Nuuskommentaar: Munisipaliteite – optrede was lankal nodig

Dr. Zweli Mkhize. Foto: Elmond Jiyane

Skrikwekkend. Dit is hoe die ouditeur-generaal se verslae oor munisipale sake jaarliks lyk, net om die volgende jaar dieselfde, of erger, te lyk.

Tot die nuwe minister van samewerkende regering, dr. Zweli Mkhize, nou laat blyk het dat slegs 7% van alle munisipaliteite in die land bevredigend funksioneer. Altesaam 31% benodig dringende ingryping. Die aantal munisipaliteite wat nie die mas opkom nie, neem jaarliks toe.

Die munisipaliteite skuld saam meer as R23 miljard aan Eskom en waterrade.

Maar selfs hierdie harde oordeel verklap nie die volle verhaal nie. Vanoggend word afsonderlik berig dat ’n span van Tesourie in Bloemfontein aangekom het om die sukkelende Mangaung-raad te kom help.

’n Vlugge reis deur Suid-Afrikaanse nuus bring egter daagliks nog ’n handvol nuus aan die lig oor disfunksionaliteit op munisipale vlak, asook sentrale en provinsiale staatsdepartemente wat kniediep in die knoffel is. Noordwes word nou as probleemkind uitgelig, maar ’n vinnige beoordeling van Vrystaatse nuus toon dat dié provinsie, eens ’n modelrepubliek, plek-plek neus voorkry wat droogmaak betref.

En dit lyk nie veel beter in ’n aantal ander provinsies nie.

Wat gaan die verslae oor die Wes-Kaap nog aan die lig bring?

Mkhize beoog nou onder meer om munisipale bestuurders wat OG-verslae druip te laat afdank. Hy besef ook dis ’n gemeenskaplike probleem waarvoor die raad en uitvoerende burgemeesters ook saam moet pa staan.

En ja, die regering het al in die verlede munisipaliteite probeer kortvat, soos om perke op die koste van ampsmotors te plaas. Maatreëls wat openlik deur munisipaliteite in die wind geslaan is.

En wie sal die dae vergeet van luukse gepantserde ampsmotors met ingeboude kroeë en GPS sodat die burgemeester nie tydens ritte in sy “kiesafdeling” verdwaal nie!

Ja, op verskeie terreine, soos by semi-staatsinstellings, moet die Ramaphosa-bewind lof kry vir die skoonmaakwerk by dié instellings. Vinnig genoeg, en ingrypend genoeg, is dit stellig nie, maar saam met voornemens soos dié van Mkhize is daar al heelwat druppels aan die skoonmaakemmer.

Die afgelope aantal jare is die Wes-Kaap en Kaapstad as voorbeelde voorgehou waar sake beter verloop. Die uitsluiting van die ANC is baie dikwels hiermee in verband gebring. Die huidige verwikkelinge, waar Patricia de Lille die spilpunt is, toon egter aan dat dit erg moeilik kan wees om sake “reg te stel”. ’n Oprolprojek, ondanks groot hoeveelhede prima facie-getuienis, kan lank uitgerek en duur word namate die oprolwerk vorder, en geval ná geval aan hofsake, kommissies van ondersoeke en forensiese ondersoeke onderwerp word om skuldigbevindings bo redelike twyfel te verkry.

Voorkoming is altyd beter as genesing.

Maar hoe lank word baantjies vir boeties eerder as die regte kwalifikasies as ’n verderflike gogga uitgewys en niks gebeur nie? En die ACDP het etlike jare gelede by herhaling gevra dat ’n munisipaliteit wat twee jaar agtereenvolgens sy oudit druip, onder administrasie geplaas word. Dié vasvat-voorneme het skynbaar vergete geraak omdat daar net mooi niks daarvan gekom het nie. Met die skip wat reeds oor die afgrond begin gaan, stof die minister die gedagte weer af.

Ramaphosa het sy hande vol. As hy ministers wat droogmaak, begin vasvat, gaan dit soos ’n slagpale lyk. Vanoggend word min. Gwede Mantashe gelooi oor standpunte oor skaliegas-ontginning in die Karoo, en veral die syfers wat hy gebruik as hopeloos oordrewe afgemaak.

Terselfdertyd beskuldig min. Lindiwe Sisulu AfriForum daarvan dat, met die buitelandse ekskursie, dié organisasie se “rillerstories” oor wat in die land aangaan, “heeltemal vals” is. Wat van ’n slag enigeen daarvan as vals bewys, minister?

Met Mkhize en ander wat nou bereid is om probleme in hul portefeuljes in die oë te kyk en met drastiese stappe aan te pak, het Ramaphosa nie nog ministers nodig wat vlamme uit fiksie en uitgediende retoriek probeer blaas nie. Oplossings behels dat probleme erken word, en daardie probleme doeltreffend aangepak word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Baie dankie vir n baie onthullende verslag, Mnr Toerien. Dink U nie ook hiermee saam dat die OG sy plig ook versaak het deur slegs te “rapporteer” oor die munisipaliteite wat in hul fidusiére plig versaak en hopeloos “gedruip” het nie. Die OG het na my wete nooit aangedring op onmiddelike regstellende stappe wat moontlik deur die polisie of die Valke onderneem moes word nie. Seer sekerlik eindig die OG se pligte nie om alleen maar oor misstappe te tapporteer nie. Na my wete vereis die Grondwet dat daar dan aangedring moet word op onmiiddelikje REGSTEĹLING, wat ontslag en vervolging… Lees meer »

Veritas

Is daar hoegenaamd enige mislikepaliteit waar dinge nog reg gedoen word? Net die meerderwaardige houding waarmee die publiek behandel word, vertel die volle verhaal van onbevoegdheid.

Hendrik

Ja nee ons munisipaliteit doen heel skaflik. Genoeg water, sukkel ‘n bietjie so na die einde van die winter, maar almal werk saam om water te bespaar. Ekstra watertenks by die huise help ook. Elektisiteit is ons maar afhanklik van Eskom maar baie mense beweeg na solar. Ons munisipaliteit werk want dit is ons eie mense.

Gemaskerde Sopbeen

Ek was onlangs in ‘n munisipale kantoor wat voor 1994 ‘n totaal van 9 bestuurders gehad het, elkeen met sy afdeling werkers. Dan was daar ‘n stadsklerk en ‘n burgemeester, en ondersteunende administratiewe personeel. Na 1994 het dieselfde munisipaliteit, met min of meer dieselfde hoeveelheid inwoners, nou skielik 64 bestuurders, elkeen met ‘n skootrekenaar, selfoon, sekretaresse, ongelooflike salaris, behuisings- en brandstof toelae, selfoon, en gratis water en elektrisiteit……….en die inwoners se erfbelasting het viervoudig toegeneem. Om meer mense aan te stel, is NIE werkskepping nie……………

Rudolf Herbst

Dis verskriklik…