Nuuskommentaar: MultiChoice en ANN7

Dra die huisvesting van ANN7 op MultiChoice by tot persvryheid soos aangevoer word, of is ANN7 niks anders nie as ’n propaganda-arm van pres. Jacob Zuma en die Guptas wat eerder tot die verspreiding van fopnuus as die bevordering van persvryheid bydra?

Naspers, die grootste entiteit wat op die JSE gelys is en wie se wel en wee dikwels bepaal of die JSE se indeks styg of daal, wat op sy beurt deur sy Chinese filiaal Tencent bepaal word, is egter nou om ander redes in die nuus.

Die een rede is beweerde omkoopgeld van honderde miljoene rande wat betaal is aan verskeie instansies en persone, soos Hlaudi Motsoeneng. Die Guptas word by dié bewerings ingesleep, en die vingers wys na die huisvesting van die Guptas se “voormalige” TV-kanaal, ANN7 wat op nog ’n Naspers-filiaal, MultiChoice, gehuisves word. Naspers ontken alle bewerings van onbehoorlike gedrag.

Die tweede rede is die argument van MultiChoice dat deur die huisves van ANN7 persvryheid bevorder word. Koos Bekker, nie-uitvoerende hoof van Naspers, maar skynbaar steeds die de facto-hoof, het ook die kwessie van persvryheid hoog opgegee in ’n media-onderhoud. Hy het ook onderneem dat Naspers self die bewerings sal ondersoek om sy naam skoon te kry.

Die beeld van ’n organisasie wat ten alle tye sy neus skoon hou, strook egter nie met onder meer die rekords van die kompetisie-kommissie nie. In Mei vanjaar is nog ’n filiaal, DStv, met R180 miljoen beboet omdat hy prysmanipulasie in stryd met die wet toegepas het. Naspers en sy filiale is geen vreemdeling by die kommissie en die kompetisietribunaal nie, maar gewoonlik in die hoedanigheid dat toestemming vir samesmeltings en oornames gevra word. Die lang stryd tussen die onafhanklike GoldNet News van Welkom en Media24 was egter ’n voorbeeld van onverkwiklikheid.

Terwyl daar nog oor die juistheid van die bewerings oor MultiChoice koppe gestamp word, kan eerder op ’n ander aspek van die diskoers gefokus word, naamlik die bydrae tot persvryheid al dan nie.

Die algemene opvatting is dat ANN7 spesiaal in die lewe geroep is om die ANC voor te trek, en meer bepaald, die Zuma-faksie. Berigte en lesersbriewe verskyn gereeld waarin ANN7 van nuusmanipulasie beskuldig word om Zuma in ’n goeie lig te probeer stel.

Die opvatting dat dit deel van die omvattende staatskapingspoging is, word by kykers verdiep namate die Guptas deur onder meer die ontrafeling van die #GuptaLeaks-e-posse dieper en dieper by die staatskaping geïmpliseer word.

jacob zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Volgens verskeie mededelings deur lesers in die kuberruim het hulle reeds skottel-TV aangeskaf, maar nie opgekoppel nie, of beperkte keuses uitgeoefen, en wag met volledige opkoppeling tot wanneer MultiChoice duidelik en onomwonde bevestig dat ANN7 afgeskop gaan word. Die motivering is eenvoudig dat kykers taai is om geldelik tot staatskaping by te dra.

ANN7 se huisvesting blyk wel onseker te wees wanneer sy huidige kontrak verstryk het, maar die argumente oor persvryheid weerspreek dit grootliks.

Bekker se argumente oor persvryheid is effe pikant in die lig van ’n toespraak enkele jare gelede, en waaroor ’n gemeenskapskoerant uit die Media24-stal berig het. Daarin het Bekker sy kommer uitgespreek oor die opkoms van ’n onafhanklike gemeenskapspers omdat dit die vestiging van gemeenskaplike denke in die wiele ry. Dit is natuurlik moontlik, indien nie waarskynlik nie, dat hy sedertdien heeltemal van opinie verander het.

Of ANN7 bydra tot persvryheid of dit juis dwarsboom, hang af daarvan of die kanaal ’n propagandakanaal is, soos die beskuldigings gereeld lui. ’n Propaganda-instelling kan nie bydra tot persvryheid nie en maak deel van die fopnuusbrigade uit.

Nog ’n vraag is of Naspers sy filiaal Media24 met sy gedrukte koerante genoegsaam ondersteun? Naspers en ’n (Engelse) koerantgroep is immers aanvanklik toegelaat om die skottel-TV-wêreld te betree in weerwil van wetgewing wat mediahuise verbied om meer as een soort media te besit. Die uitgesproke voorwaarde was dat skottel-TV-inkomste gebruik moes word om gedrukte koerante kop bo water te laat hou.

Maar as gekyk word na hoe die gedrukte dagblaaie onder druk (die verkeerde soort druk is), lyk dit nie of die hulp voldoende is nie. Die hulp kan of regstreeks wees, of onregstreeks om toe te sien dat van Naspers se filiale voldoende in Media24 se dagblaaie adverteer. (Oorsese filiale sal uiteraard geen belang daarby hê nie.) ’n Paar jaar gelede is selfs besluit om Volksblad, die enigste van Media24 se dagblaaie wat in daardie stadium wins gemaak het, te sluit. Die idee was skynbaar dat Beeld die plek daarvan moes inneem.

Die idee met hierdie bespreking is nie om goue reëls daar te stel nie. Die skrywer besit immers self nie skottel-TV nie, maar die idee is om lesers wat met vrae worstel dalk van perspektiewe te voorsien om meer objektief na die geheelbeeld te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Uithalerartikel!
Onbeskaamd n weergee en beredenering van feite!
Onbevreesd n BBB artikel! (Boul bal na Bekker)
Lankalaas so lekker gelees aan n kartets van n boulbal.
Mnr. Bekker in sy almag sal maar besef wat dit beteken om n adder aan jou bors te koester. Ek kan dit nie kleinkry dat hul nie leer uit byvoorbeeld die KPMG episode nie. Swak motivering vir die uit gee van miljoene. Ek weet nie op watter pols hul vingers was nie, maar die “hop, skip en jump” laat my tog n Gupta geurtjie raakruik.
Ek het baie twyfel in n selfondersoek, baie, veral ook aangesien No1 ook die truuk gebruik. Swak van naspers, uiters swak en ek vertrou ons gaan aandeelhouersaktivisme ervaar wat die bestuur slapelose nagte gaan gee.
Ek wil my verstout deur te sê dat ek die hoofseun van die Seunse Weenkoor se baritonstem hoor sing aan ” I did it my way.”

John ·

Die Transvaler en Oggendblad is destyds gesluit om die nuwe witbroodjie Beeld te bevorder. Ann7 is uiters eensydig en besing die Zupta-regering arrogant en skaamteloos. Oosterlinge sit reeds die stoele vol voor en agter die tv-mikrofone en bestuur ons van ons banke, besighede, selfone en die internet. Probeer klere vind wat nie gemaak word deur renostersnuifers nie. Die land is ver heen en so ook baie van ons Afrikaanse topmense wat pens-en-pootjies oor die draad geval het… ook tov van Afrikaans as taalmedium. Die tentakels word wyd gestrek en dit suig ons moed- en bloedloos. Wat is nog in die land oor wat nie geteiken is of word nie. Selfs ons paaie het barste en holtes waar die suiers raak en padwerke(rs) verdwyn gereeld in die niet met net die verdwaasde toorstokwaaiers oor wat wys of mens moet ry of verdamp. Sondae is gemeentes telkens verbaas as dominee wel nog opdaag… met ‘n egte Bybel onder die arm en nie tot ‘n vreemde antieke kommunistiese tekste afgedreig is nie… en wanneer die orkes begin dreun… ontspan almal vir die uur of wat… maar mens weet nooit meer niks vir seker in die’ gehawende potsierlike kamma-‘vrye’ land van ons nie…

Therese van Schalkwyk ·

Baie dankie vir hierdie verduideliking.
“Persvryheid” blyk in hierdie geval ‘n baie gerieflike verskoning te wees. Wanneer iets lyk en ruik soos ‘n gekonkel, is dit gewoonlik.
Terwyl Bell Pottinger, KPMG en andere uit volle bors sleggesê word, is die knoeiery met die Guptas so in Suid-Afrikaners se sitkamers aan die gang. Dit verg altyd nóg iemand om ‘n skelm van ‘n Gupta te maak.

Opge-dstv ·

En dan wil DSTV geen betaalde advertensies van Afriforum dra nie?

Lodewyk ·

En dan moet jy na Multichoice se keuses kyk wat so opgestel is dat jy die volle pakket moet neem om na KYK-NET te kan kyk. Afrikaanse kanaal al weer in die slag. Jy kan nie jou keuse uitoefen om jou kanale te kies en net daarvoor te betaal nie. Wat van die armer mense wat nie die duurder pakette kan bekostig nie.

Grassie ·

En so sluip die Zuptas tot binne in ons gewone Boeremense se voorhuise.
Ek het onlangs na ‘n TV-onderhoud met mnr Bekker gekyk. Ek dink nie enigiemand het hom geglo nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.