Nuuskommentaar: Moorde en plaasmoorde in perspektief

Wyle Willemientjie Potgieter.

Wyle Willemientjie Potgieter.

Selfs die geringste detail oor die skieter wat 12 mense op ‘n vlootterrein in Washington doodgeskiet het, word nou in die media wêreldwyd aan die kaak gestel. Hoe die 34-jarige Aaron Alexis al tevore vir vuurwapeninsidente gearresteer is, maar tog as werknemer van ‘n onderneming wat deur die Amerikaanse vloot gekontrakteer is, onbeperkte toegang tot die terrein gehad het.

So erg het hy geskiet dat in ‘n stadium berig is dat daar drie skutters is, en dit byna seker na ‘n terroriste-aanval gelyk het.

En dit is reg dat so iets behoorlik ontleed word, sodat die gemeenskap kan weet en besef van die euwels onder hulle, waarvan die vooraftekens dikwels teenwoordig was, maar geïgnoreer of onderskat is.

Dit was immers die derde dodelike aanval op Amerikaanse militêre instellings tuis waarby dienende of voormalige militêre personeel betrokke was.

Die VSA is nie vreemd aan aanvalle van enkelinge wat ander, onskuldige mense soos selfs die leerlinge van ‘n laerskool afmaai nie, maar soortgelyke insidente het ook al in lande soos Noorweë en België voorgekom.

Baie dikwels fokus die ondersoeke op hoe dit gekom het dat sulke mense vuurwapens in die hande kon kry, en drukgroepe vra dat wapenbesit deur die publiek opgeskort moet word. Die teenargument is dat dit nie die wapens is wat mense doodmaak nie, maar die mense wat die vuurwapens hanteer. Dit is waar die probleem gesoek moet word.

Om hierdie soort insidente met plaasmoorde in Suid-Afrika te vergelyk, is soos om appels met pere te vergelyk, maar die pere is besonder groot. Dit stel tog sekere perspektiewe daar.

Die Instituut vir Sekerheidstudies het verlede week die ratio van moorde op boere as angswekkend beskryf, en beklemtoon dat die regering dit tot prioriteitsmisdaad moet verklaar. Omdat dit onder oud-president Nelson Mandela wel gedoen is, maar onder die presidentskap van oud-president Thabo Mbeki met sy Afrikasentriese visie verval het, word politieke motiewe in dié koppigheid gelees. Die minister van polisie het selfs een van AfriForum se aksies om dit tot prioriteitsmisdaad te verklaar as ‘n goedkoop publisiteitsfoefie probeer afmaak.

Mbeki het selfs verder gegaan en die kommandostelsel afgeskaf, en daarna nie woord gehou om ‘n plaasvervangende stelsel in plek te hê wanneer die kommando’s die laaste taptoe aanhef nie. Die landelike beveiligingsplan het met erge geboortepyne gepaard gegaan en daar is geen eensgesindheid of dit al behoorlik geïmplementeer is of in alle opsigte doeltreffend is nie.

Vrystaat Landbou was in ‘n hofproses betrokke om verskeie staatsdepartemente en die provinsiale regering te dwing om hul grondwetlike verpligtinge na te kom om die provinsie te beveilig, veral die boere en in die besonder die boere langs die Lesothogrens. ‘n Skikking is buite die hof bereik, en toe die regering die ooreenkoms verslons, was dit weer op pad hof toe voor nog ‘n skikking bereik is. Daar was nou weer samesprekings nadat sekere bepalings nie uitgevoer is nie.

Maar Suid-Afrika het soldate in verskillende dele van Afrika.

Statistieke oor plaasmoorde in Suid-Afrika is nie maklik om saam te stel nie, omdat verskillende norme gebruik kan word. Wanneer net die boere self in die statistiek verreken word, lewer dit ander syfers op as wanneer die boer se gesinslede – wat dikwels ook aangeval en vermoor word, ook ingereken word. Dit verskil weer wanneer ook die plaaswerkers ingereken word. ‘n Vroeëre ondersoek deur die polisie het bevind dat plaasaanvalle op die boer en sy gesin dikwels op moorde uitloop, terwyl die aanvalle op plaaswerkers en hul gesinne dikwels op verkragtings uitloop.

Dan verskil die definisies oor wie eintlik boere is, omdat sommige byvoorbeeld kleinhoewes insluit en ander nie.

Die Instituut vir Sekerheidstudies het egter talle faktore in werkbare statistieke omgesit, en die syfers is inderdaad angswekkend.

Die algemene moordratio in Suid-Afrika is 30,9 per 100 000 per jaar, die moordratio onder lede van die polisiediens is 52, en onder boere 98,8 per 100 000 per jaar.

Vir baie mense sal dit “voel” of die moordsyfer onder boere minder moet wees, maar dit moet in gedagte gehou word dat daar nie naastenby meer ‘n 100 000 boere in die land oor is nie. Die volgende tabel is selfverduidelikend.plaasmoorde

Met al sy geweld en ten spyte daarvan dat die VSA se moordratio hoër is as die van die meeste ontwikkelde lande, is dit 4,7 per 100 000 per jaar. Dit laat Suid-Afrika besonder moorddadig lyk, en is ongeveer 20 keer laer as die moordratio onder Suid-Afrikaanse boere.

Suid-Afrika se jongste misdaadstatistieke word Donderdag bekend gemaak, en dit sal verrassend wees as die minister enigsins na plaasmoorde verwys.

Dit is lank reeds duidelik dat dié horende doofheid net op een manier aangespreek kan word – internasionale druk.

AfriForum het ‘n petisie  begin wat in November by die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede ingedien gaan word. Dit is elkeen wat vir die land en sy mense omgee se verantwoordelikheid om daardie petisie te teken. Dis nie dislojaliteit teenoor die land nie, maar juis lojaliteit, want dis hoe volwasse demokrasie werk.

Dis nie asof die media begin swyg oor plaasmoorde nie – Volksblad se elektroniese argief lewer 2 137 trefslae vir die soekterm “plaasmoord*” op. Die probleem is eerder dat Suid-Afrikaners weens die gereeldheid daarvan afgestomp word tot besonder tragiese gevalle soos die aspirant-Kinderkranslofkleuter, Willemientjie Potgieter, wreed saam met haar ouers vermoor word.

Ons is dit aan die boere verskuldig om dié slagting te stuit, want as die koeël eers geklap het is daar nie meer, soos die gewonde klein Anrie gevra het, ‘n pleistertjie vir die eina nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Trippie ·

Dankie Herman vir hierdie berig (en goeie more) !

Moet erken, ten aanskoue van klein Willemientjie, voel dit of daar weer ‘n pleistertjie vir die eina geplak moet word.

***

‘n Vroeëre ondersoek deur die polisie het bevind dat plaasaanvalle op die boer en sy gesin dikwels op moorde uitloop, terwyl die aanvalle op plaaswerkers en hul gesinne dikwels op verkragtings uitloop.

… uit die perd se bek !

Seg Net ·

ASB mense teken di petisie. As julle nie van AfriForum hou nie, doen ons Boere net hierdie keer die guns en teken. Dit is nie nodig om aan te sluit nie.
Plaasmoord is Volksmoord.

Moord­ratio op Boere is 98,8 per 100 000. Die moordratio wys dit is twee keer gevaarliker om ’n boer as ’n polisielid in Suid-Afrika te wees en drie keer meer as ’n gewone burger.

JAVR ·

Amerika se malles kan nie vergelyk word met ons bloeddorstige moorde op ons boere nie!

Ver Van Ryn ·

ek stem, daar is dit ‘n gekke wat losbrand en een groot massamoord pleeg en dan gevang word, en die hele wêreld gons oor die tragedie. Hier is dit ‘n barbaar wat oor die jare dosyne vermink, verkrag, martel en vermoor en nooit gevang word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.