Nuuskommentaar: My vriend is jou vyand

Hamas-polisiebeamptes omhels mekaar tydens 'n vorige skietstilstand in 2012 toe hulle na Al-Saraya se hoofkantoor in Gasa kon terugkeer Foto: MAHMUD HAMS/AFP/Getty Images

Hamas-polisiebeamptes omhels mekaar tydens ‘n vorige skietstilstand in 2012 toe hulle na Al-Saraya se hoofkantoor in Gasa kon terugkeer Foto: MAHMUD HAMS/AFP/Getty Images

In ‘n optog van die Moslem Juridiese Raad en Numsa het duisende mense in Kaapstad parlement toe gestap en geëis dat Suid-Afrika teen Israel optree. Israel se optrede teen Hamas in die Gasa-strook het onder skoot gekom.

Sanksies en die wedersydse terugroep van ambassadeurs, en selfs volledige opskort van diplomatieke betrekkinge is geëis.

In die sosiale media vloei die steun vir Israel egter sterk. Dit lyk op die oog af of dit maar net nog een geval is waaroor Suid-Afrikaners nie eensgesind is nie – nie almal beskou almal wat via die ANC se bewindsaanvaarding Suid-Afrika se vriende geword het, ook as húl vriende nie. Op dieselfde dag het pres. Jacob Zuma byvoorbeeld samesprekings met die president van Venezuela – die ideologiese kloon van wyle pres. Hugo Chavez, die Marxis – gevoer.

Kom dit by die Midde-Ooste is dit selde maklik om ‘n reg en verkeerd duidelik te kan onderskei, en in die geval van Israel en die Palestyne is dit ook nie anders nie. Soos een waarnemer dit gestel het, die individu se beskouing oor wie reg en wie verkeerd is, hang af van wie se propaganda hy glo.

Dit is egter redelik duidelik hoe die huidige konflik begin het. Drie jong Israeli’s is op die Wesoewer ontvoer, en hul lyke later gevind. Israel hou Hamas verantwoordelik – minstens vir die blydskap onder Hamas-ondersteuners oor die voorval. So ver bekend is die twee verdagtes nog voortvlugtig. Hierna is ‘n Palestynse jeugdige skynbaar uit weerwraak ontvoer en vermoor. Ultra-konserwatiewe Jode is oor dié voorval aangekeer.

Voor die moord op die jong Palestyn het Israel, onder meer onder internasionale druk, hom van weerwraakaanvalle weerhou. Die VN Veiligheidsraad het die moord op die drie Israeli’s veroordeel. Ná die jong Palestyn vermoor is, begin die vuurpyle weer op Israel reën. Hamas het na raming sowat 10 000 vuurpyle, waarvan net meer as ‘n duisend reeds afgevuur is. Israel se bombardemente het na raming nog sowat 20 persent van die vuurpyle vernietig. Hamas het nog genoeg oor om weke, indien nie maande nie, lank met sy aanvalle op Israelse grondgebied vol te hou.

Verskeie lande en organisasies, waaronder Human Rights Watch (HRW), kritiseer Israel en het die wyse waarop die land optree as ‘n oorlogsmisdaad beskryf. Hamas word byna terloops in die verslag gekritiseer oor sy vuurpylaanvalle op Israel.

Heelwat kenners kritiseer Israel omdat sy aanvalle op die Gasa disproporsioneel tot die bedreiging sou wees, en daarom teen die internasionale reg. In werklikheid het Israel net enkele meer lugaanvalle uitgevoer as die hoeveelheid vuurpyle wat Hamas op Israel afgevuur het, onder meer ook op Jerusalem en Tel Aviv. Terwyl Israel so selektief as moontlik in sy aanvalle probeer wees, is die vuurpylaanvalle van Hamas lukraak. Dat slegs een Israeli tot so ver omgekom het, is grootliks te wyte aan Israel se lugverdedigingstelsel, bekend as Iron Dome, waardeur Hamas se vuurpyle in die lug afgeskiet word. Na berig word, word sowat 90 persent van Hamas se vuurpyle só afgeskiet.

Meer as 200 Palestyne het reeds in Israel se aanvalle omgekom – maar met meer as ‘n duisend bomme wat reeds op teikens in die uiters digbevolkte Gasa-strook afgevuur is, is dit min. Israel tref op verskeie maniere voorsorg om burgerlike ongevalle te beperk, wat egter baie bemoeilik word deur Hamas se voorliefde om burgerlikes as menslike skilde in te span.

Maar geld die proporionaliteitsbeginsel in die huidige geval? Die proporsionaliteitsbeginsel is veronderstel om in vredestyd te geld, en wanneer twee lande met mekaar haaks is. Hamas maak duidelik oorlog, en het selfs ‘n Egiptiese bemiddeling vir ‘n skietstilstand van die hand gewys. Israel het die skietstilstand aanvaar en inderdaad vyandelikhede gestaak, maar is weer ingesuig omdat Hamas met sy vuurpylaanvalle volgehou het. Israel het weer tot ‘n tydelike skietstilstand vir humanitêre redes wat deur die VN gedryf word ingestem, terwyl Hamas volgens die jongste berigte ook ingestem het. As die voorneme hou, sal daar vanaf 10:00 Suid-Afrikaanse tyd vyf ure lank ‘n staking van vyandelikhede wees sodat mense kos kan koop. Pres. Barack Obama het reeds aangedui dat vyf ure te kort is daarvoor.

Hamas erken nie die bestaansreg van Israel nie, hoewel ‘n onlangse pragmatiese ooreenkoms met die Al-Fatah-groepering van Mahmoud Abbas, die Palestynse president, baie na daaraan gekom het. Uit die verskillende bronne blyk dit dat daar ‘n verdeeldheid hieroor onder die Hamas-leierskap ontstaan het.

Die internasionale reg op vredestydse onmin kan dus nie blindelings hier van toepassing gemaak word nie.

Die internasionale reg onderskei voorts tussen wettige reaktiewe optrede en weerwraak. In die praktyk is dit dikwels uiters moeilik om te onderskei. Weerwraak word nie as wettig beskou nie, en reaktiewe optrede is ook net onder sekere omstandighede wettig, soos wanneer dit in reaksie op onwettige aanvalle. Die doel moet ook net wees om die situasie te laat normaliseer.

Trouens, sou Suid-Afrika byvoorbeeld sanksies teen Israel instel soos uit baie oorde aangedring word, maak Suid-Afrika hom ook skuldig aan reaktiewe optrede wat waarskynlik teen die feite-agtergrond strydig met die internasionale reg kan wees. Die internasionale reg onderskei naamlik tussen gewapende reaktiewe optrede, en nie-gewapende optredes soos sanksies, en dieselfde voorvereistes vir wettigheid geld.

Intussen is beide premier Benyamin Netanyahu en pres. Abbas onder geweldige druk om minder gematig teenoor die ander op te tree, en beide stel hul politieke kapitaal op die spel deur gematigd en terughoudend te wees. Dit is heel moontlik dat Israel onder interne politieke druk sal moet swig en die hele Gasa-strook beset. Omdat Israel op land en ter see Gasa in effek omsingel – die strook is net 41 kilometer lank en tussen 6 en 12 kilometer breed, kan haas enige teiken binne die Gasa baie maklik deur land- en see-artillerie getref word. Daar is dus talle voordele daaraan verbonde om Gasa nié te beset nie, veral nie langdurig nie. Ook die nuwe Egiptiese bewind is Hamas nie goedgesind nie, weens Hamas se ideologiese verwantskap met die verbode Moslembroederskap. Egipte het die enigste deurgangspunt gesluit, en doen moeite om die smokkeltonnels te vernietig.

Nou is Suid-Afrikaners verdeeld in hul lojaliteite. Suid-Afrika, onder die premierskap van dr. DF Malan, was een van die eerste lande wat Israel as staat erken het, en tot ‘n groot mate vanuit ‘n Bybelse perspektief. Hy het ook reeds in 1953 besoek aan Israel gebring.

Sedertdien was die bande heg, terwyl die ANC – as ‘n soort regering in ballingskap – noue bande met die Palestynse Bevrydingsbeweging (PLO) gehandhaaf het. Na Mosambiek se onafhanklikheid het die PLO se “ambassade” in Mosambiek, onder leiding van Hani Shawa, ‘n belangrike kommunikasie- en logistieke rol vir die ANC gespeel.

Met die Nasionale Vredesakkoord en selfs die aanvaarding van die nuwe grondwet, het daar nie ‘n werklike uitstryk van buitelandse vriende gekom nie. Die destydse president Nelson Mandela het die wêreld laat regop sit deur die Libiese diktator, Mumamar Ghaddafi, te omhels tydens ‘n besoek aan Libië. Vanuit die ou Suid-Afrika se oogpunt – en ‘n groot deel van die saakmakende wêreld – het die nuwe regering weens ou lojaliteite ‘n ganse brigade van muishonde as vriende aangetree – waaronder Robert Mugabe.

Die grootste probleem met die kritiek op Israel oor sy stryd met Hamas is dat Hamas net ‘n deel van die Palestyne verteenwoordig – ‘n radikale Soenie-groepering met vele ideologiese raakpunte met Al Kaïda, die Moslem-broederskap en ander instansies wat maklik bloed aan die hande kry.

Die vreemdheid is dat Hamas se vernaamste geldelike ondersteuner, minstens by tye, Iran is, wat ‘n Sjiïtiese teokrasie is.

Hoewel dit deur die VSA as terreurorganisasie gelys is, is dit onder Palestyne baie gewild omdat dit ‘n baie groot deel van sy beskikbare fondse vir welsynswerk, soos sopkombuise en klinieke inspan. Die Hamas-leiers het ook die reputasie dat hulle nie maklik korrupteerbaar is soos byvoorbeeld dié van Al-Fatah nie. Dit is dus maklik vir Moslems elders in die wêreld om ‘n tipe idilliese beeld van Hamas te vorm.

Intussen, met aksies soos dié van die SAUK om die Afrikaanse nuus na TV3 te verban, en die polemiek oor Die Stem, het die land nie nog ‘n verdelende saak nodig nie. Hoe moeilik sal ‘n vriend van Israel nie die landsvlag salueer as dit gebruik word om Hamas te omvou nie? En sal Hamas se vriende genoeë neem met hegte bande tussen Suid-Afrika en Israel?

En pragmatisme het nog nie ‘n groot rol in die ANC-regering se buitelandse beleid gespeel nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Nico ·

Dit is interessant dat die ANC, en waarskynlik die meeste van hulle ondersteuners, so aan die Arabiere se kant is. (Waarskynlik maar ‘n anti-Amerikaanse neiging omdat Israel en Amerika noue bande het.) Maar hulle kan gerus hulle broers in ander dele van Afrika vra hoe hulle oor die Moslems voel. Ek verwys spesifiek na Somalië en Soedan waar die oorloë hoofsaaklik gevoer word tussen Afrikane en persone van Arabiese afkoms. Afrikaan en Arabier is daar glad nie lief vir mekaar nie.

HJ Henning ·

Israel moet net se dan gaan help ons hulle. Israel bo!!!!!!. Christendom vir altyd!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.