Nuuskommentaar: ʼn Gebalanseerde debat oor klimaatsverandering?

‘n Betoging teen klimaatsverandering in Switserland. (Foto: Fabrice COFFRINI/AFP)

Die afgelope week het die ganse Suid-Afrika verstar gestaan voor die verwoesting wat tans in veral KwaZulu-Natal heers. Die dodetal is reeds amper 400 met dié vloede wat reeds bestempel is as een van die grootste weergebeurtenisse in ons opgeskrewe geskiedenis.

Die provinsie is ook tot rampgebied verklaar met talle organisasies wat reeds humanitêre hulp vir duisende mense beskikbaar gestel het. Met soveel mense wat al soveel verliese gely het, is die provinsie asook die land in ʼn tragiese ramp vasgevang.

Hierdie vloede het op die ou einde ook na vore gekom as deel van ʼn reeks verwoestende weergebeurtenisse oor die afgelope dekade. ʼn Ontleding deur die World Weather Attribution Network (WWA), ʼn netwerk van wetenskaplikes, het in ʼn onlangse verslag bevind dat klimaatsverandering ʼn toename in die intensiteit van tropiese storms vroeër vanjaar in Suidelike Afrika veroorsaak het. Hierdie klimaatsverandering natuurlik soos aangevuur deur die kweekhuisgasse as gevolg van menslike aktiwiteite. Daar is nog nie genoegsame data beskikbaar om te bepaal of die hoeveelheid storms vermeerder nie – die intensiteit daarvan vererger wel volgens die verslag.

Verwysend na hierdie verslag, is die klimaatsveranderingdebat sodoende nie net ʼn abstraksie waaroor mense gesels nie, maar is dit nou soveel nader aan ons eie voordeur gebring. Hierdie wesende een van die mees polariserende debatte in ons huidige verwysingsraamwerk – dit waarskynlik naas die Covid-entstofdebat.

Soos die entstofdebat is dit ook een waarin min ruimte vir middelgrond bestaan met mense wat óf aan die een kant óf aan die ander kant van die debat geplaas en daarvolgens gestigmatiseer word. Nes die entstofdebat is dit daarom ook moeilik om ʼn genuanseerde gesprek oor klimaatsverandering, aardsverwarming, die moontlike gevolge asook die moontlike oplossings daarvoor te voer. Eerder as om ʼn billike wetenskapsgebaseerde en redelike debat te voer, word dikwels verval in ʼn debat wat in uitsluitlik morele uiterstes gedefinieer word.

Die polarisering vind plaas met die klimaatontkenners wat aan die een kant en die tiranniese groen-kommuniste wat aan die anderkant geskets word.

In ʼn insigvolle meningstuk skryf Richard Meissner en Jeroen Warner, professore werksaam in onderskeidelik politieke wetenskap en rampstudies, vroeër vandeesweek ook oor die verband wat te trek is tussen die Covid-pandemie en die klimaatsveranderingsdebat – dit is veral verwysend na regerings se rol in en betrokkenheid by die hantering van albei kwessies soos dikwels deur akademici en aktiviste vereis. Hulle sit eerstens die probleem van klimaatsverandering uiteen met die gepaardgaande verlies aan biodiversiteit wat ons moontlik as gevolg daarvan in die gesig staar.

Meissner en Warner verduidelik dan hoe daar deur aktiviste en akademici ʼn sterk beroep op regerings spesifiek gedoen word om dikwels outokratiese maatreëls in te stel ten einde dié massa-uitwissing van biodiversiteit te voorkom. Met hierdie wat as een van die belangrikste beleidskwessies van ons tyd gesien word, word radikale en ingrypende optrede vereis – oorwegend ook nêrens buite die Weste nie, wat bevoorreg genoeg is om oor hierdie debat te kan omgee. In ʼn skokkende opname wat onder Europeërs in 2020 gedoen is, plaas 53% van jongmense meer vertroue in outoritêre state as in demokrasieë om hierdie kwessie te hanteer. Biodiversiteitsverlies-, klimaatsverandering- en aarverwarmingskwessies word ook jaar na jaar in die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se globale risikoverslag aangewys as die grootste en mees bedreigende risiko’s wat die mensdom in die gesig staar ­– selfs na afloop van ʼn letterlike pandemie!

ʼn Betoger by ʼn klimaatsveranderingprotesoptog in Londen. (Foto: Frank Augstein, AP)

Mense vereis optrede en hulle vereis dit nóú. Dit is moeilik om hierna te kyk en nie te verstaan waarom soveel mense so vasskop teen hierdie klimaataktiviste nie – hoewel die welstand van die aarde op die agenda is, word dit volledig gedefinieer deur ʼn outokratiese en magsbehepte politieke en beleidsaanslag. Dit is ook waarom hierdie uiterste kant van die spektrum dikwels beskryf word as die sogenaamde waterlemoenpolitiek – groen aan die buitekant, maar rooi binne. Onder die vaandel van klimaatpolitiek is hierdie net nog ʼn wyse vir regerings om op ʼn ingrypende wyse beheer oor mense se besluite te neem. Indien jy nie ophou om diereprodukte te verbruik nie, volledig omgewingsvriendelik word en fossielbrandstowwe verwerp nie, dra jy kwaadwillig by tot die doelbewuste en byna bose verwoesting van die aarde en mensdom se toekoms.

Klimaatsverandering is op ʼn wetenskaplike noot ʼn onontkenbare verskynsel – dit is egter nie iets wat almal bereid is om te erken nie. Dit is dan nou waar die reaksionêre standpunt van die sogenaamde klimaatontkenners vandaankom. Hierdie ander uiterste van die spektrum ontken bloot voor die voet dat klimaatsverandering bestaan en weier daarmee saam om enigsins op die verskynsel en moontlike gevolg te let – ten spyte van al die wetenskaplike bewyse van dié verskynsel. Op die ou einde vuur hierdie twee uiterstes mekaar doodeenvoudig aan met die debat wat al hoe onmoontliker word om redelikerwys gevoer te word.

Meissner en Warner benadruk ook dat klimaatsverandering iets is wat wel gebeur, maar oor ʼn baie lang tydperk. Dit is dus nie die oombliklike eksistensiële bedreiging wat die een kant van die spektrum dit skets om te wees nie. Dit is egter ook nie ʼn volledige klug en samesweringsteorie wat glad nie in die werklikheid gefundeer is nie. Iewers op redelike middelgrond moet die geleentheid bestaan om ʼn genuanseerde mening te handhaaf. Een wat voorhou dat die klimaat wel verander, selfs negatiewe gevolge kan inhou, maar dat die mens ook ʼn ongelooflike gawe het om aan te pas en dus nie van die staanspoor af verdoem is nie.

Dit is wel altyd interessant om te beleef hoe hierdie oproepe tot klimaataksie vanuit klimaathisterie altyd uit die Westerse ontwikkelde wêreld kom. Dit is belangrik om in hierdie debat te verstaan dat moderniteit, vooruitgang en ontwikkeling altyd teen een of ander koste plaasvind. Dit is onmoontlik om hierdie vlakke van ontwikkeling te geniet sonder om die een of ander prys daarvoor te betaal. Dit beteken natuurlik nie dat ons die natuur gewetenloos moet uitwis uitsluitlik ter wille van ontwikkeling nie. Dit beteken egter dat daar iewers ʼn gesonde balans gevind moet word tussen vooruitgang, bewaring en ʼn opweging van koste en belange – dit alles met die duidelike en onomstrede wetenskap wat ʼn mens lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.