Nuuskommentaar: Mynindaba en stakings

mynTerwyl die onrus rondom veral die Amcu-staking by platinummyne die voorspelde voorvalle van geweld oplewer, en die staking die land sowat R400 miljoen per dag kos, is daar mense in Kaapstad besig om koppe bymekaar te sit. Formeel heet dit die Afrika-mynindaba, en kan nie net op die huidige stakings en onrus gefokus word nie want die mynbedryf is veel omvangryker en van veel meer deurlopende belang as dit wat nou die media-aandag vasvang.

Boonop is die mynbedryf maar deel van die konteks van die land se ekonomie, die kwessie van arbeidswetgewing en sosio-ekonomiese verwagtinge. So het die stigter van Black Like Me, Herman Mashaba, die land se arbeidswetgewing as drakonies beskryf weens die impak daarvan op werkskepping deur entrepreneurs. Cosatu het weer sy visier op die minimumlone van plaaswerkers ingestel  en dit sal eintlik verbaas as  dit nie verband hou met die beplande optog na die Wes-Kaapse premier, Helen Zille se kantoor nie.

Maar die staking en die Marikana-gebeure hang tog soos ‘n groot spook oor die beraad – wat Jan Publiek betref in elk geval.

Volgens die organiseerders het die jaarlikse mynberaad al miljarde dollar se buitelandse beleggings na die mynwese in Afrika gehelp kanaliseer, en is dit vanjaar die twintigste jaar wat die beraad aangebied word. Dit is die grootste myn-investeringberaad ter wêreld. Dit word deur die voorste belanghebbendes van oor die hele wêreld bygewoon, en die sprekers is hoog aangeskrewe.

Word die nuus gevolg, is dit egter nie die beraad wat al die nodige aandag kry nie. Trouens, dit is nie so maklik om redelik omvattende nuus oor die beraad op te spoor nie. Wat wel in die nuus is, is die geweld met mynstakings wat oor onbekostigbare eise handel, sommer aangevul deur gewelddadige betogings.

Die Kamer van Handel en Nywerheid se sakevertroue-indeks het tot die laagste vlak in vyf maande gedaal. Die Solidariteit-ETM Arbeidsmarkindeks (AMI) wat gister die eerste keer vrygestel is, dui op voortgesette werk- en loon-onsekerheid wat sedert die 2009-resessie voortduur. Die indeks het in die vierde kwartaal van 2013 van 42,8 tot 46,1 gestyg, waar 50 die gelykbreekvlak tussen stygende en dalende loon- en werksekerheid verteenwoordig.

By die beraad self het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, tydens ʼn paneelbespreking die “wenner-neem-alles”-stelsel; een van die onderliggende redes vir die krisis in die mynbedryf onder die loep geneem. Dit blyk dat sekere vakbonde en werkgewers in die mynbedryf steeds dié beginsel toepas ondanks die ondertekening van die raamwerkooreenkoms vir ʼn volhoubare mynbedryf. Die ooreenkoms, wat op 3 Julie 2013 deur georganiseerde arbeid, besigheid en die regering onderteken is, bevat onder meer ʼn klousule wat erken dat die vakbondmeerderheidsbeginsel ongrondwetlik kan wees en dat dit nodig mag wees om die beginsel af te skaf.

Selfs minister Susan Shabangu se openingsrede gister het betreklik min media-aandag geniet. Sy het beleggers probeer gerusstel, maar het self nie ‘n prestasielys agter haar wat besonder baie vertroue inboesem nie. Julius Malema met sy wilde praatjies trek eenvoudig veel meer aandag.

Selfs hoe die platinumprys op die staking reageer (of liewer nie reageer nie) is meer nuus. Tradisioneel styg die platinumprys skerp as Amcu met sy stakings en ontwrigtende optredes besig is. Sedert die huidige staking begin het, het die platinumprys egter skerp gedaal, behalwe gister toe dit ‘n kort rukkie hoër geneig het voor dit weer begin tuimel het.

‘n Saak het dikwels twee kante. Werkgewers verloor ongeveer tweederdes (sowat 80 000) sake jaarliks by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Dit kan nie alles aan “drakoniese arbeidswetgewing” toegeskryf word nie – daar is ook drakoniese werkgewers en bestuurders wat sleg tot selfs wreed met hul werkers werk. Sielkundiges spandeer heelwat van hul werksure aan die berading van mense wat in hul werksituasies aan onredelike tot onmoontlike eise blootgestel word. Nie alles kan op werkgewers se frustrasie dat arbeidswetgewing dit moeilik maak om van swak werkers ontslae te raak se brood gesmeer word nie – dit hou dikwels verband met baie swak bestuursvaardighede.

Die president van Cosatu, Sdumo Dlamini, het juis nou gekies om te verseker dat Cosatu in alliansie met die ANC en die SAKP sal bly verkeer. Nie juis musiek vir beleggers nie. Boonop moet die ANC in die aanloop tot die verkiesing sy woorde versigtig kies om kiesers te trek – en die buitelandse beleggers trek nie hul kruisies nie. Maar hulle help op die duur dat die regering nie met leë hande voor die kieserskorps hoef te staan nie, maar dit is nou eers kommer vir oor vyf jaar.

Juis daarom is dit belangrik dat potensiële beleggers en bestaande werkgewers by ‘n beraad soos hierdie skouers skuur met ‘n verantwoordelike vakbond soos Solidariteit. Dit bring balans, en gee terselfdertyd die versekering aan beleggers dat daar lewe in Suid-Afrika is buite Cosatu, Amcu en ander radikale vakbondgroeperings.

Dit dien as teenwig vir die gewelddadige stakings wat die land deurlopend in die voet skiet.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae