Nuuskommentaar: Morele ineenstorting van ANC

argieffoto

argieffoto

Twee skynbaar onafhanklike gebeure dui op dieselfde simptome – dat die ANC se morele boom behoorlik uitgeval het.

In Switserland het Fifa se grootbaas, Sepp Blatter, die handdoek ingewerp kort nadat dié bejaarde en omstrede sokkerbaas vir ’n vyfde termyn herkies is. Suid-Afrika maak ’n belangrike deel uit van die vernaamste korrupsieondersoek waarmee die Amerikaanse FBI besig is, en waarvoor die Amerikaanse departement van justisie met regsoptrede begin het. Trouw wys daarop dat tussen al Fifa se ontkennings oor wie betrokke sou wees of nie, daar nie ’n woord gerep is om te ontken dat dit oor omkoopgeld (smeergeld) handel nie. Die morele druk op Danny Jordaan gaan kort voor lank enorm wees.

In Suid-Afrika het die Tussenkerklike Raad, bestaande uit die NG Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke, besluit om nie aan gesprekke met die ANC op 9 Junie deel te neem nie. Die morele ineenstorting van die regering maak sinvolle gesprek onmoontlik, aldus die kerke. Die Nhleko-verslag wat Zuma van enige aanspreeklikheid skoonwas, was die laaste strooi.

Tog, aan die ander kant van die munt, hou die regering vol dat sy hande silwerskoon is. Hy probeer die bevolking tot patriotisme op te vorder deur die regering in hierdie saak te steun. Wat die debakel rondom Fifa betref, en met die bewyse ter hand, is daar van Suid-Afrikaners én die wêreld egter nie net ’n ongelukkigheid oor die gekonkel nie, maar ook omdat die Suid-Afrikaanse regering hul intelligensie so onderskat om van hulle te verwag om ’n feëverhaal te glo.

Na bewering.

Wat patriotisme betref – dis ’n houding teenoor ’n land en nie ’n regering nie. Dit kan maklik gebeur dat dit juis patrioties en in landsbelang is om die regering om elke hoek en draai te opponeer, soos om dit internasionaal tot verantwoording te roep.

Met moderne tegnologie tot beskikking kan byna elke Jan Rap en sy maat gaan Google om te sien hoe suksesvol al dan nie die sokkerontwikkelingsprogram onder Afrikane in die diaspora in die Karibiese gebied was sedert die geld in 2008 daarvoor oorbetaal is. Wel, ’n mens kan probeer. En selfs noudat die bom gebars het, vra die Suid-Afrikaanse regering steeds nie vrae oor wat van die geld geword het waarvoor Suid-Afrikaanse belastingbetalers opgedok het nie. Want wat aan daardie kant uit die Fifa-toekenning aan Suid-Afrika as suksesvolle bodland afgeknyp is, moes dié kant maar doodeenvoudig deur die belastingbetalers aangesuiwer word.

Die ANC voer periodiek samesprekings met die Afrikaner, soos ook met ander groepe gevoer word. Die vorige vergadering is in 2012 gehou, en die Afrikanerbond gaan juis die volgende een bywoon om te verneem hoekom daar dadels van die 2012-besluite gekom het.

Dit is nie net die Afrikaanse kerke wat stywe lip maak oor die regering se morele vlakke rondom die Nkandla-kwessie nie. Die volgende aanhaling uit die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se verklaring hieroor is besonder skerp: “President Zuma’s response to parliament this week has left the leadership of the South African Council of Churches appalled. Jesting about the scandalous Nkandla issue and investigation during his response to parliament was an undeniably low point in the Presidency, of which there are becoming too many. Behaving and speaking like a ‘court jester’ was disappointing, embarrassing and inappropriate for the head of state.

“The recommendations regarding Nkandla given by the Minister of Police, Nathi Nhleko, are shocking and a grave mockery of justice. We are gravely concerned about the failure of the President and the relevant ministers to accept moral and political responsibility in relation to the unjustifiably high costs of the upgrades. Having ministers defend the indefensible damages the moral integrity of the whole governing system.”

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC en aartskommunis, se antwoord hierop was om weer ’n vergelyking tussen die ANC en die Bybel te trek. Hieroor was hy al dikwels by die kerke in die sop.

Blatter doen nou die min of meer eerbare ding. Hy bedank, al is dit ’n proses waardeur hy hom uitfaseer tot ’n opvolger gekies kan word. Die opvolger gaan ’n enorme taak hê om te vervul. Wedstrydknoeiery neem toe ten spyte van pogings deur byvoorbeeld UEFA om dit te bekamp, en miljoene dollar is met gekonkelde wedstryde op die spel. Selfs oefenwedstryde deug hiervoor. Die wedstrydknoeiery is nou deel van misdaadsindikate se “beleggingsportefeuljes”. ’n Verslag van UEFA word binne dae uitgereik en dit handel net oor Europese sokker. Elders gaan dit waarskynlik wilder.

Dit is helder en duidelik wat in Suid-Afrika moet gebeur. Jacob Zuma moet die tuig neerlê. Trouens, hy moes al lankal bedank het, soos toe hy owerspel suksesvol as verweer teen ’n aanklag van verkragting aangevoer het. Maar die ANC reageer deur net meer en meer van sy energie te benut om Zuma te beskerm. Iewers moet die morele boom tog heeltemal uitval.

Maar Zuma klou. Hy klou so aan die mag dat daar al meer kommer ontwikkel of hy ná die afhandeling van sy tweede (en laaste) termyn die leisels sal oorgee. Min mense verwag dat hy ’n derde termyn sal probeer losslaan omdat dit ongrondwetlik sou wees. Maar hy het goeie leermeesters. Toe pres. Wladimir Poetin se twee termyne verstryk het, het hy sy lakei en eerste minister, Medvedev, president laat word en hy self premier. Vir ’n termyn was die gesagsposisie in Rusland de facto in die hande van die premier. Met die volgende verkiesing het Poetin eenvoudig weer sy nuwe presidensiële termyne “van vooraf” begin uitdien.

Die maklikste, in Suid-Afrika, sal waarskynlik wees om as president van die ANC aan te bly, en dan die land met “afstandbeheer” vanuit Luthuli-huis te regeer. Die parlement word reeds as verlengstuk van Luthuli-huis ingespan.

Die tweede opsie is ’n lakei-president wat volkome onder Zuma se beheer staan.

Dit, terwyl verskeie geleenthede om die eerbare ding te doen en te bedank al gekom en gegaan het.

Nou het hy die Blatter-voorbeeld, maar niemand verwag dat hy die aftog sal blaas nie.

En die land bly sit dan met ’n moraliteitskrisis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Alweer ·

Ja dit is presies wat zuma moet doen – om Blatter se voorbeeld te volg – Maar ons gewone
mense weet dis die regte ding om te doen – Stap darem uit met so biki dignity…… Maar nie hy wat Zuma is nie….

chris ·

Ek is oortuig dat Zumpie gaan aanbly as pres, die afleiding kom maar net uit die res van Afrika.Wat is die vereistes om die “wet”wat se dat jy net twee termyne mag dien ontlkaar te maak?Kan daar gestem word om die deel van die grondwet te verander en indien wel hoe en met watter % meerderheid?
Weet iemand dalk hier?

Berhalet Beukes ·

Asof hulle al ooit morele integriteit gehad het…

HEVW ·

Om te verwag dat zuma (kleinlettertjie gespel) gaan uittree is heel onrealisties. Hy het nog nooit n gewete gehad wat toegeskroei kon word nie. Om darem met misdaad van verkragting nog steeds die vrymoedigheid te kon he om as presidend van n land met hoe morele waardes te dien, is verregaande verby. En dit nog in die aangesig van die internsionale wereld. Natuurlik sal daar n varkhok van gekonkelry met die volgende termyn wees.

Jade ·

Chris , wantroue in die president is ‘n rede om te vra dat hy uit sy amp tree, sowel as 2/3 meerderheid stem in die parlement daartoe. Die reg in Suid-afrika werk ongelukkig nie vir almal dieselfde nie.

chris ·

Jade.
Dankie ek dink ook dat die grondwet verander kan word deur ‘n 2/3 meederheid,maar is egter nie seker of daar sekere wette is wat meer vereis nie.

Gerhard Bezuidenhout ·

Die ANC is n skande en lieg en bedrieg vier hoogty onder hulle bewind. Doen die moeite en lees bietjie op wat die oorsese koerante gereeld se.

Ria ·

Danny Jordaan – nog een gekoppel aan Zuma. Dit is seker hoekom hy skuiling gaan soek het by die ANC. Zuma sal hom beskerm om homself te beskerm.

Peet Schabort ·

Wanneer het die eerste sokkerbal in SA aangekom ?
1652 ?

Paul Bergh ·

Gaan daar nou ook ontslae geraak word van die bevrydings teologie waarna gestreef word in van die Kerke ?

Grassie ·

Ek weet nie hoe die ANC moreel kan ineenstort as hulle in werklikheid nooit enige moraal gehad het nie.
Dit lyk vir my sommige kerke het nou agtergekom dat daar toe nie ‘n pot goud aan die einde van die reenboog was nie. Hulle het help stook aan die brouspul waarin ons land nou verkeer – hulle kan hulself nie nou op hoogheilige wyse distansieer van hul eie maaksel nie. Hul handjies is nie skoon nie.

Andre van den Berg ·

Ek wonder of Zuma oor hierdie skandaal ook gaan lag soos n hond wat sy vlooie geniet?

chris ·

Andre
Al ooit gehoor hoe ‘n Hiena lag by ‘n karkas(RSA in sy geval).Die ooreenkomste is eintlik skokkend!

Jade ·

HOOFSTUK 5
ARTIKEL 89 VAN DIE GRONDWET

ONTHEFFING VAN DIE PRESIDENT

(1)DIE NASIONALE VERGADERING KAN, BY ‘N BESLUIT AANGENEEM MET ‘N ONDERSTEUNDE STEM VAN MINSTENS TWEE DERDES VAN SY LEDE, DIE PRESIDENT VAN DIE AMP VAN PRESIDENT ONTHEF SLEGS OP GROND VAN:

(A) ‘N ERNSTIGE SKENDING VAN DIE GRONDWET OF DIE REG
(B) ERNSTIGE WANGEDRAG, OF
(C) ONVERMOE OM DIE FUNKSIES VAN DIE AMP TE VERRIG

SO IEMAND MAG GEEN VOORDERLE VAN DIE AMP GENIET OF ‘N ANDER OPENBARE AMP BEKLEE NIE.

Gert ·

Ek dink die geskiedenis gaan toon dat die jongste Nkandla verslag n soort waterskeiding in die SA politiek was en die begin van groter verset deur Afrikaners teen veral die ANC elite

Simon ·

Ek twyfel of die Afrikaner tans oor die vermoë beskik om enige effektiewe vorm van verset te kan lewer as ‘n groep. ‘n Baie groot persentasie van Afrikaners sien hulself kwansuis nou nie meer as Afrikaners nie maar eerder Suid Afrikaners of Afrikaanses en meen hulself beter te ag as Afrikaners. Blykbaar kry hul skaam vir Afrikaners wat wel die moed het om op te staan en hulle stemme dik te maak waar nodig. Die Afrikaanse media oor die algemeen is ook vrot van die spul nie-Afrikaners.

Die sg. Afrikanerbond bo genoem is ten spyte van die belangrike werk onder en vir Afrikaners soos b.v armoede verligting ens. vroeër, alreeds van die tagtigs nie regtig meer besorg oor die Afrikaner nie en daar kan geargumenteer word dat hul ‘n groot aandeel gehad het in die swak hand kaarte wat die Afrikaner uit die onderhandelinge in die vroeë 90’s ontvang het .

Ek sal die Afrikanerbond nie meer vertrou as verteenwoordigend van die Afrikaner met enige samespreking of onderhandelinge namens die Afrikaner nie voordat dit nie eksplisiet duidelik is dat hulle weer met die Afrikaner se toekoms vertrou kan word nie. Alhoewel as die appel eers eenmaal vrot geword het ……

chris ·

Simon.
Ek stem saam . Soos die engelsman se” once bitten twice shy”.Hierdie mense moes maar saam met die NP verdwyn het,ou kortbroek kon hulle maar gerus ook afgetrek het tot op sy vlak.Die Broederbond van ouds was ‘n edele plan wat vernietig is in die 80’s(dalk nog vroer) deur baie hooggeplaastes wat die parlement vol gesit het.
In my opinie kan ‘n mens hulle glad nie vertrou nie.Dit is so goed ons stuur vir ou fw, roelfie en kie om weer vir ons te gaan onderhandel!

Mike ·

Wat my verbaas is dat niemand nie eers politieke partye of die reg ontslae kan raak van Zuma nie.

Lappop ·

Hoe kan daar ‘n morele ineenstorting wees, as hulle nog nooit moreel gehad het nie?
HAT definisie van moreel: Wat betrekking het op die gevoel vir wat goed en reg is, sedelik .

Helizna ·

“Hoop jou oë gaan oop” Ek kon dit nie beter gesê het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.