Nuuskommentaar: Moord- en plaasmoordsyfers verstikkende aanduiders

Foto: Reint Dykema

Die vasbeslotenheid van die regering om met sy grondgrypplanne voort te gaan, en verdelende uitsprake van die EFF-leiers en die BLF, skep nie juis ’n klimaat van vertroue deur die kommersiële landbou op die regering nie. Tog was daar met die bekendmaking van die jongste misdaadsyfers op die oog af ’n groter geneentheid teenoor die landbou. Durf ’n mens op iets méér hoop?

“Blaming ‘sick’ people for violence further tosses issues of widespread gun access and socioeconomic factors onto the shoulders of a stigmatized population, while absolving policymakers.

A plan to monitor the mentally ill? History of mental illness and stigma provides insights” – Troy Rondinone, Southern Connecticut State University

So sluit gister se The Conversation sy daaglikse uitgawe af. Dit kon net so goed op gister se bekendmaking van misdaadstatistiek in Suid-Afrika van toepassing gemaak gewees het. Geweldsmisdaad het toegeneem, daar word meer as twee mense per uur in die land vermoor, en minstens twee bronne verwys na die rol van die enorme hoeveelheid wapens wat deur die polisie verloor is. In een geval is die vuurwapen van die Noord-Kaapse polisiekommissaris deur ’n grypdief gesteel. Lees hier.

Een van die oënskynlike ligpuntjies is dat, volgens die polisie se amptelike lys van plaasmoorde, hierdie kategorie effens afgeneem het. Die 47 plaasmoorde die afgelope boekjaar is egter 47 te veel, aldus Agri SA. Maar soos dit nou al gebruiklik is, is daar ’n kinkel in die kabel – TLU SA hou ook syfers oor plaasmoorde by, en dié organisasie se syfer oor dieselfde tydperk is 48. Die TLU SA gee toe dat die moordsyfers effektief min verskil (anders as tevore), maar dat die moorde volgens die SAPD tydens 41 voorvalle voorgekom het, terwyl TLU SA meen daar was 357 voorvalle. Daar bestaan min rede om TLU SA se syfer te gogga, want hulle teken elke geval met naam van die oorledene en adres aan. AfriForum se syfers dui ook 48 plaasmoorde oor die tydperk aan, maar op 418 plaasaanvalle (lees hier).

Die probleem word vererger as in gedagte gehou word dat syfers vir landbouverwante misdaad wat deur die SAPD bygehou word, en dit wat gereeld deur Statistieke SA se sensus en landbousensusse vasgestel word, gereeld so erg verskil dit lyk amper nie moontlik dat dit oor dieselfde voorkoms van misdaad handel nie. Jaarliks ly boere miljarde rande se skade aan gewasdiefstal, en die diefstal van gereedskap en implemente, asook brandstigting. Omdat die skuldiges selde aangekeer word, word dit nie gereeld by die polisiediens aangemeld nie. Met sensusse word dit egter wel opgegee, of dit nou by die SAPD aangemeld was of nie.

Dié keer het die minister van polisie egter self sy kommer oor die omvang van byvoorbeeld veediefstal aangedui, en melding gemaak van ’n verskuiwing na sindikate wat reuseveestapels in geheel per geleentheid steel. Dit hou nou, weens die omvang daarvan, ’n bedreiging vir die lewensvatbaarheid van landbou in.

Lees gerus TLU SA se nuusverklaring oor die jongste misdaadsyfers hier. (Agri SA se nuusverklaring hieroor is wel na die media uitgestuur, maar het teen 03:00 vanoggend nog nie oor ’n webskakel op Agri SA se webtuiste beskik nie. ’n Berig hieroor op Netwerk24 kan egter hier gelees word.)

Plaasmoorde in Suid-Afrika het ’n ongelukkige geskiedenis met sekere politieke partye, waaronder die ANC, die EFF en die Azania-groepering.  Groot druk het ook op pres. Cyril Ramaphosa opgebou omdat ook hy nie juis woordryk was met die veroordeling van plaasaanvalle en plaasmoorde nie.  Trouens, hy het opslae gemaak deur effektief te ontken dat daar plaasaanvalle in SA is, hoewel hy hom glo lomp uitgedruk het. In Junie vanjaar het hy egter, in reaksie op ʼn vraag van dr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus, plaasaanvalle skerp veroordeel, maar die gebruiklike voorwaardes ingevoeg wat in wese daarop neerkom dat swart mense nie onder die indruk gelaat word dat ’n blanke boer se lewe meer werd is as dié van swart mense nie. Navorsers uit verskillende vakgebiede het al dié kwessie onder die loep geneem.

Trouens, die persepsies oor onder andere die ANC se afsydigheid oor plaasaanvalle is so gevestig dat die bekende analis Jan-Jan Joubert op 19 Oktober verlede jaar in Maroela geskryf het dat die veroordeling van plaasaanvalle deur ’n ANC-woordvoerder op ’n verrassende wending neerkom, en in skrille kontras staan met Ramaphosa se ontkenning van plaasaanvalle (lees hier).

Benewens misdaad wat landbou bedreig, is die grootste deel van die land ’n marginale landbouland met ’n reënval laer as die wêreldgemiddeld. Dit kos ’n buitengewone soort boer om onder hierdie omstandighede lewensvatbaar te kan boer. Boonop het die landbou te kampe met faktore soos om ver van die vernaamste wêreldmarkte te wees wat mededingendheid benadeel, klimaatsverandering, ’n ongunstige tot vyandige politieke omgewing, gevoed deur onjuisthede, kwaadwillige tradisies in sekere dele van die land teen boere deur deurlopend van mishandeling en wantoestande op plase te praat asof dit onbetwisbare feite is, en optredes van onder meer Agri Wes-Kaap om die waarheid uit te lig, blatant te ignoreer.

En ongelukkig is daar vrot appels wat die kwaadwillige skietgoed voed. Van die private veiligheidsmaatskappye wat die boere georganiseerd bystaan, het byvoorbeeld al gewys op die onafwendbare negatiewe gevolge van praktyke in sekere dele van die land waar die k-woord onder andere gereeld ingespan word. So ver bekend het alle provinsiale en nasionale landbou-organisasies wat kommersiële boere verteenwoordig, aangedui dat hulle self ook met dié vrot appels sal afreken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jerry ·

Georkestreerde valse aantygings, beskuldigings en klagtes wat by die SAPD ingedien word kan menige boer se lewe in hel verander voordat die boer sy onskuld kan bewys. Dit is ongelukkig die taktiek wat die lafaards gebruik en waarteen boere en boer ondersteuningsdienste beskerm moet word. Georganiseerde Landbou ondersoekspanne en regsdienste moet daardie ondersteuning en beskerming aan boere bied. Wanneer een boer of een sekuriteitsbeampte wel hulself skuldig maak aan die gebruik van die K-woord dan word dit gebruik om te veralgemeen en dan is alle boere of sekuriteitsbeamptes skuldig daaraan, hetsy skuldig of onskuldig. Waarteen Landbou organisasies en burgerregte ook moet waak is die verslapping in die ANC se pogings om te nasionaliseer en te de-koloniseer, omrede so n verslapping dui op bloot strategiese misleidingstaktiek met n tweeledige doel nl om opponente te paai en te uitoorle ten einde opponente se samewerking te verkry vir verandering asook om beleggersvertroue te herstel, want die ANC soek geld.

Werner ·

Wel as die aanvalle afneem is dit omdat die boere meer begin terug bakkei met hulle vuurwapens so los maar ons wapens uit dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.