Nuuskommentaar: Moet Zuma amnestie kry (en betaal word) om te verdamp?

Jacob Zuma

Jacob Zuma

Die moontlikheid dat pres. Jacob Zuma amnestie teen vervolging kry om van die toneel te “verdwyn” is pas weer geopper, en dié keer deur ’n gerespekteerde politieke kommentator. Maar dit lyk of ’n groot deel van die publiek voel Zuma verdien nie amnestie nie en moet tot by oom Daantjie in die kallerhok opgefoeter word. Sterk morele en grondwetlike kwessies moet verreken, en teen die pragmatisme opgeweeg word.

Die gedagte dat Zuma presidensiële amnestie teen vervolging kry in ruil daarvoor dat hy die politieke toneel verlaat, word al ’n geruime tyd geopper. Hiermee saam, maar dikwels nie eens genoem nie, word aanvaar dat die president ’n aansienlike sommetjie in sy bankrekening moet kry om sy gemoed vir ’n politieke ontruiming oop te kry. Of soos ’n leser dit gestel het, dat hy petrol drink en verdamp.

As een van die land se voorste politieke kommentators, Theo Venter, in ’n rubriek skryf dat die idee van presidensiële amnestie ernstige oorweging verdien, is dit nie iets wat sommer sonder behoorlike teenargumente van die tafel gevee kan word nie. Tog is dit wat die meeste lesers wat kommentaar lewer, doen.

Verskeie lande, waaronder Frankryk, verleen amnestie aan dienende presidente, maar wanneer hul termyne verstryk, kan hulle weer vervolg word vir optredes voor hulle president geword het. ’n Goeie voorbeeld is oudpres. Jacques Chirac van Frankryk wat in 2011 twee jaar tronkstraf opgelê is, maar wat in geheel opgeskort is, vir optredes terwyl hy nog burgemeester van Parys was voor hy president geword het. Ook ’n latere Franse president, Nicolas Sarkozy, word glo vir verskeie misdade ondersoek. Vroeër vanjaar is ’n oudpremier van Israel, Ehud Olmert, tronk toe gestuur.

Suid-Afrika beskik nie oor die outomatiese vrywaring van vervolging tydens die ampstermyn nie, hoewel Zuma se regspan in ’n stadium daarop aanspraak gemaak het soos “Frankryk en die VSA”. Die VSA het egter ook nie so ’n outomatiese vrywaring nie, en Zuma se regspan het goed onder ’n gespot vir hul onkunde deurgeloop.

Dit is ongetwyfeld so dat die land grootliks sal baat as Zuma wél van die politieke toneel kan verdwyn. Hy het die land eenvoudig net te veel skade berokken, soos met Nenegate, en ook nou met wat skynbaar in ’n Gordhangate aan die ontwikkel is. Die rand het in ’n ommesientjie met omtrent 5 persent gedaal. Die jongste verwikkelinge maak dit baie moeilik vir die land om later vanjaar rommelstatus met die rampspoedige gevolge daarvan vry te spring – alles te wyte aan Zuma.

Daar is wel ’n meer siniese sy aan die saak – rubriekskrywers wat tong in die kies sê Zuma moet die leisels bly hou, want so word die opposisie se kanse met die volgende verkiesing aansienlik versterk.

Om aan Zuma amnestie teen vervolging te gee, is veel meer ingrypend as die morele kwessies daaraan verbonde. Die Grondwet eis immers gelykheid voor die reg op, en die onlangse bloedneuse wat Zuma in die howe opgedoen het, het baie vir die moreel van ’n groot deel van die publiek beteken wat minder uitgelewer begin voel het. Verder het Zuma “vennote” in sake waarvan hy verdink word, soos baie mooi uit die Guptagate-sage blyk. Gaan hierdie “vennote” ook amnestie kry (om sinvol inhoud te gee aan Zuma se amnestie), of gaan hulle stil-stil die blaam neem en ter slagting gelei word wanneer Zuma se beskermende hand saam met die president self “verdwyn”? Hoe belangrik vir die ekonomie is die pilare wat hierdie “slagoffers” soos Simson van ouds gaan omtrek?

En wie kom in Zuma se plek? Hoe gouer Zuma verdwyn, hoe beter is adj.pres. Cyril Ramaphosa se kanse, aanvanklik as waarnemende president. Hoe langer Zuma gaan aanbly, hoe beter is die kanse dat ’n Zuma-lojalis gevestig kan word, veral as Zuma nie amnestie gaan verkry nie. Hoe langer Zuma aanbly, hoe groter word die skade. Uit nuusberigte blyk dit dat die minister van vervoer, Dipuo Peters, opdrag aan Prasa gegee het om ondersoeke na beweerde korrupsie te staak. Die ondersoeke is ingestel ná bevindings en aanbevelings van die openbare beskermer, en uit die konstitusionele hof se Nkandla-uitspraak is dit duidelik so ’n ministeriële opdrag sou net kon kom ná die OB se bevinding deur ’n hof tersyde gestel is.

Die Oekraïne is ’n goeie voorbeeld van hoe moeilik dit is om van korrupsie ontslae te raak as dit eers endemies geword het. Die beergreep wat korrupsie op die Oekraïne gekry het, dateer van die Sowjet-dae. Die paleis wat oudpres. Janoekovitsj laat oprig het, laat Nkandla soos ’n stroois lyk. Pas is berig dat korrupsie steeds byna onaangetas in die land bly ten spyte van die regeerders sedertdien se beste voornemens.

En Zuma, of selfs die ANC, het nie korrupsie in hierdie land uitgevind nie, net vervolmaak.

Vir baie mense het Zuma die Antjie Somers (of miskien meer paslik die Boogy Man) geword, en om hom bloot straffeloos van die toneel te laat verdwyn, ondenkbaar. Die ganse stryd teen Zuma gedurende sy presidentskap is vanuit wat beskou is as die morele hoë grond bedryf – eintlik al van voor hy president geword het. Kwezi, waar hy owerspel as verweer teen ’n klag van verkragting ingespan het, het pas weer by hom kom spook, terwyl die feit dat hy ’n buite-egtelike kind by sy huisvriend se dogter verwek het, ook nie op morele grond goed afgaan nie.

Verskeie kerke en selfs die SARK het by herhaling vir Zuma oor die kole gehaal oor sy “godsdiensuitsprake”, en sy oproepe vir ’n nasionale reinigingseremonie het Suid-Afrika se naam in die buiteland met ’n plank geslaan (en boonop met sy berugte honde-uitspraak saamgeval wat ook oorsee opslae gewek het). Selfs die Bybelgenootskap het ’n verklaring uitgereik om verskeie van Zuma se stellings oor die vertaling van die Zoeloebybel te weerlê, nadat Zuma aangekondig het dat sy stigting geld vir ’n nuwe Zoeloe-Bybelvertaling beskikbaar gestel het (’n proses waarmee die Bybelgenootskap toe reeds ver gevorder het).

Om algemene konsensus onder die publiek te kry dat Zuma amnestie moet kry, gaan teen die hele persepsie van hoër morele grond indruis.

Pragmatisme gaan moeilik die oorhand kry oor die sin vir reg en geregtigheid wat heers, veral omdat ’n amnestie nie alle probleme oornag oplos nie. Inteendeel, dit kan skade bly aanrig, soos wat Chili ervaar het nadat oudpres. Pinochet amnestie as lewenslange senator gekry het as deel van ’n skikking om Pinochet as president te laat “verdwyn”. Sy slagoffers en hul naasbestaandes wou hulle nie daarby berus nie.

Die hele kwessie bly egter een wat duidelik ’n belangrike onderdeel van die nasionale debat moet wees.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Ivor ·

Hi Herman, baie dankie vir ‘n uitsteekende stuk. “#Zuma must fall”!!

Emile ·

Zuma se korrupte agenda kan deur ‘n blinde met ‘n stok aangevoel word en dis dagligduidelik dat sy uitsluitlike doel in die regering selfverryking en nie leierskap is nie.

1. Hy probeer nou amptelik beheer oor staatsmaatskappye soos Eskom en SAL te verkry, ooglopend om kontantvloei uit daardie melkkoeie na hom te verseker. Dink maar die ondeursigtige kernreaktorplanne.
2. Hy probeer die minister van finansies uit die weg ruim om toegang tot die staatskas te verkry asook versperrings tot vrye toegang tot en inmenging van tenders in staatsmaatskappye op te hef.

André Marais ·

Amnestie en Rassisme is die twee Lelikste woorde en MOET verwyder word in Ons Woordeboeke en is net van Toepassing op / tot hulle voordeel om te mag / kan gebruik soos dit hulle behaag en nie op Ons van Toepassing nie.

humor ·

Ek stem nie saam met die voorstel:” Gee hom petrol in en laat hy verdamp” nie, Dit is darem n te maklike dood.

Paula ·

Miskien nou nie hier te sprake nie, maar met die oog op die opvolger president. Kan ons asseblief iemand kry wat net een vrou en haar eie kinders het, om te onderhou? Of dat die nuwe president self verantwoordelik sal wees vir die kostes van ekstra eerste dames se huishoudings. Dit kos die belastingbetaler baie geld om 5 of 6 eerste dames met hul kroos, te onderhou. Die fondse kan goed aangewend word vir studentelenings. Ek weet op n skaal van een tot tien is dit nie ons grootste probleem nie, maar as jy die klein uitgawes begin dophou, sal dit ook al baie help.

Rynhardt ·

Theo Venter weet nie waarvan hy praat nie.Geen amnestie vir die prez nie!Zuma en sy kabinet mowt strafregtelik vervolg word vir die opsetlike vernietiging van SA se ekonomie!! Hoe is daai vir n antwoord,Theo Venter?Ek wil dit weer duidelik maak wat ek voorheen vir Maeoela media gese het,Zuma gaan nie n tronksel sien nie!

Elize ·

Genade neee, hy kry geen sent meer om uit die politieke toneel te verdwyn nie. Sekerlik is daar rekeninge in oorsese banke in sy naam geopen en vol gestop met belasting betalers se geld. Sy hele familie trek voordeel en ry in elk geval op die Soustrein soos dit al gaan vandat hy aangestel is. ZUMA MUST GO

celeste ·

Hy het al soveel gesteel nou moet hy nog betaal word om te gaan. Hy het genoeg gesteelde geld in sy bank. Vat hom en al sy vrouens en kinders en gee hulle vir Mogabe. Ons wil hom nie eers in die land he nie. Hy is n skande!!!!

Piet Pompies ·

Zuma kan probeer om tronkstraf in SA vry te spring maar daar is nog altyd die geleentheid by die Wêreld hof in Denhaag.

jannie ·

Kan iemand vir my asb. se wat gaan gebeur met al die pensioenarisse se geld wat bele is in RSA. Retail bonds as Zupta eers sy hand in die staatskas gekry het daar is net geen keer aan daai man se skelm streke nie Ons kry goeie rente maar dis geld wat ons van moet lewe As Pavin Gordhan eers van die toneel verwyder is dan staan daai kluis se deure wawyd oop vir die Zuptas

A3 ·

nee! want dan wil die volgende skelm dieselfde behandeling kry. nee!!!

Sydney ·

Sou hy “Jacob Zuma” amnestie kry, kan ander ook mos, weereens skep dit probleme vorentoe wat dan van al sy vriende wat so naby hom gestaan het en ander soos die gewone krimenele? .

Carlia ·

Hy het ons hele land al so vertrap en verneder dat hy geen amnestie verdien nie. Niks, zulz, zero!

Penellope Jones ·

Hy moet net weg.
Dis “cheap at the price” – hy moet net asb weg.
Weg uit die regering, weg uit sy ANC, weg uit die land, net asb weg.

Pootseer ·

Ja, net so: weg, weg, weg!!! Zuma must fall and go, go, go!!! Hy met al hom se vroue-as hulle almal “heppie for ever after” op Nkandla sit rondom die kraalvuur, moet iemand tog asseblief sorg dat hy nie daar uitkom nie-we’ve had enough!!!

Jan maak n Plan ·

Ons moet oppas dat die ANC hom nie totale amnestie gee nie. Onthou hulle het nog die meerderheid op nasionale vlak regering. Wat my aanbetref moet een hengse hekse jag op al sy doen en late gedoen word en dan moet hy aanspreeklik gehou word vir alles wat hy verkeerd gedoen het.

E ·

Los maar die amnesti en laat hy asb bly.
As hy nou moet gaan sal al die anc wat da gestem het net weer terugstap anc toe.
As hy bly tot 2019 nasionale verkiessing is dit moontlik dat die anc gaan sink, anders nie!

Rens Roodt ·

geen amnestie vir zuma nie – hy moet betaal vir al sy dade – die dief en liegbek

John ·

Haai mense, dis Afrika die! In die Oekaine gaan dit deesdae ook nie beter nie en hier sal niks verander nie. Dis hoekom massas mense uiteindelik op rubberbote die see aandurf na beter dae. Die Afrika-regerings boer hulle lande bankrot en se voertsek vir die honger burgers. SA-swartes hou eerder daardie maklike opsie oop sedert die dae van die sg slawehandel. (Geskiedenisboeke dui aan dat dat mense sedert die dae toet, meestal self by slaweskepe aangemeld het of deur familie te koop aangebied is.) En die president sal waarheen uitwyk? Sal sy vriende vir hom en sy enorme familie ‘n huisie iewers in die Ooste oprig en hul rekeninge betaal? Die ANC sal eerder sy termyn verleng, wet of te not, want hul poste is gekoppel aan syne. Staak die wensdenkery. Dit gee skeelhoofpyn.

Hendrik ·

John as die klomp maar net kan padvat, maar hulle wil nie. Dit is nog steeds baie lekker hier in S.A. Die belasting melkkoei is al maer en uitgeput.

tersius ·

Jammer, maar amnestie is nie n opsie nie want dit skep net weer n prseident vir die opvolger(s) om dieselfde te doen. Nee, hy en sy hele kabinet moet ondersoek word want hier ruik ek rot. Hulle is omtrent almal skuldig en as hy sink, sink die lot en dis al manier hoe ons kiesers gaan happy wees . So iets soos die waarheids en versoennings kommisie, behalwe dat al die steelgeld verhaal word. Het hy ooit al sy nkandla skuld betaal, dis nou daardie paar pennies

Cherokee ·

Verskoon asseblief as ek verkeerd raai maar te lese aan die kommentare neig dit so tussen die lyne te blyk asof julle nie van hom hou nie.

André Coetzer ·

Ek dink en glo sy kierangs / kierings moet maar braai – ons sal vasbyt tot hy sy dag kry…

Kobus ·

Herman T, jy gee pitkos, soos altyd. Ek lees die plasings van skrywers, spesifiek vandag op Netwerk24, verbeel ek my of is daar in die jongste tyd, dae, ‘n hernuwde aanval op Afrikaans, ongeag Beeld en Volksblad redakteurs se goeie bedoelinge. Ek het ‘n maand of so gelede vir Beeld redakteur geskryf dat Madia24 is nie meer die gesig van Afrikaans nie, maar Solidariteit met al haar vertakkinge. Hulle (Media24) het dit vir altyd verloor.

chrisp ·

1.Zuma is nie van plan om hierdie sy laaste termyn te maak nie (ek dink hy gaan slaag alla Afrika styl).
2.Indien Zuma wel amnestie kry(al manier hoe hy sal gaan nou en solank hy leef) sal die volgende een dieselfde doen.
3.Zuma is nie die probleem nie die mede stemgenote is.Hy is demooonkraties verkies dit is dus nie sy skuld nie.
4. Daar is geen manier wat die ANC sy mag sal afstaan nie(hy het dit nie nodig nie en sal die jubelinde DA en EFF aanhou verslaan by die stembus maak nie saak hoe swak hulle is nie).Hoeveel keer het die “bevrydings” party wat aan bewind gekom het wel mag afgestaan in Afrika? Dit ondanks almal se swak prestasie?
5.Solank RSA lees” reenboognasie” die oplossing is sal ons in regte Afrika manier leef .Maak vrede daarmee of probeer die stelsel verander.

humor ·

Moenie te veel kommer oor n volgende een wat soos z gaan steel nie, Wees gerus z het nie sy gelyke nie.

Kobus ·

Die top 6 in die ANC is; Zuma, Duarte, Mantashe, Mbete, Mkhize en Ramaphosa. Wie hou vir Zuma in die stoel?

Nico ·

As Zuma moet gaan moet almal in die hoe posisies om hom saam gaan want hulle het geweet wat by doen maar sal nie gebeur nie vir die anc sal dit groot skande wees maar vir land heuning soos die spreek woord se till we meet again

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.