Nuuskommentaar: Moet sommiges sterf om gehoor te word?

Argieffoto

Argieffoto

Die onnodige sterftes van die minstens 94 psigiatriese pasiënte in Gauteng is baie tragies, maar ’n stuk tragedie sal hierby gevoeg word as die stemme van die oorledenes nou, ná hul onnodige dood, ook nie gehoor word nie en onbevoegde kaders steeds toegelaat word om lewens te verwoes, en selfs weg te ruk.

Die dood van 94 Gautengse psigiatriese pasiënte wat op erg burokratiese en skynbaar onsimpatieke wyse uit ’n staatsinrigting gehaal is en by nie-regeringsorganisasies sonder lisensies daarvoor geplaas is, is skokkend.

’n Beskawing word immers beoordeel oor hoe hy die mees blootgesteldes in die gemeenskap behandel.

Dit is waarskynlik die ergste gevolge nog van kaderontplooiing.

Lank is berig dat die dodetal 36 was, maar uit die verslag van die gesondheidsombudsman wat pas uitgereik is, word ’n donker prentjie van toesmeerdery, leuens en burokratiese argeloosheid geskets. Ter wille van geldbesparing.

Die dodetal kan nog hoër wees. Mense moet byvoorbeeld nog in lykshuise uitgeken word. Net een van die oorledenes is weens komplikasies van sy geestestoestand oorlede. Die meeste het gesterf weens ontwatering, diarree en hartaanvalle. Van die mees haglike omstandighede waarin die mense moes bly kom aan die lig.

Gelukkig verteenwoordig dit nie die algemene Suid-Afrikaanse ingesteldheid oor hoe met mense met gestremdhede omgegaan word nie. Onlangs is berig en het dit uit briewe aan die media geblyk hoe mense met groot deernis gereageer het toe ’n onderwyser ’n meisie sonder bene op sy skouers getel het en self gehardloop het sodat sy saam met haar maats aan ’n wedloop kon deelneem. Trouens, dit het steeds ’n impak op die nuus en Volksblad se spotprent vandag skenk ook hieraan aandag.

Dit is hoe ’n hart moet klop om as mens te kwalifiseer.

Word na die wetboek gekyk, beginnende by die Grondwet, is daar soveel vangnette wat moet verseker dat mense met gestremdhede die beste moontlike sorg te beurt moet val. Dikwels lewer dit wonderlike gevolge en word byvoorbeeld met groot deernis gepraat van die wonderlike werk wat personeellede verrig.

Maar die feit dat die staat nog nooit sy eie kwota kon bereik om mense met gestremdhede aan te stel nie, wys dat daar gebreke is. Dis kompleks. Die Grondwet verbied onbillike diskriminasie teen onder meer mense met gestremdhede. ’n Persoon in ’n rolstoel sal byvoorbeeld moeilik in ’n biblioteek kan werk waar hy nie boeke op hoë rakke kan bykom nie. ’n Blinde persoon kan nie ’n taxibestuurder word nie (hoewel dit soms wel lyk of die man agter die stuur blind moet wees, en al wat weggee dat hy nie ook doof is vir almal wat vir hom toeter druk nie, ’n swaaiende middelvinger is).

Soms veroorsaak nuwe tegnologie dat beroepe waarin blindes legendaries geword het, soos handsentrales, nie meer bestaan nie.

Die “verantwoordelike” LUR, Qedani Mahlangu, het kort voor die bekendmaking van die verslag bedank, maar dit het nie ’n enkele lewe gered nie. Die les is eenvoudig dat daar geen ruimte vir kaderontplooiing is nie. Dit affekteer nie net gesondheidsdienste, soos hospitale wat weens wanadministrasie en vrot bestuur disfunksioneel word nie, maar ook ander portefeuljes. Dink maar aan die skynbaar nimmereindigende nasleep wat die destydse president Nelson Mandela se aanstelling van prof. Sibusiso Bengu as minister van onderwys gehad het. Dr. Knoffel se aanstelling by gesondheid was ook katastrofies.

En boeke gaan nie betyds by skole afgelewer word voor kaderontplooiing plek maak vir kundiges nie.

Eskom is stellig nie te opgewonde oor die impak van kaderontplooiing op munisipaliteite se versuim om hul Eskom-rekeninge te betaal nie. Maar hoe ’n groot invloed het kaderaanstellings by Eskom nie daarop dat die Europese Unie in die “hoenderoorlog” na Suid-Afrika terugkap en daarop wys dat duur elektrisiteit bydra dat Suid-Afrika nie hoenders teen ’n mededingende prys kan produseer nie?

Kaderontplooiing lei nie altyd tot lewensverlies nie, maar onbeholpe en selfs skelm bestuur van onder meer munisipaliteite lei daartoe dat werksgeleenthede nie ontwikkel word nie of selfs verlore gaan. Maar soms lei dit wel tot lewensverlies, soos die bekende voorkoms van tifoïed by Delmas enkele jare gelede. Omtrent terselfdertyd is cholera in ’n waterpoel in Soweto en ’n deel van die Vaalrivier gevind. Die swak bestuur van rioolaanlegte was byna soos klokslag die oorsaak.

Die sterftes van die gestremdes is baie tragies, maar ’n stukkie tragedie sal hierby gevoeg word as die stemme van die oorledenes nou, na hul onnodige dood, ook nie gehoor word nie en onbevoegde kaders steeds toegelaat word om lewens te verwoes, en selfs weg te ruk.

Dit sal die Vier Seuns en ’n Jill-Weenkoor wat nou so snater oor adv. Gerrie Nel se aanstelling by AfriForum baat om meer objektief te kyk na AfriForum, en inderdaad die ganse Solidariteit Beweging se aksies om die potensieel dodelike gevolge van kaderontplooiing en ’n verleentheidwekkende president te bekamp.

Onthou om vandag ’n persoon met gestremdhede wat jou pad mag kruis ’n drukkie te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johannes van Staden ·

Dit moet of brand of dood of vernietig word voor die anc hoor ….hierdie 94 mense is n GROOT ding ….dink dit gaan nog groter as Marikana wees as jy my vra …onwettig , agterlosig , onkundig ….dis n GROOT pitsweer en n gemors wat die anc nie sal kan weg wens nie …kry vir julle want byna alles is opgemors in die land …hierdie is nog n voorbeeld waar onskuldige weerlose mense wat onder die anc se toesig nou dood is …hulle voel niks vir n lewe nie.

Skim ·

DIE ANC was nog altyd self-serving. Vandat hulle aan bewind gekom het het hulle ‘n saak met die ondersteuners en minderhede .. . hulle gebruik die EFF om sake warm te maak, verder geniet hulle die OES. Hulle ry almal soustrein, duur motors, duur huise, duur vakansies, duur oorsese trips, duur events, hulle het ‘n SAAK met die agteruitgang van elektrisiteit, waterverskaffing (damme), mediese sorg, pensioenfondse, tehuise vir gestremdes en bejaardes .. Hulle sal een of twee betrokkenes voor die bus ingooi, en dan sal die saak as afgehandel beskou word. Dalk sal die slagoffers se ouers ‘n paar rand in die hand gestop word en dan is alles weer hunky dory! Hulle voel niks vir ‘n LEWE nie, wat nog te se vir ‘n BROSE of WEERLOSE persoon of dier!Nooit vat hulle enige verantwoordelikheid nie, so af en toe gebruik hulle die belastingbetaler se geld om mense se MONDE TE SNOER!

Johann ·

Dis hartsverskeurend om te dink dat n LUR…EN MINISTER…so likraak met mense se lewens omgaan. En daarmee WEGKOM! DIS MASSA MOORD!!!!!

Gerhard ·

Dit is baie hartseer hierdie en vir die regering wat die Grondwet bloot sien as ‘n stel riglyne of net bindend wanneer dit hulle pas gaan die tipe van tragedie hom nog baie herhaal.

Karma ·

Tifoïed????? Ekskuus dat ek nou een enkele woordjie uit die andersyds fantastiese artikel haal, maar “typhoid” is in Afrikaans ‘tifus’, nie tifoïed nie.

Herman Toerien ·

Hallo Karma. Tifoïde (maagkoors / typhoid) is ‘n ander siekte as tifus (typhus). Slaan gerus die verskille op.

Janie Monsieur ·

Dagsê Karma,

Dankie vir jou terugvoer. Volgens die sesde weergawe van die HAT staan “Tifoïed” ook bekend as ingewandskoors en is “Tifus” ‘n benaming vir verskillende besmetlike siektes wat met hoë koors, bewussynsverlies en delirium gepaardgaan. Dus is die gebruik van tifoïed in dié konteks nie verkeerd nie.

Groetnis
Janie nms Maroela Media

Koos1 ·

Stem heelhartig saam met Herman en Janie.
Ek het heel toevallig dit laasjaar uitgevind terwyl my kind ‘n taak in graad 5 gedoen het. Ek moes dit ook 2 maal lees om seker te wees.

JCS ·

Alle staatsorganisasies wat direk met mense werk, soos skole, ouetehuise kinderhuise, hospitale, polisistasies se aanklag kantoor, binnelanse sake daar waar toue is, lokale waar pensioen en tolaes betaal word, moet met kameras toegerus word.

Diefstal, mishandeling, verwaarlosing sal onmiddelik met 60% verminder asook disiplinere sake en vervolging,

Die videos wat ek algesien het lyk soos griller flieks. Mense wat skuldig kom op sulke dade moet ook op ‘n openbare lys kom dat hulle nie net weer by ‘n ander plek kan gaan werk nie, dis nou nadat hulle lang tronkstraf uitgedien het.

Koos1 ·

JCS, ek stem saam met jou maar dit sal slegs werk in ‘n land waar die wil is om te vervolg. In SA bestaan die “ek krap jou rug, jy krap myne” wet nog. Hoe kan een comrade nou ‘n ander wil aankla?
Dis een van die grootste redes waarom ek bly is Gerrie Nel is na Agriforum. Om die comrades tot verantwoording te roep in ‘n hof!

anna ·

Dankie Herman Toerien. Jou manier van skryf so interessant en menslik.

humor ·

JCS doen asb en verskaf die videos aan Solidariteit en Afri Forum. Hulle soek ernstig na sulke getuies!!!!

Johann ·

Hoe KAN dit gebeur?
Hoe kan dit toegelaat word?
Ou mense, kinders en mense wat in instansies is, kan nie vir hulle self baklei nie.
Daardie MEC moet aangekla word vir moord

Justice ·

Tronkstraf sonder die keuse van `n boete gaan nie hartseer verlig nie maar beslis `n “wake up call” wees vir al onbevoegte die soustrein passasiers. Die lyding waaraan al die pasiente onderwerp is regverdig `n Nuremberg tipe verhoor.

Alida ·

Die LUR se verskoning was dat daar nie geld was nie. Het die OVK al haar persoonlike finansies ondersoek. Waar bly sy en in watse tipe huis woon sy, waarmee ry sy en haar familie? Indien hulle bietjie daar gaan rondkrap sal ons gou-gou weet waar die geld wat bedoel was vir siek mense heen verdwyn het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.