrag verkeerd?

Jare gelede het daar ’n liederlike twis tussen ’n ou oom en tannie op ’n klein dorpie in die Namakwaland in ontstaan. So erg dat die hele dorpie later verdeel was tussen oom- en tanniemense.

Die dominee probeer vir die soveelste keer. Hy praat eers met die oom, en dié is naderhand bereid om vrede te maak. Domineesgoed sit af na die tante, en probeer ook. Hy speel die kaarte sterk dat die oom inskiklik is, en die tante stem naderhand teësinnig in. En toe oorspeel die dominee sy hand: “Tante moet tog vir die oom bid ook.”

“Wat?!” haak die tante woedend af: “Wat sal die Here van my dink as ek met so ’n d****rse gebed by Hom aangesit kom?”

Hoe voel ons werklik as ons hoor ons moet vir die regering bid, veral die regering van oudpres. Jacob Zuma nadat dit algemene kennis geword het van sy rol in die staatskaping en gepaardgaande institusionele korrupsie?

Tydens die Zuma-bewind het dit die uwe self ontgaan van die storie om vir die regering te bid. Met die jongste relletjie tussen pres. Donald Trump en Nancy Pelosi, speaker van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, waarna sy gesê het sy bid vir Trump en die regering, het die herinnering weer ingeskop.

Maar is dit so ’n eenvoudige saak soos dit op die oor af klink? ’n Mens kan tog nie vir die sondes wat in die omelet ingeklits is ook bid nie – tensy ’n mens vir die vasvat van die sondes deur die regering bid.

En as mens dan tog ingee, en vir die algemene welstand van die (sondige) regering bid, gaan ’n mens nie sleg aan die huigel gaan nie? En die Here ken ons harte. Sal Hy gelukkig wees met so ’n gehuigel? Dan tog liewer nie.

Of gaan ontleed ons nou eers dat ’n mens eerstens generies bid vir ’n regering, met die klem daarop dat hulle hul sokkies optrek, eiebelang laat vaar en pligsgetrou regeer soos dit die Here, wat hulle in die amp gestel het, behaag?

Lied 283:2 is ’n baie goeie opsomming van hoe ’n gebed vir die regering kan klink:

Lei, Vors van Vrede, op u weg
Húl wat oor ons regeer,
Dat hul met insig en met reg
U opdrag hier hanteer –
Gelei deur U, bewaar deur U,
Getroue Opperheer.

Maar as dit ’n blatant sondige regering bly?

(Argieffoto: Pixabay)

Dan is dit mos ons plig om alle wettige demokratiese middels soos verkiesings, mediavryheid en burgerlike organisasies te gebruik om die regering tot ’n val te bring. Of alternatiewelik soveel moontlik selfregerende gesag te probeer bekom.

GAP Ministries het die tekste in die Bybel wat oor die onderwerp handel, geneem en ’n gebed saamgestel wat Christene kan gebruik. Dit kan hier gelees word. Breedweg word tot die Here gebid om in die harte van die regeerders te werk sodat hulle die wil van die Here sal doen. Uiteindelik word gebid dat die kerk sy profetiese roeping sal uitvoer, dit wil sê om aan die regering te wys wat die regte pad is.

Hiermee kan nie fout gevind word nie, hoewel verskillende kerkverbande van die sommetjies ietwat anders sal uitwerk, maar basies by dieselfde antwoord vas staan.

Met die tweede Advent voor Kersfees (wanneer die tweede kers aangesteek word) hou die tema verband met bid vir die regering dat hy sy afhanklikheid van die Here moet besef.

Maar doen die kerk nog sy plig in hierdie opsig?

Hoeveel kerkverbande is nie gekant teen aborsie op aanvraag nie, maar kyk heeltemal anderpad as hul lidmate vir partye stem wat dit voorstaan, of ’n keusevryheid daarvoor bied.

Die ouer garde sal nog onthou watter teenspoed die vorige regering van kerke gekry het oor die instelling van bonusobligasies. Ten spyte daarvan dat beleggers hul geld (met ’n rentetjie) behou het, het die kerke vierkant teen die obligasies gestaan oor die rol wat die geluksgodin daarin gespeel het. Dit moes afgeskaf word.

Oudpresident Jacob Zuma (Foto: Jacob Zuma/Twitter)

Selfs nog tydens pres. Zuma se eerste termyn het baie van die vernaamste kerke in pas met hul profetiese rol vermaning op vermaning uitgereik oor die president se godslasterlike uitlatings. Nie alle kerke het saamgestem nie, en een het Zuma selfs ’n erepastoor gemaak. Die VGK het selfs ’n geïsoleerde verklaring uitgereik dat sou Zuma met dié lasterlikhede voortgaan, die VGK ’n beroep op sy lidmate sou doen om nie vir die ANC te stem nie. Dit was vermoedelik ’n ongemagtigde verklaring, want Zuma het lustig voortgegaan, en die VGK het nie verder gekik nie.

In 2015 was daar ’n ope brief van die Tussenkerklike Raad van die NG Kerk, die NH Kerk en die Gereformeerde Kerke waarin die regering berispe is. Moet so iets nie meer dikwels gebeur het nie?

Lees gerus ook die vorige nuuskommentaar oor die onderwerp op Maroela Media hier.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Charl ·

Ek dink nie meer bid gaan enige iets in SA verander nie. Volgens die laaste sensus dink ek hulle het gese ons land is 80% Christelike land. Ek kyk na die verkiesing uitslag die moorde ens gaan bid die land nie red nie.

jannie ·

daar is baie krag in gebed en ek bedoel baie geduld gaan hand aan hand met gebed se die bybel nie ons moet vir ons vyande en sondaars bid nie

Charl ·

Jannie, ek bid al 25 jaar vir die land en dit gaan net slegter. Afrika sal noooooooit verander nie.

Andreas ·

Geen bid vir wysheid en krag om ‘ons’ te lei sal ‘n vaal kol aan hul ideologie en hoe die land bestuur word maak nie. As ons vir Cyril moet bid, moet ons eers vir miljoene ander bid wat vir hom gestem het, ook die EFF en die BLF, en vir Mmusi. En ons moet bid dat die Liewe Vader ons krag gee in om hierdie tye in Hom te bly glo.

Wanda ·

Liewe Charl, die dag as ons ophou bid, dan verloën ons Jesus. Sonder geloof en gebed word jy koud…..ons moet bid die klappe van hulle die regering se oë sal afval en ook na Christus draai. Persentasie christene maak nie n verskil as jou geloof sterk is nie. Ek bid sommer vir jou ook. Geseënde dag. Dankie Herman ek sien wat jy bedoel.

Erica ·

Stem saam met Wanda. Hoofregter Mogoeng Mogoen het op sy knieë gegaan en gebid Saterdag met die inhuldiging. Radio Kansel het met hom onderhoud gevoer en mens kan hoor hy is opreg. Hy wou eers net 1 munuut stilte vra maar vra toe 3 minute want hy sê hy bid vir God drie-enig. Vader, Seun en heilige gees.

Willem ·

Charl, jy moet onthou, van daardie mense wat misdaad pleeg, glo ook dalk.

Dries du Toit ·

Ai Charl waar is jou geloof en vertroue in ons Hemelse Vader. Josafat se geloof in God bewys aan ons dat God sal ingryp wanneer ons weet dat ons self nie meer iets kan doen nie. Maar sonder kns geloof in Hom sal dit nie gebeur nie. Lees 2 Kronieke 20. Dan praat jy weer met my asb

Charl ·

Dries soos ek vir Wanda se ons word al die afgelope 367 jaar hier in Afrika vermoor en beroof iewers moet jy self gesluit hoort ek hier of het die Here n ander doel met my.

Dries du Toit ·

Charl ek kan sien dat jy al in totale moedeloosheid verval het. Ek het ook al. Maar dit is ons straf omdat ons geloof getaan het. Josafat se geloof was ook daarmee heen. Lees 2 Kronieke 20. Ons kleingelowigheid bring al hierdie dinge oor ons

Adam ·

Die artikel laat my effe verstom. Is dit nie God wat wat geneoem het dat Dawid “‘n man na sy hart” was nie en dit terwyl Dawid ‘n egbreker en moordenaar was nie. Het Jesus nie uitgereik na Saggeus, ‘n tollenaar en ‘n misdadiger aan die kruis gerusgestel dat hy saam met hom in die paradys sal wees nie? Mag ons nou net bid vir ‘n regering wat soos lyk en dinge doen op ‘n manier wat vir ons aanvaarbaar is? Geen wonder daar is meer as 3500 “godsdienste” in die wereld nie. Die basiese opdrag in die Wet van God is om vir God lief te wees en ook vir ons naaste (dalk behoort te gelees het vir alles wat God geskep het) wat uiteraard ook die naaste insluit. Terloops, ons vorige regering was ook nou nie juis ‘n voorbeeld van “as pure as the driven snow” nie. Indien ons sou ophou om ons sondaars te vergewe kan ons aanvaar dat ons niks anders doen as om God se opdragte te ignoreer nie.

Bid moet ons bid ·

Die inhoud van ons gebede in ‘n demokratiese bestel soos dit in SA voorkom is baie kompleks, maar ook eenvoudig. nl. “Laat U wil geskied”. Die verwarring (God of god) wat in ‘n demokrasie en politieke korrekte bestel veroorsaak word is kompleks. Hier waar ek nou sit en hierdie kommentaar tik was daar sedert Saterdag nog geen stilte in die lugverkeer nie. Is dit miskien ‘n voorteken van iets waarvoor die regering bang is wat kan gebeur nadat die President sy nuwe kabinet aangekondig het. Daarom se ek “Laat U wil geskied” (ongeag die uitkoms van ons intergeloof gebede wat Saterdag gebid is.

piet piet ·

Ek sal bid vir n regering soos die VSA en vir n leier soos Presedent Trump maar hier moet ek myself forseer om belasting te betaal en doen dit net oor die bybel sê gee die keiser wat hom toekom.

Jan ·

Die enigste effek wat bid het, is op die gemoed van die een wat bid. Dit het geen uitwerking aan die ander kant nie. Gebed laat dit nie reën nie en maak niemand gesond nie, en sal ook nie die regering verander nie, maar dit laat die bidder beter voel. Bid asseblief, Maroelalesers. Dan sal julle minder bitter voel.

bidmoetonsbid ·

As jy sonder geloof bid of verkeerd bid, ontvang jy nie en niks gebeur nie dan stem ek heelhartig met jou argument saam.

Anna ·

Die Here het jou verstand gegee.
As jy die geld het- vlug beskerm jou familie. Die regering gee nie Vir jou om nie. Voordat die regering alles Van jou wegvat.

Dirk ·

My vyande is ook my Skepper se vyande, daaroor het ek geen twyfel nie. Wraak kom my egter nie toe nie, maar geregtigheid en slegs indien dit my Skepper behaag. Daarom sal ek bid dat alle ongeregtigheid ongedaan gemaak word deur my te vergewe soos wat ek ook my skuldenaars vergewe! Ek kan nie bid vir iemand anders se ondergang nie, want wat ek ander toewens mag my tref. Ons God is n God van liefde en goedheid, nie van boosheid nie en daarom moet ons slegs goedheid nabid en nastreef!

Rita Labuschagne ·

Ons moet vir die regering bid! Dis ‘n opdrag van God ongeag of ons saamstem met hulle idees!!

Kallie ·

Absoluut! Ons moet bid vir Ramaphosa, sy kabinet en al die LPs. Dit is tog wat ‘n goeie Christen moet doen.

ES ·

Ek stem saam met Samuel Johson in hierdie opsig: “God Himself, sir, does not propose to judge a man until the end of his days.”

Wie is ek en jy om te besluit of iemand, of iets, goed genoeg is om voor te bid? Ek bid dat diegene wat nie op die regte pad is, die lig sal sien en hul lewens sal omkeer.

As hul dit nie doen nie, gaan hul op die oordeelsdag moet antwoord vir hul misdade.

Ek troos my daaraan dat daar nie plek in God se Heerskappy is vir sulke mense nie, tot hulle hulself bekeer en ‘n verandering maak.

Stef ·

Bid vir die regering is n opdrag. Die oordeel of seen is die Here sin. Wat n keuse is of nie is moet sing vir die gees van Afrika in die nasionale lied? Ek glo alleen aan die Heilige Gees.

Se maar net ·

Spreuke 28 vers9 as jy die wette van die God van israel nie onderhou nie is jou gebed n gruwel so bid maar soos jul wil…of keer terug na die Lewende God van Abraham Isak en Jacob Sy naam is YHWH

Annamarie Olivier ·

Die Here het geen opdragte gegee wat ons moet doen nie, net dat ons Jesus moet aan neem as ons verlosser en Saligmaker, geen reels of opdragte is daaraan gekoppel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.