Nuuskommentaar: Mugabe en Zuma – deel van oplossing of probleem?

Pres. Jacob Zuma en pres. Robert Mugabe van Zimbabwe (Februarie 2013). Foto: GCIS

Is daar ’n beginselverskil om die grondwet te moet buig om van ’n president ontslae te raak wat al lankal volgens aansprake seniel of semi-seniel geword het, en om ’n president gepos te kry wat korrup is en sy land leeg suig?

Is pres. Robert Mugabe deel van die oplossing of deel van die probleem om die situasie in Zimbabwe te stabiliseer?

Dit volg nadat die SAOG-ministers wat in Botswana saamgetrek het ’n “oplossing” voorgestel het wat Mugabe minstens tot ’n voorgestelde verkiesing volgende jaar in die kussings sou laat.

Mugabe self skop halsstarrig vas en hou vol dat hy die wettige verkose president is. In ’n sekere sin mag dit tegnies korrek wees, maar net te veel instansies soos Verslaggewers sonder grense het bewyse geopper waarom die jongste verkiesing, soos ook voriges, erg gekook is. Bewyse waarvoor die SAOG (met die uitsondering van Botswana) en die AU blind was.

Die vraag of ’n regeringsleier wat skynbaar wettig verkies is, deel van die oplossing of deel van die probleem is, is nie uniek aan Zimbabwe nie. Die Siriese deurmekaarspul-konflik gaan bitter moeilik opgelos word solank sommige rolspelers, waaronder Rusland, pres. Basjar al-Assad as deel van die oplossing beskou, en ander, waaronder die VSA, hom as deel van die probleem beskou. Assad se verkiesing is verweef in ’n stelsel waar alles deur die Siriese Baath-party beheer word, en ’n aanspraak op legitimiteit is dus laf.

Nog ’n voorbeeld is pres. Nicolas Maduro van Venezuela. Maduro het as kloon van wyle pres. Hugo Chavez die land sterk in ’n sosialistiese rigting probeer dryf, maar sonder die olie-miljarde waaroor Chavez beskik het, sy land ekonomies min of meer vernietig. In die parlement het die opposisie na ’n verkiesing aan bewind gekom, wat op ’n nuwe presidentsverkiesing aangedring het. Onluste het gevolg en Maduro het die ondergeskikte howe gebruik om die parlement te ontbind.

Die probleem is dus verskans.

Pres. Jacob Zuma en pres. Robert Mugabe van Zimbabwe tydens ʼn beraad van die SAOG in Pretoria (Februarie 2015). Foto: GCIS

In Zimbabwe se geval word die probleem verdiep weens Mugabe se skynbare geestestoestand. Sedert ongeveer 2010 maak opposisieleiers en ander wat die president ken, openlik aanspraak daarop dat hy seniel is, of semi-seniel. Inderdaad, om hom op TV te sien maak dit moeilik om tot ’n ander gevolgtrekking te kom. Hy, soos pres. Zuma, is lief daarvoor om tydens parlementêre verrigtinge ’n uiltjie te knip, maar hy het ook reeds twee keer kort na mekaar dieselfde toespraak, wat sy amptenare per abuis aan hom besorg het, gelees sonder om die fout agter te kom.

Die geskiedenis is vol voorbeelde van selfs absolute konings wat op ’n manier met regente vervang is nadat hulle kranksinnig geword het. In Suid-Afrika is pres. PW Botha vervang na ’n beroerte.

Mugabe is ooglopend nie meer geskik om president te wees nie, en dit help ook nie dat sy jong vrou, Grace, dié feit erg uitbuit om luuks te leef en haarself as opvolger te probeer inwurm nie. Dit besorg haar eerder die beeld van ’n eietydse Marié-Antoinette, en is sy erg gehaat.

Slegs erg oningeligtes kan nog glo dat Zuma deel van die land se oplossing is, en nie die probleem nie. Tog het hy genoeg ondersteuning om slag op slag mosies om hom gepos te kry, die hoof te bied. ’n Unieke netwerk van patronaatskap hou hom aan bewind – tot erge nadeel van die land. Tog het hy ook groot populêre steun.

Kan enige grondwet so beskou word dat dit ’n wettig verkose president se posisie so verskans dat selfs kranksinnigheid hom nie uit sy amp verwyder kan kry nie? Moet mense werklik hul lewens of vryheid op die spel plaas om van ’n seniele president ontslae te raak?

En wat dan van ’n president wat volgens vragte bewyse korrup is en besig is om sy land te vernietig? Moet die grondwet noodwendig oortree of gebuig word om reg en geregtigheid te laat geskied as die staatshoof allerlei leemtes in die grondwet bleek melk om sy posisie “grondwetlik” te verskans?

Intussen het die suidpunt van die vasteland voorbeelde van meesters van vasklou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Hulle twee saam spel moeilikheid. As ou Mugabe gaan moet hulle ou Zuma ook saamvat. Enige plek behalwe SA.

Andre ·

PW Botha was vervang deur FW de Klerk omdat PW ‘n “beroerte” gehad het – HA, HA.. Goeie een. Die regering was nie oorgeneem met ‘n staatsgreep nie, dit is PW se beroerte wat alles veroorsaak het en toe moes FW en Roelf gou oorneem. En hier dag ons dit is PW se “beroerte” se skuld. Dankie dat julle almal so onselfsugtig uitgehelp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.