Nuuskommentaar: “M**r hom Steve!” en die manipulasie van nuus

Steve Hofmeyr Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Steve Hofmeyr Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Die skyngeveg

Op RSG se program, Kommentaar, verdedig Pieter du Toit van Beeld, Media 24 se reg en verantwoordelikheid om die Steve-kwessie aan te hou te dryf. (Gisteraand se Kommentaar was, terloops, uitstekend).

Jare gelede het oud-minister Punt Janson as pas afgestudeerde tokkelok sy eerste gemeente in ’n deel van Johannesburg gekry wat maar baie arm was. ʼn Fondsinsameling word gereël. In die gemeente woon ’n gewese bokser wat in sy loopbaan te veel slae teen die kop gekry het, en die dominee, synde ’n bok vir sports (hy was immers kort tevore nog Tuks se rasieleier), moet in ’n skyngeveg teen die bokser deur die toue klim. Daar sal met die bokser gereël word dat die dominee moet wen.

Toe die klok die eerste keer slaan, vergeet die bokser heeltemal wat die geleentheid was, en hy gaan pleister die dominee. Die rondte duur net sekondes, en in sy hoek word die bokser wéér ingeprent dis nie regtig nie, en die dominee moet wen. Die rondtes hierna duur al langer soos die bokser langer begin onthou. In die proses raak die gemeente, wat nie weet dis ’n gekookte geveg nie, al hoe meer histeries oor hul dominee wat so ’n “come back” maak.

Nie lank nie, is van die tantes op hul stoele, en histeries en al handsak-swaaiende word gegil: “M**r hom dominee… D*nder hom dominee!”

Punt wen. Punt.

Om te verswyg sê soms meer as om te skryf

Vat nou aan Steve se ikoonstatus. Hoe meer met Steve aangegaan word, hoe meer histeries gaan sy aanhangers word. Punt.

Twee berigte in die internasionale media tref vanoggend die oog. Die een is dat die media in Kuba bra swygsaam is oor die 25-jarige herdenking van die val van die Berlynse muur. Slegs een streekradio het feitelik daarvan melding gemaak.

Kuba is een van slegs enkele state wat nog kommunisties is, en in ’n outokratiese land is dit nie juis geleë dat die burgers bewus gemaak word daarvan dat hulle uit pas met die res van die wêreld is nie.

Voor daar egter te veel tong vir die Kubane uitgesteek word; die Suid-Afrikaanse media was nou ook nie juis vol berigte oor die Katalaanse referendum oor onafhanklikheid van Spanje nie. Dit het wel meer die status van ʼn peiling gehad nadat die Spaanse regering ’n stokkie voor ʼn bindende referendum gesteek het deur hom op die grondwetlike hof te beroep. Die hof het egter ingestem dat ’n nie-bindende peiling gehou kan word.

Ongeveer 80% van die kiesers wat gaan stem het, het vir onafhanklikheid gestem, 5% vir ’n eie staat binne Spanje, en nog 5% wil niks van onafhanklikheid weet nie. Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu was een van die invloedryke mense wat die petisie geteken het dat die referendum toegelaat moet word.

Waaroor die media swyg, spreek dikwels harder as waaroor die media berig, selfs oordadig berig. En selfs met ’n groot deel van sy leserskorps oorhoeks raak.

Politieke korrektheid versus die grondwet

Net soos die Spaanse regering met ’n besem teen ʼn orkaan probeer vee, so is daar in “liberale” kringe pogings om ’n politiek sosiologiese verskynsel plaaslik met die pen om te keer. Die Spaanse regering het die grondwet aan sy kant. In Suid-Afrika is dit egter ’n bietjie anders gesteld – diegene wat so die kop gewas word het artikel 235 van die grondwet (wat oor die reg op selfbeskikking handel), asook ander grondwetlike bepalings, aan hul kant. Vanuit ’n transformasie-hoek – in elk geval die rasbenepe soort transformasie wat die regering probeer afdwing, is dit ’n uiters politiek-inkorrekte grondwetlike bepaling, en dit is seker geen onbillike afleiding dat dit doelbewus verswyg word nie.

Die ware liberaal sal so ’n grondwetlike bepaling soos die res van die grondwet verdedig, selfs al stem hy persoonlik nie daarmee saam nie. Minderheidsregte is immers deel van die klassieke liberaal se arsenaal.

Wat ons egter sien, is sulke onsinnighede soos dat Suid-Afrika een van die beste grondwette ter wêreld het, maar dat sekere mense en groepe die grondwet misbruik om die grondwet om te keer.

Selfs die grootste aanhanger van die konsep van ’n getransformeerde Suid-Afrika, moet toegee dat soveel sake haper dat een van die groot kerkverbande ongeveer ’n jaar gelede nie net ’n biddag vir reën gehou het nie, maar ook dat gebid word om oplossings vir daardie sake te vind wat al hoe meer Afrikaners soos vreemdelinge in hul lande laat voel.

Oor of dit geregverdig is dat mense kan vervreemd voel, kan gedebatteer word, maar om diegene wat wél so voel daaroor met die verbale en geskrewe roede by te dam omdat hulle so voel, is ’n resep vir moeilikheid. Gaan slaan maar enige handboek oor die gedragswetenskappe na.

Media-kapitaal om te beïnvloed

Die media moet natuurlik oor nuuswaardige kwessies berig. Ingevolge die grondwet kan die media ook haas enige ideologiese onderbou as vertrekpunt gebruik. Wanneer in die beriggewing self nie by min of meer suiwer feitelike beriggewing gehou word nie, en eie politieke/ideologiese agendas soos ’n vuil onderrok begin uithang, is dit baie moeilik om in die hoofartikel die nodige “kapitaal” te hê om beredeneerd en weldeurdag die kwessie aan te spreek. ’n Verskuilde stekie word in haas elke sin gelees, al het die skrywer of hoofredaksie as span nie die vaagste doel gehad om tussen die reëls te gaan skryf nie.

Geen “reset”-knoppie hier

In die digitale era kan byna enige onoplosbare situasie beredder word deur die “reset”-knoppie te druk. Selfs  al sou dit in die werklike lewe ook moontlik wees, is die vraag tot by watter punt in die geskiedenis moet teruggegaan word voor die knoppie gedruk word. Sou Steve, as hy kon, nie die gewraakte twiet anders bewoord het nie?

Sou die laaste kabinet van FW de Klerk nie die duim bietjie harder op die Kempton Parkse onderhandelaars gehou het nie?

Sou die deelnemers aan die laaste referendum wat “ja” gestem het in antisipasie van ʼn tweede referendum waar hulle moontlike brouwerk van die voortgesette onderhandelings kon stuit, steeds “ja” gestem het as hulle geweet het die tweede referendum sou nooit kom nie?

Die “reset”-knoppie bestaan egter nie, en selfs al sou dit bestaan het, sou die gebruik daarvan ’n woeste stryd afgee.

Die styl van reaksie

Wat word vandag onthou van Jan Wilkens se mees klassieke stoeigevegte? Wie gewen het of selfs wie die teenstanders was? Of die verbluffende verskynsel van die ma’s, baba in die een arm, sigaret in die ander hand, wat kort-kort opspring en vir Jan in minder keurige taal vertel hoe hy sy teenstander se kop in sy *** moet opdruk?

Daar kom ’n punt waar aanbeweeg moet word. Dit beteken nie dat die diskoers moet ophou nie – blapse moet so ver moontlik voorkom word. Die spreekwoord lui immers: “Deur skade en skande word ’n mens wys.”

Zuma-bashing

Beteken dit ook dat die huidige Zuma-bashing ’n ander, meer stylvolle karakter moet kry?

Die groot verskil is dat politici hulle in ’n beroep begeef waar hulle hulself as toffies uitgee, en gekou sal word.

In Suid-Afrika is dit egter al telkemale ervaar hoe goed-geregverdigde kritiek op Zuma as kritiek op swart, of kritiek op swart mans, “omgekeer” word. In dié stadium is daar behoorlik, onder die argitektuur van die SAKP, om Zuma laer getrek. Die een sondebok na die ander word opgekommandeer om namens Zuma as die “fall guy” te dien. Of dit deel van ’n kultuur is dat ’n ongeskikte bereid moet wees, en dit selfs as ’n eer beskou om die “fall guy” te wees, is debatteerbaar in ’n omgewing waar die reël geld dat “the number one can do no wrong”. Maar die een wat bereid was om as sondebok oor die Gupta-sage te dien, is as “straf” met die ambassadeurskap in Nederland beloon. Die onwillige sondebokke leef maar swaar.

Instinktief weet Zuma se teenstanders dat hoe meer van die kritiek van ander swart persone kom, hoe moeiliker word dit om dit as ’n rasse-manifestasie af te maak.

In hierdie sin kan die skorsing van Numsa uit Cosatu in impak veel meer beteken as noodwendig getalle wat nou regstreeks (waarskynlik) nie meer hul kruisies by die ANC gaan trek nie.

Die f-woord

In die Suid-Afrikaanse debat is dit nodig om die f-woord, fatsoenlikheid, deeglik in die oog te hou wanneer debat gevoer word. Hoe meer mense daarby hou, hoe ’n meer aanvaarbare beeld kry die Afrikaner, en hoe makliker word dit om sy regte, soos taalregte en die reg om nie teen gediskrimineer word nie, op die agenda te plaas en te hou.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Kobus ·

Dankie Herman,

Dit is verblydend om elke keer jou realistiese kommentaar en opsomming te lees. Dat jy dit ook uitlig wat in Beeld en van die ander koerante in hul stal is. ‘n Mens kom so aanmekaar onder die indruk daarvan as mens van hul rubrieke lees, veral Adriaan Basson, dat hulle (ander mense ook en het jy daardie mense se name al hier genoem) van binne af die Afrikaner en die Afrikaanssprekende gedurig in ‘n swak lig probeer stel, daar is gedurig skimpe as dit nie direk in artikels soos met die dryf teen Die Puk gebeur het nie. Daar het basson eiehandig Afrikaans probeer sink.

As dit nie nou Steve was nie, sou hulle wel iets anders raakgeloop het om die Afrikaner en Afrikaanse taal mee by te kom.

Die lesers en die mense wie op daardie tipe skrywes van diesulke rubriekskrywers reageer, sien dit daagliks raak en lewer oor dieselfde goed wat ek hier noem kommentaar, maar is dit asof daardie rubriekskrywers en koerante net soos ‘n bul raak wat ‘n rooi doen gesien het, dan sit hulle die koppe neer en storm net voort.

Lynette ·

Goeie artikel behalwe laaste paragraaf – die play nice gedeelte moet vir almal werk nie net vir Afrikaans nie mens het nie nodig om jou kop laag te hou en te vra vir genade as hierdie ook jou land en jou taal is nie

Ant ·

Ons mense se analises van die huidige toedrag van sake is nogal deeglik. Een ding waarmee ek wel verskil is die tipiese oplossing of aanvaarde optrede wat van ons verwag word. Ek verstaan ons het gaan huil by internasionale instansies oor dit so swaar met ons gaan en nou moet ons terug sit onsself gedra en wag vir die volgende uitnodiging om weer te gaan kla.

Die hartseer is dat geen internasionale regering die Afrikaner op hierdie stadium goed gesind is nie, of ons selfs sien as ‘n growp wat hulp nodig het nie, ons kry bloot wat ons toekom…… Daar mag dalk een of twee vriende wees, maar ons toekoms hang van ons eie mense af, en dit sluit in die wat mooi praat en onderhandel sowel as die wat hul mense veilig hou en nie ‘n tree gaan terugstaan of twee keer dink oor dieselfde hardhandige aanslag wat ons beleef nie.

As ons nie die taal praat wat die geweldenaars verstaan nie, gaan hulle ons nie hoor nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.