Nuuskommentaar: Moet Versoeningsdag afgeskaf word? En wat van Geloftedag?

Geloftedag

Geloftedag

Het Versoeningsdag nie ’n dag geword waarop politici gou ’n paar woorde oor versoening uiter, maar die res van die jaar deur hul optrede en woorde versoening in die wiele ry nie? Maak die hernieude eise – veral ekonomiese eise waar een groep net nog moet gee en opoffer, en ’n ander net ontvang – nie van Versoeningsdag ’n klug nie? Is Geloftedag nog suiwer gerig of ook deur politiek gekaap?

Versoeningsdag

Moet Versoeningsdag afgeskaf word? Die antwoord is nee, ’n duisend maal nee. Miskien moet dit na ʼn ander dag verskuif word sodat Geloftedag nie deur die politieke misbruik van hierdie dag besoedel word nie. Die politieke onderrok van vanjaar se tema wil-wil uithang: Bridging the divide: Building a common South African nationhood towards a national developmental state”. Daarby ook: “The month has a special significance for the nation as it promotes reconciliation, peace and social cohesion on which the country’s new democratic dispensation was founded.”

Maar die vraag oor die afskaffing van die dag is nie uit die lug gegryp nie, en daar is verskeie redes waarom hieroor besin behoort te word. Die voorbeeld word gereeld gebruik van die ouderling wat so mooi die vergadering ná die kerkdiens met gebed kan afsluit. So mooi vroom en oortuigend. Maar kom hy by die motor waar sy vrou en kinders wag, vloek en skel hy hulle uitmekaar.

Kortom, hoeveel van die politici wat vandag toesprake by Versoeningsdaggeleenthede afsteek, is die ander 355 dae van die jaar ’n voorbeeld van versoening? Dui hul alledaagse optrede nie juis op die teenoorgestelde nie? Trouens, daar gaan al hoe meer stemme op dat dit nie (meer) ’n prioriteit is nie. In sy Versoeningsdagboodskap haal dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerkstigting, vir Tony Ehrenreich aan om te demonstreer: “The phase of reconciliation that brought together fair-minded white and black people is over. We are now engaged in a struggle for economic and social justice.”

In die rubrieke van verskeie kommentators word gereeld verwys na die woede van jong swart mense, wat so ver gaan om dit te stel dat Nelson Mandela die swart mense met die Kemptonparkse onderhandelinge uitverkoop het.

Volgens die jongste jaarlikse versoeningsbarometer meen 61,4% van die respondente rasseverhoudinge het sedert 1994 versleg. Altesaam 67,3% van die respondente toon aan dat hulle min of geen vertroue in ander rasse het nie.

Om bloot die dag as Versoeningsdag op die kalender te hê en waar ’n klompie politici ’n toespraak afsteek (dikwels boonop erg misplaas) werk nie versoening in die hand nie. Dit geld eintlik ook ander dae soos Vrouedag, Vryheidsdag  en Menseregtedag. Die bedoeling is dat ’n gebeurtenis herdenk en gevier moet word, of dat dit as ’n “gewete” moet dien om mense daaraan te herinner.

Daar is gereeld aanduidings dat Christelike vakansiedae soos Kersfees en Goeie Vrydag soos Hemelvaartdag in die slag kan bly. Maar hoekom dan nie eerder van sekulêre dae wat niks beteken ontslae raak as die land te veel vakansiedae het nie? Baie van dié dae verteenwoordig beginsels en ideale wat 356 dae van die jaar uitgeleef moet word, soos ook versoening.

Geloftedag

Daar is 36 verwysings na geloftes in die Bybel, waarvan 34 in die Ou Testament voorkom. Dit is ondernemings wat die mens teenoor God maak. Die meeste verwysings dui egter bloot op voorskrifte wat met geloftes handel, en nie na werklike geloftes wat gemaak is nie. Nie minder as 82 keer verwys die Bybel na beloftes wat God aan mense maak, of mense aan mekaar maak. Boonop het God ʼn verbond met Israel gesluit en dui die Nuwe Testament op die Nuwe Verbond.

Is dit nie ’n bietjie vreemd dat God meer beloftes maak as wat die mense geloftes aan God, hul Skepper en Verlosser, maak nie?

Uiteraard is ’n gelofte, en ook ʼn belofte, iets wat nie sommer ligweg gemaak durf word nie. ’n Mens se woord is immers veronderstel om sy eer te wees.

Net so is die Gelofte van Bloedrivier ’n herinnering daaraan dat ons in elke situasie wanneer ons ʼn onderneming maak, veral teenoor God, soos met die huweliksbevestiging en met die aflê van getuienis onder eed, erns daarmee sal maak.

Amptelik is Geloftedag afgeskaf, maar dit leef voort in die harte van baie Afrikaners – daar is nou al Geloftefeeste tot oorsee ook. Min Afrikaanse gemeentes dui nie op hul jaarkalenders aan dat dit Geloftedag eerder as Versoeningsdag is nie. Elke jaar wys baie van die sprekers daarop dat Geloftedag nie onvanpas op dieselfde dag as Versoeningsdag plaasvind nie. Andries Pretorius het byvoorbeeld voor en ná die slag van Bloedrivier deurlopend vrede met die Zoeloes nagestreef. Betroubare syfers oor hoeveel bruin mense en van Alexander Biggar se swart skerpskutters in die laer van Bloedrivier was, ontbreek, maar volgens sommige berekenings kon dit meer as 400 gewees het. Bronne beskryf hoe ander stamme op wie Dingaan ook jag gemaak het, ná die slag van Bloedrivier weer na vore gekom het. Een bron meld hoe hulle “uit hul gate gekom” het.

Steeds is pogings tot vrede voortgesit. Die Voortrekkers het ’n beduidende rol gespeel dat Panda, halfbroer van Dingaan, as alternatiewe mag en later, nadat Dingaan deur die Swazi’s doodgemaak is, as plaasvervangende mag oor die Zoeloes regeer het. Panda het vooraf vrede met die Trekkers gesluit en onder meer die Volksraad in Pietermaritzburg besoek.

Kortom, dit was nie net die Voortrekkers wat voordeel uit die afloop van die Slag van Bloedrivier en opvolgende ekspedisies getrek het nie.

Solank Geloftedag nie deur politiek gekaap word nie, bly dit ʼn belangrike dag op die Afrikaner-kalender. Neem gerus die Geloftedagboodskappe wat Maroela Media jaarliks publiseer ter harte.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

37 Kommentare

Peet Schabort ·

355(volgens berig)+1=356(volgens berig)+9=365(volgens gr1-klas 1947).

Elizabeth ·

Toe almal in 1994 gaan stem het was dit ekonomiese versoenings Dag [ want ek het reg gestem] vir ekonomie waaraan almal sal deel neem. Glad nie gebonde aan haat spraak of brood uit ń mens se hande neem nie.

Gelofde Dag is tussen God en my mitosis wat op daardie deur hul geloof gelei is. Ek staan met ruggaard vir dit en niks anders. Geen Ds of kerk kan dit ń politieke saak maak nie.

Kobus ·

Ek en my gesin vier nog altyd Geloftedag. Soveel mense doen soveel kersinkopies dat hulle vergeet wat die dag eintlik beteken. Dis jammer daar word nie meer adverteer oor gelofte vieringe by talle areas. Dis dalk iets wat nie geopenbaar mag word nie…

Cornelia ·

Geloftedag sal voortleef in die Afrikanerharte en hulle geslagte, al verskyning dit nie op ‘n kalender!

Kaspaas ·

Hierdie is nie Versoeningsdag nie dis Geloftedag. Versoenings dag is n ANC dag.

Ludwig ·

Geloftedag het tog vir ‘n mens ‘n sekere geestelike inhoud, maar Versoeningsdag het níks. Dit bied net tyd vir niksdoen en braai!

Johann Marx ·

Versoeningsdag het met die beste van bedoelings begin. 20 jaar later is dit net ‘n klein groepie mense uit ‘n bevolking van 50 miljoen wat versoen, en gee, en ophef, en deel, en oplei, en leer, en aanry, en versorg, en help, en raad gee, en bid, en vasbyt en glo dat daar wel eendag iets “goeds” daaruit moet voortvloei. Ek is moeg versoen. Ek is Afrika versadig. Ek….is ‘n trotse lid van die onderdrukte minderheid…..wat nie langer daarin belangstel om die blaam te vat vir alles wat in hierdie mooi land verkeerd loop nie. Daar is maar nou net ‘n rimpeling op die water……….maar dit gaan ‘n tsunami word van weerstand teen hierdie goddelose owerheid.

Toffie ·

Wel hier in ons geweste gaan daar vandag niks by die kerke aan nie maar al die kroeë is oop. Doef-doef musiek pols oorverdowend uit motors by die braai en drinkplekke. Die strand is vol piekniekgangers en sonbaaiers. Ek huldig vandag alleen die gelofte wat my voorouers afgelê het as ‘n heilige sabbat. Ek hou maar my eie geloftediens.

Janine ·

Noem die plek waar jy was sodat ons in Desember kan verbyhou.

Henry ·

Goeie skrywe Herman.
Jy het twee onderwerpe hanteer waaroor elke siel en sy/haar hond verskillende en uiteenlopende menings huldig.

Versoening is mynsinsiens ‘n onderwerp wat meeste mense in hierdie droewe land, hopelik daagliks nastreef. Of ons dit altyd doen, of onthou om dit te doen, is natuurlik ‘n ander keteltjie vis. Uiteindelik is ons ook almal bloot mense met sterk lojaliteite teenoor familie, vriende, taal, kultuur ens. Genoeg daaroor…

Geloftedag hou vir verskillende Afrikaners, verskillende waardes en betekenisse in. As kind wat in ‘n streng Calvinistiese omgewing groot geword het, het ek algaande die Geloftedag byeenkomste wat ook ‘n ekstra Sondag beteken het, meer sleepvoetend bygewoon en aanvaar. Trouens, vanaf my studente dae het ek nie meer die byeenkomste bygewoon nie. Soos talle Afrikaners respekteer ek die betrokke Voortrekkers se krisisse asook die Gelofte wat onder groot lewensgevaar gemaak is. Maar dit is waar dit ophou.

Ek het by talle geleenthede – oa tydens my Weermag dae en in die aangesig van soortgelyke krisisse – ook geloftes gemaak wat vir seker nie deur my nasate of naasbestaandes gehuldig moet of sal word nie.

Soos ‘n held van my – Forest Gump – dit stel:
“And that is all I have to say about that”

SNEL ·

Geloftedag is belangrik en mag nooit wegval nie. Ons voorouers het n gelofte gemaak en ons is deur bloed daardeur verbind, so omdat oupa se oupa se oupa so gesê het, moet ons hierdie dag heilig vir die Here en mag dit nooit tot niet gaan nie.

Grotman ·

Henry die oom sit nou so en lees aan jou se woorde en kan waragtig nie hond of haar uitmaak wat jy nou waarlik se nie. Die vraag is eintlik aan watse kant van die draad jy nou eintlik is?… Wat se ver-soen-ing ding praat julle nou eintlik van? Dis Gelofte dag, ek soen geen bobejaans kind dankie!

Henry ·

Haai oom Grottie!

Ek het nie slegs een Versoeningsdag uit 365 dae nodig om vir my te sê dat ek meer versoenend moet wees met siele wat nie my taal of kultuur en wat ookal deel nie. Om nie eers te praat van al die versoenendgeite met my eie mense nie!
Christene is mos veronderstel om hul ganse lewe deur versoenend te leef en te wat ookal.
Of hoe my oom?

Wat oom se moeilikgeite met allerlei drade en kante betref, moet oom gerus vir my sê watter gedeelte van die volgende kan oom nie so lekker onder die knie kry nie:
“…Soos talle Afrikaners respekteer ek die betrokke Voortrekkers se krisisse asook die Gelofte wat onder groot lewensgevaar gemaak is. Maar dit is waar dit ophou…”

Is maar hoe dit is my oom.

Henk ·

Wat n pragtigge Geloftedag,by Witrivier se feesterrein was daar te veel mense vir die saal!”En hoor jy die magtigge dreuning van n volk ———-”
Iets is besig om te gebeur in die Geeswêreld

Janita Dunker ·

Dit is die beste ‘comment’ wat ek nog vandag gelees het! my hart word so bly as ek dit lees en weet daar is nog so baie mense wat die dag so vier! dankie dat jy dit gedeel het met ons!

Delia ·

Ai Henk, hoe verlang ek nou terug na Witriver…..
het 4 jr net buite Witrivier gebly en in Witriver gewerk…..lekker jare!

Elizabeth ·

Ek steur my nie aan die anc se sinnelose vakansie dae nie. In ons huis is dit vandag Geloftedag.

Kobus ·

Dit gaan sleg met die Boervolk bloot omrede die gelofte dag nie as sabbath dag gedenk word soos Andries Pretoruis en sy wen kommando beloof het dat die nageslag van die boervolk die dag sal gedenk

Herman Toerien ·

Kobus, volgens Drie Eeue was die Gelofte bedoel om vir die Voortrekkers en hul nageslag opgestel te wees, nie die boervolk nie. Ek het dit nou nie weer gaan naslaan nie, maar bv Andries Pretorius self het nie Geloftedag gevier nie (in elk geval nie aanvanklik nie), en dit het jare geneem voor Geloftedag wel sy beslag gekry het, en nog langer voor dit min of meer sy huidige vorm aangeneem het.

Loon ·

Efesiërs 6:12, sê vir ons dat ons geveg nie teen vlees en bloed is nie.
Dis duidelik dat die bose magte wat in gesag is en in gesag is van die mense wat ons land regeer, die Godsdienstige dae van Christene wil vernietig. Met enige mooi name soos bv Versoeningsdag, sal hulle ons probeer paai om hulle missie af te druk.
Ons as Gods kinders moet vasstaan in ons geloof en hou by die Beloftes wat ons aan ons God gemaak het!

Grassie ·

Herman – dit is ‘n uitstekende bydrae wat jy hier gelewer het en ek is seker elke volbloed Afrikaner stem een honderd present met jou saam. Daar is net een ietsie wat my hinder en dit is die storie van die ouderling wat jy (weereens) ophaal – die een wat so mooi bid en dan sy gesin uitmekaar skel. Ek is al vir donkiejare ‘n ouderling en ken al my mede-ouderlinge en hul gesinne baie goed. Ek kan jou verseker dat dit sommer ‘n twakstorie is. As jy daardie storie nog ‘n paar keer herhaal gaan mense werklik begin glo dat ouderlinge bose mense is. Daar mag miskien iewers in jou verlede so ‘n ouderling gewees het maar moet asb nie die uitsondering vat en daarvan die norm maak nie.
Verder, baie dankie vir jou puik bydraes – ek sien uit na nog baie daarvan.

Fj ·

In ons omgewing word elke jaar Geloftedag gevier, ons gaan kerk toe en kry n spreker. Bring dan die dag as n Sondag deur. Dit is ons plig.

Dup du Plessis ·

……al wat ek kan se is dat kersdag (25 Desember) deur mense geskep is, volgens die Bybel en die tyd wat Maria besoek was om Christus se geboorte aan te dui sou dit op heeltemal ‘n ander tyd wees – dit het gebeur maar nie op 25 Desember nie…….Geloftedag(16 Desember) is egter histories die dag waarop die Here uitkoms aan ‘n groepie gelowige mense gegee het vanuit ‘n situasie wat vir mense onmoontlik was……

89 seleksie ·

Wat is dit wat die’ mense dan nou geglo het Dup ? Daar was iets omtrent die’ mense ne’? n Spesifieke manier van vleis gaarmaak ? n Balspeletjie wat hulle speel ? Daar is die wat reeds versoen is , n goeie ding “going back to your roots” Ek meen dis nou’ so’ ne? Maar die’ spesifieke mense wie daar was se nakomelinge moet die Gelofte hou , dit was onregverdig om van die Afrikaander uit die Kaap , die Britse Setlaar en die skuim wat kom goud soek het te vra om NIE te “versoen” nie . Wat beteken die woord in Afrikaans ooit ? Word een versoen met een wat hy nog nooit geken het nie ? Waar’s die ou HAT nou .

Janine ·

Kom ek help jou uit jou Kersfees-nagmerrie. Dis duidelik dat Jesus in die somer gebore is want die stalle was skoongemaak en sonder diere en die herders was met die skape in die oop veld. D.w.s. Jesus is hier in Julie rond gebore. Die datum is vir God nie belangrik nie, anders sou Hy dit laat opteken het. Toe die heidene gekersten is, het hulle steeds terugverlang na hul feeste. Een daarvan was die seisoenswisseling op 25 Des wanneer die winter draai en begin beweeg na somer. Die Kerk het dit toe goedgevind om 25 Desember ‘n ander betekenis te gee. Kersdag is gebore!!

anna ·

Gelofte Dag bly Gelofte Dag vir my. Dit sal nooit verander nie. S A sal net gered word as ons dit eer en dieGelofte onderhou. Te veel het ditvergeet en waaroor dit gaan. Ons twis ondermekaar in plaas van saamstaan. Saamstaan sal baie positief vir ons wees glo ek.

Janine ·

Ek was vanmore in my kerk en het Geloftedag herdenk en gevier. Dit was baie opbouend. Ek sluk ook nie bostaande storie van 400 skerpskutters nie. Skerpskutters met Sannas? Waar sou die spasie vandaan kom met sowat 400 Boere en -vroue plus die vee? Die Boere het nie met swartmense saamgespan teen hul eie soort nie. Nooit nie!

Herman Toerien ·

Andries Pretorius het geen vroue en kinders op die strafkommando toegelaat nie. Volgens wat ons op skool geleer het het ‘n onbekende aantal bruin bediendes (dus ook manlik) saamgegaan hoofsaaklik om die voorlaaiers te help laai. Die swart skerpskutters wat Alexander Biggar saamgeneem het, is deur die Engelse in Port Natal gebruik om vir hulle wild te skiet en so die nedersetting van vleis te voorsien. Ek skryf nie die geskiedenis nie, ek gee dit net weer.

Henry ·

Herman
Dankie dat jy by die feite hou en nie allerlei sprokies vir liggelowiges invoeg nie.
Die waarheid/werklikheid is soos gewoonlik vir talle siele vreemder as verdigsels.

Nico K ·

Ek wil darem ook net beaam dat daar ook ander gevalle in die geskiedenis was waar die Voortrekkers saam met ‘n spesifieke swart groep teen ‘n ander swart groep geveg het. Swartes was nie uit beginsel altyd die vyand nie. En dan is daar ‘n ander interessante punt. Miskien moet ons eendag vra wie is die Boerevolk.

Ben Lubbe ·

Dit doen my hart goed om te weer dat my voorgeslagte die Here geken en hul in hul nood tot Hom gewend het. Ek hou nie Geloftedag as n plig nie maar omdat dit vir my genot verskaf om d Here te loof vir wat Hy op daardie dag vir n groepie mense in antwoord op gebed gedoen het en ek loof Hom sommer daarmee saam vir wat Hy deur al d jare vir my en my gesin gedoen het wanneer ons indie noute was enHom aangeroep het om ons daaruit te verlos. Loof en prys hom alle volke want Hy is d Almagtige en vol van ontverming vir almal wat hul vertroue in Hom stel.

Eish! ·

Versoeningsdag???????????? Het enige van die regering se mense al iets gedoen om regtig mense te versoen? Nee nie met die toelaat van sy eie mense se haatspraak nie. Geloftedag???????? Ek daag die regering uit om dit nietig te verklaar. ‘n Mens is te nietig om geloftedag onklaar te verklaar. In my hart sal ek altyd Geloftedag probeer eer. As die Here sy rug op ons as mens draai, dan moet ons vat wat ons kry. Onthou dit gaan nie oor swart of wit nie, dit gaan oor ‘n gelofte wat gemaak is as die Here met ons as mens sal wees wat eintlik die onmoontlike gevra het. Dit gaan oor ‘n wonderwerk wat gebeur het en die erkenning van die wonderwerk. Klein groupie mense teen ‘n groot groot groep mense.

Christo Pienaar ·

Die rassehaat aanhitsing in die politieke toesprake van die ANC sprekers dra geensins by tot versoening nie. Skaf Versoeningsdag af. Die Afrikaner sal wel ‘n gepaste wyse vind om Geloftedag te vier.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.