Nuuskommentaar: MRK het nie snars van ’n idee van wat menseregte is nie

Argieffoto

Die ANC was lank gewoond daaraan om by verstek die morele hoë grond oor menseregte te betrek. Die demonisering van apartheid was so oorweldigend dat die ANC eenvoudig die groen lig gekry het. Noudat die skoen na die ander voet skuif, hoofsaaklik weens beplande grondonteiening, weet die ANC kennelik nie hoe om op te tree nie, en is die Lindiwe-Australië-insident beslis nie die laaste nie. Boonop gaan dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, nou skouers skuur met die leiers van UNPO-lande (Unrepresented Nations and Peoples Organisation), waar die meeste van dié minderhede min oor gronddiefstal geleer kan word. Hulle kry baie internasionale steun van ander lande juis weens hul “underdog”-status.

As dit kom by pogings om die handhawing van menseregte in Suid-Afrika op koers te hou, is dit ongelukkig so dat die instellings, waaronder die Menseregtekommissie, dikwels in lompheid so optree dat die situasie vererger word. En ongelukkig speel die raskwessie ’n uiters belangrike rol.

Kortom, enorme frustrasie word opgebou deur dié instansie en ander se fokus op die raselement, met die uitgangspunt dat die blanke betrokkene noodwendig die oortreder is, en die swart betrokkenes noodwendig die slagoffer is.

Dit vertroebel tussengroepverhoudinge oor ’n wye front.

Afriforum se kritiek op die onewehandigheid het net ’n erge skrobbering by ’n beampte van die Menseregtekommissie op die lyf geloop. Maar die giftige vonnisse van die sogenaamde doodskissage toon aan dat die aanvanklike Reitz-vier-saga polities gelaai was. In die Reitz-vier-geval is hulle deur die verhoorlanddros selfs gevonnis vir dinge waarvoor hulle nie eens aangekla was nie.

Maar menseregte strek veel wyer as net raskwessies. Taalkwessies is in Suid-Afrika net so rampspoedig met nuwe taalbeleide deur universiteite, en mense se grondwetlike regte word gestroop.

Skend die FW de Klerk-stigting nie menseregte nie deur nié meer verklarings in Afrikaans ook uit te reik nie? Dit lyk of die BEE-verbintenis die stigting se vermoë om sy Afrikaanse ondersteuners in hul moedertaal te bedien nou benadeel nadat die stigting enkele jare gelede in ’n verbete stryd gewikkel was om Afrikaans te beredder.

Een van die mees aktuele sake wat nou oor die land heen spoel, is die kwessie van grondgryp sonder vergoeding.

Eiendomsreg word dwarsoor die wêreld as ’n basiese mensereg beskou, terwyl die Suid-Afrikaanse regering die ontneem van grond sonder vergoeding dit regverdig. Kort nadat min. Lindiwe Sisulu die kwessie baie probeer versag het, word sy weer deur adj. pres. David Mabuza deur die voet geskiet. Hy het dit onomwonde in die parlement gestel dat Suid-Afrika die praktyk gaan toepas.

Menseregte word beskou as regte waarmee elkeen gebore word, en nie wat iemand verwerf het nie. Dit beteken in wese dat iemand daaroor beskik omdat hy as mens bestaan, en nie omdat dit so in die wetboek opgeteken staan nie. Die opneem daarvan in die wetboek gee bloot die bevestiging van die reg se status.

Gewoonlik word daar tussen verskillende vorme van menseregte onderskei, afhangende van mense se eie ideologiese voorkeure. Die bekendste is individuele regte, wat die ruggraat van ons Grondwet se tweede hoofstuk uitmaak.

Groepregte byt gereeld die spit af ten koste van minderheidsregte. Minderheidsregte word deeglik in talle internasionale verdrae en ooreenkomste vervat.

Mense uit die linkser damprigtings neig om die minderheidsregte in dié hoofstuk te beskou as die kollektief van ’n aantal minderheidsregte. Uit ’n meer regse koers is verstaan dat minderheidsregte die oorspronklike reg behels wat meer met soewereiniteit verband hou. (Ironies genoeg word onafhanklikheidsbewegings in Europa dikwels die sterkste deur linkse partye gesteun.)

Suid-Afrika het reeds enorme skade in die buiteland gely deur so dwarstrekkerig en uitdagend oor grondgrype te wil wees. Die situasie raak erger soos die ANC self dubbel praat.

En selfs ’n pikkie wil nie graag ’n modderkasteel bou wat die groter kinders die middag mag kom omskop nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
hendrik

Ek verstaan nie die ding van MK nie. Die helfte van hulle moet al dood wees en die res al stokoud. Wonder partykeer of dit nie net bluf of magsvertoon is nie. Waarom hulle die MK aanhou terwyl hulle die SANDF het weet ek nie.

Rynhardt

Die MRK was destyds net geskep om teen afrikaanssprekendes op te tree.Ons mense word uitgemoor en onderdruk vir 24jaar met professionele woorde in die vorm van rassisme soos regstellende aksie/radikale transformasie terwyl die MRK anderpad die heeltyd kyk!Politici in parlement ondersteun bogenoemde en weier ook om MRK te raadpleeg.Verder word afrikaansse skole se regte vertrap,want busse word gebruik om Anc en EFF-ondersteuners aan te ry en skole te treiter oor hul taalbeleid!Weereens is dit normaal vir MRK.MRK weier ook om Anc-ondersteuners aan te tree op Facebook weens hul rassistiese uitlatings teenoor blankes.Se n blanke iets verkeerd,dan tree die MRK en… Lees meer »

Jim

Wonder ek ook Hendrik.

Jean

Die MRK is n eenrigting straat! Die blankes van Suider Afrika weet presies watter eenrigting van die spektrum die straat afloop!

Gestremde

Daar is nie ‘n MRK in SA nie en net ‘n lot wat betaal word om niks te doen nie. Waar sien ‘n mens in die hele wêreld dat daar regstellende aksie, swart bemagtiging, ens. teen ‘n minderheidgroep van ongeveer 5 miljoen ingestel word terwyl die swart bevolking ‘n meerderheid het van ongeveer 50 miljoen mense.