Nuuskommentaar: Munisipale leegsuig-kapings. Gaan Bloemfontein ’n waterlose Kersfees hê?

Bloemfontein. (Argieffoto: Facebook)

Die vordering wat die Zondo-kommissie maak om staatskaping hok te slaan, het blykbaar nog nie veel invloed op die tweede en derde regeringsvlak nie. Kort voor Kersfees lyk die kanse taamlik goed dat Bloemfontein Kersfees sonder water in die krane kan wees. Dit is maar een manifestasie van waar dit lyk of staatskapings nog lustig plaasvind, met disfunksionele munisipaliteite wat leeggesuig as die produkte van die kaping agterbly.

Toegang tot skoon drinkwater word as ’n basiese mensereg beskou, en daarom bou munisipaliteite, soos ook met elektrisiteit, spesiale maatreëls in dat die armstes van die armes ook toegang daartoe kan hê.

Tradisioneel is water en krag twee items waaruit munisipaliteite hul geldkoffers kan aanvul. Dit blyk nogal ironies te wees, want dit is juis hierdie hulpmiddels tot lewensvatbaarheid wat talle munisipaliteite so kniediep in die knoffel het dat dit hul lewensvatbaarheid in gedrang bring. Eskom en die waterrade word miljarde geskuld, en dra deels by tot die berg skuld wat Eskom se lewensvatbaarheid bedreig.

Maar die inwoners van munisipaliteite se onvermoë en dikwels onwilligheid om te betaal vir hierdie basiese dienste, is nie al rede hoekom hierdie belangrike regeervlak oor die algemeen so noustrop trek nie. In meestal ANC-hande het munisipaliteite selfvernietigende monsters geword. Onnodige verkwisting is aan die orde van die dag – en word jaarliks deur die ouditeur-generaal uitgewys – maar min word gedoen om sake te probeer regruk. Mangaung, die munisipaliteit wat Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu en ’n paar klein plekkies soos Soutpan en Wepener insluit, is ’n tipiese voorbeeld van waar droog gemaak word deur met droogmaak remediërend te probeer optree.

Letterlik droogmaak. Die munisipaliteit skuld Bloemwater ’n enorme bedrag van R767 miljoen – die akkuraatheid van die skuld is wel in dispuut en draai eersdaags weer in die hof, maar Bloemwater dreig weer om die stad se watervoorsiening met 30% te beperk. Dit is vroeër vanjaar ook so beperk nadat die stad nie sinvol kon inhaal op sy agterstallige waterrekening nie. Histories is die stad se watertoevoer so ontwikkel dat so ’n beperking beteken dat groot dele van die stad glad nie water het nie, en ander dele, veral laagliggende dele, wel water het.

Ongelooflik soos dit mag klink, sou dit veel erger gewees het as dit nie vir die onvermoeide ywer en kundigheid van die “waterfiskaal”, ’n DA-raadslid, Rossouw Botes, was nie. Menige keer, veral oor naweke, wanneer daar ’n krisis is, is dit Botes wat inspring en beredder. Die verantwoordelike amptenare en ampsbekleërs is net skoonveld, en beantwoord ook nie hul telefone nie. Nie eens Volksblad se op en wakker vervulling van sy waghondfunksie kan die munisipaliteit oorreed kry om sy sokkies op te trek nie.

Voeg hierby dat die stad se eie waterbronne nie besonder betroubaar is nie. Aansuiwering vanuit die Caledonrivier is ook problematies, enersyds omdat die Caledon gereeld opdroog, en die waterpype gereeld leeg raak. Die Welbedachtdam is alles behalwe wel bedacht en is effektief vol geslik. Die Katsedam waarop so maklik teruggeval is, is nou minder as 15% vol.

Terwyl die stad ernstige geldelike probleme in die gesig staar en die balju gereeld op bates soos voertuie beslag lê, word berig dat die stad luukse motors aangekoop het. Die drie motors jaag die munisipaliteit glo R1,7 miljoen elk uit die sak uit, terwyl die minister van finansies ’n perk van R700 000 op motors vir hoë lui gestel het. Kort-kort word ’n astronomiese bedrag begroot vir die begrafnis van ’n raadslid – dit terwyl die raadslede almal as deel van hul raadstoelaes oor begrafnispolisse beskik. ’n Afgetrede ouditeur van die OG se plaaslike kantoor meen dit kom op die kruissubsidiëring van ’n staatsubsidie neer wat onwettig is.

Slegs ’n fraksie van ’n tesourie-subsidie waarop Mangaung skynbaar gehoop het, kan realiseer omdat Mangaung nie al munisipaliteit in die Vrystaat is wat om die titel van droogmaker van die jaar meeding nie. Trouens, verskeie munisipaliteite in die provinsie is nog los voor Mangaung in die wedloop. Daardie geld moet met ander munisipaliteite wat ook finansieel in die knoffel is, gedeel word. Feit is dat die provinsiale en nasionale regerings erg bydra tot munisipale skuld deur nie hul eiendomsbelasting op staatsgeboue te betaal nie.

Die Vryheidsfront Plus se lid van die provinsiale wetgewer, mnr. Dévar Smit, het die situasie in ’n mediaverklaring onverbeterlik opgesom:

“Die bestuur van die Vrystaatse munisipaliteite is in ʼn jammerlike toestand terwyl die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering, Skully Nxgangisa, dink hy hoef geen politieke verantwoordelikheid vir munisipaliteite onder sy beheer te aanvaar nie.

Vrystaatse munisipaliteite wat onder administrasie geplaas is, sou vandag (gister) voor die Vrystaatse wetgewer se komitee vir openbare rekeninge verskyn het nadat elkeen van dié munisipaliteite se verskynings reeds verlede week uitgestel is. Die LUR het egter nie opgedaag vir die vergadering nie.

“Dié drie munisipaliteite (Mafube, Masilonyana en Maluti-a-Phofung) is deur die provinsiale uitvoerende raad onder administrasie geplaas omdat die munisipaliteite nie aan die minimumvereistes van ʼn funksionerende munisipaliteit voldoen nie.

Die Mafube- en Masilonyana- plaaslike munisipaliteite is sedert 2017 onder administrasie. Hierdie munisipaliteite se oudit-uitkomste en finansiële posisies het egter sedertdien verswak en provinsiale ingryping het gefaal.

“Die Masilonyana- plaaslike munisipaliteit het nie voor die komitee verskyn nie omdat die topbestuur ʼn konferensie in Durban bywoon. Maluti-a-Phofung se burgemeester was ook nie aanwesig nie en het ʼn burgemeesterskomiteelid gestuur om sake namens hom te behartig. Die LUR en die departementshoof van die departement van samewerkende regering, mnr. Mokete Duma, was afwesig en het ná aanvang van die vergadering eers verskoning gemaak.

“ʼn Spesiale vergadering is vandag gereël om die LUR te akkommodeer. Daar word verneem dat die LUR in die Maluti-a-Phofung- plaaslike munisipaliteit is om ʼn waterprobleem aan te spreek. Die departementshoof het weens studieverpligtinge verskoning gemaak. Sekere van die munisipaliteite het reeds twee keer kostes aangegaan om die vergaderings by te woon wat keer op keer uitgestel word weens amptenary en politici wat nie die vergaderings ernstig opneem nie. Dit is juis hierdie munisipaliteite wat nie onder enige omstandighede vrugtelose en verkwiste uitgawes kan bekostig nie.

“Die VF Plus eis dat die betrokke amptenare en in besonder die LUR en departementshoof in hul persoonlike hoedanighede aanspreeklik gehou word vir hierdie vermorste onkostes…Gemeenskappe is die slagoffers van die ANC se wanbestuur en wanadministrasie. Die VF Plus sal aanhou om die ANC tot verantwoording te roep.” (Volledige verklaring kan hier gelees word.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hendrik ·

Orania is nie ver nie, breek op en trek want hierdie probleem gaan nie maklik wegraak soos gehoop word deur die ANC.

Drooggekaap ·

Moenie bekommerd wees nie, ons minister het n MEESTERPLAN vir water! Ons moet net wag, sy gaan dit volgende maand bekend maak ha ha ha ha!

Jordaan ·

Ek vermoed ‘n redelike deel van die plan gaan bestaan uit “bid vir reen en hoop vir die beste”

Clipper ·

Ek sal graag wil weet wat doen en se ons immer swygende president. Weet hy wst aangaan en het hy al die nodige ministers asngespreek. Aangesien hy n minister en klomp adjunkte vir elke ding in die land het moet iemand tog verantwoordelik gehou word vir die omsien na munisipaliteite se gemors. Nou is die tyd wat ons n werklike president en leier nodig het. En sommer terloops Orania is nie eens iets om aan te dink daar is niks nie n enkele nywerheid so wat sal die mense daar doen. Wees tog bietjie volwasse

Feite ·

Baie geluk aan die VF wat die skuldiges tot verantwoording probeer roep. Wees egter gereed om nadat die skuldiges herontplooi is en nuwe kaders in hulle plek aangestel word ook die nuwe kaders na n tydjie ook tot verantwoording te roep en daarna en daarna, want wanneer n leegsuig agenda momentum optel stuit jy hom nie totdat selfs die laaste druppeltjie leeg gesuig is. Neem terug die munisipaliteite en beheer spandering anders kom daar meer en meer slangkoppe uit vir elke slangkop wat jy afkap!

HPV ·

Die stukkendste, vuilste bankrot Mangaung metro se Fichardtpark woonbuurt is weer waterloos vandag. Kommerwekkend ons dag “zero” kom al nader, maar behalwe vir jare se gepraat en halfhartige beplanning, word niks gedoen nie. Miljoene is egter bekikbaar vir motors en kunsfeeste.

Piet ·

Ons huidige maghebbers het’n vermoë om munisipaliteite klein, medium en groot tot in die grond in te ‘bestuur’.
Wonder partymaal of dit deel van ‘n meesterplan is of net algemene onvermoë. Gelukkig kry almal darem grênd karre.

jaco ·

Toe die MDC van Zimbabwe Harare se stadsraad oorgevat het, was duur nuwe motors ook eerste op die agenda. Ek sien dieselfde by die DA-beheerde stadsraad van Kaapstad. Lyk my dit werk soos daai lus om te eet sodra jy gaan TV kyk: sodra n party n munisipale raad beheer, is daar weer ‘n omkeerbare craving vir nuwe motors.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.